Persverklaring: Saterdag 27 Julie 2019 van 9.00 tot 13.00 by SASNEV

  • 0

Saterdag 27 Julie 2019 van 9.00 tot 13.00 by SASNEV

Interkulturele kennismaking tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse leerders by SASNEV

Op Saterdag 27 Julie 2019 vind daar ’n paar spesiale gebeure plaas by SASNEV in Pinelands.

Met die bekendstelling van die tweede fase van ’n nuwe samewerkingsooreenkoms tussen SASNEV, “OGMIOS Communications” en die Nederlandse stigting, “Stichting Trias Neerlandica”, word op die gebied van internasionale uitwisseling tussen Nederlandse en Suid-Afrikaanse skole, Saterdag ’n nuwe geleentheid aangekondig.

Dit bied ’n geleentheid vir skole en skoliere wat hulle taal en kultuurhorisonne wil verbreed.

Die doel van die eerste ooreenkoms, wat reeds in 2018 gesluit is, is om interkulturele kennismaking en interkulturele leer in ’n internasionale konteks moontlik te maak.

Klem word gelê op wêreldbugerskap, maar daar word veral gefokus op: erfenis, taal en sosio-kulturele projekte. Ná die stigting van dié vennootskap was die volgende stap die skep van geleenthede vir skole en leerders.

Saterdag word fase twee van die projek met trots bekend gemaak.

Wêreldburgerskap is die sleutel tot die uitbreiding van ons horisonne, met die woorde van Nelson Mandela in gedagte: “Onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander.”

Anthony Hess-beurs vir Hoërskool Groenberg

Op Saterdag  kondig “Stichting Trias Neerlandica” dus as stigterslid amptelik aan dat ’n beurs gestig is, en in samewerking met die Hoërskool Groenberg op Grabouw as eerste uitvoeringsgenoot, in 2020 uitgevoer gaan word. Die studiebeurs is vernoem na die voormalige skoolhoof, Anthony Hess wat onlangs oorlede is. Hess was die eerste skoolhoof wat sy skool vir die loodsprojek aangebied het. 

Hierdie toekenning hoop om ’n eerste impuls te wees om soveel moontlik Suid-Afrikaanse leerlinge na Nederland te neem sodat werklike uitruil kan plaasvind. Hierdie projek sluit ook aan by die konteks van die “#COCREATESANL” wat ’n platform vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse eweknieë is om innovasies uit te ruil vir ’n volhoubare toekoms. Dit is ’n inisiatief van die Koninkryk van Nederland in Suid-Afrika. Die Nederlandse konsul-generaal Sebastiaan Messerschmidt sal hierom ook by die geleentheid wees.

Die bedoeling met die beurs is dat die eerste Suid-Afrikaanse leerders volgende jaar (2020) na Nederland sal reis. Die leerders al onder toesig van twee onderwysers reis en die reis sal saamval met ’n uitstalling oor slawerny wat in die Rijksmuseum op uitstalling sal wees. Die studente word gehuisves by Nederlandse gasfamilies en besoek verskillende skole en kulturele instellings in Nederland.

Hierdie besoek beoog om die eerste van vele besoeke te wees na nie alleen Nederland toe nie, maar later ook na België.

Rymklets met Frazer Barry en Poësie deur Diana Ferrus

Frazer Barry (Foto: Naomi Bruwer)

Voordat dié mooi inisiatief om 12.20 aangekondig word gaan twintig studente van die Hoërskool Groenberg van Grabouw saam met twintig studente van die “College de Heemlanden” van Houten, Nederland, onder leiding van Frazer Barry, bekend as musikant, skrywer en voorsanger van Tribal Echo, leer hoe om te rymklets.

Die leerders sal ook kennis maak met SASNEV se onderrigpakkette Eenders & Anders wat die verskille en ooreenkomste tussen die Nederlandse taal en Afrikaans uitwys.  

Aan die einde van die werkswinkel sal die leerders hulle rymklets ten toon stel in die teenwoordigheid van die Nederlandse konsul-generaal Sebastiaan Messerschmidt, die verteenwoordigers van die verskillende vennote, Eureka Barnard (SASNEV), Karin Benjamin (OGMIOS Communications) en Roy Dielemans (Stichting Trias Neerlandica), asook die hoof van die Hoërskool Groenberg, Jeremy Adams en Erwin Rode (Voorsitter van die Orde van die Prins, afdeling Kaap de Goede Hoop).

Wat Saterdag nog meer spesiaal maak is dat die leerders, met die aankondiging van haar nuutste boek Die vrede kom later, die bekende digter, skrywer en storieverteller Diana Ferrus gaan ontmoet.

Diana Ferrus (Foto: Naomi Bruwer)

Ferrus is veral bekend vir haar gedig oor Sarah Baartman, ’n Suid-Afrikaanse vrou wat onder vals voorwendsels na Europa geneem is en as ’n “nuuskierigheid” beskou is.

Hierdie gedig het ’n belangrike rol gespeel om Baartman se oorskot terug te bring na Suid-Afrika. Suid-Afrikaners het ook Diana Ferrus en Frazer Barry, in optrede saam met ander bekendes, op kunstefeeste onder die naam Woorde op Akkoorde leer ken. 

Program vir die dag opgesom:

Geleentheid 1:

Leerders rymklets saam met Frazer Barry (op uitnodiging)

Tyd: 
09.00 tot 12.00 

Geleentheid 2:

’n Boekbekendstelling: Die vrede kom later deur Diana Ferrus (almal welkom)

Tyd: 10.00 vir 10.30 tot 11.30

Geleentheid 3:

Poësie deur Diana Ferrus en bekendstelling van beurs (almal welkom)

Tyd: 12.20 tot 13.00

..................

Plek: SASNEV, Sentraalplein 4, Pinelands

Datum: Saterdag 27 Julie 2019

..................

Opgestel in samewerking met:

  • Eureka Barnard, SASNEV
  • Roy Dielemans, Stichting Trias Neerlandica
  • Karin Benjamin van Lierop, OGMIOS Communications
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top