Pionier met wol en vilt in Tate Modern vereer

  • 0

Ek kan dit nie verhelp om opgewonde – en bevoorreg – te voel as ek oor die Millennium-voetgangerbrug stap met die enorme Tate Modern voor my nie. Die wolke en lug speel die hele dag op ’n ander manier en in ander kleure teen die baksteenmure met sy dun, lang vensters en glasboks op die linkerkantse vleuel, skryf Maryke Roberts.

Dis ’n snerpende windjie wat tussen die hoë geboue langs die Teemsrivier deurwurm. Dit ruk jou kuif, jas- en baadjiepante in ’n onverwagte rieldans en maak pienkrooi kolle op jou wange soos oordadige blosser. Die hitte van die Tate Modern-kunsgalery is ’n welkome lafenis ná die koue buite.

Om vroegaand uit die Tate Modern uit te stap en hierdie mooie uitsig oor St Paul’s Katedraal te sien, maak jou hart net voller. (Foto: Maryke Roberts)

Die Millennium-brug neem ons terug middestad toe, maar ons is ander mense as dié wat ure tevore oor die brug gestap het, want kuns maak jou hart en siel vol. (Foto: Maryke Roberts)

Dis ’n groot voorreg om oor die Millennium-voetgangerbrug te stap met die Tate Modern voor jou. Dit maak natuurlik ook pragtige sonsakfoto’s. (Foto: Maryke Roberts)

Foto: Maryke Roberts

Hoe lekker om weer internasionaal te mag reis en kuns te kan geniet. (Foto: Maryke Roberts)

Ons het kaartjies vir die Magdalena Abakanowicz: Every tangle of thread and rope-uitstalling. Daar is tans soveel ander uitstallings om hier te sien, maar gejaagdheid en kunswaardering is nie bedmaats nie.

Magdalena Abakanowicz, wat op 20 April ses jaar gelede oorlede is, se werke was revolusionêr in die 1960’s en 1970’s, en ligjare vooruit met die huidige wol-, vilt- en vlaswerke wat mense soos Ronel Jordaan gewild maak. Die Tate Modern se moderne kuns en ontwerp is ook revolusionêr.

Die Tate-kunsgalery het in 1897 sy deure geopen met net Britse kunswerke wat in een galery gehuisves was. Bykans 126 jaar later is daar vier galerye – twee in Londen, een in Liverpool en een in St Ives. Maar dis sekerlik die Tate Modern wat die bekendste van die vier geboue is – die ongewone argitektuur van ’n voormalige kragstasie dra by tot die etos van moderne kuns. Dit is immers as aparte galery vir internasionale moderne en kontemporêre kuns geskep.

Die voormalige Bankside-kragstasie is in 1994 as ’n nuwe galeryterrein gekies en ses jaar later ingewy. Die Switserse argitekte Herzog & De Meuron het die gebou in ’n galery omskep en baie van die oorspronklike karakter van die gebou behou.

Die ikoniese kragstasie, wat tussen 1947 en 1963 in twee fases gebou is, is deur sir Giles Gilbert Scott ontwerp. Dit het bestaan ​​uit ’n turbinesaal – 35 meter hoog en 152 meter lank – met die ketelhuis langsaan en ’n enkele sentrale skoorsteen. Dit het in die tagtigerjare in onbruik geraak.

Sedert dit in Mei 2000 geopen is, het meer as 40 miljoen mense die galery besoek. Dit is een van Brittanje se top drie toeriste-aantreklikhede en genereer jaarliks ​​’n geskatte £100 miljoen in ekonomiese voordele vir die stad. Vra my, want ’n paar van daardie ponde kom uit my sak. Dis die lekkerste plek om soeweniers, materiaalinkopiesakke, plakkate, poskaarte en kunsboeke te koop.

Nege jaar ná die opening word Herzog & De Meuron weer ingeroep om die skouspelagtige oortollige olietenks te inkorporeer om meer galeryruimte en verbeterde besoekersfasiliteite te skep. Dis die perfekte plek om Magdalena Abakanowicz se reusekunswerke te kom waardeer.

Maar eers moet jy in die turbinesaal verby Cecilia Vicuña: Brain Forest Quipu stap. Dit lyk soos ’n reusagtige droomvanger met lang slierte uitgerafelde wol, geknoopte tou, net en materiaal wat uit die dak hang, maar as jy binne-in gaan staan en opkyk, lyk dit asof dit uit ’n reusespinnerak hang. Dit wieg in die windjie elke keer as daar nuwe mense by die deure inkom.

Daar is verskeie aspekte van die uitstalling, wat ook klank en video insluit, en dit duur tot 16 April. Die museumbeampte verduidelik dat Cecilia gesê het: “Die aarde is ’n breinwoud en die quipu omvou al sy onderlinge verbindings.”

Deur hierdie installasie vra die kunstenaar besoekers om na te dink oor die vernietiging van ons woude, die impak van klimaatsverandering, geweld teen inheemse mense, en hoe ons saam kan kom om verandering teweeg te bring en ’n proses van herstel te begin, gaan sy voort, en ek weet ek is nie die eerste een wat dit vra nie! Ek lees later in ’n resensie deur Adrian Searle in The Guardian dat dié uitstalling “die roerendste Tate Turbine Hall-uitstallings in jare” is.

Dié ervarings in die reusesale neem my terug na ’n Design Indaba in Kaapstad enkele jare gelede, waar ek die viltkuns van ’n voetstoeltjie in die vorm van ’n reuse- grys spoelklip van Ronel Jordaan onder my vingers kon voel. Dit was ook by die Wolweek Kaapstad wat by die V&A Waterfront gehou is dat ander vilt- en wolkunstenaars in 2015 gewys het waartoe wol as kunsvorm in staat is.

Ronel Jordaan gebruik sedert 2003 vilt as kreatiewe medium. Net soos Magdalena en Cecilia en baie ander jare tevore kry Ronel haar inspirasie uit die natuur. Sy gebruik suiwer wol en verwerk dit na vilt om haar skeppings te maak.

Kathy Robins se The fabric of the universe wat ek destyds in die Zeitz MOCAA gesien het, herinner ook nogal aan Cecilia se werk met ’n sterk boodskap. Haar geverfde katoen gedruk met beelde wat die verplasing van mense en die verwoesting van klimaatsverandering op die omgewing weerspieël, het my ook diep geraak. Selfs die museum se 42 sementtorings, elkeen 33 meter hoog met ’n deursnee van 5,5 meter, wat vir jare graan gehuisves het en nou ’n kontemporêre kunsgalery is, was revolusionêr.

Ek mag wel nie aan die wol, materiaal en houtkunswerke in die Tate Modern vat nie, maar ek kan my verbeel hoe lekker dit onder die vingers sal voel.

Die klein boekie wat die museumbeampte uitdeel, vertel: “In die 1960’s en ‘70’s het die Poolse kunstenaar Magdalena Abakanowicz groot geweefde beeldhouwerke geskep wat as Abakans (na die kunstenaar se van) bekend geword het. Hierdie dubbelsinnige vorms gemaak het die bestaande definisies van beeldhouwerk uitgedaag.

“Hierdie uitstalling kyk na ’n transformerende tydperk van die kunstenaar se vroeë loopbaan, toe haar weefwerk van die muur af die driedimensionele ruimte binnegekom het. Abakanowicz het eers na vore getree as ’n leier van die New Tapestry-beweging van laat-1960’s-Europa. Kunstenaars wat met die beweging geassosieer word, het begin om vesel as ’n geldige medium vir die skep van kuns te eis.”

Die boekie vertel hoe sy natuurlike vesels onder die kunswêreld se aandag gebring het en hoe haar “omgewingsingesteldheid – soos haar wens om in harmonie met die natuur te werk en te leef – vandag besonder tydig voel.”

Die uitstalling is in ses afdelings verdeel: Beginnings (rofweg haar kuns tussen 1955 en 1965); Organic world (haar werk van die middel-1960’s waar sy met sisal, wol en perdehaar gewerk het), A fibrous forest (waar die fokus sterk val op haar Abakans van die sestigs en sewentigs). Die boekie verduidelik dié sentrale ruimte se werke om sommige van Abakanowicz se eie installasies te eggo. Hulle roep ook haar belangstelling in die woud se vermoë om skuiling te bied, op. “‘Die Abakans ...’ het sy gesê, ‘... was my ontsnapping uit kategorieë in kuns, kon hulle nie geklassifiseer word nie. Hulle was groter as ek en veilig soos die hol stam van die ou wilgerboom, wat ek as kind kon ingaan op soek na verborge geheime.’”

Die uitstalling het ook Petrified Organism, wat die gedeelte van haar loopbaan se werk verteenwoordig toe sy al meer reusekledingstukagtige, hangende vorme uit industrieel geweefde lap en toue wat op die vloer uithang, geskep het. Die hol “klere” herinner aan ’n beskermende jas, terwyl die verstrengelde touvesels die kompleksiteite van die senuweestelsel voorstel.

Tou het later ’n belangrike element van haar vorme en omgewings geword. Soos sy voor haar dood vertel het: “Die tou is vir my soos ’n versteende organisme, soos ’n spier sonder aktiwiteit. Deur dit te beweeg; sy posisie en rangskikking te verander; daaraan te raak, kan ek sy geheime en die verskeie betekenisse daarvan leer … Dit dra sy eie storie binne homself; dit dra dit by tot sy omgewing.”

Haar werke is reusagtig en sag belig. Sommige is meters hoog en die stilte in die vertrekke laat voel jou amper asof jy op ’n verlate planeet is.

Magdalena Abakanowicz: Every Tangle of Thread and Rope (17 November 2022–21 May 2023) | Installation shots © Tate Photography, Madeline Buddo

Magdalena Abakanowicz: Every Tangle of Thread and Rope (17 November 2022–21 May 2023) | Installation shots © Tate Photography, Madeline Buddo

Magdalena Abakanowicz: Every Tangle of Thread and Rope (17 November 2022–21 May 2023) | Installation shots © Tate Photography, Madeline Buddo

Magdalena Abakanowicz: Every Tangle of Thread and Rope (17 November 2022–21 May 2023) | Installation shots © Tate Photography, Madeline Buddo

Magdalena Abakanowicz: Every Tangle of Thread and Rope (17 November 2022–21 May 2023) | Installation shots © Tate Photography, Madeline Buddo

Magdalena Abakanowicz: Every Tangle of Thread and Rope (17 November 2022–21 May 2023) | Installation shots © Tate Photography, Madeline Buddo

Om die volgende draai sit mense op ’n bankie en kyk na ’n film wat deur ’n projektor teen die kaal muur vertoon word. In 1969 het die kunstenaar saam met die avant-garde-filmregisseur Jarosław Brzozowski en die eksperimentele komponis Bogusław Schäffer gewerk om die film Abakany  te maak. Sy het abakans in die sand geplant, wat deur houtstutte ondersteun is. Die film vang die effek vas van die vesels wat in die wind waai.

Brozozowski is in dieselfde jaar oorlede, en die kinematograaf Kazimierz Mucha het die film voltooi met binnenshuise reekse wat wys hoe Abakanowicz in haar ateljee werk. Abakanowicz is ook die naam van die vyfde afdeling.

Die laaste afdeling is getitel Invented anatomy, lees ek in my boekie. Magdalena was teen die tagtigs erg gefrustreerd omdat mense haar as ’n veselkunstenaar bestempel het en het in ander materiale begin werk, maar goiing en sisal bly haar gekose materiale

Embryology – wat op die oog af lyk soos ’n stapel vaalbruin rivierklippe – het aanvanklik uit 800 van hierdie vorme bestaan wat in 1980 by die Venesiese Biënnale uitgestal is. Sy het toe verduidelik: “Die inhoud, die binnekant, die interieur van sagte materie het my gefassineer ... Met ‘sag’ het ek organies, lewend, bedoel. Wat is organies? Wat maak dit lewend? Ten slotte, ’n sagte landskap van ontelbare stukke wat met mekaar verband hou.”

Die uitstalling eindig met ’n reuseboomstomp wat aan beide kante met staal omsoom is. Teen die muur is ’n grafiese beskrywing van hoe sy met bome gewerk het en ’n aanhaling: “Ek gebruik die boom as metafoor vir die ekologiese argitektuur van die 21ste eeu, net soos die menslike liggaam as metafoor gedien het vir die vorming van ’n Romeinse katedraal.”

Ná die rondstap in die uitstalling gaan sit ons op die dak van die galery in die museumkafee. Die koffie is warm en vertroostend, want die namiddaglug byt om ons enkels. Ons sit in stilte, elkeen met sy eie gedagtes.

Bo teen die vaalblou hemel maak vliegtuie elke paar minute wit strepe teen die lug; op pad na ’n eksotiese bestemming.

O, die genot van kuns. Die genot van kunsuitdrukking. Die genot van reis. Binnekort sal dit ons wees wat in ’n reuseromp huiswaarts keer. Maar nooit dieselfde mense as wat weke tevore hier geland het nie.

  • Toegang vir die Magdalena Abakanowicz: Every tangle of thread and rope uitstalling is £16 vir volwassenes, £15 vir seniors en student en £5 vir kinders ouer as 12 jaar. Kaartjies is gratis vir Tate Modern-lede.

> Teks: Maryke Roberts

> Foto’s: Tate Modern, Madeline Buddo en Maryke Roberts

Lees ook:

Izicwangciso Zezethu: Dis nie ’n "Ag shame"-uitstalling nie

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top