Izicwangciso Zezethu: Dis nie ’n "Ag shame"-uitstalling nie

  • 0

“Ek het ’n liefde-haatverhouding met die China-sak,” vertel die kunstenaar Nobukho Nqaba oor die hoofmateriaal van haar eerste solo-uitstalling, Izicwangciso Zezethu, by die Zeitz Museum of Contemporary Art Africa (Zeitz MOCAA) in Kaapstad. “Dit verteenwoordig die stryd om groener weivelde te vind, maar dit simboliseer ook hoop.”

Haar uitstalling is van 1 Augustus tot 20 Oktober 2019 in die Dusthouse-ruimte by Zeitz MOCAA te sien.

Nobukho Nqaba by haar eerste solo-uitstalling

Die titel, Izicwangciso Zezethu, kan losweg vertaal word as “Ons maak planne” en beeld die lewe in ’n informele nedersetting uit. Die uitstalling weerspieël die kunstenaar se kinderjare in die Oos-Kaap. Hulle het na die provinsie getrek nadat haar pa sy werk in ’n myn in Johannesburg verloor het. Haar ma het later werk op ’n appelplaas gekry en hulle het na Grabouw getrek.

Nobukho moes dikwels tussen die Oos-Kaap en Wes-Kaap reis en het die China-sakke op die stasies gesien. Die treffende uitstalling bestaan uit sakke wat die hele uitstallingsruimte van die vloer tot die plafon dek. China-sakke is bekostigbare geruite plastieksakke met ’n verweefde voorkoms wat gebruik word om enigiets van komberse tot inkopies te dra.

“Die sakke staan ook bekend as Ghana-must-go en Turkse koffers,” sê Tandazani Dhlakama, assistent-kurator van die uitstalling. “Daar is al hierdie xenofobiese ondertone aan die sak, maar tog het ons elkeen ook ’n persoonlike konneksie daarmee.”

Noodsaaklike voorwerpe wat ’n huis maak.

Daar is ook ’n stoel, kassie en bed – voorwerpe wat deel van ’n huis is – wat met hierdie materiaal bedek is. Die geruite materiaal het vir die kunstenaar die tydelikheid van ’n lewe in ’n informele nedersetting gesimboliseer.   

“Die China-sak is vir my ’n sentimentele voorwerp, want dis ’n voorwerp waarin jy ’n tuiste dra,” sê Nobukho.

Die Dusthouse-ruimte, waarin die uitstalling is, se oorspronklike funksie was om die lug in die ou graansilo te filtreer en so die werkers se longe te beskerm.

“Ons wil ’n ruimte skep wat jong, eksperimentele, ontwikkelende en minder gevestigde kunstenaars ondersteun. Soos die Dusthouse vars lug vir die werkers gebring het, bring die jonger professionele kunstenaars vars bloed,” het die direkteur en hoofkurator van Zeitz MOCAA, Koyo Kouoh, tydens ’n mediatoer gesê. “Nobukho se uitstalling verteenwoordig wat ons met dié ruimte wil doen.”

Volgens Sakhisizwe Gcina, kurator van Izicwangciso Zezethu, tree die uitstalling direk in gesprek met drome, stories en lewe in die Oos-Kaap en hoe hierdie leefwyse die kunstenaar beïnvloed het.

“Wat ek daarvan hou, is dat dit nie tot ’n Suid-Afrikaanse konteks verbind is nie,” brei die kunstenaar uit. “Die sakke kan ook binne ’n globale konteks van migrasie gesien word. Mense wat uitgestoot word of mense wat anstig voel oor buitelanders. ’n Onderwerp wat nou baie aktueel in die wêreld is.” 

Die geruite sakmateriaal waarvan die uitstalling gemaak is.

Die geruite patroon simboliseer migrasie. “Die roostervorm is amper soos grense waaroor mense tree of die verskeie migrasieroetes wat mense volg,” sê Sakhisizwe. Dit dui ook op die wyse waarop grense getrek word sonder om die mense se konneksie met die land in ag te neem, voeg hy by.

Daar is ook ’n montage wat met ’n foto van ’n stoel begin. “Hierdie is ’n belangrike stoel in ons huis,” lag die kunstenaar. “Dis my pa se stoel. Hy het dikwels gesit en na die paaie gekyk.” 

Volgens Nobukho, wat graag met fotografie werk, is hulle nie ’n familie wat foto’s neem nie. “Dié identiteitsfoto [ingesluit in die uitstalling] is die enigste foto wat ons van my pa het,” lag sy terwyl sy oor die foto-montage gesels.

Links bo is Nobukho met haar pa se identiteitsfoto. Die res is selfportrette van die kunstenaar.

Die verskillende lae van dié foto-montage verwys na die verskeie vlakke waardeur sy haar pa onthou, wys die kurator uit. 

Die uitstalling se titel dui daarop dat mense soms planne maak omdat hulle moet, nie omdat hul wil nie, sê Sakhisizwe, terwyl hy beweeg na die volgende installasie: figure uit grys komberse.

Dié grys komberse was soms al wat mense gehad het nadat hulle hul besittings in ’n brand verloor het.

“In informele nedersettings beplan ons vir vure. Ek onthou een spesifieke vuur toe ons in Pineview gewoon het. ’n Vuur het ontstaan en jy gryp jou belangrikste goed en hardloop. Ons was almal in die gemeenskapsaal en die regering het hierdie grys komberse uitgedeel,” verduidelik Nobukho die inspirasie daaragter.

“Die komberse is dun en jy het meer as een nodig as jy wil warm word. Dit is goedkoop, maar dit het ook troos gebring, want ons het pas al ons besittings verloor. Almal was in een groot spasie sonder enige grense. Ons was een groot gemeenskap wat anstig gewag het.”

Onder aan die groot kombersfigure is kinders wat speel en “nie bewus is dat hulle pas gevaar ontsnap het nie”. Die figure is gesigloos omdat die komberse steeds gebruik word en iemand anders ervaar ook wat sy deurgemaak het, sê die kunstenaar.

Die kinders wat speel, terwyl die volwassenes angstig wag vir antwoorde.

Die uitstalling eindig met blou oorpakke wat gesiglose werkers uitbeeld.

Die blou oorpakke van werkers. Die kunstenaar wou hierdie werkers vier, omdat hulle dikwels misgekyk word.

“Dis nie ’n ag shame-oomblik nie,” verduidelik Nobukho die inspirasie agter die installasie. “Ek wil nie hê die besoekers moet die werkers bejammer nie. Ek wil die werkers vier. Ek wil ook hê hulle moet dieper kyk en die drome en inspirasies van hierdie werkers sien. Die werkers het nie altyd daarvan gedroom om as ’n huiswerker of in konstruksie te werk nie.”

Nobukho het ’n bouperseel besoek en klanke van hul gewerskaf opgeneem. Hierdie opname vergesel die uitstalling sodat besoekers die “werkers self kan hoor”. 

Sy het ’n sug van verligting gegee toe sy die finale uitstalling sien, sê Nobukho. “Dit was ’n goeie ervaring,” vertel sy oor die proses. “Ek ken die [Zeitz MOCAA] span se werk en ek kon hulle vertrou.”

Sy vlieg op 9 Augustus na Amerika, maar na haar eerste solo-uitstalling beplan sy om die golf te ry totdat sy ’n nuwe geleentheid ontdek, vertel sy op die antwoord oor wat vir haar volgende is.

Met die viering van Vrouedag om die draai, voel Nobukho dat die stryd wat vroue ervaar steeds die gebrek aan geleenthede is. “Die stryd het nie verander nie, want vroue word steeds misgekyk,” sê sy. “Vroue het in alle sfere van die samelewing geleenthede nodig.”    

  • Foto’s: Cliffordene Norton 

Lees ook

Grootste William Kentridge-uitstalling ter wêreld in Kaapstad te sien

Africa Day 2019 at Zeitz MOCAA

Dekolonialisering en die museum: voorbeelde uit Suid-Afrika en Frankryk

Zeitz MOCAA wil bewys kuns behoort aan almal

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top