Enig in sy soort. Die Zeitz Museum of Contemporary Art Africa (Zeitz MOCAA) in Kaapstad is nie net die grootste kunsmuseum in Afrika en die grootste museum in die wêreld wat kontemporêre kuns van Afrika vertoon nie, die museum poog ook om kuns toeganklik vir almal te maak en te help om die idee dat kuns net vir die sogenaamde “elite” is om te besigtig, te help afbreek.
Inderdaad ’n indrukwekkende gebou met ’n uitstalruimte van 6000 vierkante meter oor nege verdiepings, met 100 galeryruimtes. Die Zeitz MOCAA is in die V&A Waterfront in Kaapstad geleë en het in September 2017 geopen na jare se bouwerk. In sy eerste bestaansjaar het die museum reeds 350 000 besoekers verwelkom.
Die Zeitz MOCAA bevat ’n indrukwekkende versameling kuns van regoor die kontinent en verklaar hulle is toegewyd tot die navorsing, versameling en uitstal van Afrika-kuns. Afgesien van die wonderlike verskeidenheid kunswerke, spog die museum ook met ’n boekwinkel, geskenkwinkel, leeskamers, ’n beeldetuin op die dak en ’n restaurant op die boonste vloer.
In ’n poging om die museum meer toeganklik te maak vir alle lede van die publiek, is daar verskeie spesiale aanbiedinge waarvan besoekers gebruik kan maak wanneer hulle die museum besoek.
Een van hierdie inisiatiewe sluit in dat Suid-Afrikaanse burgers op Woensdae tussen 10:00-13:00 verniet toegang tot die museum kry. Al wat besoekers moet doen is om hulle ID-boekie of -kaart te wys. Op die eerste Vrydag van elke maand is die toegang tot die museum halfprys tussen 16:00 en 21:00. Boonop kry kinders onder die ouderdom van 18 jaar oud regdeur die jaar verniet toegang tot die museum. Volgens die museum se webtuiste is as’t ware amper 30% van die mense wat reeds die museum besoek het, besoekers wat die die museum verniet besoek het, wat bewys dat die museum ’n daadwerklike poging aanwend om te verseker dat meer mense die museum verniet kan besoek.
Lauren Hess, kommunikasie- en bemarkingsbestuurder van Zeitz MOCAA beaam dat die museum konstant aan innoverende en volhoubare maniere probeer dink om die museum toeganklik vir die publiek te maak, nie net met betrekking tot die kuns wat uitgestal word nie, maar ook met betrekking tot bekostigbare toegang tot die museum. “Die gratis Woensdagtoegang vorm deel van Zeitz MOCAA se doel om interkulturele begrip aan te moedig en toegang tot kuns en kultuur vir almal te waarborg.”
Dié idee van ’n museum as ’n inklusiewe ruimte sluit aan by ’n lesing wat vroeër vanjaar by die museum gehou is. Die boodskap van die lesing was dat ’n museum ’n inklusiewe ruimte moet wees wat toeganklik is vir diverse gehore. Nie eksklusief nie. ’n Ruimte waar almal welkom is. Die “Metabolic museum-university”-lesing het op 10 Januarie by die museum plaasgevind en is gelewer deur Clémentine Deliss, bekende kurator, uitgewer en kultuurhistorikus.
Belangrike punte wat tydens die lesing genoem is, is dat museums belangrik is vir die bewaring van kuns en erfenis.
Kennis bemagtig mense, en museums is wonderlike ruimtes om te leer van kuns, geskiedenis en erfenis. Die probleem is egter dat verbruikerswese en die ergonomiese bestuur van gehore, eerder museums se potensiaal as demokratiese ruimtes belemmer, in plaas daarvan om dit te voed en aan te help.
Deliss het onder meer gevra hoe museums diverse gehore bymekaar kan bring en ’n ruimte kan skep wat effektief sowel as betekenisvol is vir almal wat dit besoek; ’n ruimte waar daar nie net vir sekere eksklusiewe gehore voorsiening gemaak word nie.
Daarom dat die museum die eerste van sy soort is, wat die aandag op kuns van Afrika toespits en die idee van ’n tradisionele “kunsgalery” heroorweeg en herskep. Uniek is die Zeitz MOCAA verseker.
Die Zeitz MOCAA is gevestig in ’n belangrike historiese baken, die ou graansilos by die V&A Waterfront, en vorm deel van die sogenaamde Silo District.
Die bekende graansilos is die 1920’s gebou vir die berging van graan, wat dan op skepe elders heen vervoer is. Vir die grootste deel van ’n eeu was die silos die industriële hart van die hawestad, en is gevolglik later ’n erfenisgebied verklaar.
Dit was ook die hoogste struktuur in Afrika vir ’n lang tyd. Die oorspronklike struktuur was 57 meter hoog en het bestaan uit 56 silos, twee geboue en ’n aangrensende hysbak. Die laaste vrag wat per skip vanaf die silos uitgevoer is, was 21 450 metrieke ton gars in 1995.
Volgens die V&A Waterfront se webtuiste het konstruksie om die historiese silos in ’n kontemporêre kunsmuseum te omskep in 2014 begin nadat daar lank besin is wat om met die struktuur te doen. As gevolg van die struktuur se status as erfenisgebied, mag die silos nie gesloop geword het nie en die idee was om dus die kompleks in iets betekenisvol te omskep.
’n Skyfievertoning by die museum, wat deel vorm van die uitstallings, vervat die geskiedenis van die historiese silos en vertel die verhaal van hoe die museum tot stand gekom het.
Besoekers aan die museum kan dus dié uitstalling, kompleet met skaalmodelle van die museum, foto’s, video’s en dies meer, ook by die museum besigtig om ’n beter oorsig van die totstandkoming van die museum te kry.
Die uitstalling bevat ’n omvattende en interessante oorsig oor hoe die ingewikkelde bouprojek verloop het om die silos in die museum te omskep.
Nadat daar besluit is om die struktuur in ’n kunsmuseum te omskep, het Ravi Naidoo, wat Design Indaba begin het, die ontwerper Thomas Heatherwick ingespan om te help om die silostruktuur te herontwerp.
Tersefldertyd was die Duitse sakeman, Jochen Zeitz, wat reeds sedert 2002 kontemporeêre kuns van Afrika versamel, op soek na ’n ruimte om sy versameling te bewaar, en toevallig het sy pad met die van Naidoo en Heatherwick gekruis.
Zeitz het ’n visie gehad om die eerste groot museum te skep wat uitsluitlik vir die bewaring van kontemporêre kuns uit Afrika is. Nadat daar koppe bymekaar gesit is, het die verskeie visies uiteindelik gelei tot die oprigting van die nie-winsgewende openbare instelling nou bekend as die Zeitz MOCAA.
Daar is gepoog om ’n gebou te ontwerp wat hulde sou bring aan die silos as belangrike historiese baken, en juis daarom is die buitekant van die struktuur grootliks behou soos dit destyds gelyk het. Behalwe vir die kuns, sal besoekers hulle ure lank kan vergaap aan die unieke boustruktuur en argitektoniese aspekte van die gebou.
Dit spreek vanself, maar die Zeitz MOCAA is sonder twyfel die besoek werd vir enige persoon wat dit nog nie besoek het nie. Kunsuitstallings is kort-kort aan die verander, met nuwe uitstallings wat gereeld bygevoeg word tesame met die permanente uitstallings.
Kuns van bekende kunstenaars soos Mary Sibande, Frances Goodman, Kendell Geers, William Kentridge en Nicholas Hlobo is al in die museum uitgestal.
Van die uitstallings wat tans in die museum te sien is, is Why Should I Hesitate: Putting Drawings To Work van William Kentridge, Still Here Tomorrow to High Five You Yesterday… van verskeie kunstenaars, en die indrukwekkende TSIATSIA ̶ searching for connection deur die bekroonde kunstenaar El Anatsu.
TSIATSIA − searching for connection is ’n muurgemonteerde beeldhouwerk wat 15,6 m x 25 m groot is en bestaan uit agt vertikale panele, en een van die grootste kunswerke wat die kunstenaar tot nog toe gemaak het. Die kunswerk bestaan uit aluminium-bottelproppies wat geweef is om ’n tapisserie te maak.
Die groot verskeidenheid kunswerke is vreemd, oorspronklik en soms ook oorweldigend − maar vervelig beslis nie. Selfs al beskou jy jouself nie as die grootste kunsfanatikus nie, sal jy tog die ervaring as stimulerend ervaar. Die kuns is tegelyk vreemd, wonderlik en absurd. ’n Mens verstaan nie noodwendig alles nie, maar tog voel jy jy het iets wyser geword oor die wêreld.
In die woorde van William Kentridge: “The absurd, with its rupture of rationality − of conventional ways of seeing the world − is in fact an accurate and a productive way of understanding the world.”
Lees ook
Grootste William Kentridge-uitstalling ter wêreld in Kaapstad te sien
Buro: MvHDekolonialisering en die museum: voorbeelde uit Suid-Afrika en Frankryk