Grootste William Kentridge-uitstalling ter wêreld in Kaapstad te sien

  • 0

............ 

“Suid-Afrika het oor die afgelope paar dekades baie verander. Ek was ’n student tydens die 1976 Soweto optogte en ’n jong kunstenaar toe ’n noodtoestand in Suid-Afrika aangekondig is. Ek het die jare van apartheid ervaar en ek ervaar nou die jare na apartheid. Suid-Afrika het deur so baie verander oor die jare, tog kan ’n mens sê dat Suid-Afrika glad nie eintlik verander het nie. Daar is soveel aspekte van Suid-Afrika wat tog maar oor die jare dieselfde gebly het.” ‒ William Kentridge

............

William Kentridge (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Die grootste uitstalling ooit deur die internasionaal-bekroonde 64-jarige kunstenaar William Kentridge is tans oop vir die publiek in Kaapstad. Dié uitstalling is nie net die grootste uitstalling van William Kentridge se kuns in Afrika nie, maar ook die grootste ooit ter wêreld.

Die unieke uitstalling word gesamentlik deur die Zeitz MOCAA en die Norval-stigting aangebied. Why should I hesitate: Putting drawings to work (te sien by Zeitz MOCAA) en Why should I hesitate: Sculpture (Norval-stigting) sal tot Maart 2020 besigtig kan word.

Why should I hesitate: Sculpture by die Norval-stigting (Foto: Dave Southwood, Norval-stigting)

Why should I hesitate: Sculpture by die Norval-stigting (Foto: Dave Southwood, Norval-stigting)

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar is wêreldbekend vir sy geanimeerde tekeninge wat die jare voor en na apartheid ondersoek. Sy werk is sedert die negentigerjare in museums en galerye regoor die wêreld te sien, waaronder Documenta in Kassel, Museum of Modern Art in New York, Albertina Museum in Wenen, Musée du Louvre in Parys, Whitechapel Gallery in Londen, Louisiana Museum in Kopenhagen en die Reina Sofia-museum in Madrid. Verder het Kentridge ook al verskeie eredoktorsgrade van buitelandse universiteite, insluitend Yale en die Universiteit van Londen, ontvang.

Tammy Langtry, Azu Nwagbogu en Kentridge (Foto: Marli van Eeden)

Hy is bekend vir werke soos Casspirs Full of Love (1989), Ubu Tells the Truth (1997), I am not me, the horse is not mine (2008) en The Refusal of Time (2012).

Kaboom (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Sy werk  reageer op die nalatenskappe van kolonialisme en apartheid en lewer daarom belangrike kommentaar. Sy kuns is bekend daarvoor dat dit die norme en beperkings van kuns konfronteer en uitdaag en die vraag “Wat is kuns?” bevraagteken. Oor die jare het Kentridge met verskillende tegnologieë en media geëksperimenteer om sy boodskap deur middel van sy kuns oor te dra. Sy kuns is bekend vir sosiale en politieke kommentaar, kommentaar oor ongelykheid in die samelewing, en belangrike kommentaar op historiese gebeurtenisse.

Kentridge, die seun van Sydney Kentridge en Felisia Geffen, wie albei prokureurs was wat mense verteenwoordig wat gemarginaliseer is deur die apartheidstelsel, meen daar was nog altyd ’n politieke ondertoon in sy werk. Sy pa, Sydney Kentridge, het immers Nelson Mandela verdedig.

“Suid-Afrika het oor die afgelope paar dekades baie verander. Ek was ’n student tydens die 1976 Soweto optogte en ’n jong kunstenaar toe ’n noodtoestand in Suid-Afrika aangekondig is. Ek het die jare van apartheid ervaar en ek ervaar nou die jare na apartheid. Suid-Afrika het deur so baie verander oor die jare, tog kan ’n mens sê dat Suid-Afrika glad nie eintlik verander het nie. Daar is soveel aspekte van Suid-Afrika wat tog maar oor die jare dieselfde gebly het,” vertel Kentridge tydens ’n toer van die uitstalling en vraag-en-antwoord-sessie by die Zeitz MOCAA en Norval-stigting.

Een van Kentridge se kunswerke (Foto: Marli van Eeden)

Why should I hesitate: Putting drawings to work strek oor verskeie vloere en ruimtes regdeur die Zeitz MOCAA-museum. Die uitstalling bestaan uit ’n groot oeuvre uit Kentridge se loopbaan wat oor meer as vier dekades strek en houtskooltekeninge, musiek, houtsny-afdrukke, animasie, tapisserieë, installasies en video insluit.

Almost Don't Tremble (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

O Sentimental Machine (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Die uitstalling bevat Kentridge se vroeë houtskooltekeninge uit die 1970’s en beweeg onder andere na sy video- en klankinstallasies op groot skerms wat die gewelddadige stryd teen apartheid en rassediskriminasie teenwoordig.

Why should I hesitate: Sculpture by die Norval-stigting (Foto: Dave Southwood, Norval-stigting)

Why should I hesitate: Sculpture by die Norval-stigting (Foto: Dave Southwood, Norval-stigting)

Why should I hesitate: Sculpture by die Norval-stigting vertoon driedimensionele werk van Kentridge van die afgelope 19 jaar en is die eerste uitstalling ter wêreld wat op Kentridge se beeldhouwerk fokus.

Kentridge besigtig een van sy kunswerke (Foto: Marli van Eeden)

Die titel Why should I hesitate is geneem uit die onlangse opera van die kunstenaar, The Head and the Load (2018), wat ’n paar van die paradokse van Afrika se betrokkenheid by die Eerste Wêreldoorlog ondersoek. Hierdie vraag word die eerste keer deur ’n swart soldaat geopper wanneer hy homself die moeilike vraag vra of hy diensplig moet aanvaar en by die oorlog moet aansluit, wat beteken dat hy sy veiligheid en huis agterlaat om sy lewe te waag in ’n oorlog waarvan hy min kennis het. As hy diensplig verwerp, staar hy vervolging in die gesig.

Kentridge se vroeë tekeninge (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Kentridge se vroeë tekeninge (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Dié betekenisvolle uitstalling is as’t ware fragmente van die wêreld en Suid-Afrika se geskiedenis wat besoekers terug neem in die tyd, op ’n reis van die afgelope 40 jaar. Kentridge se kuns is ’n belewenis om te ervaar. Die kombinasie van visuele en klankelemente is stimulerend, en tesame met die verskeidenheid elemente is die uitstalling ’n ervaring wat ’n ieder en elk moet beleef. Die besoeker word met onbeantwoorde vrae en raaisels gelaat en dit word aan die besoeker oorgelaat om sy of haar eie betekenis in die kuns te vind.

Tammy Langtry, die kurator van die uitstalling, verduidelik dat alhoewel Kentridge se kuns toegewyd bly aan ’n Suid-Afrikaanse vertelling, sy projekte humanistiese vrae oor ander soortgelyke historiese mislukkings en ander utopiese moontlikhede vir sukses stel. Op hierdie manier kan die uitstalling beskou word as ’n historiografiese lees van die wêreld gedurende die afgelope eeu.

Ubu Tells the Truth (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Sommige van die tapisserieë (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Wat die uitstalling verder betekenisvol maak, is die feit dat daar nie net op sy kunswerke gefokus word nie, maar ook op hoe hy in sy ateljee te werk gaan om sy kuns te skep en hoe sy kreatiewe proses ontvou. Die uitstalling gee veral aandag aan die rol van ateljeepraktyk in sy loopbaan.

Kentridge by die Norval-stigting (Foto: Marli van Eeden)

Azu Nwagbogu, nog een van die kurators van die uitstalling, sê dit was noodsaaklik om meer van Kentridge se proses om kuns te skep vir besoekers uit te beeld – hoe hy te werk gaan om sy kuns van konsep tot kunswerk te bring.

“Toe ons hierdie uitstalling konseptualiseer het, wou ons meer doen as net om baie van Kentridge se projekte uit sy roemryke loopbaan in een ruimte te kondenseer. Ons wou ook ’n soort ‘agtergrond’-beeld van die kunstenaar bied,” verduidelik Nwagbogu.

By die Norval-stigting (Foto: Marli van Eeden)

Oor die titel van die uitstalling vertel Kentridge dat dit verwys na algemene huiwering in die lewe en ook huiwering en onsekerheid as ’n kunstenaar; na die raaisels sonder oplossings.

Joernaliste besigtig Kentridge se kuns (Foto: Marli van Eeden)

“Huiwer ek omdat ek onseker is? Hoekom huiwer ek as ek weet wat ek doen? Weet ek wat ek doen? Dit is byna in ’n sin retoriese vrae, alhoewel daar nie vraagtekens is nie. Dubbelsinnig in ’n mate. Dit kan ook gesien word as ’n stelling: Ek sal nie huiwer of aarsel nie,” verduidelik Kentridge.

’n Voorstelling van Kentridge se ateljee in Johannesburg (Foto: Gontse Mathabathe, Zeitz MOCAA)

Een van Kentridge interessante kunswerke (Foto: Marli van Eeden)

Die titel is oop vir interpretasie, só sê die kunstenaar self.

En dít is juis een van die dinge wat hierdie uitstalling so spesiaal maak. Alhoewel daar ’n oorkoepelende narratief is, is die kuns oop vir interpretasie deur die besoeker. Die besoeker word gekonfronteer met vrae oor die verlede en vrae oor die hede. ’n Uitstalling waarin jy jouself vir ’n paar uur kan verloor en net kan oorgee aan die kuns en die boodskap wat jy daarvan wegneem. Kuns beteken immers verskillende dinge vir verskillende mense.

Lees ook 

Zeitz MOCAA wil bewys kuns behoort aan almal

Izicwangciso Zezethu: Dis nie ’n "Ag shame"-uitstalling nie

Africa Day 2019 at Zeitz MOCAA

Dekolonialisering en die museum: voorbeelde uit Suid-Afrika en Frankryk

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top