Dekolonialisering en die museum: voorbeelde uit Suid-Afrika en Frankryk

  • 0

Die Zeitz Museum van Kontemporêre Kuns Afrika (Zeitz MOCAA) in Kaapstad. (Foto: Menán van Heerden)

’n Museum moet ’n inklusiewe ruimte wees wat toeganklik is vir diverse gehore. Nie-eksklusief. ’n Ruimte waar almal welkom is. ’n Ruimte waar die besoeker student raak en daar die potensiaal is om te leer. ’n Plek van erfenis, ’n ruimte waar die besoeker meer oor sy erfenis kan leer.

Dít was die oorkoepelende boodskap van die “Metabolic museum-university”-lesing wat op 10 Januarie by die Zeitz Museum van Kontemporêre Kuns Afrika (Zeitz MOCAA) aangebied is. Die lesing is gelewer deur Clémentine Deliss, kurator, uitgewer en kultuurhistorikus. Deliss het die rol van museums in die opvoeding van diverse gehore bespreek. Ná die lesing was daar ’n oopvloergesprek onder leiding van Deliss en die hoofkurator van die Zeitz MOCAA-museum, Azu Nwagbogu.

In die lig van onlangse debatte oor die terugbesorging van gesteelde Afrika-artefakte/-kunswerke deur Europese museums in die koloniale era bespreek Deliss die implikasies hiervan en wat dit vir museums beteken. Moet daar nie meer deur lande gedoen word om kunswerke of artefakte terug te besorg aan hul land van oorsprong nie?

Deliss stel ’n konseptuele plan voor vir ’n metaboliese museum-universiteit, gebaseer op historiese en eietydse versamelings. Sy vergelyk ’n museum, of altans geprofessionaliseerde kunspraktyke, met ’n liggaam. ’n Liggaam wat as eenheid funksioneer met behulp van organe soos die hart, brein, lewer en niere.

Vir die liggaam om gesond te wees, moet al hierdie organe as ’n eenheid werk, verduidelik Deliss. Die weerhouding van etnokoloniale versamelings is soos ’n gewas wat die gesondheid van die "liggaam" bedreig. Indien ons dus kunsgeskiedenis wil dekolonialiseer, is dit nodig dat ons toegang kry tot die etnokoloniale versamelings wat in stoorkamers oorsee lê en dit huis toe bring sodat dit deel van die "liggaam" van die Afrika-museums kan vorm.

"Kom ons verander die liggaam van die museum," beklemtoon sy.

Sy het die volgende belangrike vrae gevra in die lig van bogenoemde debatte:

  • Aan wie behoort kuns en aan wie behoort museums?
  • Wat behoort die rol van museums in Afrika, en Suid-Afrika, te wees?
  • Hoe verskil dit van die rol van museums in die res van die wêreld?

Belangrike punte wat tydens die lesing genoem is, is dat museums belangrik is vir die bewaring van kuns en erfenis. Elke besoeker aan ’n museum is ’n potensiële student wat bemagtig kan word met kennis as hy of sy ontvanklik is vir die geleentheid om te leer. Kennis bemagtig mense, en museums is wonderlike ruimtes om te leer van kuns, geskiedenis en erfenis. Die probleem is egter dat verbruikerswese en die ergonomiese bestuur van gehore eerder museums se potensiaal as demokratiese ruimtes belemmer in plaas daarvan om dit te voed en aan te help. Deliss vra hoe museums diverse gehore bymekaar kan bring en ’n ruimte kan skep wat effektief sowel as betekenisvol is vir almal wat dit besoek; ’n ruimte waar daar nie net vir sekere eksklusiewe gehore voorsiening gemaak word nie.

Restitution. Dié woord het telkens deur die loop van die lesing opgekom. Terugbesorging. Hoekom moet jy ’n vliegtuigkaartjie koop om jou erfenis in oorsese museums te besigtig?

Só vra Deliss.

Die debat oor die terugbesorging van artefakte en kunswerke na hul regmatige “eienaar”, dit wil sê hul land van oorsprong, is beslis ’n relevante en vurige onderwerp. Deliss gebruik die Franse as voorbeeld om die gesprek aan die gang te kry. Die president van Frankryk, Emmanuel Macron, het in ’n verslag opdrag gegee dat duisende Afrika-kunswerke in Franse museums wat sonder toestemming uit Afrika geneem is gedurende die koloniale tydperk, teruggestuur word na dié vasteland. Tensy dit bewys kan word dat kunswerke en artefakte regmatig verkry is, moet hulle permanent aan Afrika terugbesorg word, en nie op langtermynleenbasis nie, het die skrywers van die verslag, die Senegalese skrywer en ekonoom Felwine Sarr en die Franse historikus Benedicte Savoy, gesê. Hulle het aanbeveel dat die Franse wet verander word om die terugbesorging van kultuurwerke aan Afrika toe te laat, nadat Macron aangekondig het dat hy binne vyf jaar wil begin.

Foto: Menán van Heerden

Dit bring die vraag na vore: Aan wie behoort kuns? ’n Vraag uit die gehoor het ook die kwessie van privaat eienaarskap teenoor openbare eienaarskap ter sprake gebring. Hoe kan private kunsversamelings aan die publiek oopgestel word?

Deliss kom tot die gevolgtrekking dat ons moet protes aanteken en ons geskiedenis en kuns moet terugeis, dat ons museums moet terugeis en in toeganklike ruimtes vir diverse gehore moet omskep.

"Let us kill museums," sê sy by wyse van spreke, en verwys daarna dat die rol van die museum in die konteks van Suid-Afrika heroorweeg en herskep moet word. Konteks en geskiedenis is belangrik, en dit speel ’n belangrike rol in hoe museums deur verskillende gehore beskou word in Suid-Afrika.

Sy brei uit oor ’n projek wat sy saam met die Zeitz MOCAA gaan aanpak, waar hulle gaan poog om die museum ’n toeganklike en leersame ruimte (soos aangedui in die titel, “Metabolic museum-university”) vir almal te maak. Hulle gaan poog om ’n ruimte binne sowel as buite die Zeitz MOCAA te omskep in ’n alternatiewe museum, waar hulle groepe inkry wat nie gewoonlik museums besoek nie, en nie die luuksheid daarvan kan bekostig nie, en hulle die geleentheid gee om "studente" te wees en meer oor kuns, kultuur en erfenis te leer. ’n Inklusiewe ruimte.

Dít is immers wat museums moet streef om te wees: inklusiewe ruimtes waar alle gehore welkom is.

……………………………………………………………………….

Clémentine Deliss is ’n kurator, uitgewer en kultuurhistorikus wat in Londen gebore is. Sy het eietydse kuns en semantiese antropologie studeer in Wene, Parys en Londen en haar Phd aan die School of Oriental & African Studies in Londen voltooi.

Sy was al ’n deskundige konsultant vir die Europese Unie en ’n genoot by die Institute of Advanced Study in Berlyn (Wissenschaftskolleg zu Berlin), 2015, en is ’n lid van die Scientific Council of the Musée du Quai Branly in Parys. Sy is tans onder meer interimprofessor van kuratoriale teorie en dramaturgiese praktyk aan die Karlsruhe Universiteit van Lettere en Ontwerp en betrokke by die Skool vir Visuele Kuns, New York (kuratoriale praktyk).

……………………………………………………………………….

Lees meer op Voertaal oor die Afrika-museum naby Brussels:

Afrikamuseum 2.0

Lees meer op LitNet oor dekolonialisering

“The problem with decolonisation”: Jonathan Jansen seminar

Oorwegings vir die dekolonisering van die verwante musieksoorte van Westerse en Suid-Afrikaanse kunsmusiek

Musiek en dekolonisering: Mareli Stolp gesels met Etienne Viviers

Dekolonialisering van die Suid-Afrikaanse familiereg in die lig van transformasiegerigte konstitusionalisme: ’n praktiese benadering vir generasie Z

Decolonising education in South Africa: An interview with Aslam Fataar

Buro: MvH
  • 0
Top