Die Poolse akademikus, letterkundige, vertaler en digter met sy onblusbare liefde vir Afrikaans, Jerzy Koch, het Suid-Afrika die afgelope paar dae van die noorde tot die suide op ’n blitsbesoek vanuit Pole deurkruis om twee van sy nuwe publikasies bekend te stel.
Sy dagboek het behoorlik gekreun onder al die afsprake en optredes aan universiteite, kunstefeeste en ander bekendstellingsgeleenthede.
Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in Kaapstad, die privaat universiteit Akademia in Pretoria, Universiteit Stellenbosch en die Tuin van digters op Wellington was maar enkele van die hoogtepunte op sy lang lys afsprake waar hy moes optree.
Terwyl daar ’n oorlog in sy buurland Oekraïne woed, veg Jerzy Koch sy eie oorlog in belang van die tale waarvoor hy lief is, hetsy dit in sy moedertaal Pools is, en of dit in Engels, Afrikaans of Nederlands is waarin hy ewe tuis is.
Koch is professor in die Departement Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies, Fakulteit Engels, aan die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznan, Pole, navorsingsgenoot aan die Vrystaatse Universiteit, Bloemfontein, en buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is ’n bekroonde vertaler van Nederlandse en Afrikaanse letterkunde in Pools en het al wyd oor Nederlandse en postkoloniale literatuur gepubliseer.
Wat Koch se werk uniek maak, is nie net die akademiese waarde daarvan nie. Hy spog ook met twee Afrikaanse digbundels uit sy pen. Sy tweede Afrikaanse bundel, Polkadraai (Turksvy Publikasies), is ook tydens sy huidige besoek bekendgestel.
Hy het ook verskeie gedigte uit Afrikaans in Pools vertaal, onder andere werke van Breyten Breytenbach en Antjie Krog.
Tydens ’n gesprek die afgelope Dinsdag (4 Oktober) by Sasnev het hy van sy gedigte uit sy jongste bundel voorgelees. Die digter en vertaler Daniel Hugo gesels Saterdag by die Tuin van Digters in Wellington by die Breytenbachsentrum met Koch oor sy tweede digbundel in Afrikaans.
Dinsdagaand se gesprek by Sasnev is gelei deur Andries Visagie, professor in die letterkunde verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Stellenbosch.
Die gesprek het gefokus op die tweede deel van Kock se literatuurgeskiedenis van die Afrikaanse letterkunde: A history of South African literature: Afrikaans Literature Part 2. Die subtitel van hierdie werk is The period of emancipation 1900–1930.
Deel 1 het in 2015 verskyn.
Met emansipasie van die taal, waaroor deel 2 gaan, bedoel hy onder andere emansipasie ten opsigte van Nederlands – die geleidelike afskeiding van Nederlands in die rigting van ’n volwaardige taal – maar ook die emansipasie van taalregte in Suid-Afrika en emansipasie van taal as ’n instrument van die kuns om dit ’n volwaardige taal te maak.
Jerzy Koch en Andries Visagie (Foto:
Koch sê dit was ook ’n emansipasie dat Afrikaans as standaardtaal aanvaar is deur die meeste sprekers van Afrikaans. Dit het veroorsaak dat die taal nie meer in daardie tweetalige situasie geleef het waar daar Afrikaans gepraat is, maar wanneer daar briewe geskryf of Bybel gelees word, dit altyd in ’n verhewe Nederlands gedoen is nie.
Albei dele van hierdie lywige akademiese werke oor die Afrikaanse literatuurgeskiedenis is aanvanklik in Pools geskryf, maar is ook in Engels beskikbaar. Intussen werk Koch reeds aan die derde deel van die projek, wat hy ook in Pools skryf.
“Die posisie wat ek ingeneem het, was dié van iemand wat aan Poolse studente Afrikaanse literatuur moet verduidelik, mense wat byna niks van Suid-Afrika weet nie. Soms is dit nog erger wanneer hulle slegs iets weet wat stereotipies is, want dan moet hulle dit eers afleer voordat hulle die regte inligting begryp.”
Die publikasies is nie net op sy Poolse studente gemik nie. Dit is eweveel van toepassing op die breër publiek buite Suid-Afrika wat belangstel in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.
Deel 2 is ’n uitgebreide en deeglike studie van die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde gedurende die eerste drie dekades van die 20ste eeu. Dit volg op deel 1, waarin die vroeëre ontstaan van die Afrikaanse letterkunde, asook die plaaslike Nederlandse skryftradisie bespreek word.
Koch gebruik die metafoor van kartering om die werk van die historiograaf te beskryf. Sy studie ontleed die literêre tekste binne die konteks van ruimte en tyd. Gevolglik bevat dit inligting oor die skrywers se lewens en tye waarin hulle geleef het, asook die ontwikkelinge in die Afrikaanse letterkunde, kritiek en literêre geskiedskrywing.
Tydens sy gesprek met Visagie rol die name van Afrikaanse skrywers en digters en van hulle publikasies die een na die ander met ’n Nederlandse aksent oor sy Poolse tong asof hy hulle almal persoonlik geken het – van die twintigers verby die sestigers tot by vandag se Afrikaanse skrywers en digters.
Die uiteensetting van sy jongste werk begin met die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse taal tydens die sogenaamde Tweede Taalbeweging. Koch beskryf ook die polemiek tussen historici wat die “spontane ontwikkeling” van Afrikaans uit Nederlands beklemtoon en diegene wat dit as ’n kreoolse taal beskou; sy gebalanseerde gevolgtrekking is dat nie een van die twee groepe absolute aanspraak op die waarheid kan maak nie.
Die belangstelling wat die boek uitlok, word verhoog deur die insluiting van tekste wat in Nederlands geskryf is, soos Koch in deel 1 bespreek het, en ook werke wat nie “literêr” in die streng sin van die woord is nie, soos oorlogsdagboeke.
Dit word nie primêr bespreek vir die literêre waarde daarvan nie, maar vir die insigte wat dit verskaf oor die effek van die Anglo-Boereoorlog op die vorming van Afrikaner-identiteit. Dit bevestig dat hierdie literatuurgeskiedenis nie die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde van die ontwikkeling van Afrikaner-ideologie en -identiteit isoleer nie.
Daarna volg die twee hoofdele van die studie: ’n bespreking van die literêre werke van die “eerste generasie” (Celliers, Totius en Leipoldt) en dié van die “skrywers van die twintigerjare” (Toon van den Heever, AG Visser, CJ Langenhoven en Eugène Marais).
Met sy intieme kennis van die Afrikaanse literatuur oor dekades heen soos wat dit geleidelik van Nederlands gespeen is om ’n volwaardige taal te word, kry Koch dit reg om van buite na binne te kyk hoe Afrikaans en Afrikaanse skrywers emansipasie ondergaan het. As buitestander is hy ideaal geplaas om internasionale blootstelling te gee aan ’n taal wat vandag op verskeie terreine weer onder druk is.
Koch het in sy gesprek met Visagie ook na die waarde van vertaalde werke verwys. Omdat hy self ’n literêre vertaler is, is hy baie sterk daarop ingestel om raak te sien hoe diep die spore van literêre historiese ontwikkeling in vertaalde werke lê.
“Ons is geneig om te sê vertaalde werk is vreemde letterkunde. Nee, alles wat uit Nederlands in Afrikaans vertaal is, is ook Afrikaanse letterkunde. Dit verryk die Nederlandse letterkunde, maar alle vertalings moet gesien word as eie letterkunde in die taal waarin dit vertaal word,” sê Koch.
Hy sê wanneer mens dit verstaan, besef jy dat die twintigers wat in Afrikaans geskryf het, nie slegs mense was wat sekere werke ingevoer het nie. Hulle was skrywers uit eie reg wat iets gedoen het met Afrikaans en die taal verryk en intens daarmee gewerk het.
Visagie het daarop gewys dat daar verskeie momente in die Afrikaanse letterkunde is wat eintlik vertaalmomente genoem kan word. Volgens Koch is dit ’n goeie ding dat daar steeds vandag ook verwerkings of oornames van ander invloede is.
“Dit is ’n goeie ding omdat daar op dié manier wegbeweeg word van ’n eng vaderlandse nasionalistiese en uitsluitende literatuurgeskiedenis na ’n letterkunde wat meer insluitend is.”
Hy sê soms is die onderwerp wat vertaal word, nog nie so doeltreffend aangepak in die taal waarin dit vertaal word nie. Dan word die vertaling ’n instrument om die taal waarin dit vertaal word, te verryk. “As ek na Pools vertaal, dan is ek ’n Poolse skrywer en dieselfde met vertalers wat uit Nederlands in Afrikaans vertaal. Hulle is Afrikaanse skrywers. Hulle skryf van die oorspronklike werk maar werk nie in Nederlands nie. Hulle moet wel Nederlands goed verstaan, maar hulle werk in Afrikaans. Daarom is hulle Afrikaanse outeurs uit eie reg, waarvan daar baie voorbeelde is, soos Uys Krige. Hulle is nie net vertalers nie.”
Vir Koch is die skryf van sy akademiese werk eintlik ’n taallaboratorium. “Afrikaans was nog altyd ’n fenomeen vir taalkundiges. Nie net ten tye van apartheid nie, maar selfs voor die sisteem van rassesegregasie was dit ’n fenomeen dat die taal so vinnig ontstaan het en die ontstaansgeskiedenis daarvan so goed gedokumenteer is.”
Koch sê daarom gebruik baie taalkundiges Afrikaans vandag nog as ’n laboratorium vir hulle teorieë. Vir hom is Afrikaanse letterkunde ook ’n soort laboratorium waar hy oor taal kan eksperimenteer.
Lees ook op LitNet en Voertaal:
LitNet Akademies-resensie-essay: A History of South African Literature deur Jerzy Koch
Video en foto's: Bekendstelling van Jerzy Koch se omvattende geskiedenis van Afrikaanse letterkunde
Buro: MvH