Ramaphosa se rol in Zuma-herlewing

  • 0

Dit is die Suid-Afrikaanse president se skuld. Matamela Cyril Ramaphosa het gedog hy doen die regte ding toe hy in Augustus verlede jaar “spesiale remissie” aan sy voorganger, Jacob Zuma, toegestaan het.

Dié spesiale “afslag” op vonnis is ook aan ’n tienduisend stuk ander gevangenes aangebied, maar in Zuma se geval was dit nie om hom vroeër vrygelaat te kry nie. Dit was in werklikheid om te verhoed dat hy weer opgesluit word.

Net dat ons nie hier deurmekaar raak nie: Teen daardie tyd was Zuma, wat in Julie 2021 tot 15 maande tronkstraf deur die Konstitusionele Hof vir minagting van die hof gevonnis is, reeds op mediese parool vrygelaat. Hy was uiteindelik slegs twee maande agter tralies, ook nie werklik in ’n tronksel nie, maar in ’n hospitaalsaal in die tronk. Die mediese parool word toe vanuit die burgerlike samelewing deur die burgerregte-organisasie AfriForum en ander betwis.

Sowel die Appèlhof as die Konstitusionele Hof bevind daarna in die aansoekers se guns en téén die departement van korrektiewe dienste se poging om die parool geldig te hou.

Nou moes die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste besluit oor of Zuma weer “ingeboek” moes word en of daar nog ’n wetlike wegkomkans was. Dié geleentheid doen homself toe voor by wyse van die “spesiale remissie” wat Ramaphosa en die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, in Augustus verlede jaar aangekondig het.

Ramaphosa kon toe ’n sug van verligting slaak, want die laaste ding wat hy wou hê, is ’n herhaling van die onluste wat in Julie 2021 uitgebreek het – glo in protes teen Zuma se inhegtenisname. Maar die gevoel van verligting sou van korte duur wees. Skaars vier maande later (in Desember verlede jaar) maak Zuma dit toe duidelik dat hy skynbaar goed genoeg van die gesondheidstoestand herstel het waarvoor hy op mediese parool vrygelaat is.

Hier was hy nou weer terug op die politieke verhoog, ’n verwikkeling waaroor ek in twee vorige bydraes geskryf het: “Die kat (van Nkandla) kom weer ...” en “Hoeveel politieke lewens het Zuma?

Teen daardie tyd het hy gewoon sy ondersteuning vir die nuwe uMkhonto we Sizwe (of MK-) party genoem ná die ANC se voormalige militêre vleuel openbaar gemaak het. Mettertyd raak dit toe egter duidelik dat hy ook as die party se nommer een-kandidaat vir Suid-Afrika se algemene verkiesing op 29 Mei aangewys is. Maar in die Verkiesingskommissie se beoordeling van kandidate is Zuma se kandidatuur toe afgekeur ingevolge ’n bepaling in die Grondwet.

Dié bepaling in art 47 (1) (e) lui dat iemand as onbevoeg beskou word om as ’n LP in die Nasionale Vergadering te dien, indien sodanige persoon binne of buite die Republiek van Suid-Afrika aan ’n misdryf skuldig bevind is “en tot meer as 12 maande gevangenisstraf sonder die keuse van ’n boete gevonnis is”. Zuma se vonnis was 15 maande tronkstraf. Die beperking verstryk, lui die bepaling verder, vyf jaar nadat die vonnis voltooi is.

Zuma se regspan besluit toe om dié bepaling in die Verkiesingshof te beveg op grond daarvan dat “spesiale remissie” aan hom toegestaan is, wat vir hulle sou beteken dat sy vonnis verkort is.

In ’n beslissing wat die wenkbroue behoorlik laat lig het, het die Verkiesingshof die afgelope week in Zuma se guns bevind. Redes moet wel nog deur die hof verskaf word. Die uitspraak was egter ’n dubbele oorwinning vir Zuma en die MK-party nadat ’n ander hofuitspraak ook vroeër bevind het dat dit binne hul reg is om die naam vir die party te gebruik, ten spyte van die ANC se betoog dat die naam en die geskiedenis wat daarmee gepaard gaan, aan die party behoort.

En intussen word die uitslae bekend gemaak van nóg ’n peiling wat aandui dat dié nuwelingparty groeiende steun vir die komende verkiesing geniet. Dié peiling deur die Social Research Foundation stel MK se steun (indien die verkiesing nou gehou sou word) op 14% teenoor die huidige drie grootste partye: 37% vir die ANC, DA op 25% en die EFF se 11%.

In DA-geledere word nou verwys na die moontlikheid van ’n “oordeelsdag”-koalisie tussen die ANC, EFF en MK. Dit moet ten alle koste gekeer word. Maar MK se woordvoerder wil van ’n koalisie met die ANC niks hoor nie. Watter kant toe die EFF van Julius Malema sal beweeg, is onseker. Of was hy ernstig toe hy onlangs opgemerk het dat die enigste voorwaarde waarop hy met die ANC sal saamwerk, is indien hulle in ’n ná-Mei-kabinet die pos van minister van finansies aan sy adjunk, Floyd Shivambu, toevertrou.

Reeds voor dié opmerking het The Economist in ’n artikel getiteld “The dangerous kingmaker” gemaan: “Mr Malema would no doubt want a senior cabinet post in return for joining a coalition. That would bring his divisive and disruptive politics into the heart of the government.” Die artikel sluit as volg af: “Though that would keep Mr Ramaphosa in power, it would hardly be a recipe for economic or political stability.”

’n Mens kan met redelike sekerheid sê dieselfde geld vir ’n ANC-MK- en baie spesifiek ’n EFF-MK-koalisie: weinig sprake dan van ekonomiese of politieke stabiliteit. Ramaphosa wil homself seker nou skop omdat hy uiteindelik self dié perd opgesaal het toe hy Zuma ter wille was met die “spesiale remissie”. Hy het gedog hy bewaar die vrede, maar soos wat Jean Oosthuizen ook vir Voertaal berig, is dit nou dalk ’n spreekwoordelike oorlog waarop hy homself in die aanloop tot einde Mei se verkiesing moet voorberei.

Zuma se uitspraak dat hy “onafgehandelde werk” het omdat hy gedwing is om vroeg in 2018 as staatshoof te bedank, is iets om op ag te slaan. Dit berei moontlik ook die weg voor vir nóg ’n hofgeding indien hy wel parlement toe gaan. Die volgende stryd sal dan straks wees oor die grondwetlike beperking van twee presidensiële termyne, want Zuma sê hy het nooit twee uitgedien nie omdat “hulle my uitgedwing het”. Hy het dus rede om te probeer om homself met alle mag te probeer terugdwing in die presidensiële ampswoning Tuynhuys, dansend en singend op die maat van sy strydlied “Umshini wami”. Ramaphosa moet hoop dat die Verkiesingskommissie se besluit, wat Vrydagoggend bekend gemaak is, om appèl teen die Verkiesingshof se Zuma-uitspraak aan te teken, vrede vir hom – en die land – sal bring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top