Rassisme moet uitgeroei word, maar daar moenie daarvoor gesoek word waar dit nie bestaan nie.
So het regter Connie Prinsloo Donderdag in die Arbeidshof gesê toe sy beslis het Elana Barkhuizen onwettig geskors is en dat sy mag terugkeer na haar pos as onderwyser by die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes.
Elana Barkhuizen
Bron: Twitter (Solidariteit)
Haar skorsing by die skool het ’n rasseherrie in die land veroorsaak wat veral deur politici aangevuur is nadat sy ’n foto geneem het van ’n kollega se graad-R klas waar swart en wit kinders by verskillende tafels sit.
Dit het later geblyk die rede waarom die kinders aanvanklik geskei is, was omdat hulle nie Afrikaans of Engels verstaan nie en om hulle gerus te stel in die klas. Latere foto’s wat ook van die graad R-klasse geneem is, wys hoe wit en swart kinders saam om een tafel sit.
Noordwes se departement van onderwys, die skool se beheerliggaam en verskeie politieke partye sit nou met rooi gesigte nadat hulle die voorval van die begin af verkeerd hanteer het.
Politieke partye van die ANC tot die DA, EFF en Patricia de Lille se Good-party het soos ’n trop honger wolwe reageer en politieke munt uit die voorval probeer slaan sonder om hulle van die feite te vergewis.
EFF calls for dismissal of Laerskool Schweizer Reneke Teacher. pic.twitter.com/1PWCsZsMP8
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) January 11, 2019
Noordwes se LUR vir onderwys, Sello Lehari, wat Barkhuizen se onwettige skorsing aangekondig het, het Woensdag reeds teruggekrabbel en aangekondig hy en sy departement trek hulle voorneme terug om Solidariteit se dringende hofaansoek teen te staan.
Solidariteit wat namens Barkhuizen opgetree het, het in hofstukke gesê die departement en beheerliggaam se voortydige optrede om Barkhuizen te skors het haar professionele integriteit benadeel en haar as ’n rassis gebrandmerk.
#elanabarkhuizen - Juffrou Elana word vandag deur Solidariteit in die Arbeidshof verteenwoordig. Daar word vandag oor die wettigheid van haar skorsing beslis.@SolidariDirk @Netwerk24 @eNuus @maroelamedia @RapportSA @PretoriaFM @afriforum @GrootFM @BrinkSOS_Skole @eNCA @waldimar pic.twitter.com/kS9cIJ6E3g
— Solidariteit (@solidariteit) January 24, 2019
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het aan ENCA gesê sy glo nie Lehari het die Laerskool Schweizer-Reneke-petalje reg benader nie.
Regter Prinsloo het gesê sy het geen rede om te dink dat Barkhuizen se skorsing regverdig is nie. Sy sê sy hoop dat alle partye uit die voorval sal leer en dat amptenare besluite sal neem nadat hulle die saak ondersoek het. Sy het beslis Barkhuizen skorsing was onwettig en dat sy reeds Vrydag na haar pos kan terugkeer om normaal met haar werk voort te gaan.
Barkhuizen het na die tyd gesê sy sien uit om terug te gaan skool toe en neem nie die beheerliggaam kwalik vir wat gebeur het nie. “Ek is net ongelooflik dankbaar vir elke liewe een wat saam met my die pad gestap het. Geregtigheid het geseëvier,” het sy gesê.
Solidariteit het in ’n verklaring ’n beroep op die LUR vir onderwys in Noordwes gedoen om nie met enige stappe teen ander onderwysers by Laerskool Schweizer-Reneke voort te gaan nie omdat die skade wat hy reeds berokken het, genoeg is.
“Ons is verheug oor die uitspraak en is dankbaar dat ’n vorm van geregtigheid vir Elana geskied het. Ons is egter steeds teleurgesteld dat ons hierdie kwessie tot in die hof moes beveg,” het dr Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Volgens Hermann het Barkhuizen, talle kindertjies, die skool en die breë samelewing baie seergekry weens politieke opportunisme. “Dié voorval is vir almal in Suid-Afrika ’n les oor hoe die demokrasie nie moet werk nie,” het Hermann gesê. (https://solidariteit.co.za/hof-bevind-schweizer-reneke-juffrou-se-skorsing-onwettig/)
Lees ook
Buro: NB