....
Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):
Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
....
Lees die jongste verwikkelinge (Maart 2020):
♦ Persverklaring: The lost boys of Bird Island
♦ Boek oor Bird Island was "karaktermoord" en "web van leuens"
....
Die omstrede bewerings oor ’n pedofielnetwerk waarby drie oud-ministers van die destydse Nasionale Party betrek word, gaan nou deur die polisie ondersoek word nadat nuwe inligting glo aan die lig gekom het.
Twee van die ministers, genl Magnus Malan en John Whiley, is reeds oorlede maar die derde een leef nog. Hy ontken die boek se bewerings ten sterkste.
Die bewerings wat in die boek Die seuns van Bird Island onthul is, het skokgolwe deur die land gestuur en het tot ’n hewige polemiek onder Suid-Afrikaners gelei oor die geloofwaardigheid daarvan.
Tafelberg Uitgewers sê in ’n verklaring verskeie mense wat kennis dra van die beweerde pedofielnetwerk het met waardevolle inligting vorendag gekom wat aan die polisie oorhandig is. ’n Hoëvlak polisieondersoek is glo van stapel gestuur om die saak verder te ondersoek.
Die aankondiging volg minder as twee weke nadat ’n voormalige redakteur van Volksblad, Hennie van Deventer, op Netwerk24 geskryf het geen slagoffers van die beweerde wandade kon opgespoor word nie. Tafelberg sê egter in hulle verklaring ’n aantal slagoffers het wel na vore gekom en het skriftelike verklarings afgelê oor die beweerde seksmisdade wat verband hou met die bewerings in die boek.
Van Deventer het op Netwerk24 geskryf: “Van die onthullings wat telkemale uit soveel monde beloof is (onder andere deur die uitgewer Tafelberg en medeskrywer Chris Steyn) het daar dadels van gekom. ’n Mens moet dankbaar wees dat dié onheuglike sage nou so dood soos ’n mossie is.”
Dit blyk egter nou dat die saak nuwe lewe gekry het. Een van die boek se skrywers, Chris Steyn, het toestemming van sommige van haar bronne gekry om hulle identiteit aan die polisie bekend te maak. Sy het ook mense oorreed om verklarings by die polisie af te lê.
Tafelberg sê hulle het die Suid-Afrikaanse Polisie op 6 September reeds genader met nuwe inligting wat aan die lig gekom het nadat die boek gepubliseer is. Die polisie het ’n ondersoek gelas wat gelei sal word deur die hoof van die Wes-Kaap se eenheid vir gesinsgeweld, brigadier Sonja Harri.
Volgens Tafelberg is die nuus van die polisieondersoek tot dusver stilgehou om die ondersoekbeamptes in die saak geleentheid te gee om hulle werk te doen.
Een van die boek se medeskrywers, Mark Minnie, is kort na die verskyning van die boek met ’n skietwond in sy kop dood aangetref in ’n oënskynlike selfdood. Die ander medeskrywer van die boek, Chris Steyn, is glo sedert sy dood op verskeie maniere geïntimideer. Haar uitgewer sê ten spyte daarvan het sy voortgegaan met haar ondersoek en het leidrade opgevolg. Sy het glo van die begin af haar volle samewerking aan die ondersoek gegee.
Steyn, sowel as Tafelberg, het hulle dankbaarheid teenoor die polisie uitgespreek dat hulle ten spyte van skaars mannekrag ingestem het om die saak wat reeds 30 jaar oud is weer te ondersoek.
Die bewerings wat in die boek gemaak is, word ook steeds deur die Stigting vir Menseregte ondersoek. Hulle het onder andere die hulp van ’n forensiese kenner ingeroep om die omstandighede rondom Minnie se dood te probeer vasstel, maar kon nie tot ’n substantiewe gevolgtrekking kom nie. Die aanvanklike verslag van die forensiese kenner is ook aan die polisie se kinderbeskermingseenheid oorhandig.
Tafelberg sê die boek is in die eerste plek geskryf met die hoop dat daar vir die eerste keer ’n behoorlike ondersoek na die aangeleentheid sal wees. “Dit het uiteindelik gebeur en diegene wat uit vrees vir hulle eie en hulle families se veiligheid nie na vore wou kom nie, kan nou na vore kom sonder vrees dat hul identiteit openbaar gemaak sal word.”
Enige persoon wat kan help met inligting oor die seuns van Bird Island is gevra om ’n e-pos te stuur na birdisland2018@gmail.com.
Lees ook
Buro: NB