Die hardhandige wyse waarop twee vrouejoernaliste van The Citizen die afgelope week deur van die betogende boere in Senekal hanteer is, word ten sterkste deur die Suid-Afrikaanse redakteursforum (Sanef) veroordeel.
Die DA-lid van die Vrystaatse wetgewer en leier van die amptelike opposisie in die wetgewer, Roy Jankielsohn, is ook deur ’n deel van die skare uitgejou toe hy hulle wou toespreek.
Die optrede deur ’n deel van die betogers tydens Dinsdag se hofverskyning van die beskuldigdes in verband met die moord op die 21-jarige Brendin Horner het die gemeenskap se gemoedere laat oorkook. ’n Polisievoertuig is ook deur die skare omgegooi en aan die brand gesteek.
Hoewel daar groot begrip by die meeste mense bestaan vir die frustrasie wat daar onder die boeregemeenskap bestaan, het Dinsdag se optrede deur ’n deel van die betogers volgens verskeie kommentators die saak van diegene wat hulle teen plaasmoorde uitspreek, geen guns bewys nie.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het ook ’n beroep op boere gedoen om die probleem van plaasmoorde nie met geweld op te los nie, maar met rede, billikheid en regverdigheid.
Een van The Citizen se joernaliste wat Woensdag oor die gebeure in Senekal verslag gedoen het, is deur van die boere gevloek toe sy op ’n muur wou klim om beter te kan sien wat gebeur. Sy is onder andere aangesê om haar foon waarmee sy ’n video geneem het, te bêre en aangesê om te f*off.
Kort daarna het een van die boere haar selfoon uit haar baadjie gegryp en in twee gebreek voordat hy dit op die grond gegooi het. Die koerant se fotograaf is ook tydens die voorval aangerand. Van die omstanders het glo probeer om haar kamera af te neem.
Sanef sê in ’n verklaring hulle is diep besorg daaroor dat joernaliste tydens die week se gebeure aangerand is deur ’n deel van die skare wat Senekal se landdroshof bestorm het.
The Citizen se joernalis wat deur ’n deel van die skare verhinder is om hul werk te doen, was Marizka Coetzer en die fotograaf Tracy-Lee Stark.
Volgens Stark is hulle aangesê om geen foto’s te neem nie. Toe sy in Engels weier om aan die versoek te voldoen is sy deur een van die boere ’n liberale teef genoem en haar kamera is volgens haar hardhandig gegryp, het The Citizen berig.
“Hulle het gedreig om die kamera stukkend te gooi terwyl hulle my aanhoudend rondgestamp en fisiek aangerand het. Een van boere het tussenbeide getree en gesê hulle moet terugstaan. Ek is aangesê om die gebied dadelik te verlaat terwyl daar op my geskreeu is om my liberale teenwoordigheid te verwyder ter wille van my eie veiligheid.”
Dit was die tweede voorval die afgelope week waar ’n joernalis deur omstanders verhoed is om sy of haar werk te doen. Die vorige dag is die rubriekskrywer Ismail Lagardien ernstig beseer toe hy verslag gedoen het oor ’n perlemoenbetoging in Kleinmond wat gewelddadig geëindig het.
SANEF Condemns Attack On Ismail Lagardien in Kleinmond’s Abalone Protest. every citizen should be seriously troubled. Journalists go out in the field to tell community stories, both fairly & accurately. https://t.co/VeMtGAoQB0 @sbungalwa@nwabisa_mak@hlatseentle@MaryPapayya
— SANEF (@SAEditorsForum) October 7, 2020
Sanef sê hy is ernstig bekommerd oor die groeiende tendens dat gemeenskappe joernaliste aanval om hulle woede en frustrasie teen die regering en owerhede uit te spreek. “Joernaliste het die reg op ’n veilige werksomgewing net soos enige ander werker in Suid-Afrika wanneer hulle uitgaan om hulle werk te doen.”
Sanef het ’n beroep gedoen op AfriForum, die Unite Against Farm Murders-beweging en verskeie ander politieke partye, insluitend die DA, wat aan die betoging voor Senekal se landdroshof deelgeneem het, om joernaliste te beskerm en hulle veiligheid te bevorder.
Hulle doen ’n ook ’n beroep op wetstoepassingsdienste om die voorvalle behoorlik te ondersoek en die skuldiges aan te kla.