Stukkie kleurvolle Suid-Afrika in Nieu-Meksiko

  • 0

In die hartjie van Santa Fe, Nieu-Meksiko se museumdistrik lê ’n skatkis van kreatiwiteit wat die diversiteit van menslike kultuur vier: die Museum of International Folk Art – bekend as een van die wêreld se mees omvattende volkskunsversamelings wat uit meer as 100 lande afkomstig is.

Die museum is in 1953 gestig en bevat meer as 135 000 kunswerke en artefakte wat stories van alledaagse lewe, rituele en historiese verbondenheid deur middel van tekstiele en speelgoed, tot beeldhouwerk en kostuums vertel.

Buite op die blou muur by die ingang staan die woorde: “The art of the craftsman is a bond between the peoples of the world.”

Ek moet erken, dis omtrent die presiese woorde wat die Meksikaans-Amerikaner vir my dae tevore aan boord die Norwegian Bliss gesê het, toe ek haar mooi borsspeld bewonder het en sy vertel het dit kom uit die Lynn Godfrey Brown-winkel by dié museum.

Sy koop graag juweliersware daar, het sy vertel, met ’n lang skemerkelkie in haar hand waaraan nog museumaankopies geflits het. Dis die lekkerte van ’n skeepsvaart met Norwegian Cruise Lines – jy ontmoet mense van regoor die wêreld wat interessante aanbevelings kan maak wat jou reise verryk.

Die vrou is ’n boorling van Sante Fe en op haar aanbeveling het ons toe besluit om die museum te kom besoek.

Groot is my verbasing toe ek pas ná die ingang vasloop in ’n uitstalling: iNgqikithi yokuPhica / Weaving meanings: telephone wire art from South Africa. Mens kan nie help om trots te voel nie!

Dis ’n baanbreker-tentoonstelling wat die wêreld se eerste groot versameling Suid-Afrikaanse telefoondraadkuns in ’n Noord-Amerikaanse museum wys. Hierdie uitstalling is meer as net ’n versameling kunswerke; dis ’n verhaal oor identiteit, ongewone kunsmateriaal, kultuur en kreatiewe veerkragtigheid.

Die uitstalling gee nie net gesigte en stemme aan die kunstenaars agter die produkte nie, maar gee besoekers ook die geleentheid om die denke en proses daaragter te ervaar.

Die verwelkomingsbord vertel in Zoeloe, Engels en Spaans: “Te midde van teëspoed en hulpbronskaarstes, het telefoondraadkunstenaars dit gewaag om nuwe moontlikhede te verbeel. Gedryf deur kreatiwiteit en noodsaaklikheid, het hulle hul omgewing vir weggooimateriaal gefynkam en dit in kunswerke omskep.

“Lank voordat die wêreld die waarde van herwinning erken het, het hierdie visionêre kunstenaars die potensiaal in die onverwagte gesien. Hulle het geïnnoveer, aangepas en geskep, en ’n nalatenskap agtergelaat wat ons inspireer om afval te heroorweeg, konvensies uit te daag en die vindingrykheid van die menslike gees te vier. Terwyl ons deur hierdie uitstalling reis, laat ons die vindingrykheid en kreatiwiteit van hierdie pioniers eer, wat ’n nuwe verhaal van volhoubaarheid, innovasie en artistieke uitdrukking geweef het” (Muziwandile Hadebe en Ntuthuko Khuzwayo, inheemse kennis-kenners).

“Telefoondrade het vir byna ’n eeu wêreldwye kommunikasie moontlik gemaak. Maar hierdie verbindingslyne is nooit billik versprei nie.

“Met improvisasieweerstand teen koloniale en apartheidsera-onderdrukking, het swart Suid-Afrikaners – veral dié van Zoeloe-herkoms – ’n nuwe kunsvorm met behulp van telefoondraad ontwikkel. Dis geskoei op tradisionele kunste en bring kwaliteite van metaalbewerking, veselmandjieweefwerk, kerfwerk en kralewerk bymekaar. Vandag is telefoondraad ’n embleem van Zoeloe – en meer inklusief van Suid-Afrikaanse – trots, met invloede wat wissel van intergenerasionele herinneringe en politieke geskiedenis, tot popkultuur.”

In die uitstalling vind besoekers ’n fassinerende samestelling van historiese en moderne werke wat almal geknoop is uit helder gekleurde telefoondraad – ’n medium wat oorspronklik in KwaZulu-Natal as ’n kreatiewe hergebruik van afvalmateriale begin het.

Die uitstalling kombineer die historiese funksies van hierdie draadmateriaal – wat soms selfs as ’n vorm van ruilhandel of sosiale statussimbool gedien het – met die kontemporêre artistieke stemme van die kunstenaars wat vandag hierdie tradisie laat voortleef.

Die titel is ’n poëtiese uitnodiging. iNgqikithi beteken die “essensie” of “kern” of “diep oorsprong” van iets en yokuPhica verwys na die weeftegniek self. Die delikate telefoondraad in elke denkbare kleur kry nuwe lewe onder vlytige vingers. Tradisionele grasweeftegnieke het in die laat sestigerjare hierdie kleurvolle byvoeging gekry toe landelike vroue en manlike werkers in die stede begin het om uitskot-telefoondraad in hul grasmandjies, bakke en bierhouers te vervleg.

Die kunsvorm het vinnig posgevat en gou is ingewikkelde patrone en woorde met tradisionele weeftegnieke in verskillende kleure gevleg.

Daar is iets van alles: bierpotte met deksels (izimbenge), wat soos klein kunsgalerye pryk, ingewikkelde borde en bakke met simmetriese patrone, tot beeldhouwerkies wat uit die draad klim. Die uitstalling kombineer die historiese funksies van hierdie draadmateriaal met die kontemporêre artistieke stemme van die kunstenaars wat vandag hierdie tradisie voortbou.

By ’n bord wat apartheid verduidelik, steek ek vas. Dit noem onder meer dat dit ’n politieke stelsel van amptelike rasverdeling was wat van 1948 tot 1994 geduur het. “Die stelsel het verseker dat die land se wit minderheidsbevolking polities, ekonomies en sosiaal gedomineer het, terwyl die meerderheid nie-wit bevolking gelyke regte tot geleentheid ontneem is.”

Ek is bly vir die konteks wat dit in die uitstalling bring, anders sou baie van die kunstenaars se insette dalk minder indrukwekkend vir ’n lekebesoeker wees.

Wat hierdie uitstalling werklik besonder maak, is dat dit nie net die visuele prag van die kunstenaars se werk wys nie; dit gee stem aan die kunstenaars self.

Eenkant speel ’n video wat agtergrond gee oor die kunstenaars, hul kuns, hul herkoms en hoe dié internasionale geleentheid hul lewens verander het.

Bheki Sibiya. Mandjie, 2000. (Foto: Museum of International Folk Art)

Muziwandile Gigaba is die gemeenskapskurator en hoof- inheemse kennis-kenner vir hierdie uitstalling. Hy sê die uitstalling vier die belangrike rol wat telefoondraadkuns in die ontwikkeling en transformering van Suid-Afrikaanse erfenis speel.

“Draadgeweefde mandjies, objekte, stawwe en beeldhouwerke dien as objekte van geheue en gee ons ’n kykie in apartheid en die bittersoet geskiedenis van Suid-Afrika.”

Alfred Ntuli. Mandjie met deksel, 2011. (Foto: Museum of International Folk Art)

Sy insette help om die kulturele en historiese kontekste agter die kunstenaars se werk te verduidelik, en sy stem kan in dié video en ander aanvullende beeldmateriaal op kleiner skerms in die uitstalling gehoor word.

Daar in die effe skemerte sit ek op ’n bank en luister en kyk na hul vertellinge.

Elizabeth Perrill is die gaskurator van die uitstalling. Haar navorsing en interaksie met die kunstenaars help om hul stemme en stories te raam. Sy sê deur historiese en kontemporêre kunswerke en ontwerperstukke wat uit die vroeë negentigs spruit, teenoor mekaar te vertoon, bied hierdie ’n groot versameling wat deur David Arment en Jim Rimelspach geskenk is.

Zodwa Maphumulo (Foto: Zamo Mhkize en Gone Fishing Productions)

Van die kunstenaars wat in die video’s te sien is, is onder meer Zodwa Maphumulo, Ntombifuthi (Magwaza) Sibiya, Bongeleni Mkhize, Hlengiwe Dube, Ntombifuthi (Maphumulo) Mwimule en ander.

Sipho Mhlongo besig met sy kuns, terwyl hy ’n skof as nagwag werk. (Killie Campbell Collection Archives. Foto: Zamo Mhkize en Gone Fishing Productions)

Benewens die insette van kunstenaars, praat verskeie kundiges ook, waaronder gemeenskapslede soos Muziwandile Hadebe en Pretty Ntombifuthi Mwimule, wat hul perspektiewe deel, wat die historiese en sosio-kulturele diepte van hierdie draadwerk belig.

Ek raak skoon tranerig toe ek by Dudu Cele se The new South Africa-kunswerk, wat in die negentigs gemaak is, vertoef. Die kort beskrywing sê die nuwe Suid-Afrikaanse vlag het ses kleure: swart, geel, rooi, groen, wit en blou. “Die ontwerper, Fred Brownell, het geen vaste simboliek met enige kleur vasgelê nie, maar baie Suid-Afrikaners praat van die rooi sonsondergange, groen lande, blou oseane as parallelle vir die vlag se horisontale bande.”

Die eenvoud van Dudu se ontwerp is des te meer treffend en ek is trots dat dit my land se vlag is en ek deel van die geskiedenis én toekoms is.

Zodwa Maphumulo. Skoolkinders, 2003. (Foto: Museum of International Folk Art)

Dat mens nou só ver van die huis só nostalgies moet wees!

By die museumwinkel dink ek weer aan my gesels op die skip onderweg na Meksiko, skaars ’n week gelede. Die verskeidenheid telefoondraadkuns-memorabilia te koop sou sekerlik my medepassasier se kop laat draai het! Die kleure, ontwerpe en vaardigheid maak my sommer weer trots Suid-Afrikaans.

Buite op die stoep kyk ek uit oor die vlaktes rondom die dorp. Terwyl Santa Fe se bloedrooi landskappe en kulturele rykdom toeriste lok, bied die Museum of International Folk Art ’n ander soort reis – een deur die wêreld se handgemaakte kuns, wat alle mense in een kleurvolle wêreld verweef.

Die museum is ’n platform vir wêreldklasdialoog oor mense, gemeenskappe en die eindelose moontlikhede van kreatiewe uitdrukking.

Kitsfeite
  • Die uitstalling, iNgqikithi yokuPhica / Weaving meanings: telephone wire art from South Africa, is nog oop vir die publiek tot 29 Maart vanjaar.
  • Kyk die video ter agtergrond oor die uitstalling hier: https://www.youtube.com/watch?v=SgDDTHD8SNc
  • Die Museum of International Folk Art is in Camino Lejo 706 op Museum Hill, Santa Fe geleë en daagliks van 10:00 tot 17:00 oop. Toegang is $12 per persoon en $7 vir Nieu- Mexiko-inwoners. Kinders onder 16 gratis. 

Foto’s: Clifford Roberts, Zamo Mhkize, Gone Fishing Productions en Museum of International Folk Art

Lees ook:

Pareltjes uit Amsterdam: ’n Suid-Afrikaanse fokus op die Rijksmuseum

Japan is dekor- en ontwerphemel

Dertig jaar van demokrasie met kuns vertel

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top