
Op die vooraand van die 31ste viering van die demokratiese Suid-Afrika op 27 April staan ek in die groot uitstalsale van die museum van die Norvalstigting in Tokai, Kaapstad voor die werke wat deel vorm van We, the people: 30 years of democracy in South Africa.
- Foto’s: Clifford Roberts en met vergunning van Norvalstigting
Op die vooraand van die 31ste viering van die demokratiese Suid-Afrika op 27 April staan ek in die groot uitstalsale van die museum van die Norvalstigting in Tokai, Kaapstad voor die werke wat deel vorm van We, the people: 30 years of democracy in South Africa. Liese van der Watt is die kurator en die fokus is om drie dekades van die Suid-Afrikaanse demokratiese reis en die land se transformasie deur magtige visuele kuns te vertoon.
Van der Watt is ’n Suid-Afrikaanse kunshistorikus en kurator wat tans van Londen werk, nadat sy voorheen aan die Universiteit van Kaapstad gedoseer het. Haar skryf- en kuratoriale projekte fokus op kontemporêre Afrika-kuns en sy is ’n lid van Zeitz MOCAA se Global Council.
Die uitstalling het in Desember geopen, maar ons kry eers nou kans om hier uit te kom. Hoe ons hier uitgekom het, het sy eie storie: In Januarie vanjaar luister ek na Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting, een van die sprekers by ’n museumsimposium oor die toekoms én dekolonisasie van Afrika-museums. Tayla het ’n Meestersgraad in Tasbare Erfenisbewaring en is die afgelope dekade by museums betrokke.
Tayla Hollamby verwelkom die gaste.
Tayla het daar vertel dat die Norvalmuseum in 2018 geopen het en ’n kontemporêre museum is, wat in wese verskil van baie van haar kollegas se museums. Hulle fokus op die hede en baie op die jeug en betrek hulle baie by kunsaktiwiteite.
“Dis so belangrik om beide die goed en die sleg van ons land se geskiedenis te erken. Ons huidige uitstalling, We, the people: 30 years of democracy in South Africa is ’n baie moeilike uitstalling, omdat daar ’n goeie én ’n slegte kant van die lewe in Suid-Afrika in 2025 is. Baie van ons besoekers is post-apartheid gebore en weet ook baie min van dié tydperk. En hierdie uitstalling bied ook vir hulle ’n nuwe perspektief.”
Sjef Matt Manning met een van die kussinkies vir die aand en ’n glas Pommery in sy hand.
Natuurlik is my belangstelling geprikkel. Sy nooi my later oor koffie om beslis te kom kyk en ek belowe ek en my sielsmaat kom so gou ons kan. Voor ons toe ’n afspraak kan maak, kom die uitnodiging van Champagne Pommery, een van die bekendste sjampanjehuise in Frankryk.
Omdat hul plaas en ondergrondse kelders in Reims net so op kuns en gereelde uitstallings gefokus is en sjampanje vir hulle as ’n soort kuns in eie reg is, het hulle Norval gekies om hul hertoetrede tot die Suid-Afrikaanse mark te vier. Dit was voorheen hier te kry, maar verskeie faktore het hul fokus vir meer as ’n dekade van die Suid-Afrikaanse mark laat taan. Die aand sal fokus op die verskillende sjampanjestyle en dit sal met kos bedien word wat deur die Britse sjef Mat Manning by die Norvalrestaurant, Grub & Vine Norval, bedien sal word.
Hoe lekker om van die yskoue sjampanje te proe en dan na die beeldhoutuin te gaan.
Van die kunswerke in die beeldhoutuin by die Norvalstigting se museum.
Matt het sy sjefstande in Londen se beste Michelin-ster-restaurante geslyp onder leiding van die beste sjefs, waaronder Gordon Ramsay, Marcus Wareing, Alyn Williams en Bryn Williams. Hy het na Suid-Afrika verhuis en eers by La Colombe gewerk, voordat hy interaktiewe opwip-eetervarings, soos One Ingredient, geloods het en in 2018 Grub & Vine in Breëstraat, Kaapstad geopen het.
Tayla doen die rondleiding en ons stap agter haar aan met glase yskoue Pommery en volg haar soos die rotte van Hamelin die fluitspeler gevolg het en hang aan haar lippe.
Gaste kon voor die rondleiding en ete eers in die beeldhoutuin gaan rondstap.
Ek kyk sommer met ander oë na die werke, omdat Hadrien Pats, uitvoerbestuurder van die Vranken Pommery Monopolegroep, langs my stap. Hy is jonk en sy oë blink en hy het vroeër vertel hoe mal hy oor Suid-Afrika en haar komplekse geskiedenis is.
Hadrien Pats, uitvoerbestuurder van die Vranken Pommery Monopolegroep, en Reagan Clay, Vinimark-handelsmerkbestuurder vir Pommery, klink glasies Pommery-sjampanje op die hertoetrede van dié bekroonde sjampanjehuis tot die Suid-Afrikaanse mark.
Dit het laat in 2024 geopen toe die land drie dekades gevier het sedert die eerste demokratiese verkiesing en sedert die African National Congress (ANC) aan bewind gekom het, met Nelson Mandela as eerste president.
Tayla vertel: “Die werke bied ’n innoverende verkenning van die land se demokratiese evolusie deur te kyk na vier algemene temas wat inskakel by ’n ander aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing.
Galerye 5 en 6 het die tema “To belong” in die 30 years of democracy-uitstalling.
Galery 7 het die tema van “To care” in die uitstalling.
“‘To belong’ spreek die blywende uitwerking van koloniale en apartheidsera-grondonteiening op mense se gevoel van behoort aan. ‘To protest’ kyk na sosiale bewegings wat veg vir gelykheid en die uitdagings van protesgeweld. ‘To care’ fokus op omgewingskwessies en beklemtoon die kruising van omgewings- en sosiale geregtigheid. ‘To be heard’ kritiseer die idee van die reënboognasie en bevorder wêreldskepping as ’n ander manier om Suid-Afrika se diverse samelewing te omhels en hoe om dit te navigeer.”
Galery 4 het die tema “To protest” in die uitstalling.
Dan Halter se The social contract (2021) op die voorgrond en Inga Somdyala se Pompa Funebris III (2024) in die agtergrond.
Die uitstalling moedig kykers aan om deel te wees van die voortdurende proses van demokrasie. Die werke noop jou om te dink, introspeksie te doen.
........
Die uitstalling moedig kykers aan om deel te wees van die voortdurende proses van demokrasie. Die werke noop jou om te dink, introspeksie te doen.
........
Tayla stap met ons deur die verskillende sale waarin die vier temas uitgebeeld word. ’n Paar werke trek my ekstra hard en dwing jou om langer te talm. Are we the people? deur Lerato Shadi (uitstalling: Batho ba me, 2020) beslaan ’n hele muur en is ’n dramatiese inleiding tot dit wat in die sale verder wag.
Are we the people? deur Lerato Shadi (Batho ba me, 2020) beslaan ’n hele muur en is ’n dramatiese inleiding tot dit wat in die sale verder wag.
“We the people” is ’n gewilde aanhef van grondwette regoor die wêreld. Met twee neonelemente voor- en agteraan die woorde, verskerp Shadi die uitdrukking tot ’n vraag wat direk op die kyker gerig is: “Is ons die mense?” Vir wie is die “ons” wat hier beweer word, eintlik ’n realiteit en hoe word hierdie “ons” gedefinieer? Shadi verwys na ’n wesenlike teenstrydigheid tussen insluiting en uitsluiting wat altyd ontstaan wanneer gemeenskappe gevorm word.
Sue Williamson se fotoreeks, The Last Supper at Manley Villa.
Paul Weinberg se foto’s oor die 1994-verkiesing.
“Ons” word veral in politieke diskoerse gebruik om aanspraak te maak op ’n gevoel van gemeenskap, wat altyd krities bevraagteken moet word. Debatte oor die toegang tot ’n herhaalde mense- en burgerregte-vraagstuk toon dat die probleem altyd ’n herhaalde mense- en burgerregte is. Ook in die uitstalling is die vraag wat gestel word oor behoort vir elke kyker verskillend, aangesien dit nou verbind is met elkeen se persoonlike agtergrond.
Die tweede werk wat my langer gevange hou, is Kemang Wa Lehulere se Dear Chieko Shiomi (2015). Dit bestaan uit ’n swartbord, skoolbank en keramiek honde.
Galery 4 het die tema “To protest” in die uitstalling. Hier het Kemang Wa Lehulere se keramiekhonde my veral laat talm.
Van der Watt het dit as volg beskryf: “Deur Chieko Shiomi aan te spreek asof hy haar opdrag volg om aan haar te skryf, verwys hy na die sondeval wat betekenisvol is vir sy konteks. Hy roep Nat Nakasa se tragiese selfdood op deur te val en jukstaponeer dit met ’n mislukte klaskamer met ’n nuttelose lessenaar en stom onderwerpe. Wa Lehulere herbesoek ’n voortdurende kommer in sy oeuvre, wat die kolossale mislukkings van ’n diskriminerende onderwysstelsel en sy tallose slagoffers registreer.”
Lerato Shadi se Motlhaba wa re ke namile-video (2016) in die agtergrond en Dineo Seshee Bopape se footnotes, Lerole (2023) is ongevuurde kleibakstene van verskillende tipes klei, seesand van die suidelikste punt van Afrika en dennehoutplaatjies.
Tayla waarsku dat die video-uitstalling waarheen ons stap nie vir sensitiewe kykers is nie. Lerato Shadi se Motlhaba wa re ke namile (2016) is ’n hoëdefinisie-video met klank. “In hierdie video eet die kunstenaar die rooigrond van haar geboortedorpie in die Noordwes-provinsie in Suid-Afrika, maar sy sukkel om dit te sluk. Terwyl die stryd om die grond van haar geboortedorpie in te sluk ’n letterlike poging – en mislukking – is om voorvaderlike grond te neem en vas te hou, sorg dit ook vir ’n diep ongemaklike kykerervaring, byna onmoontlik om na te kyk. Grond eet was ook ’n metode van selfmoord wat deur Afrika-slawe gebruik is, en Shadi herinner ons dat hierdie desperate dade ook moedige vorme van weerstand was.”
Ben Stanwix en Xhanti Zwelendaba se werk, wat uit plastiek- en staal-ooretikette vir diere bestaan. Dis op ’n bereide koeivel gemonteer. Die kunstenaars het die eerste Investec Opkomende Kunstenaarstoekenning by die Investec Cape Town Art Fair gewen.
Tayla deel die woorde van Caroline Greyling, museumdirekteur, net voor ons die laaste werke gaan kyk: “Met die 30ste herdenking van so ’n monumentale oomblik in ons land se geskiedenis – die koms van ons demokrasie – het ons met hierdie uitstalling ’n tree terug geneem om te besin oor hoe kunstenaars gereageer het op die transformasies en veranderinge wat in ons jong land plaasgevind het. Ons vertrou dat hierdie uitstalling interessant sal wees vir gaste, jonk en oud, wat insigte sal bied in visuele narratiewe wat deur die afgelope drie dekades gemaak is. Dit is ’n spesiale oomblik om hierdie uitstalling by die Norvalmuseum ten toon te stel.”
Die kunswerke is gekies vir die manier waarop hulle aktief aan ons demokrasie deelneem en sluit werke van Igshaan Adams, Dineo Seshee Bopape, Candice Breitz, Wim Botha, Bronwyn Katz, Sabelo Mlangeni, Walter Meyer, Gugulective, die Keiskamma Kunsprojek en vele ander in.
Die Keiskamma Collective se The Keiskamma altarpiece (2004–2005). Kralewerk, foto’s op skilderdoek, appliek en borduurwerk op goiingsak.
Igshaan Adams se Voetpatjies (2018).
Patrick Bongoy se Killing time (2017) is herwonne rubber op veselglas en houtstomp.
Van der Watt het tydens ’n rondleiding vertel: “Demokrasie is nie iets wat ons het nie; dit is iets wat ons doen. Die kuns in hierdie uitstalling daag die verlede uit, bevraagteken die hede en stel ’n toekoms voor waar demokrasie iets is wat ons voortdurend saam skep.”
Dis met daardie woorde wat ons deurstap na die restaurant om aan te sit vir ’n Pommery-sjampanje-en-kospasmaat-ete. Die tafels is keurig, die gaste divers en uiteenlopend en my hart voel lig.
Sjef Matt verwelkom almal met die woorde: “Kuns – of dit nou visueel, kulinêr of die kunstenaarskap van wynmaak is – ontlok emosie. Dit het die krag om jou nostalgies, verkwik of geïnspireer te laat voel. Ons glo nie net in die pragtige sinergie tussen kos, wyn en kuns nie; ons wil hê ons gaste moet dit ook voel.”
Ek sien uit na die volgende 30 jaar én die kuns – visueel of met wynmaak en sjampanjeborrels – wat dit gaan inspireer.
Van die kunswerke in die beeldhoutuin by die Norvalstigting se museum.
Ek het opgelees oor die museum: “Dit staan as ’n bewys van die ryk tapisserie van moderne en kontemporêre kuns van die Afrika-kontinent en sy diaspora. Met galerye en ’n voortdurend ontwikkelende uitstallingsprogram, dien hierdie vooraanstaande kunsmuseum as ’n lewendige skakel vir die tentoonstelling van ’n dinamiese verskeidenheid kunswerke, wat skilderkuns, fotografie, beeldhouwerk en mediakuns insluit, beide histories en kontemporêr.
“Die buitelug beeldetuin, geleë tussen die inheemse vleiland se flora en fauna, bied ’n betowerende omgewing vir besoekers om interaksie te hê met monumentale buitelug-beeldhouwerke in die permanente versameling.
“Sedert sy ontstaan in 2018, is Norvalstigting daartoe verbind om die begrip en waardering van Afrika-kuns te koester. Dit streef daarna om Afrika-kunstenaars binne die globale kunshistoriese kanon te posisioneer, bewustheid te bevorder en die diskoers rondom hul bydraes te verhoog. Boonop is die Stigting se verbintenis tot kulturele verryking en opvoeding duidelik deur sy robuuste openbare programmering en toegewyde Leersentrum, wat daarop gemik is om die kreatiewe ontwikkeling van jong geeste in Suid-Afrika te ondersteun.”
As rentmeesters van die Homestead-versameling, Hersieningsversameling, die Alexis Preller en die Edoardo Villa-argief, sowel as die Gerard Sekoto-stigting, dien die Norvalstigting as ’n bewaarder van kunstenaars se nalatenskappe wat vir geslagte lank geniet kan word.
Gaste is genooi om ’n uur of wat voor die amptelike program begin te arriveer, om die beelde in die tuin op hul eie met ’n glas sjampanje te ervaar.
- Die uitstalling is oop vir die publiek en sluit op 22 November 2025.
- Loer by www.norvalfoundation.org vir meer inligting oor die uitstalling en by https://www.champagnepommery.com/the-experience/l-art-en-europe/14 vir meer oor die sjampanjehuis se gereelde kunsuitstallings en betrokkenheid by kunsprojekte.
Lees ook:
Museums moet inklusief word en die jeug betrek om dit te bereik