
Ben Stanwix en Xhanti Zwelendaba wen die eerste Investec Opkomende Kunstenaar-toekenning vir hul kunswerk, getiteld Thaba Nchu, wat uit materiaal op ’n katoenskilderdoek gemaak is en het ’n posseël wat ’n sendingvergadering in die 1830’s uitbeeld, as basis gebruik.
- Foto’s: Maryke en Clifford Roberts
........
Kaapstad se aanwysing as die eerste Afrika Wêreld Ontwerp Hoofstad het baie bygedra om die kunsfees se status te laat groei tot die kontinent se grootste kunsfees.
........
Die Kaap het gegons terwyl die 12de fisiese Investec Cape Town Art Fair – Afrika se grootste kunsfees – gehou is. Daar was meer as 120 uitstallers, 30 000 besoekers en 10 000 BBP’s en die fees bied ’n platform vir galerye, versamelaars, kurators en kunstenaars van regoor die wêreld om verbindings aan die voorpunt van kontemporêre kuns te skep.
Die tema vir 2025 was “Speel” en die fees is in drie afdelings ingedeel: Main; Lookout; en Editions, en dit het weer drie segmente gehad: Tomorrows/Today; Solo; en Genarations wat elkeen sy eie kurator gehad het. Mariella Franzoni van Spanje, Céline Seror van Nederland en Heba Elkayal van Engeland het onderskeidelik die afdelings gelei.
Mariella Franzoni, die kurator van die 2025 Tomorrows/Today het Vrydagmiddag ’n rondleiding gedoen om agtergrond oor die kunstenaars wat onder hierdie afdeling uitgestal is, te gee.
Tomorrows/Today plaas die fokus op die kunstenaars wat die voorste name van die toekoms sal wees; Solo fokus op kunstenaars wat plaaslik en oorsee werk in solovoorleggings; en Generations vier kunstenaars wat in verskillende stadiums van hul kunsloopbane is en aan kruisgenerasie-besprekings deelneem en dit aanmoedig.
Franzoni het ’n rondleiding van die Tomorrows/Today-gedeelte gedoen en gesê dié afdeling dien as ’n platform vir die versterking van die stemme, idees en temas wat reeds onder opkomende kunstenaars na vore kom.
“As ons kyk na wat opkomende kunstenaars vandag doen, bied dit ons ’n blik op die praktyke, temas en werkwyses wat die toekomstige kunstoneel sal definieer.”
Haidee Nel se beeldhouwerk I love u, I love u not, I love u … 3 is gekerfde hout en poli-marmer.
Met ’n intieme ervaring in een van die wêreld se unieke kunshoofstede, het Investec Cape Town Art Fair sedert sy ontstaan in 2013 bewys dat dit die plek is waar die snelgroeiende Afrika-kunsmark en die internasionale kunswêreld ontmoet. Baie loopbane het al hier ’n internasionale hupstoot gekry en oorsese geleenthede vir plaaslike kunstenaars geskep.
Kuns kan baie vorms en baie mediums insluit.
Pierre Fouché se kunswerk ’n Aarde nuut en vry het honderde dobbelsteentjies as medium.
Tydens die fees kon besoekers die kunswerke in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) besigtig; praatjies met kurators en kunstenaars geniet; of op kunswandelings deur die uitstallings gaan. Daar was lekker geleenthede om met ’n glas Boschendal-vonkelwyn of koue witwyn in die hand rustig na kuns te kyk en met kunstenaars en kurators idees uit te ruil.
Rowan Smith se Here & There, Tomorrow 1.3 T-shirt is polistireen, wit sement en marmerstof.
Meer as 500 kunstenaars van 58 lande op vyf kontinente se werke het ’n weeklange kunsfees volsirkel gebring. Altesaam 30 nuwe galerye het vir die eerste maal deelgeneem.
Vanjaar is die eerste Investec Opkomende Kunstenaar-toekenning – wat ’n plaaslike kunstenaar wat in enige medium werk, maar nog nie bande met enige museum, instelling of versameling het – gehuldig. Dié prys het meer as 20 inskrywings gehad en vanjaar na Ben Stanwix en Xhanti Zwelendaba van RESERVOIR gegaan. Hul kunswerk is getiteld Thaba Nchu, wat uit materiaal op ’n katoenskilderdoek gemaak is en het ’n posseël wat ’n sendingvergadering in die 1830’s uitbeeld, as basis gebruik.
Agnes Essonti Luque, ’n kunstenaar van Kameroen, het die Tomorrows/Today-prys ingepalm.
Die hele week was verskeie galerye en ateljees oop vir die publiek om te besoek.
Bo en onder: Ateljee-besoeke is regdeur die week aangebied. Galerie EIGEN + ART het ’n oop ateljee met Gabrielle Kruger in Soutrivier gehad.
Een hiervan was Galerie EIGEN + ART wat ’n oop ateljee met Gabrielle Kruger in Soutrivier aangebied het. Sy gebruik ’n unieke verftegniek, waar sy verf gebruik om die konvensies van tradisionele skilderkuns op sy kop te draai.
Sy het as meesterstudent met olieverf geëksperimenteer en dit het gelyk of die verf van die skilderdoek afgedrup het en een resensent het gesê dit lyk of die werk van die doek wil afval. Dit was die aha-oomblik en haar reis het begin. Dit was ook die tema van haar meesterstesis. Sy wou skilderye verf waar die verf “sy eie ding doen” en geen oppervlak nodig het om dit in plek te hou nie.
Sy het aanvanklik gewone huisverf gebruik, maar dit word mettertyd bros en sy het uiteindelik saam met iemand gewerk om haar eie verf te ontwikkel.
........
“Ek is gefassineer deur die buigbaarheid van die medium en terwyl ek werk, druk en speel ek met die grense van akrielverf. In die proses van lae skep, weef, krap, sny en vou, ontwikkel die verf sy eie taal. Elke element word ’n nuwe kwashaal, ’n nuwe soort merkmaak, wat deel word van ingewikkelde en beeldhouwerk-komposisies wat verder gaan as tradisionele skildertegnieke. – Gabrielle Kruger
........
Sy eksperimenteer met akrielverf as ’n dinamiese medium deur die grense tussen skilder en beeldhouwerk te vervaag. Haar tegniek boots die vloeibaarheid van gom na wanneer dit nat is en die elastisiteit van rubber wanneer dit droog is. Deur stukke verf uit te druk en te droog om die skildery aanmekaar te sit, word die verf ’n collage-materiaal.
“Ek is gefassineer deur die buigbaarheid van die medium en terwyl ek werk, druk en speel ek met die grense van akrielverf. In die proses van lae skep, weef, krap, sny en vou, ontwikkel die verf sy eie taal. Elke element word ’n nuwe kwashaal, ’n nuwe soort merkmaak, wat deel word van ingewikkelde en beeldhouwerk-komposisies wat verder gaan as tradisionele skildertegnieke.
“Ek vind inspirasie in die natuurlike omgewing, natuurskoon en die plante in tuine – beide wild en getem,” het sy verduidelik.
Die idee van ’n sosiaal en materieel gekonstrueerde landskap vorm haar werk op beide ’n abstrakte en figuratiewe manier.
Verskeie voorste galerye het voor die week amptelik afgeskop het, reeds glanspartytjies met besoekende kunstenaars en kurators gehou, om dialoog te stimuleer en nuwe netwerke te vestig.
Die fees moedig dialoog en nuwe netwerke aan.
Daar was verskeie eerstes vanjaar:
’n Kunswandeling deur ’n nuwe afdeling by die fees, getiteld Lookout – ’n afdeling wat fokus op opkomende galerye wat vir minder as vyf jaar werk – is deur Sean O’Toole gelei en het aan feesgangers dieper insig gegee oor hierdie opwindende vertakking.
Ook is daar uurlange kunswandelings onder die titel VIP Hour met onder meer Kimberley Cunningham, Keely Shinners, Kirsty Cockerill en Brett Scott aangebied.
Southern Guild het die Beninese kunstenaar Dominique Zinkpè se debuut-solouitstalling aangebied; WHATIFTHEWORLD het Stephané Edith Conradie se uitstalling Wegwysers deur die blinkuur by die historiese Kasteel geopen; die Stellenbosch Triënnale 2025 is amptelik geopen; en gaste kon die werke van die Malawiese kunstenaar Billie Zangewa by die Norvalstigting se galery geniet. Die uitstalling is getiteld Breeding ground.
Stephané Edith Conradie se gemengde mediasamestelling Lekkende en aansteeklike rotsdier is deur WHATIFTHWORLD uitgestal. Sy het ook ’n uitstalling Wegwysers deur die blinkuur by die historiese Kasteel.
Ander roemryke geleenthede was die eerste Rupert Museum-opskietuitstalling by Merchants on Long, getiteld Jean Lurçat – the song of tapestry. Ook die verskeie praatjies, openinge en kunswandelings by galerye tot sover as die Norvalstigting in Tokai, Iziko Nasionale Galery in die middestad, Zeitz MOCAA in die V&A Waterfront en die Stellenbosch Triënnale in Stellenbosch waar die hoofkurator van die Triënnale 2025 in die Ou Kollegegebou ’n rondleiding aangebied het.
Die Keniaans-gebore Stanislav Trzebinski se obsessie met die oseaan en die natuurlike wêreld kom na vore in sy nuwe reeks funksionele bronsstandbeelde, wat as deel van die Solo-afdeling uitgestal is.
SMAC Gallery het ’n praatjie en kunswerk van opkomende en gevestigde Namibiese kunstenaars oor ’n diverse reeks mediums gehou.
Gaste kon ook saam met die span van House and Leisure-tydskrif op ’n ekslusiewe besoek na Lezanne Viviers se historiese Art Deco dakwoonstel in Mutual Heights gaan, wat in die jongste uitgawe van die tydskrif verskyn het. Die tydskrif se tema is ook “Speel”.
’n Werk van Daniele Sigalot, Call me painter – akriliese vernis op aluminium – het goed ingepas by die “Speel”-tema. Dit kos R170 000.
Saans kon gaste by die Gin Bar byeenkom vir lewendige musiek met die stad se voorste DJ’s, waaronder Sean O’Toole, Lady Skollie, Keely Shinners en Dr Phokeng Setai en die kunsgesprekke daar oor skemerkelkies voortsit. Daar was selfs drie spesiale Art Fair-mengeldrankies wat deur die fees se drie afdelings geïnspireer is, met name soos Sour Cherry Margarita, Flying Solo en Smoked Cedar Old Fashioned.
Een aand het die gewilde ArtThrob Party by One Park met DJ’s Keely Shinners, Morena Leraba en Dominique Cheminais die lywe laat ruk en rol tot vroegoggend.
Plakkate is kuns in eie reg soos hierdie uitstalling gewys het.
Vrydagaand – om die eerste publieke opedag te vier – het galerye in die stad hul deure tussen 18:00 en 20:00 vir besoekers oopgegooi. Hieronder was onder meer artHARARE, EBONY/CURATED, WORLDART, Eclectica Contemporary, THK Gallery en SMAC Gallery.
Kleurvolle werke van die ikoniese Esther Mahlungu was ook te sien.
Die Investec Cape Town Art Fair word deur Fiera Milano Exhibitions Africa (FMEA) van die Fiera Milano-groep, onder meer die skeppers van die bekroonde Italiaanse kunsbeurs miart, aangebied.
Die Fiera Milano Groep-uitstalling is in 1920 in Milaan begin en is nou die voorste uitstallingsgroep in Italië en een van die topspelers ter wêreld.
Die kunsfees het as Art for You by die destydse Lookout by die V&A Waterfront begin en is aanvanklik in Oktober gehou. Die skuif na Februarie is genoodsaak omdat toeristegetalle hoër is in die laatsomer.
Bekende en historiese oomblikke uit Suid-Afrika se geskiedenis in ink en olieverf vasgevat.
Kaapstad se aanwysing as die eerste Afrika Wêreld Ontwerp Hoofstad het baie bygedra om die kunsfees se status te laat groei tot die kontinent se grootste kunsfees.
Laura Vincenti het in 2017 die leisels as direkteur oorgeneem en destyds vertel dat sy die potensiaal van Afrika-kuns raakgesien het en graag die projek wou ontwikkel en uitbou.
Sy het gesê vanjaar se “Speel”-tema ontgin drie dinamiese en verweefde fasette van die kunswêreld: speel as kreatiwiteit, speel as nuuskierigheid en speel as ’n rol.
As jy iets gesoek het om huis toe te neem, was hierdie T-hemp dalk net dié ding.
Kitsfeite
Die Stellenbosch Triënnale se tema is “Ba’Zinzile: A rehearsal for breathing” en is aan tot 30 April 2025 en word by Oude Libertas, die Rupert Museum en die Universiteit Stellenbosch Museum gehou. Dis gratis en daagliks van 09:00 oop vir die publiek. Khanyisile Mbongwa is die hoofkurator. Besoek https://www.stellenboschtriennale.com/st/2025 vir meer inligting.
Lees ook:
Marlene Dumas skenk portret van Elisabeth Eybers aan Wits-kunsmuseum
Sculpting this earth: Dokumentêre film oor landkuns in Suid-Afrika – ’n onderhoud