Openbare ruimtes word met kuns versier

  • 0

Azza Al Qubaisi, My courtyard, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die eerste Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) is tans in die strate, parke en binnehowe van Abu Dhabi onderweg en duur tot 25 April. Die kleurvolle installasies maak die mooi sypaadjies en ruimtes nog mooier en bring kuns na Jan Alleman, skryf Maryke Roberts ná ’n besoek aan dié woestynstad.

Ek staan in absolute vervoering oor die kunsontploffing wat tans in die stad aan’t gebeur is. Op Saadiyat-eiland in die stad staan die Louvre Abu Dhabi trots sedert 2017; bouwerk aan die Guggenheim Abu Dhabi; National History Museum Abu Dhabi en Zayed Nasionale Museum vorder fluks; en die teamLab Phenomena is bykans voltooi. Die Zayed Nasionale Museum gaan vyf staaltralie-agtige torings hê wat soos reusevoëlvlerke in die hoogtes opreik. Die tralietorings dien as termiese skoorstene wat koel lug in die spasies daaronder sal intrek, terwyl verkoelingspype wat daaronder begrawe is, vars lug in die voorportaal sal vrystel.

Die Guggenheim Abu Dhabi gaan die grootste van die vier Guggenheims wees. (foto: Maryke Roberts)

Die 35 000 m2 Natural History Museum is ’n kubusagtige gebou wat ’n unieke versameling sal ten toon stel wat 13,8 miljard jaar verteenwoordig.

Die Louvre Abu Dhabi – die grootste kunsmuseum in die Arabiese Skiereiland – het tans ook ’n eerste onder sy dak: ’n Afrika-kunsuitstalling met 359 werke van regoor Afrika.

My eerste gewaarwording van die Biënnale se kunswerke is van die boonste dek van die Big Bus Tours se bus deur die stad. Ek sien vyf reuse-oesterskulpe met pêrels in en mense wat tussen die skulpe poseer vir foto’s. My belangstelling is natuurlik geprikkel. Nie lank daarna nie, sien ek toe die banier vir die Biënnale. Ek vind later uit die skulpe is die werk van Farah Al Qasimi en is getiteld Homesickness.

Farah Al Qasimi, Homesickness, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Elke dag ry ek twee maal by ’n baie indrukwekkende installasie verby: Nicholas Galanin se In every language there is land. Met Gaza skaars 2 500 km vanwaar die werk op Corniche-strand se sypaadjie uitgestal word, dryf dié kunswerk ewe skielik sommer nog meer die oorloë oor grond by my tuis.

Veral met die hele debat oor grond in ons eie land en hoe dinge oornag verander het dat Afrikaners nou sommer vlugtelingstatus in Amerika kan kry, het dié installasie ook sommer nog nader betekenis.

Nicholas Galanin, In every language there is Land, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

........
Nicholas Galanin se In every language there is land. Met Gaza skaars 2 500 km vanwaar die werk op Corniche-strand se sypaadjie uitgestal word, dryf dié kunswerk ewe skielik sommer nog meer die oorloë oor grond by my tuis.
........

Ek lees op oor die Biënnale en dat dit ’n sleutelpilaar van die Openbare Kuns Abu Dhabi-inisiatief is en deur die Departement van Kultuur en Toerisme – Abu Dhabi (DCT Abu Dhabi) aangebied word. Die uitstalling ondersoek die idee van “publiek” binne die unieke konteks van Abu Dhabi. Saam weerspieël hierdie werke hoe Abu Dhabi se openbare lewe gevorm word deur die stad se omgewingstoestande, gemeenskaplike leefwyse, inheemsheid, argitektuur en stadsbeplanning.

Athar Jaber, Clearing, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Christopher Joshua Benton, Where lies my carpet is thy home, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Openbare Kuns Abu Dhabi-inisiatief bevorder die kreatiewe nalatenskap, kulturele infrastruktuur, leefbaarheid en welstand van die VAE-hoofstad se inwoners deur ’n kollektiewe geheue. ’n Belegging van meer as $35 miljoen word jaarliks ​​aan die inisiatief gewy om die emiraat se breër kreatiewe nywerhede deur openbare kuns te ondersteun.

Die Biënnale is een van drie pilare van die Openbare Kuns Abu Dhabi-inisiatief. Die inisiatief sluit in jaarlikse direkte opdragwerke, die tweejaarlikse Manar Abu Dhabi-ligkunsuitstalling (die eerste een is verlede jaar gehou) en die publieke kuns Biënnale.

Mircea Cantor, Aquila non capit muscas, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Afra Al Dhaheri, D-constructing collective exhaustion, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Daar is agt Biënnale-roetes waarop meer as 70 kunstenaars van regoor die wêreld se kunsinstallasies van naderby beskou kan word. Elke roete neem tussen 30 minute en een uur om te voltooi en jy kan natuurlik soveel roetes per dag doen as wat jou voete (en jou gemoed) jou toelaat. Sommige kan jy te voet doen, vir ander het jy vervoer nodig.

Die Abu Dhabi Corniche-roete is ’n een uur staproete wat werke van Wael Al Awar, Oscar Murillo, Farah Al Qasimi, Bik Van der Pol, Tania Candiani, Sammy Baloji, UT-R Studio en Nicholas Galanin insluit.

UT-R Studio, Shifting sands, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Abu Dhabi Publieke Parke-roete is ’n een uur staproete wat regdeur Urban Park, Formal Park, Lake Park en Recreation Park uitgestal word en kunswerke van Abdullah Al Saadi, Hashel Al Lamki, Lawrence Abu Hamdan, Kader Attia, Khalil Rabah, Seema Nusrat, Rami Kashou x Artisans of the UAE, Paweł Althamer, Nathan Coley, Athar Jaber en Allora & Calzadilla vertoon.

Kader Attia, Urban river, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Abu Dhabi Busterminaal-roete is ’n 30 minute staproete wat werke binne en buite die busterminaal insluit en kunstenaars Hussein Sharif, Zeinab Alhashemi, Henrique Oliveira en Eko Nugroho se werke kan gesien word.

Henrique Oliveira, Desnatureza 7, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Downtown Abu Dhabi-roete is ’n een uur staproete wat werke van Azza Al Qubaisi, SUPERFLEX, Lúcia Koch, Nathan Coley, Mohammed Al Hawajri en Radhika Khimji uitstal.

Mohammed Al-Hawajri, Peace within a blue horizon, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Carpet Souq-roete is ’n 40 minute ryroete met werke van Christopher Joshua Benton, Khalil Rabah, Eddie Clemens, Yeesookyung en guBuyoBand.

guBuyoBand, Animating the desert, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Nasionale Teater-roete is ’n 30 minute ryroete met werke van Afra Al Dhaheri en Kabir Mohanty in Umm Al Emarat Park en die Nasionale Teater.

Afra Al Dhaheri, D-constructing collective exhaustion, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Cultural Foundation-roete is a 30 minute staproete met werke van Mohamed Al Astad, Ayesha Hadir, Wael Shawky, Mircea Cantor, Nnenna Okore en Load na Dito.

Wael Al Awar, Barzakh, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Die Al Ain Oasis-roete, wat die Hili Archaeological Park en Al Jahili Fort insluit, is ’n 45 minute ryroete met werke van Rawdha Al Ketbi, Shaikha Al Ketbi, Alex Ayed, Nathan Coley en Yeesookyung.

Rawdha Al Ketbi, Al Gaidh, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Langs die pad word besoekers genooi om stil te staan ​​en die stad se besienswaardighede en klanke te waardeer, asook om tuisgemaakte kos en drankies by oulike stalletjies op sekere plekke tussen roetes en liggings te probeer. En vyf maal per dag hoor jy die roep vir gebed vanuit die stad se talle moskees.

Hier by die stalletjies kry jy ook kans om met die locals te gesels en die vars seeluggie van die oseaan op jou wange te voel.

Die National History Museum Abu Dhabi soos van die Louvre Abu Dhabi gesien (foto: Maryke Roberts)

Sentrums van kos, vieringe en aktiwiteite vir alle ouderdomme; elke Hub bring ’n feestelike atmosfeer na die Biënnale en benut Abu Dhabi se unieke kulturele landskap.

In die Carpet Souq, Lake Park, Formal Park, Corniche-strand en Urban Park is verskeie klein opskietplekke wat hierdie openbare ruimtes transformeer met optredes, opskietrestaurante en lewendige winkels, wat gaste ’n kans gee om ’n stukkie van die Biënnale huis toe te neem.

Die Biënnale het in November geopen en het pas die tweede been van die uitstalling geopen. Hieronder is nie net kunswerke nie, maar ook verskeie gemeenskapsaktiwiteite, soos praatjies, filmvertonings, interaktiewe ervarings en werkswinkels. Van die kunswerke is deur Latifa Saeed, Atelier Aziz Al Qatami, Anga Art Collective, Arquitectura Expandida, Daniel Buren, Alia Farid, Ayesha Hadhir, Emily Jacir, Mobile Akademie Berlin en Rami Kashou x Artisans of the UAE.

Hashel Al Lamki, At the end of the knight II, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Alex Ayed, Untitled (Beit el hmam I), Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Van die kunswerke deur die Nederlanders Liesbeth Bik en Jos Van der Pol, wat onder Bik Van Der Pol werk, en ’n kunstenaar wat tussen Brussel en Lubumbashi werk, Sammy Baloji, het my waarlik bekoor.

Liesbeth en Jos woon en werk in Rotterdam en hul samewerkende praktyk wat in 1995 gestig is, ontgin hoe kuns openbare ruimtes skep vir spekulatiewe denke, verbeelding en kollektiewe kreatiwiteit. Hul werk beklemtoon navorsingsgebaseerde samewerking en dit bewerkstellig ontmoetings, wat die verspreiding van kennis en kommunikasie bevorder. Hul werk beweeg verder as die tradisionele ateljeeruimte en hul praktyk verander in ’n dinamiese terrein vir navorsing, wat reageer op uiteenlopende liggings, geskiedenisse en openbare kontekste.

Bik Van der Pol, The poem that jumps the fence, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Hul The poem that jumps the fence draai die term kunswerk op sy kop: Elke week kom iemand met ’n 2 m lange stok en skryf ’n kort gedig in die seesand. Met die volgende gety word dit weggewas, of mense stap daaroor en die woorde verdwyn.

Hulle verduidelik: “Dié weeklikse ritueel verander die plek van rus in ’n plek wat deur die geskrewe woord geaktiveer word. Die projek spreek modusse en prosesse van verspreiding aan, en bevraagteken wat openbare ruimte vandag behels. Sand is kapitaal. Dit is die derde mees gebruikte natuurlike hulpbron ná water en lug; krities vir die moderne beskawing en tog vinnig besig om uitgeput te word. Dit word as vanselfsprekend aanvaar en wêreldwyd onttrek.

Bik Van der Pol, The poem that jumps the fence, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

“Intense ekonomiese gebruik versteur prosesse wat in beginsel deurlopend is maar die einde van sand vinnig versnel, met skaarste en kritieke geo-politieke gevolge as gevolg. Sand is ’n ‘bousteen’ in byna alles. Leërs van sand het ons huise gebou, ons stede, ons paaie gebaan, ons strande en heeltemal nuwe lande geskep, het ons veraf sterre en subatomiese deeltjies gewys, geboorte gegee aan die internet. Dit is ’n deurslaggewende materiaal in oliebrekingsprosesse; dit is in ons rekenaars en is die sleutelkomponent van ons selfone, wat die simbool en pilaar van ons digitale era is. Dit maak ons ​​lewenswyse moontlik. Ons beskawing hang daarvan af.

........
“Sand is oral. Ons kan nie daarsonder nie. Dit is gekoppel aan alles. Hierdie openbare strand is simbool en werklikheid. Kunsmatig geskep, geëiste grond.” – Bik Van Der Pol
........

“Sand is oral. Ons kan nie daarsonder nie. Dit is gekoppel aan alles. Hierdie openbare strand is simbool en werklikheid. Kunsmatig geskep, geëiste grond.”

Om daar te kan sit en kyk hoe die gedigte geskryf word met die wete dat dit só vlietend is, is soms net te groot vir my kop.

Radhika Khimji, We trapped us in a frame, in the earth – reflections on a surface, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Sammy Baloji is oorspronklik van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), maar werk nou tussen Brussel en Lubumbashi. Hy is ’n visuele kunstenaar wie se werk kulturele identiteit, koloniale geskiedenis en die sosio-ekonomiese impak van industriële uitbuiting in die DRK ontgin.

Sy werk word beïnvloed deur die herinneringe en historiese gebeure van sy vaderland, en hy meng argiefmateriaal met kontemporêre visuele vertellings deur fotografie, video en installasies. Sy praktyk kritiseer die blywende teenwoordigheid van koloniale nalatenskappe en die transformasie van identiteite in die post-koloniale konteks.

Sy treffende koperdraad-geraamte van ’n motor wat op die grasperk tussen die see en snelweg staan, genaamd Kombwelo 504, ’n sprekende voorbeeld hiervan.

Sammy Baloji, Kombwelo 504, Openbare Kuns Abu Dhabi Biënnale (PAADB) 2024 – 2025 (foto: © Lance Gerber)

Dit is ’n 1:1 skaal-installasie van ’n Peugeot 504 – ’n 1970’s en 80’s statussimbool vir mynadministrateurs. Die motor verwys na kombwelo, miniatuur-draadkarretjies wat deur Kongolese kinders gemaak word van weggooimateriaal, waar kommersiële produkte skaars is. In Kombwelo 504 simboliseer swart besproeiingsbuise – wat aan Abu Dhabi se besproeiingstelsels herinner – die lewensbloed wat die woestynstad en transformasie as gevolg van olie-ontginning onderhou. Die werk jukstaponeer die Kongo waar hulpbronontginning steeds die land vorm met Abu Dhabi se verhouding tot water en olie, wat die verband tussen nywerheid, omgewing en oorlewing in hulpbrongedrewe ekonomieë beklemtoon.

Kitsfeite:

Lees ook:

Ongewone ontwerpsentrum ook tuiste van ongewone installasies

Ikone van straatkuns onder een dak

Die Dylan Lewis-beeldetuin

Sculpting this earth: Dokumentêre film oor landkuns in Suid-Afrika – ’n onderhoud

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top