Simposium poog om dialoog op Afrika-kontinent te bewerk

  • 0

Dit was ’n geskiedkundige simposium waar 32 sprekers van 30 instellings, soos museums en galerye uit Afrika, hul stories kom deel het. (Foto: Maryke Roberts)

Verteenwoordigers van drie Suid-Afrikaanse instellings was verlede maand deel van paneelbesprekings by ’n simposium, African museums: today and tomorrow, wat in Abu Dhabi gehou is. Dit het saamgeval met die opening van ’n unieke uitstalling oor Afrika-kuns wat in dieselfde week vir die publiek geopen het.

Die idee van die simposium het by Emmanuel Kasarhérou, wat in 2022 as deel van sy werk as president van die Musée du quai Branly – Jacques Chirac in Parys met verskeie Afrika-kurators saamgewerk het. Die museum het ’n reuseversameling van 370 000 Afrika-kunswerke wat oor meer as 400 jaar opgebou is en wat gereeld regoor die wêreld toer.

Terwyl hulle besig was om voor te berei vir ’n reisende uitstalling, het hy besef hoe min mense die kompleksiteit en omvang van Afrika-kuns en -artefakte begryp en ook hoeveel insigte nodig is van verskillende spesialiste. Hy sê ’n gesprek met Hamady Bocoum, voormalige direkteur van Swartbeskawingsmuseum in Dakar, het hom laat besef hoe belangrik dialoog is – dat “Europeërs na die ander kant van die storie ook moet luister”.

Lees ook die onderhoud oor die uitstalling hier.

Die drie dag simposium is in drie afdelings verdeel.

Die drie dag simposium se program met aanduiders vanwaar al die sprekers kom. (Prent: verskaf)

In die afdeling, “Hoe kan museums relevant wees vir die samelewing?”, is gefokus op hoe museums kan wegskuif van koloniale era-versamelinginterpretasies en inklusiewe verhale kan aanbied wat aanklank vind by diverse gehore. Hoe om die jeug te betrek, is geteiken om ’n nuwe generasie besoekers en professionele persone te lok deur innoverende, toeganklike ervarings te bied wat jong gehore se perspektiewe en aspirasies weerspieël.

Die tweede tema, “Hoe museums die omliggende gemeenskappe beïnvloed”, het gekyk na hoe museums hul versamelings verantwoordelik kan bestuur en interpreteer met en tot voordeel van hul gemeenskappe. Daar is ook gekyk na hoe Afrika-museums navorsing kan doen oor sleutelkwessies, wat versamelings en narratiewe kan vernuwe.

Die derde tema, “Hoe Afrika-museums kan aansluit by globale kwessies”, het as’t ware die narratief na buite die museum se mure geskuif en gekyk hoe museums huidige Afrika-kunspraktyke binne plaaslike en internasionale kontekste voorstaan en internasionale vennootskappe kan aangaan, met die oog op effektiewe oorgrens-samewerkings wat gedeelde doelwitte ondersteun terwyl kulturele besonderhede gerespekteer word.

Kunstenaars van regoor Afrika was ook deel van die simposium, soos Samuel Sidibé en Abdoulayé Konaté. By hulle staan Josette Shajé Tshiluila, professor in Antropologie, Institut de Musées Nationaux DRK. (Foto: Maryke Roberts)

Dis onmoontlik om meer as 30 museumkundiges, doktore en argeoloë se praatjies in een storie te vervat. Elkeen bring sy eie vooroordeel wat deur sy lewenservaringe bepaal is en dus is elkeen se interpretasie baie subjektief, soos wat die span by Iziko Museums Suid-Afrika moes leer. Met die nuwe bedeling het die museumspan – oorstuur met ’n koloniale erfenis – hulp van buite-spesialiste ingeroep om hul versamelings te vernuwe. Die kundigheid van buite het egter meer stres en konfrontasie gebring, omdat hul stelsels vir die museumspanne vreemd was en hul kennis van museums dalk te beperk.

Raphael Chikukwa, direkteur, Nasionale Galery Zimbabwe; Barthelemy Toguo, visuele kunstenaar en stigter van Bandjounstasie, Kameroen; en Olivia Anani, uitvoerende sekretaresse van die Prefigurasiekomitee in Benin. (Foto: Maryke Roberts)

Soos Bongani Ndhlovu, uitvoerende direkteur van Iziko Museums Suid-Afrika, vertel het, was hul groot deurbraak toe hulle nie net argiewe nie, maar ook plaaslike gemeenskappe gaan raadpleeg het voor besluite gemaak is. Vele stemme het vele insigte gebring.

Dit het ook verskeie male na vore gekom dat museummandate nie altyd ooreenstem met die storie wat die gemeenskappe wil vertel nie. Daar moet minder rigiditeit by kurators wees, ’n groter gees van deelname en inklusiwiteit.

........
Dit het ook verskeie male na vore gekom dat museummandate nie altyd ooreenstem met die storie wat die gemeenskappe wil vertel nie. Daar moet minder rigiditeit by kurators wees, ’n groter gees van deelname en inklusiwiteit.
........

Soos Olivia Anani, uitvoerende sekretaresse van die Prefigurasiekomitee in Benin, sê: Ons moenie kyk wie ons kan uitsluit nie, eerder hoe om soveel moontlik in te sluit. Sy het ook gesê kurators moet onthou dat ons vandag die geskiedenis van 500 in die toekoms maak. “Hoe berei ons die Rembrandts van vandag voor?”

Kojo Yankah, stigter en voorsitter van die Pan African Heritage Museum, Ghana, vertel dat Afrika sedert die sestigs probeer om ’n eenheid te vorm, maar “ons is onbevoeg om onsself te verenig, omdat ons onsself en ons geskiedenis nie ken nie”.

Nigussu Mekonnen Abay, hoof van museumopvoeding, Nasionale Museum, Etiopië, en Kojo Yankah, stigter en voorsitter van die Pan African Heritage Museum, Ghana. (Foto: Maryke Roberts)

 

Die meeste van die Afrika-lande wat by die simposium verteenwoordig is, is op een of ander stadium gekoloniseer deur óf Frankryk, óf Engeland, óf Portugal, óf Duitsland, óf Italië, óf Spanje. Sommige deur meer as een land oor meer as vier eeue. Almal behalwe Etiopië.

Maar kolonisasie is nie al waarmee Afrika-lande worstel nie.

Die jeug is oningelig oor burgeroorloë en volksmoord. Hulle kyk na die Westerse manier van lewe en streef daarna. Hulle is toondoof vir die bloed wat gestort is sodat hulle hierdie leefwyse kan najaag.

........
“Die jeug moet begin verstaan dat die verlede die enigste manier is om doeltreffend met die toekoms te skakel. Hulle het ’n sterk kulturele basis nodig om die innovasie van die toekoms te bewerk.”
– Nigussu Mekonnen Abay, hoof van museumopvoeding, Nasionale Museum, Etiopië
........

Nigussu Mekonnen Abay, hoof van museumopvoeding, Nasionale Museum, Etiopië, sê ons moet ons geskiedenis bewaar en verantwoordelik uitbeeld, sodat die volgende geslagte kan sien waarvoor hul voorvaders hul lewens gegee het. Ons moet jongmense inlig oor die opofferinge om die nodige begrip te bring, sodat ons saam aan ’n beter toekoms kan bou.

“Die jeug moet begin verstaan dat die verlede die enigste manier is om doeltreffend met die toekoms te skakel. Hulle het ’n sterk kulturele basis nodig om die innovasie van die toekoms te bewerk.”

Maryke Roberts, joernalis van Kaapstad; Manuel Rabaté, direkteur van Louvre Abu Dhabi; en Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting Kunsgalery in Kaapstad. (Foto: verskaf)

Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting Kunsgalery in Kaapstad, sluit hierby aan: “Die meeste van ons besoekers is post-apartheid gebore en weet ook baie min van dié tydperk. Ons moet albei kante van ons geskiedenis vertel vir nuwe perspektiewe.” Dié galery se drie uitstalruimtes fokus op kontemporêre werk.

Die meeste van die museumverteenwoordigers kon identifiseer met museumversamelings waarin groot gedeeltes kuns en artefakte vervat is van tye toe die inwoners onderdruk en uitgebuit is. Baie museums se versamelings het sedert die lande se onafhanklikheidswording nog nie verander nie, soos Kojo Yankah uitlig.

Die jeug is ’n groot deel van die Norvalstigting se fokus. Uit: Skyfievertoning van Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting Kunsgalery in Kaapstad. (Foto: verskaf)

Ander het uiteindelik van hul geroofde artefakte teruggekry, maar soos personeel ervaar het, het die vragskiphouer gearriveer uit Frankryk met talle stukke wat bloot as “objekte” gemerk is. Dit was vir dekades iewers toegesluit.

Museumpersoneel wou moed opgee oor hoe om dit te katalogiseer, maar danksy die hulp van mense – sommige a-geletterdes in klein, verafgeleë nedersettings – het elkeen van daardie objekte se naam en funksie nou sy weg in die registers gevind. Baie van daardie objekte wat jonger museumpersoneel as “outyds”, “onnodig” en “uitgedien” gesien het, word steeds in landelike gebiede gebruik.

Mariam AlDhaheri, kuratoriale assistent, Louvre Abu Dhabi; Johanna Obenda van die Nasionale Museum van Afrikaan-Amerikaanse Geskiedenis in Washington, DC; Mehdi Qotbi, president van die Foundation Nationale des Musées van Marokko; Emmanuel Kasarhérou, president van die Musée du quai Branly – Jacques Chirac in Parys; en Hamady Bocoum, voormalige direkteur van die Swartbeskawingsmuseum in Dakar. (Foto: Maryke Roberts)

Baie museumgeboue is lelike aanklagte teen koloniale oorheersing, met argitektuur wat sprekend van die tye is. Kolossale kasteelagtige of gewelagtige geboue wat tydens Franse, Britse of Spaanse oorheersing opgerig is, skree ten hemele teen hul Afrika-landskappe. Baie sou moed opgee en sê daar is nie geld om nuwes te bou nie, terwyl die voorkoms van die geboue aanhou om besoekers te vervreem. Ander sê nee, verander name en bring moderne strukture buite-om aan; verf geboue in tradisionele kleure; bring die museuminhoud na tafels in neutrale omgewings, soos tuine of parke. El Hadji Malick Ndiaye, mede-kurator, hoof van die museumafdeling en kurator van die Musée Théodore Monod d’Art Africain, Institut Fondamental d’Afrique in Dakar, vertel dat hulle besef het hulle moet ook nie-museumgangers betrek vir nuwe gehore. Feeste, interaktiewe voordragsessies, musiek en eksperimentele kunssessies was hul antwoord.

........
“Jy moet in die spieël van jou argiewe en die spieël van jou siel kyk, dan historici én kontemporêre kunstenaars byeenroep om nuwe perspektiewe te gee.” – El Hadji Malick Ndiaye
........

Hy sê die drie pilare waarop museumtransformasie berus, is wetenskaplik, sosiaal en opvoedkundig. “Jy moet in die spieël van jou argiewe en die spieël van jou siel kyk, dan historici én kontemporêre kunstenaars byeenroep om nuwe perspektiewe te gee.”

Hy sê museums moet veranderlike ruimtes wees, ’n plek van dialoog en werk. Hulle het ’n restaurant geopen en die besoekers verander voortdurend.

Hamady sê museums moet uitreik na borge en vennootskappe, soos in hulle geval waar die Chinese vir hulle nuwe museumgeboue betaal.

El Hadji Malick Ndiaye, mede-kurator, hoof van die museumafdeling en kurator van die Musée Théodore Monod d’Art Africain, Institut Fondamental d’Afrique in Dakar, en Bongani Ndhlovu, uitvoerende direkteur van Iziko Museums Suid-Afrika. (Foto: Maryke Roberts)

Maar dan kom die aanklag van nuwe museums en -idees wat steeds faal. Hy sê: “Nuwe geboue bring nuwe beginne, maar kort vennote. En natuurlik goeie beplanning om verteenwoordigend te wees, want daar is geen skuiling agter vorige bedelings of ou versamelings nie.

“En ouer mense is in beheer van museumstrategieë en ons is nie altyd tegnologie-bewus nie, so ons het die jeug se insae nodig om ’n meer digitale teenwoordigheid te hê.”

Johanna Obenda van die Nasionale Museum van Afrikaan-Amerikaanse Geskiedenis in Washington, DC sê dat museumpersoneel baie streng dissiplinêre reëls het. “Ons moet meer gematig in kontemporêre maniere eksperimenteer om die geskiedenis uit te beeld.”

Hamady het hierop uitgebrei en gesê ons het ’n koloniale geheue en ons moet ’n nuwe perspektief vir almal skep. “En Afrika-museums is nie net vir Afrikane nie. Ons kan nie van onsself leer as ons nie van ander leer nie.”

’n Argiteksvoorstelling van die nuwe Swartbeskawingsmuseum in Dakar. Uit: Skyfievertoning van Hamady Bocoum, voormalige direkteur, Swartbeskawingsmuseum in Dakar. (Foto: verskaf)

Dis nie net die voorkoms en inhoud wat mense vervreem nie, dis ook die geykte stories wat binne museums vertel word, wat mense verhoed om te kom. Daardie narratiewe moet herskryf word; almal se stories moet ewe veel ruimte geniet. Daarvoor is die gemeenskappe belangrik en hier kry ons weer ’n tweede kans: Danksy tegnologie kan die verbale geskiedenis nou ook deel van ons uitstallings word. Nie alleen betrek dit dié besoekers wat nie kan lees en skryf nie, maar dit betrek ook baie ouer mense in die landelike gebiede wat voorheen nie ’n stem gehad het nie. Hul stories kan nou ook in die argiewe opgeneem word.

Daar is enkele ander punte wat vir my uitgestaan het, wat ek voel melding verdien.

Henry Bundjolo Banyata, navorsingsdirekteur en hoofkurator, Nasionale Museums DRK, meen: “Die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe word sy opvoeding deur ’n vrou gelei: hetsy dit ’n ma, ouma, suster, tannie of onderwyseres is. Dan word die samelewing betrokke. Vroue moet meer verteenwoordigend uitgebeeld word in museums en galerye, want hulle lê die fondamente vir die volgende geslag.” Een van die vrouekunstenaars by die simposium sê hierdie stelling is ook van betrekking op vrouekunstenaars wat vandag steeds minder muurspasie geniet as hul manlike eweknieë.

........
Vervoer en kommunikasie is van die grootste uitdagings op die vasteland om mense by museums te kry.
........

Vervoer en kommunikasie is van die grootste uitdagings op die vasteland om mense by museums te kry. Dis nie eie aan een land nie. Henry vertel dat hulle baie dialekte en tale in hul land het. Mense laat weet hulle kom en kry dan ’n gids wat hul taal kan praat, nie die taal van die uitstalling wat heel dikwels hoë-Brits of Frans is nie.

Baie kurators neem nou artefakte uit die museum na die verafgeleë plekke toe. Daar kan mense raak aan die stukke – “dis immers ons almal s’n”.

Tayla vertel dat hulle baie op die jeug fokus. Baie uit armer woongebiede. Kinders word na die museum gebring, kry ’n maaltyd en iets te drinke, voor hulle met enige aktiwiteite begin. Niemand kan op ’n leë maag aktief deelneem en leer nie.

Maar ook Mahady lê klem daarop dat Afrika groot is en dat die jeug nie altyd verstaan nie dat ten spyte van die afstand en verskille tussen onder meer Dakar en Harare, Nairobi en Kaapstad, ons almal Afrikane is.

Sommige museums verander hul name, ander kry moderne strukture om die voorkoms minder koloniaal te laat voorkom. Uit: Skyfievertoning van Mehdi Qotbi. (Foto: verskaf)

Mehdi Qotbi, president van die Foundation Nationale des Musées van Marokko, sluit hierby aan en sê hul nuwe museum is onder konstruksie, maar “die museum is nie net vir Marokko nie, dis vir die hele Afrika. Ons is almal deel van die kontinent. Een se storie is die ander se storie.”

Kojo sê kurators dra ook ’n groot deel by tot die eensydige stories wat museums vertel. “Dis asof die geskiedenis van Afrika met slawerny begin. Wat van die duisende jare vóór slawerny? Dis asof iemand anders ons storie vertel.

.........
Museums in Afrika het ’n paradigmaskuif nodig – ’n samewerking tussen Pan-Afrikaners, sê El Hadji Malick Ndiaye.
.........

“En met minder as 900 museums op die hele kontinent, het ons nie genoeg ruimtes om ons storie uit ons oogpunt te vertel nie.”

Malick sê museums in Afrika het ’n paradigmaskuif nodig – ’n samewerking tussen Pan-Afrikaners. “Ons museum – Adwa – is nie net ter huldiging van een geslag nie. Dit huldig die hele oorlog om vryheid en onafhanklikheid vir almal. En dit sluit geslagsgelykheid in én die stryd om gelykheid wat nog gestry word.”

Gabidan Abdouramane, hoof van die Musée National Boubou Hama, die nasionale museum van Afrika-kuns in Niamey, Niger. (Foto: Maryke Roberts)

Gabidan Abdouramane, hoof van die Musée National Boubou Hama, die nasionale museum van Afrika-kuns in Niamey, Niger, sê: “Artefakte het siel. Hanteer dit met respek, veral goed wat dalk nie vir jou van waarde is nie. Dit het groot waarde vir sommige mense. Respekteer dit.”

........
“Bly eerder weg van die geykte dekolonisering; gebruik positiewe woorde soos insluitend, vernuwend, kontemporêr.” – Emmanuel Kasarhérou
........

Verskeie kurators het gepleit vir samewerking; kruiskulturele uitstallings; uitstallings wat kan reis. Emmanuel het dit onderskryf. Hy sê die artefakte van die museum is daar om gesien te word. Maar hy waarsku ook dat kurators moet let op hul woordgebruik: “Bly eerder weg van die geykte dekolonisering; gebruik positiewe woorde soos insluitend, vernuwend, kontemporêr. En dink aan die inheemse tale van jou omgewing; sluit daardie mense se taal en kultuur ook in.

“En die jeug lees nie; hulle kyk en ervaar. Maak jul uitstallings ook digitaal inklusief.”

Hy het afgesluit deur te sê dat kurators en museumpersoneel versigtig moet wees om nie die stories in die museum te vertel met hul eie emosie en vooroordeel nie. “Die verlede was nie maklik of eenvoudig nie; dit was kompleks, maar so is die hede. Vertel die waarheid, sonder jou persoonlike vertolking.”

Emmanuel het bygevoeg dat museumpersoneel goed opgelei moet word en sonder persoonlike agendas moet werk. “Laat die geskiedenis die storie vertel – nie die persoon nie.

“En beweeg weg van die gedagte dat museums ‘die verlede’ verteenwoordig en uitbeeld. Dit is ook vir die hede én die toekoms. Kry ook ’n nuwe kontemporêre taal – gegrond op die verlede, maar bloot as vertrekpunt. Museums is ’n evolusie – dis nie gevries in tyd nie.”

Manuel Rabaté, direkteur van Louvre Abu Dhabi; Awa Konaté, assistent-kurator van Guggenheim Abu Dhabi; Nelson Abiti Abedo, direkteur van die Nasionale Museum, Uganda; Perrice Nkombwe, direkteur van Moto Museum, Zambië; en Barbara Plankensteiner, direkteur van die Museum Am Rothenbaum, Duitsland. (Foto: Maryke Roberts)

Manuel Rabaté, direkteur van Louvre Abu Dhabi, en sy span het na afloop van die simposium gesê daar was intense en noodsaaklike besprekings wat Afrika-museums in die middel van globale debatte geplaas het. Die gesprekke was dinamies en vol insigte wat uitdaag hoe ons vandag oor museums dink.

“Louvre Abu Dhabi het ’n ruimte gebied vir museumkundiges van regoor Afrika om kontak met mekaar te maak, maar net so belangrik, ons het by hulle geleer. Hulle perspektiewe op gemeenskapsbetrokkenheid en die rol van museums in die samelewing was van onskatbare waarde.”

Wat vir die span uitgestaan het, was die diversiteit van museummodelle en -benaderings regoor die vasteland. “Daar is geen enkele manier om ’n museum te bestuur nie en dit is ’n sterk punt. Die verskillende strategieë waarvan ons gehoor het – van plaaslik gedrewe inisiatiewe tot groot nasionale instellings – het ’n breër begrip van wat moontlik is, gebied.

Die aanhaling teen een van die Louvre Abu Dhabi se ruite wat my sal bybly. (Foto: Maryke Roberts)

“Ons het die belangrikheid bespreek om narratiewe te heroorweeg en met jong generasies te skakel, om te verseker dat museumversamelings en -uitstallings geskiedenisse en perspektiewe weerspieël wat aanklank vind by plaaslike en globale gehore.

“Nog ’n kritieke punt was die rol van museums buite die bewaring en vertoon van versamelings – hulle is aktiewe spelers in sosiale verandering. Hetsy deur opvoeding, navorsing of gemeenskapsbetrokkenheid, museums het ’n verantwoordelikheid wat ver buite hul mure strek.”

........
Daar is soveel lig; ons moet net regtig na mekaar luister – sonder dat ons eie vooroordele ons oordeel vertroebel, veral diegene wat in bestuurs- of magsposisies is.
........

Manuel het bygevoeg dat die deelname van sprekers van verskillende agtergronde die behoefte versterk het om Afrika-stemme in internasionale museumgesprekke in te sluit, nie net as onderwerpe nie, maar as leidende bydraers tot nuwe metodologieë en raamwerke.

“Hierdie simposium is slegs die begin van ’n langtermyn dialoog, en ons sien uit daarna om hierdie gesprekke deur toekomstige programme en inisiatiewe voort te sit. Die volgende stap is die publikasie van ’n boek met die sprekers se bydraes wat in 2026 bekendgestel sal word.”

Die woorde van die Dalai Lama: “I see hope in the darkest of day, focusing on the brightest” is teen een ruit in die galery geskryf.

Dis hoe ek voel toe ek aan die einde van die week by die Louvre Abu Dhabi uitstap. Daar is soveel lig; ons moet net regtig na mekaar luister – sonder dat ons eie vooroordele ons oordeel vertroebel, veral diegene wat in bestuurs- of magsposisies is.

Lees ook:

Unieke uitstalling in Midde-Ooste fokus op Afrika-kuns

Dekolonialisering en die museum: voorbeelde uit Suid-Afrika en Frankryk

Keert de Afrikaanse kunst terug naar Afrika?

100 x Congo: Een eeuw Congolese kunst in Antwerpen

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top