Ligkuns bied alternatiewe kunsvorm

  • 0

Teen een van die betonmure van ’n snelweg pryk hierdie ligkuns in Seoel. Afhangende van die tyd van die dag wat jy daar verbyloop, is dit valer of helderder. (Foto: Clifford Roberts)

Ons kan elke jaar omtrent nie ons opgewondenheid beteuel tot die Spier Ligkuns-uitstalling weer aangebied word nie. Vanjaar is dit tot 21 April elke aand van 18:30 oop vir die publiek, met gratis toegang.

Verskeie ander ligkunservarings regoor die wêreld het al my hart gesteel.

Ursula K Le Guin het gesê: “I had forgotten how much light there is in the world, till you gave it back to me.” Dit is woorde wat my liefde vir ligkuns beter verwoord as wat ek kan.

Waar het dit begin?

In die sestigs het kunstenaars, waaronder Robert Irwin, James Turrell en Dan Flavin, se eksperimente met ’n meer sensoriese kunsvorm – waarvan lig ’n belangrike element was – wyd begin aandag trek. Hulle het lig in verskeie vorms in hul kuns begin gebruik: van vuur en vlamme tot spreiligte en projektors, tot laserstrale en neonligte.

........
In die sestigs het kunstenaars, waaronder Robert Irwin, James Turrell en Dan Flavin, se eksperimente met ’n meer sensoriese kunsvorm – waarvan lig ’n belangrike element was – wyd begin aandag trek. Hulle het lig in verskeie vorms in hul kuns begin gebruik: van vuur en vlamme tot spreiligte en projektors, tot laserstrale en neonligte.
........

Maar dit was altyd deel van ’n uitstalling binne-in ’n museum. Kontemporêre kunstenaars het egter buite die museummure begin eksperimenteer en ’n hele stad as hul skilderdoek bejeën. Die voordeel van LED-ligte, laser en projeksies teen mure is dat dit ’n universele taal praat en dit aan die kyker oorlaat om sy eie interpretasie te maak.

Venesië, Italië

My heel eerste kennismaking met die konsep van ligkuns was by die 55ste Venice Biennale in 2013. Die tema was “The Encyclopedic Palace” en die kurator was Massimiliano Gioni. Die Suid-Afrikaanse Pawiljoen, wat onder andere saam met Argentinië en die Verenigde Arabiese Emirate in die Sale d’Armi in die Arsenale uitgestal het, is natuurlik ons eerste stopplek.

In ’n donker saal as deel van die Argentynse Pawiljoen, het ek Nicola Costantino se Eva-Argentina. A Contemporary metaphor, wat sy op versoek van Magdalena Faillace geskep het, ervaar. Ek was etlike jare vantevore in Buenos Aires voor die Casa Rosada “Pienk Huis” waar Eva Perón die skares van die balkon af toegespreek het. Voor dié regeringshuis was ’n foto-uitstalling waar een van die foto’s juis van een van haar toesprake geneem is. Ek het ’n geweldige fassinasie met haar en om die video- en liginstallasie te sien het amper lewe aan haar gegee.

Vier video-installasies, Eva the dreams, Eva the mirror, Eva the strength en ’n byna abstrakte Eva the rain, probeer vanuit verskillende hoeke haar uitbeeld tussen wat persoonlik en wat polities, werklik en fiktief, privaat en publiek is. As jy in die donker saal instap, is die klank van haar hoëhakskoene wat op die teëls klik, ’n soort van aanlokking tot dit wat die video’s gaan ontbloot.

Ek kon myself nie wegskeur van die installasie nie en het die video’s ’n paar keer deurgekyk. Die lig wat uit die video’s geskyn het, het haar amper engelagtig gemaak.

Amsterdam, Nederland

........
Ligkuns – ’n relatiewe jong kunsvorm – is tans baie gewild danksy die LED-revolusie. Lig is ’n hoogs visuele materiaal en baie gewild onder kunstenaars.
........

Bridge of the rainbow is ’n treffende metafoor vir die vereniging van twee verskillende kante van die grag – en die samelewing. (Foto: Clifford Roberts)

Dit was ’n vriesende Januarie-aand ’n paar jaar gelede dat ons op die boot vir die Amsterdam Ligfees se sesde uitgawe by die Amsterdam Centraal-stasie klim.

Ligkuns – ’n relatiewe jong kunsvorm – is tans baie gewild danksy die LED-revolusie. Lig is ’n hoogs visuele materiaal en baie gewild onder kunstenaars.

Ons gaan die ligkuns langs twee roetes – die Water colors-kanaalvaart en die Illuminade-staproete – ervaar. Die kunswerke is nog nie voorheen vertoon nie en maak dus hul debuut op die sewe week lange fees. Heelwat van die stad se geboue is ook spesiaal verlig, om deel van die Ligfees te vorm.

Die tweede installasie op die Water colors-vaart in Amsterdam is Ana Morphè deur Isabel Nielen. Die werk is ’n ode aan water – die grondslag van ons bestaan. Die boot vaar letterlik deur die laserstrale wat van die Double Tree Hotel en op die brug uitgestraal word na twee skilderdoeke onder die water. (Foto: Clifford Roberts)

Die feesinstallasies is nie ver van die Amsterdam Museum-distrik met sy Van Gogh Museum, werke van Rembrandt en Vermeer by die Rijksmuseum, of die moderne kuns by die Stedelijk Museum nie.

Die Ligfees word nou vir die vyfde agtereenvolgende jaar gehou en kunstenaars van regoor die wêreld word jaarliks uitgenooi om hul projekte vir keuring voor te lê. Met die tema “’n Kykie na Amsterdam” is daar vir die huidige fees meer as 500 inskrywings van 46 lande ontvang. Ek kan dink dat die paneel onder leiding van Rogier van der Heide moes kopkrap.

Wilfert’s dog deur die Russiese kunstenaar, Tatiana Titova, is die eerste kunswerk wat ons sien. (Foto: Janus van den Eijnden)

Londen, Verenigde Koninkryk

Die Japannese kontemporêre kunstenaar, Yayoi Kusama (96), se Infinity mirror rooms in die Tate Modern-galery in Londen was só gewild, dis verskeie male verleng en was uiteindelik meer as drie jaar daar.

Kusama, bekend as “Koninging van Polkakolletjies”, spesialiseer hoofsaaklik in beeldhouwerk en installasie, maar is ook aktief in ander kunsvorme. Die beskrywings teen die galerymuur vertel dat haar werk gebaseer is op konseptuele kuns en toon kenmerke van feminisme, minimalisme, surrealisme, Art Brut, popkuns en abstrakte ekspressionisme.

Vir die uitstalling wag jy vir jou bespreekte tydgleuf. Om die tyd te verwyl, kyk ons na die res van die foto-uitstalling oor haar lewe. Sy kom uit ’n baie eng, hoogs militêre huis en het ’n moeilike kinderlewe gehad. Kusama het nie met haar bombastiese ma oor die weg gekom nie en dié het haar van jongs af belet om kuns na te streef. Mettertyd het dit Kusama geestelik afgetakel.

........
Vir die paar minute gaan staan tyd en klank vir my stil. Ek kan verstaan hoekom die veelkleurige polkakolletjies haar sus. En hoekom sy vrede vind in lig, want hier in die donker is dit die lig wat diepte aan alles gee.
........

Ek lees haar kompulsiewe gebruik van kolletjies het begin as gevolg van die vele ontstellende hallusinasies en visioene wat sy gehad het terwyl sy grootgeword het. Sy is met ’n geestesiekte gediagnoseer en aangemoedig om te verf as terapie. Dis waar sy haar redding gevind het.

Deur kolletjies by haar skilderye, tekeninge, voorwerpe en klere te voeg, voel sy asof sy hulle (en haarself) laat wegsmelt in, en deel word van, die groter heelal.

Ons gaan agt op ’n slag in die eerste pikdonker kamer in. Daar hang ’n kristalkandelaar in ’n boks en toe die kandelaar se ligte aangeskakel word, maak die spieëls daarrondom en ook teen die mure agter jou duisende kandelare sigbaar. Die tweede ruimte het ’n kort loopplank met water weerskante waar liggies van kleur verander en teen spieëls en die water weerkaats.

Vir die paar minute gaan staan tyd en klank vir my stil. Ek kan verstaan hoekom die veelkleurige polkakolletjies haar sus. En hoekom sy vrede vind in lig, want hier in die donker is dit die lig wat diepte aan alles gee.

Seoel, Suid-Korea

Daar is twee ervarings wat hier uitstaan: die Dongdaemun Design Plaza (DDP) – lees my storie oor die unieke kunssentrum hier – wat saans tydens die jaarlikse SeouLight-fees verlig word. Daar is elke aand vier verskillende ontwerpe wat op die uur teen die gebou geprojekteer word.

Tans is die Immersive-K in ’n doolhofagtige ruimte ingerig waar lig en beelde en klank jou meevoer na die Diamantberg (Geumgangsan) en die Gwandong-streek. Dis die eerste Koreaanse styl-mediakunsuitstalling wat tradisionele Koreaanse kuns – die boustene van K‑kultuur – uitbeeld. Dis in die DDP Museum-uitstalsaal 2 tot 30 April 2025.

Die ander is Hongje Yuyeon.

Ek lees in die Seoel-toerismegids dat dié plek is om vrede te vind midde die stadsgewoel waar kalm waterpaadjies en kunsinstallasie jou stilte in jou kop bied.

Bo en onder: Hongje Yuyeon in Seoel vorm deel van die Seoul is museum, die Seoel Metropolitaanse Regering se openbare kunsprojek. Yujin Sangga het in die sewentigerjare op kunsmatige grond, wat ’n deel van die Hongjecheon-stroompie bedek, gebou as deel van hul militêre verdediging in ’n tyd toe die spanning tussen Noord- en Suid-Korea op breekpunt was. In 2019 is die ondergrondse area van die gebou oopgemaak, wat ’n unieke ondergrondse ruimte onthul het waar 100 simmetriese betonpilare wat die gebou ondersteun, die idee van openbare kuns laat posvat het. Lig, klank en tegnologie maak ’n uitsonderlike ervaring in ’n ruimte wat vir 50 jaar ongebruik was. (Foto’s Clifford Roberts)

Die adres is 48–84 Hongeun-dong, Seodaemun-gu, Seoel en dis daagliks oop van 10:00 tot 22:00; die treinlyn 3 tot by Hongje-stasie bring jou daar. Dan stap jy 405 m. Maar o wee, toe ons by die stasie uitklim, is dit al goed skemer en daar is winkeltjies en markte wat besig is om te sluit, maar niks wat lyk soos die beskrywing nie.

Na ’n hele paar minute se verkeerd stap, vind ons die ingang. Hierdie projek vorm deel van die Seoul is Museum, die Seoul Metropolitaanse Regering se openbare kunsprojek. Yujin Sangga het in die sewentigerjare op kunsmatige grond, wat ’n deel van die Hongjecheon-stroompie bedek, gebou as deel van hul militêre verdediging in ’n tyd toe die spanning tussen Noord- en Suid-Korea op breekpunt was. In 2019 is die ondergrondse area van die gebou oopgemaak, wat ’n unieke ondergrondse ruimte onthul het waar 100 simmetriese betonpilare wat die gebou ondersteun, die idee van openbare kuns laat posvat het. Lig, klank en tegnologie maak ’n uitsonderlike ervaring in ’n ruimte wat vir 50 jaar ongebruik was.

By Hongje Yuyeon in Seoel is reuseblokke in die stroompie geplaas, waaroor jy kan stap of waarop jy kan sit om ten volle oor te gee aan die ervaring. Aan een kant is ’n voetgangerpaadjie waar mense verbystap of fietsry en jou nooit heeltemal eensaam laat voel nie. (Foto: Clifford Roberts)

Daar is reuseblokke in die stroompie geplaas, waaroor jy kan stap of waarop jy kan sit om ten volle oor te gee aan die ervaring. Aan een kant is ’n voetgangerpaadjie waar mense verbystap of fietsry en jou nooit heeltemal eensaam laat voel nie.

Parys, Frankryk

........
Die Atelier des Lumières gebruik bestaande kunswerke en verweef dit digitaal om die kyker deel van die prente en bewegings te maak. Die ruimte word die skilderdoek en die musiek omvou die kyker.
........

Die voormalige Chemin-Vert-smeltkroes in Parys wat uit 1835 dateer, huisves sedert 2018 ’n digitale kunssentrum. Die Atelier des Lumières gebruik bestaande kunswerke en verweef dit digitaal om die kyker deel van die prente en bewegings te maak. Die ruimte word die skilderdoek en die musiek omvou die kyker. Dis die ideale manier om ’n koue of reënerige dag deur te bring.

Daar is twee ruimtes en dus is daar twee uitstallings op ’n slag. Tans is dit Picasso – Art in motion en Rousseau – A world of dreams aan. Die twee digitale uitstallings bied interessante kykies na Pablo Picasso en Henri Rousseau se werke.

Beide uitstallings het Virginie Martin as kreatiewe skepper en ongelooflike musiek met produksie deur Culturespaces Studio, wat Atelier des Lumières bestuur.

Een van die werke deel van die uitstalling by Atelier des Lumiéres in Parys: Henri Rousseau, Myself: Portrait-landscape, 1890, oil on canvas, 146 x 113cm, National Gallery, Prague.

Een van die werke deel van die uitstalling by Atelier des Lumiéres in Parys: Pablo Picasso, Mediterranean landscape, 1952, oil on panel, 81 x 125 cm, Batliner Collection, Albertina Museum, Vienne, © Succession Picasso 2024, credit: Bridgeman Images. © Succession Picasso 2024

Een van die werke deel van die uitstalling by Atelier des Lumiéres in Parys: Pablo Picasso, Dora Maar portrait, 1937, oil on canvas, 92 x 65 cm, musée national Picasso – Paris, © Succession Picasso 2024, credit : © GrandPalaisRmn (musée national Picasso-Paris)/Mathieu Rabeau. © Succession Picasso 2024

Die werke van Picasso is omskep in ligkunsbeelde by Atelier des Lumiéres in Parys se uitstalling, Pablo Picasso, art in motion (Picasso, l’art en mouvement © Culturespaces Vincent Bousserez © Succession Picasso 2025)

Stellenbosch, Suid-Afrika

Die jaarlikse Spier Light Art-fees bied aan besoekers die geleentheid om die pragplaas in die aand te verken. Daar is verskeie plekspesifieke installasies en dis ’n heerlike manier om die kinders én vir ouma en oupa besig te hou.

Vanjaar is daar 16 verskillende kunswerke te sien en dit word vanjaar vir die sewende jaar gehou. Ons mis nie een jaar nie. Daar is geen regte of verkeerde manier om die kunswerke te beskou nie en jy kan so lank talm as wat jy wil.

........
Verlede jaar het een my diep geraak: Berco Wilsenach se In die sterre geskryf van die projek vir die blinde sterrekundige.
........

Verlede jaar het een my diep geraak: Berco Wilsenach se In die sterre geskryf van die projek vir die blinde sterrekundige. My toe 94-jarige pa het pas sy heup gebreek en geglo sy lewe is verby. Ons het die uitstalling gaan kyk, hoewel hy ’n klein stootkarretjie nodig gehad het, maar hy het lank by hierdie werk vertoef en ek kon sien dat hy geweldige dankbaarheid en introspeksie ervaar het. Dit bestaan uit verskeie borde wat soos die hemelruim lyk en waardeur jy as’t ware na die sterre en uitspansel kyk. Mens voel nietig daar.

Ek en my pa by Berco Wilsenach se In die sterre geskryf van die projek vir die blinde sterrekundige by verlede jaar se Ligkunsfees. (Foto: Clifford Roberts)

Ek lees: “Die projek vir die blinde sterrekundige is ’n artistieke ondersoek na verskillende koderingstelsels. Deur die metafoor van die blinde sterrekundige te gebruik, het die kunstenaar hemelse kartografie hersien en herinterpreteer om die sigbare naghemel aan ’n siggestremde gehoor te verduidelik.

“Sterkaarte word as ’n tasbare ervaring aangebied, en die nodige inligting om die kaarte te interpreteer is in Braille geskryf. Die gehoor word gekonfronteer met ’n dubbele ironie: Blinde toeskouers, wat met hul hande sien, kan nie die visuele komponent van die inligting ervaar nie en sienendes het nie toegang tot die inligting om die fantastiese visuele beelde te ontsluit nie.

Bo en onder: Berco Wilsenach se In die sterre geskryf van die projek vir die blinde sterrekundige by vanjaar se uitstalling. (Foto’s: Clifford Roberts)

“Albei bly in die duister, sonder ’n totale sensoriese en kognitiewe ervaring. In die sterre geskryf gebruik die metafoor van die menslike toestand, wat beeldspraak/konsepte toeëien met ironie en veranderde betekenis.”

Vanjaar was ons terug met vriende. Dis weer by hierdie werk wat ons vertoef. Een se pa is weke terug oorlede; die ander se ma gaan erg agteruit. Daar met jou kop in die sterre in die pikswart nag, ervaar jy ’n raar kalmte.

........
Vanjaar se installasies delf in lig as ’n manier van toesig en beheer en as ’n bron van persoonlike beskerming en veiligheid.
........

Vanjaar se installasies delf in lig as ’n manier van toesig en beheer en as ’n bron van persoonlike beskerming en veiligheid. Sommige kunswerke gebruik die spektrale dimensies van lig om die spoke en spookplekke van plek uit te roep, terwyl ander beligtingsinfrastruktuur, gedesentraliseerde energiestelsels en volhoubare oplossings vir openbare beligting oorweeg.

Hashim Tarmahomed en Joshil Naran se Ghost landscapes by Spier Light Art 2025 verken die spanning van die verlede en die hede en omraam die argitektuur van die slawekwartiere, kloktoring en herehuis. (Foto: Clifford Roberts)

Dis een van die enigste toegewyde kontemporêre ligkunsuitstallings in Afrika en toegewy aan die groei van die ligkunsgenre in die suidelike halfrond. Dit bied geleenthede aan opkomende én gevestigde Suid-Afrikaanse kunstenaars, maar werk ook met besoekende kunstenaars van elders. Vanjaar sal die uitstalling die Switserse kunstenaars Sophie Guyot en Florian Bach insluit.

........
Dis een van die enigste toegewyde kontemporêre ligkunsuitstallings in Afrika en toegewy aan die groei van die ligkunsgenre in die suidelike halfrond. Dit bied geleenthede aan opkomende én gevestigde Suid-Afrikaanse kunstenaars, maar werk ook met besoekende kunstenaars van elders.
........

Nadat hy aan vorige Spier Light Art-uitstallings deelgeneem het, keer Guyot terug om ’n driedaagse werkswinkel saam met die Spier-landbouspan te hou, wat ontwerp is rondom die plaaswerkers se geleefde ervarings en saam ’n teksgebaseerde ligtewerk vervaardig wat vrae oor die toekoms van landbou stel.

Vanjaar se uitstalling fokus op drie breë temas, vertel die kurators, Vaughn Sadie en Jay Pather.

“Die eerste is die plaas as ’n terrein van koloniale geheue en verskuiwende verhoudings na die grond deur die lens van historiese en kontemporêre arbeid, boerdery en omgewingspraktyke, met werke deur Gina-Rose Bolligello; Hashim Tarmahomed en Joshil Naran; Paul Castles en Nicole Brady; Sophie Guyot; en Pamela Phatsimo Sunstrum.

Camp deur Serge Alain Nitegeka by Spier Light Art 2025 het verskillende betekenisse vir verskillende mense. Sommige dink aan tente bymekaar as pret vakansies of avontuur, vir ander is dit vreesaanjaende beelde van verplasing en onteiening. (Foto: Clifford Roberts)

“Die tweede handel oor lig as infrastruktuur in die geboude omgewing, met werke wat reflekteer op toegang, toesig en veiligheid van kunstenaars Florian Bach; Serge Alain Nitegeka; Stephanie Briers en Andrew Earl AKA LightUp Collective; Sue Clark; Ross Juterbock; en Carla Prins.

“Die derde spruit uit werke wat vreugde wek deur humor of materialiteit, terwyl dit steeds met ons eietydse toestand omgaan, met werke van Jessica Bothma; Karla Nixon; Elgin Rust en Jane Appleby; Zakiyyah Haffejee; Mmakhotso Lamola; Zahraa Essa en TK Mbadi; Antoine Schmitt; Berco Wilsenach; en Dean Hutton.

Zakiyyah Haejee, Mmakhotso Lamola, Zahraa Essa en TK Mbadi se Come dance with us by Spier Light Art 2025 is vreugdevol en nooi die kyker in na die baldadige vreugde en danse. (Foto: Clifford Roberts)

“Die manier waarop jy kies om deur die ruimte te beweeg – of jy kies om langer aan die een kant van die meer te vertoef, of om die brug oor te steek – is jou keuse en jy bou jou eie narratiewe reis op. Dit is nie soos om in ’n wit kubusgalery in te gaan, waar daar ’n duidelike en sterk sentrale vertelling is nie. Jy kan dalk iets teëkom wat diep persoonlik is, of iets wat die politieke sy in jou aanwakker, of iets wat verby ons bekende wêreld na die kosmos kyk,” vertel Jay.

Benewens die In die sterre geskryf, staan twee ander werke vanjaar vir my uit: Sophie Guyot se Everywhere, ’n dramatiese rooi boodskap wat oor die water hang: “Power to our voice”, wat hulde bring aan plaaswerkers se belangrikheid in die landbouketting en wie se stemme dikwels nie gehoor word nie.

Sophie Guyot se Everywhere, ’n dramatiese rooi boodskap wat oor die water hang: “Power to our voice”, wat hulde bring aan plaaswerkers se belangrikheid in die landbouketting en wie se stemme dikwels nie gehoor word nie. (Foto: Clifford Roberts)

Die ander werk is onder naby die rivier waar Paul Castle en Nicole Brady se Repast II kyk na die verband tussen hoort en versugting. Bloekombome – uitheems en onwelkom – staan al vir dekades op die rivieroewer – die enigste tuiste wat hulle nog ooit geken het. Musiek en beelde wat in die Ngeringa Wynkelder in Adelaide Hills in Suid-Australië opgeneem is, word teen die reusestamme vertoon. Hoeveel van ons voel nie uitheems en onwelkom op hierdie grond nie?

Dis die woorde van Félix González-Torres wat my lank ná die ondervinding sal bybly: “Artificial light – with its implications of liberation from the restrictions of darkness – embodied an erosion of boundaries between public and private life. It is true that illumination allowed surveillance, but it also promoted freedom.”

Kitsfeite

  • Die Atelier des Lumiéres is in 38 Rue Saint Maur, Parys. Die huidige uitstalling, Pablo Picasso, art in motion en Rouseau, a world of dreams, is aan tot 29 Junie 2025. Meer inligting by www.www.atelier-lumieres.com.
  • Die Spier Ligkuns-fees is gratis, maar bespreek op Dineplan as jy by een van die restaurante wil gaan eet of ’n piekniek wil geniet. Besoek www.spier.co.za.
  • Die 14de Amsterdam Ligfees is van 27 November 2025 tot 18 Januarie 2026 te sien. Meer inligting by www.amsterdamlightfestival.com/en.
Lees ook:

Kuns het die Kaap behoorlik laat gons

Ongewone ontwerpsentrum ook tuiste van ongewone installasies

Openbare ruimtes word met kuns versier

Simposium poog om dialoog op Afrika-kontinent te bewerk

Unieke uitstalling in Midde-Ooste fokus op Afrika-kuns

Ikone van straatkuns onder een dak

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top