Voorstelling van The capital of care-uitstalling in Worcester.
- Grafika: verskaf deur Stellenbosch Academy of Design and Photography
- Foto’s: verskaf
Museums suig dikwels aan die agterspeen wanneer begrotings bereken word en is nie altyd interessant of interaktief nie. Baie museums is stowwerige, donker plekke waar uitsluiting – eerder as insluiting – die wagwoord is. Dit is dus ook dikwels nie op jongmense se radar wanneer ’n nuwe omgewing verken word nie.
Met Internasionale Museumdag wat op 18 Mei gevier word, bring dit weer museums in die kollig. Die dosente van die Stellenbosch Academy of Design and Photography het besluit om hierdie dilemma met ywer aan te gryp en jongmense by ’n interessante projek te betrek, naamlik “Imagine a just future”, ’n projek vir hul derdejaarstudente. Die jaar het pas afgeskop met ’n weeklange simposium en voorlegging in oorleg met verteenwoordigers van die Wes-Kaapse regering se Museumdienste en die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning.
Volgens die definisie is die “Just future”-projek wat deur verskeie organisasies wêreldwyd ondersteun word, daargestel om meer toeganklike, verantwoordelike, juiste en inklusiewe instellings te versterk. Dit is nie net ’n ideologiese idee nie, maar ook ’n praktiese een waar mense met gestremdhede ook gelyke kanse kry aan inklusiwiteit.
Cashandra Willemse, grafiese ontwerp-hoof en digitale tekeninge-dosent by die Akademie
Cashandra Willemse, grafiese ontwerp-hoof en digitale tekeninge-dosent by die Akademie, vertel: “Studente is by twee museumprojekte betrokke: die eerste is by die Worcester Museum.”
Worcester staan bekend as die “Sorg Hoofstad” en is die tuiste van die Nasionale Instituut vir Dowes en Innovasie vir Blindes. Die Worcester-projek sal onder andere Brittle Stars in the Bokkeveld: Ancient Marine Ecosystems and Environmental Change insluit. Hierdie uitstalling gaan die paleontologiese geskiedenis van die Devoon-era aan huidige omgewingskwessies koppel. Dit sal fossiele uit die Bokkeveld-skalie-afsettings ten toon stel, terwyl verbande met temas van ekologiese broosheid en veerkragtigheid getrek word.
“Hierdie tasbare en inklusiewe uitstalling by die Worcester Museum sal die institusionele geskiedenisse van versorging vir individue met verskillende vermoëns beklemtoon. Met kenmerke soos Braille-teks, aanraakgebaseerde vertonings en ouditiewe elemente, verseker dit betekenisvolle betrokkenheid vir alle besoekers. Deur toeganklikheid op elke vlak te integreer, toon die uitstalling ons toewyding om demokratiese ruimtes vir erfenis en leer te skep.”
........
Die uitstalling sal tasbare elemente, Braille-beskrywings en multimedia-integrasie bevat om ’n toeganklike ervaring te skep.
........
Die derdejaar- grafiese ontwerp-studente het elkeen die geleentheid gekry om binne die projek se uitvoering spesifiek ondersoek in te stel na wat só ’n uitstalling behels, en daarna ’n proses te volg waarin vele idees ontwikkel en gefinaliseer is. Die uitstalling sal tasbare elemente, Braille-beskrywings en multimedia-integrasie bevat om ’n toeganklike ervaring te skep. Dit sal dialoog oor biodiversiteit, klimaatsverandering en die menslike impak op die planeet belig, en sodoende hierdie dringende onderwerpe toeganklik maak vir diverse gehore.
Hierdie konseptuele interpretasies en voorleggings, wat innovasie, inklusiwiteit en interaktiwiteit as fokuspunte beklemtoon, sal later aan die museum se navorsingskurator, Jay van den Berg, en ander belanghebbendes aangebied word.
“Die ander projek waarby studente betrokke is, was by die Simonstad Museum. Die museum het ’n nuwe benadering benodig om groot hoeveelhede inligting, wat voorheen op klein blaadjies saamgevat is, te heroorweeg. Gewoonlik is die inligting met min toepassing van ontwerpbeginsels saamgestel en aangebied, en het dit gevolglik nie werklik bygedra tot die bevordering van kennisdeling nie,” vertel Cashandra.
Die Akademie se studente is dus deel van die oplossing vir hul eie toekoms ook.
Nadat die sprekers hul praatjies gelewer het, het studente begin om in hul groepe te beplan aan hul projekte.
Soos een van die sprekers, Jody Brown, omgewing-offisier vir die klimaatverandering-direktoraat by die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning van die Wes-Kaapse regering, gesê het: “Ons wil nie met die jongmense van ons provinsie en land praat nie; ons wil saam met hulle gesels.”
Jody Brown, omgewing-offisier vir die klimaatverandering-direktoraat by die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning van die Wes-Kaapse regering,
Jody se voorlegging oor klimaatsverandering en hoe dit elkeen van ons raak, was baie insiggewend.
Hy het gesê: “Klimaatsverandering is nie net ’n omgewingsprobleem nie, maar ’n noodgeval wat ons almal raak: nie net op ekonomiese vlak waar vloede sommige maande tot R460 miljoen se skade aanrig en fondse wat vir ander projekte aangewend kon word, agterweë bly nie, maar ook op sosiale vlak omdat klimaatsverandering mense van werk weerhou en gesondheidskwessies skep. Dit raak almal. Klimaatsverandering en hoe ons dit gaan oorleef, is ook een van die elemente wat voortaan in museumstories vervat sal word.”
........
“Museums is veilige ruimtes vir onveilige idees.” – Stephen Weil
........
Helene Vollgraaff, adjunk-direkteur: Museumdienste
Die studente het toe na twee museumverteenwoordigers geluister. Helene Vollgraaff, adjunk-direkteur: Museumdienste, het meer vertel oor museums as agente van verandering. Sy het gesê as jy 100 mense vra wat ’n museum is, gaan jy 101 verskillende antwoorde kry. Sy hou egter van Stephen Weil se definisie: “Museums is veilige ruimtes vir onveilige idees.”
Sy sê dat sy ook hou van die aanslag dat museums ’n kommunikasiemiddel is wat 3D spasies, die visuele en tasbare objekte inspan. “Museums kan enigiets wees wat jy wil hê; jy word net deur jou verbeelding aan bande gelê.
“Die fokus van museums verander soos kulture en tegnologie verander. Ons het egter vir baie jare Europese ‘ontdekkings’ uitgebeeld. Nuwe Museologie het tot stand gekom ná ’n studenterevolusie owerhede gedwing het om wyer te kyk. In die 21ste eeu het museums begin om al meer op mense te fokus, en om meer inklusief en tasbaar te wees.
“Koloniale geskiedenis, praktyke en vooroordele van museums het toenemend onder die loep gekom namate museumkundiges van Suid-Amerika, Afrika-lande en inheemse gemeenskappe meer uitgesproke geword het oor die Westerse vooroordeel.”
........
“Ek glo ook museums is agente van verandering, omdat hulle nog nooit neutrale ruimtes was nie, maar aktivistiese ruimtes kan wees.” – Helene Vollgraaff
........
Sy sê: “Ek glo ook museums is agente van verandering, omdat hulle nog nooit neutrale ruimtes was nie, maar aktivistiese ruimtes kan wees.”
Die Wes-Kaapse Museumdienste is op ’n lang reis om museums te verbeter en te dekoloniseer, wat ook meer orale geskiedenis én samewerkingsprojekte met gemeenskappe sal insluit. Dis hier waar die stories regtig lê.
Dis ook vir haar belangrik dat museums se voorkoms en ervarings gemoderniseer word. “Ons het nuwe besoekerservarings by ons provinsiale museums nodig en klein uitstallings by filiaalmuseums moet opgradeer word.”
Sy sê tegnologie moet ook ingespan word en is van kardinale belang – veral vir die jeug – sodat digitale en aanlyn uitstallings die lig kan sien.
Studente werk aan hul voorleggings.
Natuurlik sit ’n gros museums met koloniale versamelings en sy sê dekolonisasie is belangrik om ’n museum- en erfenislandskap te skep, wat insluiting en sosiale samesyn aanmoedig. Die skepping van ruimtes waar mense erken word en veilig voel; waar selfvertroue en trots aangemoedig word; en ’n gevoel van behoort voortou neem.
Sy het haar praatjie afgesluit met die woorde: “Woorde maak saak. Die taal wat ons gebruik, het geskiedenis en beïnvloed die betekenis van die stories wat ons vertel. Ons kan nie net woorde ‘skoonmaak’ nie, ons moet ook die wêreldbeskouings wat dit voorstel, aanspreek.”
Sy het onder meer woorde soos gestremd, ontdek, primitief en slaaf genoem.
.......
Aktiviste het aangevoer dat ’n gestremdheid nie ’n individuele probleem is om op te los nie, maar ’n sosiale uitvindsel is wat lewe met ’n gestremdheid in ’n probleem omskep.
.......
“Gestremdes, soos die woord gestremdheid, is ’n sambreelterm om verskillende vorme van intellektuele tot fisiese gestremdhede te beskryf. Aan die begin van die 20ste eeu is die term gestremdheid gebruik om ’n persoon se ‘tekort’ of onvermoë om ‘normaal’ te funksioneer, te beskryf. Van die 1970’s is hierdie konsep van ‘tekort’ en verwante woorde soos gestremd al hoe meer betwis. Aktiviste het aangevoer dat ’n gestremdheid nie ’n individuele probleem is om op te los nie, maar ’n sosiale uitvindsel is wat lewe met ’n gestremdheid in ’n probleem omskep. Mense wou nie meer ‘gestremd’ genoem word nie, maar eerder ‘gestremde mense’ (VK) of ‘mense met gestremdhede’ of ‘anders bekwaam’.”
Om dit te illustreer het sy een van die bordjies by die !Khwattu San Erfenissentrum buite Yzerfontein gebruik. Dit verklaar:
For hundreds of years people wrote about San as primitive just because they were looking for obvious signs of progress such as Western technology or buildings or chiefs. If other people had learnt our languages they would have been surprised to find how complex our lives, beliefs and social systems are!
Ter samevatting het sy gesê vir die pad vorentoe is dit belangrik dat museumpersoneel die mag van ruimte en die mag van objekte moet verstaan. “Ken jou vooroordele; daag jouself uit om buite jou eie verwysingsraamwerk te dink; en kies jou woorde versigtig. Hulle dra baie bagasie en mag gevoelens aanwakker van mense met verskillende ervarings.”
Jay van den Berg, navorsingskurator: Museumnavorsing en uitstallingsdepartement van die Departement Kultuursake en Sport
Jay van den Berg, navorsingskurator: Museumnavorsing en uitstallingsdepartement van die Departement Kultuursake en Sport, se praatjie onder die hofie, “Museums as gedeelde publieke gemeenskappe: oorbrug erfenis, kontemporêre dialoog en universele toegang”, het verklaar dis baie moeilik om ’n 150ste bestaansjaar van ’n museum soos die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery (ISANG) te vier “as meer as 100 jaar van dié bestaan geen rede tot feesviering bied nie”.
Hy het vertel van die Breaking down the walls – 150 years of art collecting, wat die museum se heropening in 2022 gevier het. Hierdie uitstalling het ISANG se permanente versameling krities bekyk om inklusiwiteit, toeganklikheid en interdissiplinêre betrokkenheid te bevorder. Die uitstalling het ISANG se koloniale verlede gekritiseer en besin oor uitsluitingspraktyke soos dat die eerste verkryging van ’n swart Suid-Afrikaanse kunstenaar se werk byvoorbeeld eers in 1964 plaasgevind het, ten spyte van die galery se oorsprong in 1850.
Hy het toe interessante voorbeelde gewys oor hoe die uitstalling – met die nodige insig – die hele omvattende storie van ons geskiedenis kan vertel deur onder meer klein veranderinge en insluitings.
Jacques Viljoen het ’n kunsresidensie by die Nasionale Galery gehad en het tydens sy tyd daar die werknemers geverf. Hulle het as’t ware deel van die uitstallings waarmee hulle al jare werk geword. Toe is hul kunswerke tussen die meesterstukke gehang.
........
“Dit gaan daaroor om mense eienaarskap te gee van hierdie openbare ruimtes wat op die ou einde is wat museums is. Die Nasionale Galery en daardie versameling behoort aan elke enkele persoon hier. – Jay van den Berg
........
“Dit gaan daaroor om mense eienaarskap te gee van hierdie openbare ruimtes wat op die ou einde is wat museums is. Die Nasionale Galery en daardie versameling behoort aan elke enkele persoon hier.
“My gunsteling is Fatima February, ’n vrou wat vir 45 jaar in die galery gewerk het. Galerybesoekers kon kyk hoe hy verf en die hele proses gee die spasie as’t ware terug aan haar.”
Jacques het gesê: “Fatima is ’n nasionale skat: ’n bodemlose bewaarplek van kulturele kennis wat Iziko-instellings vir meer as 45 jaar gedien het. Sy is self ’n gerekende kunstenaar en haar werk – wat dikwels na haar opvoeding in Distrik Ses verwys – vorm deel van die Nasionale Galery se permanente versameling.”
’n Standbeeld deur Mary Sibande, The reign (2010), is in een vertrek met die Bailey-versameling as agtergrond geplaas.
Jay het ook foto’s gewys van hoe die plasing van ’n standbeeld deur Mary Sibande, The reign (2010) – in een vertrek met die Bailey-versameling as agtergrond, wat bestaan uit Britse perdeskilderye uit die 1700’s – “koloniale geskiedenisse in die soeklig plaas, terwyl kontemporêre kuns as ’n lens vir historiese versamelings geplaas is. Hierdie plek-spesifieke installasie het die aandag gevestig op verhale van onteiening wat oor die hoof gesien word, wat illustreer hoe kuns as ’n kritiese medium kan optree om die nalatenskap van kolonialisme te ondersoek.”
Die standbeeld is ’n swart vrou met ’n kopdoek en groot Victoriaanse rok op ’n groot swart perd wat in opstand is teen die vrou op sy rug.
“En dit skep dadelik ’n ander narratief. En dit gaan nie daaroor om negatief te besin oor die historiese aspekte van wat gebeur het met wat nou is nie, maar dit vertel gesamentlik dieselfde storie. En dit is waaroor dit vir ons by die museum gaan. Dis ’n versameling stories.”
........
“Museums, as openbare gemeenskappe, oorskry hul tradisionele rolle as bewaarplekke van artefakte om inklusiewe ruimtes vir gedeelde kulturele erfenis, leer en dialoog te word. Hierdie instellings tree op as dinamiese platforms waar gemeenskappe op gelyke en deelnemende wyse met geskiedenis, kontemporêre kwessies en toekomstige moontlikhede betrokke raak.” – Jay van den Berg
........
Jay sê: “Museums, as openbare gemeenskappe, oorskry hul tradisionele rolle as bewaarplekke van artefakte om inklusiewe ruimtes vir gedeelde kulturele erfenis, leer en dialoog te word. Hierdie instellings tree op as dinamiese platforms waar gemeenskappe op gelyke en deelnemende wyse met geskiedenis, kontemporêre kwessies en toekomstige moontlikhede betrokke raak.
“Museums verbind verlede narratiewe met huidige realiteite en skep geleenthede vir nabetragting en begrip oor generasies heen. Deur historiese uitsluitings aan te spreek, stel hulle samelewings in staat om krities betrokke te raak by hul geskiedenisse, wat ’n omgewing van gedeelde leer en groei bevorder.”
Hy sê museums fasiliteer besprekings oor identiteit, verteenwoordiging en sosio-politieke kwessies, wat diverse stemme toelaat om by te dra tot kulturele diskoers. Deur interdissiplinêre en deelnemende benaderings word hulle terreine van wedersydse leer en samewerking.
“Hierdie uitstalling het ’n galery wat as eksklusief gesien word, skielik toeganklik vir almal gemaak. En dis wat ons met ons museums wil doen – toeganklik, inklusief.
“So, inklusiewe ruimtes is nie net ’n ideologie nie. Ons moet dit prakties hanteer. Van ’n ontwerpperspektief is die Akademie se studente se bydraes van kardinale belang.
........
Dis egter Jay se wyse woorde wat vir my die pad vorentoe gelyk plavei: “Museums is lankal nie meer net die bewaarders of rentmeesters van ou objekte met baie inligting nie. Hulle moet mens- én gemeenskapsgebaseerd word.”
........
“Hierdie uitstallings moet mooi wees vir mense met sig, en ook toeganklik wees vir dié sonder sig of gehoor.”
Cashandra voeg by: “Die Akademie se waardes word deur en deur geïntegreer in die manier waarop projekte aangepak en deurgevoer word. Daar is nege waardes, en elkeen daarvan neem ’n sentrale plek in die benadering tot projekte in. Die Akademie se waardes is: inklusiwiteit, respek, ondersteuning, integriteit, verantwoordelikheid, aanpasbaarheid, innovasie, reflektiwiteit en uitsonderlikheid in alles wat die Akademie as ’n geheel aanpak.”
Dis egter Jay se wyse woorde wat vir my die pad vorentoe gelyk plavei: “Museums is lankal nie meer net die bewaarders of rentmeesters van ou objekte met baie inligting nie. Hulle moet mens- én gemeenskapsgebaseerd word.”
Van die studente se projekte en idees vir die twee museums waarby hulle betrokke is:
Lees ook:
Irma: ’n interkulturele en multidissiplinêre gesprek oor identiteit in kuns
Sculpting this earth: Dokumentêre film oor landkuns in Suid-Afrika – ’n onderhoud
Marlene Dumas skenk portret van Elisabeth Eybers aan Wits-kunsmuseum