Suid-Afrika dop korrupsietoets

  • 0

Suid-Afrika is, soos die res van Afrika, pens en pootjies deel van die mees korrupte lande ter wêreld. Ondanks Cyril Ramaphosa se beloftes om korrupsie hok te slaan dop hy steeds die korrupsietoets. Die land vaar selfs swakker as ’n hele paar ander lande in Afrika.

Foto: Pixabay.com

Hoewel Suid-Afrika ’n effense verbetering op die korrupsieskaal getoon het sedert verlede jaar se internasionale korrupsie-indeks deur Transparency International (TI), floreer korrupsie steeds in die land.

Volgens TI se korrupsiepersepsie-indeks wat Donderdag bekendgemaak is, het meer as twee derdes van die lande wat gepeil is, op ’n skaal van 1 tot 100 die toets gedop. Die meeste van daardie lande is in Afrika.

Op die korrupsieskaal dui 0 op uiters korrup en 100 op uiters skoon van korrupsie.

Op dié skaal het Suid-Afrika met een plek verbeter sedert verlede jaar, van 43 na 44. Dit bly egter steeds een van die lande met ’n ernstige korrupsieprobleem wat nie hond haaraf maak om korrupsie hok te slaan nie.

Kyk mens na die globale prentjie, is Suid-Afrika nommer 70 op die lys van 180 lande wat gemeet is. In die sub-Saharastreek is daar agt lande wat beter as Suid-Afrika gevaar het.

Met ’n gemiddeld van 32 op die korrupsieskaal skilder die lande in sub-Sahara ’n uiters donker prentjie in die stryd teen korrupsie. Die land wat die beste gevaar het in Afrika, is die Seychelle met 66 uit 100, gevolg deur Botswana (61), Kaap Verde (58), Rwanda (53) en Mauritius (52).

Die land in Afrika wat die swakste gevaar het en die meeste korrup is, was Somalië met slegs 9 uit 100 gevolg deur Suid-Soedan (12), Soedan (16) en Ekwatoriaal-Guinee (16).

..........

“Die resultate toon duidelik hoe korrupsie gedy in lande waar groot geld vrylik in verkiesingsveldtogte ingepomp word. Die slegte nuus is dat die bekamping van korrupsie wêreldwyd besig om te stagneer.”

..........

Die indeks word beskou as een van die beste indikators om korrupsie in die openbare sektor te meet en word hoog aangeslaan deur kenners en besigheidslui.

Hoewel die Seychelle steeds gebuk gaan onder geldwassery, wat nie deur die indeks gemeet word nie, het verskeie antikorrupsiewette en ander maatreëls baie gehelp om dié land se korrupsieprobleme aan te spreek.

Ander lande in Afrika wat heelwat verbetering getoon het ten opsigte van korrupsie sedert 2012, is die Ivoorkus en Senegal, maar daar lê nog baie werk vir hulle voor. Beide lande is nog laag op die korrupsieskaal.

Die lande wat die beste in die wêreld gevaar het en die minste korrupsie het, is Denemarke en Nieu-Seeland, wat elk 87 uit 100 op die korrupsieskaal behaal het. Die lande wat die swakste gevaar het, is Somalië, Suid-Soedan en Sirië, met tellings van onderskeidelik 9, 12 en 13 uit 100.

In vanjaar se verslag word die belangrikheid beklemtoon van die verband tussen geld, politieke mag en korrupsie. Die resultate toon duidelik hoe korrupsie gedy in lande waar groot geld vrylik in verkiesingsveldtogte ingepomp word.

..........

“Lewis sê die toksiese invloed van geld in die politiek behoort aangespreek te word deur strenger toesig oor politici en staatsamptenare se lewenstyl met behulp van lewenstyloudits.”

..........

Die slegte nuus is dat die bekamping van korrupsie wêreldwyd besig om te stagneer. Navorsing toon dat die stroom van groot geld en politieke mag direk verband hou met mekaar. Diegene met geld slaan ook die politieke kitaar, terwyl die armes byna geen politieke invloed het nie.

Selfs lande wat goed vaar op die antikorrupsieskaal, is nie vry van korrupsie nie. Baie van die korrupsie wat in lande gepleeg word waar korrupsie aan die orde van die dag is, word gefasiliteer vanuit lande aan die bopunt van die skaal wat veronderstel is om baie meer korrupsievry te wees.

Die hoofdirekteur van Corruption Watch, David Lewis, sê die gebrek aan wil wat Suid-Afrika se politici aan die dag lê om die nodige wetgewing deur te voer vir partypolitieke befondsing, dui op ’n gebrek aan die wil om korrupsie hok te slaan. Hy sê Suid-Afrikaners vertrou nie die regering se beloftes om korrupsie hok te slaan voordat daar sigbare vordering gemaak word om diegene wat verantwoordelik is vir korrupsie te vervolg nie.

Lewis sê die toksiese invloed van geld in die politiek behoort aangespreek te word deur strenger toesig oor politici en staatsamptenare se lewenstyl met behulp van lewenstyloudits.

Transparency International se volledige verslag kan hier afgelaai word.

Lees ook 

Polisieminister by korrupsie betrek

Nóg skokke en onthullings oor korrupsie

’n Video wys sakke en sakke vol omkoopgeld

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top