Die globale bestaan nooit sonder die lokale nie; dit is ’n tergende, moeilike en ook produktiewe verhouding waarin die twee mekaar behoort te bevraagteken en te erken, sê die Stellenbosse literator Louise Viljoen. Sy het met Willem de Vries gesels oor onder meer die Afrikaanse letterkunde se toenemende bydrae tot ’n transnasionale gesprek.
Louise Viljoen
In 2015 het jy in Poolshoogte, ’n aanlyn LitNet-kongres oor die stand van die Afrikaanse letterkunde 20 jaar ná demokrasie, gesê "die Afrikaanse en die Suid-Afrikaanse letterkunde (is) besig om oor en buite die grense van die nasionale te beweeg" en "die aandag vir transnasionale bewegings is een van die maniere waarop literatore kan wegbreek uit die keurslyf wat deur die nosie van nasionale letterkundes daargestel word". Hoe lyk die situasie, ook met betrekking tot ander Suid-Afrikaanse letterkundes, vandag? Watter ideologies-kritiese standpunte is nou deel van hierdie gesprek?
Voordat ek begin antwoord, moet ek beklemtoon dat die opmerkings wat ek in hierdie gesprek maak, uiteraard gekleur is deur my eie belangstellings en die beperkinge van my eie kennis van hierdie veld; ander mense sal waarskynlik met heel ander oë na dieselfde gegewe kyk. My opmerking van destyds sluit aan by my belangstelling in die posisie van klein letterkundes, soos dié van Afrikaans, in die groter wêreld. Die verwysing na die “wêreld” stuur ’n mens natuurlik in die rigting van die konsep “wêreldletterkunde” wat op verskillende maniere omskryf kan word: as ’n versameling van die beste werke uit al die letterkundes in die wêreld, as letterkunde wat “wêreldklas” is, of as ’n verwysing na dié literêre tekste wat buite hul eie taal- en landsgrense sirkuleer. ’n Mens kan ook nie anders nie as om te dink aan Pascale Casanova se bekende boek wat in die Engelse vertaling The World Republic of Letters heet. Volgens haar beklee die Franse en ander Europese letterkundes hul sentrumposisie op grond van die politieke, ekonomiese en kulturele mag wat oor eeue opgebou is. Sy gee wel aandag aan klein letterkundes wat sy op nogal melodramaties wyse beskryf met woorde soos “deprived” en “impoverished”. Sy skryf ook oor dié letterkundes se “translated men” (sic) wat worstel met die vraag of hulle in hul moedertaal of een van die groot wêreldtale moet skryf. Alhoewel ’n mens bewus is van die hindernisse wat ondervind word deur skrywers wat in ’n klein taal skryf, vind ek die situasie nie heeltemal so tragies en hartverskeurend soos wat sy dit uitbeeld nie.
Daarom is dit vir my besonder boeiend om te probeer nagaan waarom en hoe sekere Afrikaanse en Suid-Afrikaanse tekste wel daarin slaag om buite die grense van die taal te beweeg. Watter faktore bepaal watter tekste vertaal word; wat is die trajekte wat sekere tekste in vertaling volg (beweeg hulle via Nederlands na Engels en ander tale of gebeur dit andersom); watter temas oorheers in die tekste wat buite die taal- en nasionale grense beweeg; watter genres beweeg makliker as ander? En so meer. Vanuit die perspektief van ’n klein letterkunde gesien, raak ’n mens op ’n besondere manier bewus van die ekonomiese faktore, politieke kragte en sosiale kapitaal wat ’n rol speel in die sirkulasie van literêre tekste in die wêreld. Jy vra jou af watter kans ’n skrywer of ’n teks uit ’n baie klein minderheidstaal en ’n marginale letterkunde het om raakgesien te word in ’n wêreld wat gerat is om tekste in die groot wêreldtale (wat ook dié is met politieke en ekonomiese mag) te akkommodeer en te versprei. Jy vra jou ook af of die tekste uit klein minderheidstale en die omstandighede waaruit hulle ontstaan, ook iets by te dra het tot die groter wêreld. (Ek dink van wel.)
’n Mens sou die beweging oor grense van die taal en die land as positief kon sien: dit kan ’n openheid van gees vir skrywers én literatore bring, hopelik ’n soort kosmopolitisme of wêreldburgerskap van die soort wat ’n sober selfbewustheid, ’n sensitiwiteit vir die wêreld buite ’n mens se eie milieu en ’n sin vir morele verantwoordelikheid ook ten opsigte van diegene buite jou eie kring en spesie meebring (ek sluit hier aan by Robert Spencer se formulering). Dat dié soort instelling nie losstaan van ’n lojaliteit aan jou eie omgewing nie, blyk uit die formulering van begrippe soos “rooted cosmopolitanism” (Cohen), “cosmopolitan patriotism” (Appiah) en “vernacular cosmopolitanism” (Hall). Dit impliseer dat hierdie sensitiwiteit en wêreldburgerskap veral in jou eie omgewing uitgeleef kan en moet word.
Ek dink hierdie sensitiwiteit vir die groter wêreld waarbinne die individu, maar ook die skrywer en tekste, bestaan, is ’n groot verruiming: dit openbaar nie net die rigtings waarin ’n mens kan beweeg nie, maar ook die rigtings waaruit die invloede kom wat op jou inspeel. Daar is byvoorbeeld op die oomblik in die Engelse Suid-Afrikaanse literatuurstudie ’n groot belangstelling in “oceanic studies” wat veral fokus op die bewegings in die Indiese Oseaan en die invloed wat dit op tekste in Afrika en Suid-Afrika gehad het. Iets wat my ’n bietjie bedruk maak, is dat die globale politieke diskoers op die oomblik besig is om weg te beweeg van hierdie soort inslag en die positiewe waardes wat dit kán verteenwoordig. Dit lyk asof die politieke diskoers in die globale Noorde en ook elders besig is om te beweeg in die rigting van isolasie en ’n terugkruip in eie dop. Dit lyk vir my na ’n onwenslike strategie, veral omdat daar globale samewerking nodig is om die wêreld se belangrikste probleme aan te spreek (armoede, ongelykheid, ekologiese verval, en so meer).
Met die koms van die internet vind daar nivellering plaas, asook die opkoms van stemme in en oor Afrikaans van oor die wêreld. Hoe kry ’n letterkunde prominensie binne só ’n raamwerk en watter invloed het dit op die rol van hedendaagse skrywers?
Ek dink dat die verskynsel van globalisering en veral tegnologisering geweldig baie bygedra het tot die beweeglikheid van literêre tekste, en dus ook van Afrikaanse tekste. Die teoretikus Galin Tihanov het in ’n artikel getitel “Do minor literatures still exist?” verwys na die geweldige impak wat die internet het, nie net op die produksie van tekste nie, maar ook op die resepsie van letterkunde, omdat dit funksioneer as ’n “globale opslagplek” van tekste, representasies, verwerkings, verfilmings, vertolkings, vertalings, en so meer, wat dikwels verbruik en hergebruik word sonder enige inagneming van die konteks waaruit dit kom. Hy maak die provokatiewe stelling dat dié toedrag van sake beteken dat ons besig is om “the regime of complex (and constant) marginocentricity” binne te gaan waarin die sentrum nie meer van die periferie onderskei kan word nie en die klein of “minor” letterkunde nie van die groot of “major” letterkunde nie. Aan die een kant mag dit beteken dat skrywers en hul tekste in die vloedgolf kan verdwyn indien hulle nie saamswem in die sensasionele stroom nie; aan die ander kant gee dit aan Afrikaanse tekste die geleentheid om deel te word van die groter wêreld, waar hulle die aandag mag trek (of nie). Dit is waarskynlik nie altyd ’n netjiese proses nie; daar is sekerlik sprake van nivellering, verkapping, vermorsing en verspilling, maar dalk ook van oplugting en verheldering (Tihanov praat van sowel “profanation” as “epiphany”).
Die internet stel ook mense in staat om vanuit enige plek in die wêreld in interaksie te tree met wat in ’n bepaalde letterkunde aangaan en daaraan deel te neem, soos wat ons sien in die Versindaba- en LitNet-webruimtes waaraan Afrikaanssprekendes van oor die hele wêreld deelneem. Ek dink dat die twee genoemde webruimtes daarin slaag om deur die verskeidenheid aktiwiteite wat hulle moontlik maak, die Afrikaanse letterkunde ’n bepaalde teenwoordigheid binne die internetruimte te gee. Hulle doen dit deur die resensies, die besprekings in die kommentaarstringe, die akademiese artikels, die onderhoude met skrywers, die briewe van lesers, en so meer. Akademiese webruimtes soos Researchgate, Academia.edu en ander maak dit ook vir Afrikaanssprekende akademici moontlik om hulle werk binne die internasionale domein rugbaar te maak. Dié webruimtes maak dit ook vir jou moontlik om te sien waar jou werk gelees word, en dit is soms verrassend om te sien dat daar in Turkye, Singapoer, Engeland of Korea na artikels oor die Afrikaanse letterkunde gekyk word, ook dié wat in Afrikaans geskryf is. Hedendaagse skrywers sal waarskynlik hul moontlike lesers anders visualiseer as vantevore; hulle sal waarskynlik ook geïnspireer word deur die groter spektrum wat beskikbaar is op die internet. Ons sien ook dat die nuwe wêrelde, bewegingsmoontlikhede en dinkruimtes wat die internet en sosiale media skep, op intelligente en kritiese wyse in die Afrikaanse letterkunde aangespreek word (die impak wat dit het op identiteit, die moontlikhede wat die skep) en dat dit nuwe vorme inspireer. Die internet en sosiale media het (miskien onbedoeld) ook die effek dat dit skrywers dwing om opnuut te dink oor die etiese kwessies rondom die skending van privaatheid, die misbruik van inligting en hoe ’n mens jouself in die wêreld plaas.
In reaksie op globalisering is daar ook aandag aan die partikuliere. Dit wat as streeksgebonde beskou is, word gevier vir die verskeidenheid wat dit in die hand werk. Breyten Breytenbach verwys na "die Afrikaanse tale". Watter soort gesprek sou jy graag tussen die sprekers wou sien? Vind iets daarvan reeds plaas? Vertel asseblief.
Wat my betref, bestaan die globale altyd by grasie van die lokale: die globale kom tot stand deur die uitreik na buite vanaf verskillende lokaliteite en die beweging van een lokaliteit na ’n ander. Die een bestaan nooit sonder die ander nie; dit is ’n tergende, moeilike en ook ’n produktiewe verhouding waarin die twee mekaar behoort te bevraagteken en te erken. Daarom dink ek dat klein letterkundes wat in klein tale geskryf en aan ’n bepaalde lokaliteit geknoop is, ’n bydrae tot die diskoers van “wêreldliteratuur” te lewer het. Ek is miskien ’n bietjie meer idealisties as Theo D’Haen wat geskryf het dat die wêreldletterkunde oorheers word deur ’n Anglo-globalisme wat gevoed word deur die dominante posisie van Engels as ’n wêreldwye lingua franca en deur die postkoloniale literature in Engels wat uit die eertydse Britse Empire voortkom. Wat my betref, behoort die klein letterkundes juis deur hul warsheid, andersheid en rusteloosheid ’n impak te probeer maak op ’n potensieel monotone, eentalige wêreldletterkunde wat dreig om deur kommersiële waardes verslind te word.
Binne hierdie konteks is dit belangrik dat die klein letterkundes in Suid-Afrika met mekaar moet begin praat en met mekaar in interaksie moet tree om mekaar te voed en te inspireer met wat hulle haal uit die ruimte wat hulle deel. Ons is meestal geneig om te dink aan transnasionale bewegings as vertikaal: van klein letterkundes na groot letterkundes of na die “wêreldletterkunde”; van die armoedige globale Suide na die ryk en magtige globale Noorde. Dit was dus vir my interessant om te lees dat Françoise Lionnet en Shuh-Mei Shih in hul boek Minor transnationalism skryf dat daar ook sprake behoort te wees van ’n “minor transnationalism” waarvolgens klein letterkundes met mekaar in gesprek tree eerder as om altyd te probeer dwing na die polities en ekonomies magtige ruimtes toe. Vir Afrikaanse skrywers en letterkundiges sou dit beteken dat hulle moet begin praat in én met al die verskillende vorme van Afrikaans wat daar bestaan; dat hulle moet begin praat met en inspirasie put uit die letterkundes in die ander tale in Suid- en Suider-Afrika. Dit gebeur nog nie genoegsaam nie en ek sou graag wou sien dat dit in al die Suid-Afrikaanse letterkundes en in die Suid-Afrikaanse literatuurstudie moet gebeur. Die gesprek tussen die Afrikaanse en die Nederlandstalige letterkundes is eweneens ’n manifestasie van so ’n gesprek tussen klein tale en klein letterkundes. Alhoewel die Nederlandstalige letterkunde (baie) ouer, groter en digter bevolk is met skrywers en lesers as die Afrikaanse letterkunde, is dit ’n betreklik klein speler in die wêreldarena.
Is daar spesifieke temas, ongeag die genre, wat hulle tot ’n transnasionale gesprek leen? Wat in die breë is gedeelde dinamieke tussen letterkundes in so ’n gesprek? Wat kenmerk vir jou vandag die dinamieke tussen die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes?
Die temas wat hulle tot ’n transnasionale gesprek leen, is die soort vraagstukke waarmee almal in die wêreld worstel: migrasie, multikulturele en veeltalige omgewings, ongelykheid, armoede, die lang skaduwee van die kolonialisme en ekologiese vraagstukke (die mens se verhouding met die planeet en met ander lewende wesens). Afrikaanse skrywers bemoei hulle nie net met lokale verskynsels nie, maar ook met globale gebeure, juis omdat dit wat lokaal gebeur, gewoonlik in interaksie tree met dit wat globaal gebeur. Dinge gebeur nie in isolasie en slegs binne nasionale grense nie; dit spoel oor die grense na ander gebiede (en dit is sekerlik nie ’n nuwe verskynsel nie). Afrikaanse en Suid-Afrikaanse skrywers kyk wel vanuit ’n lokale perspektief en met ’n heel spesifieke invalshoek na die globale – iets wat prikkelend kan wees vir lesers in ander situasies.
Die hernude aandag aan die bande tussen Suid-Afrika en die Lae Lande geskied teen die agtergrond van verengelsing in die akademie. Het transnasionale bande ’n deurentyd positiewe werking of is daar fasette waarop gelet moet word wat ook ’n invloed het op die behoud en/of uitbou van ’n letterkunde?
My argument oor die gesprek tussen klein tale en hulle letterkundes en die verskynsel van “minor transnationalism” geld ook hier. Die Ierse vertaalteoretikus Michael Cronin het geskryf dat álle tale in die wêreld eintlik klein tale of “minor languages” is in vergelyking met Engels as globale lingua franca.Daarom is dit belangrik dat die transnasionale gesprek tussen klein tale moet voortgaan, asook die gesprek tussen die klein tale en die groot tale, om diversiteit te bly behou en sodoende te sorg dat die globale diskoers ’n rykheid van tekstuur het. ’n Skrywer soos Marlene van Niekerk voel byvoorbeeld baie sterk daarvoor dat Nederlands en Afrikaans mekaar moet beïnvloed: Nederlands moet Afrikaans as ’t ware “besmet” en dit wat aan die slaap geraak het in die taal wakker skud, terwyl Afrikaans op sy beurt vir Nederlands kan herinner aan sy eie komplekse verlede. Jong skrywers soos Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal is eweneens gewild in Nederland omdat hulle ’n ander gesig van Afrikaans vir Nederlands wys, ’n vorm van Afrikaans wat sy eie invloede (onder andere uit Engels) vertoon en sy eie kontekste weerspieël. Hoe groter die diversiteit wat deur hierdie interaksies ontstaan, hoe sterker sal die taal en die letterkunde wees.
Jy word gereeld genooi om op verskeie internasionale byeenkomste oor die letterkunde te praat. Hoe verskil die temas vandag van die soort gesprek wat op kollokwiums gevoer is ’n dekade gelede? Wat is die vernaamste groeipunte wat jy in hierdie tyd waarneem?
Dit is moeilik om stellige uitsprake te maak, omdat die aksente wat jy lê, grootliks verband hou met jou eie belangstellings, maar vir my het sekere kwessies – anders as in die verlede – uitgestaan by die driejaarlikse kongres van die International Comparative Literature Association (ICLA) wat in 2016 in Wene gehou is (en in 2019 in Shenzhen, China, gaan plaasvind). Daar is altyd ’n mag der menigte onderwerpe en referate by so ’n kongres, maar dit was vir my opvallend dat daar sessies was oor letterkunde uit multikulturele en veeltalige omgewings, die rol van klein letterkundes in die wêreld, die verskynsel van “translational literature” (letterkunde wat in meer as een taal geskryf word of die proses van vertaling van een taal na ’n ander sigbaar maak) en sessies oor die marginalisering van sekere letterkundes (daar is byvoorbeeld verwys na die verwaarlosing van die letterkundes van suidelike Europa, waarop die Afrikane by die kongres gevra het of hulle al gehoor het van die globale Suide). Een van die hoofsessies het gehandel oor die spanning tussen die konsep van wêreldletterkunde (wat grootliks onderrig word deur gebruik te maak van vertalings in Engels) en die dissipline van die vergelykende letterkunde (wat daarop aandring dat studente en navorsers minstens drie tale en die letterkundes daarvan ken voordat hulle vergelykings begin tref). Die twee benaderings is verteenwoordig deur die Amerikaners David Damrosch en Emily Apter, wat mekaar flink die stryd aangesê het in hul gesprek. Ook opvallend by hierdie kongres (dit is trouens reeds die laaste tien jaar die geval) was die toetrede van literatore uit China en Indië tot hierdie vereniging wat eintlik in Europa ontstaan het (die voertale van die kongres is op die oomblik nog Engels, Frans en Duits). Dit was fassinerend om te luister na referate oor tradisies wat duisende jare oud is in hierdie literature en hoe hulle vandag nog voortleef, ook hoe hulle in interaksie tree met ander letterkundes en ’n nuwe lig werp op die wyse waarop daar elders met bepaalde kwessies omgegaan word. Daar is ’n baie ryk wêreld daar buite waarvan ons nie gaan weet as ons nie oor die grense om ons beweeg nie.
Wat bied die hedendaagse en ouer Afrikaanse letterkunde vir lesers en navorsers in die Lae Lande?
Hier kan ek slegs spekuleer. Die ganse wêreld lê natuurlik oop vir Nederlandse lesers en navorsers vanweë hulle uitnemende kultuur van vertaling, sodat die belangstelling in die Afrikaanse letterkunde dalk maar ’n klein persentasie daarvan verteenwoordig. Ek vermoed dat die Afrikaanse letterkunde hulle boei vanweë die historiese band en komplekse verhouding wat veral Nederland met Suid-Afrika en Afrikaners het: dit was ’n geskiedenis van toegeneentheid én vervreemding, miskien iets van ’n spieël van hul verhouding met hulself en hul koloniale verlede. Die aksente lê dalk effe anders in Vlaandere (’n mens is geneig om die verskille tussen Nederland en Vlaandere te ignoreer). Dit mag ook wees dat die taal hulle interesseer, weer eens vanweë die opsigtelike ooreenkomste, maar ook die frappante verskille waaruit daar dan ook ’n heel spesifieke invalshoek op die wêreld spruit. Dit is vir my opvallend dat die Nederlandse vertalings van Afrikaanse digters se bundels deesdae beide die oorspronklike Afrikaans en die Nederlandse vertaling bevat sodat die twee tale naas mekaar staan.
Jy is in Oktober vanjaar ’n hoofspreker oor werk van Antjie Krog, ontvanger vanjaar van die Gouden Ganzenveer, op die Afrikaans-kollokwium aan die Universiteit van Gent. Ook toe die Gentse eredoktorsgraad in 2014 aan Breyten Breytenbach toegeken is, was jy die hoofspreker by die geleentheid. Albei skrywers is dus in onlangse jare binne die hoofstroom in die Nederlande opnuut waardeer. Waaraan skryf jy hul aktualiteitswaarde toe binne die huidige transnasionale gesprek?
Beide hierdie skrywers het ’n lang verhouding met Nederland. Breyten Breytenbach is reeds vanaf die sestigerjare in Nederland bekend as skilder en as digter, ook vanweë die persoonlike bande wat hy met verskillende Nederlandse skrywers en digters gehad het en in sommige gevalle nog steeds het. Hy het ook groot bekendheid in Nederland verwerf vanweë sy verset teen die apartheidsregering en sy politieke gevangenskap. Sy gevangenismemoir, The true confessions of an albino terrorist, het trouens wêreldwyd bekend geraak in die tagtigerjare, onder andere omdat dit aangesluit het by die werk van ander politieke gevangenes uit verskillende dele van die wêreld. Ioan Davies se Writers in prison het uitgelig in watter mate dit een van die mees prominente transnasionale temas van die tagtigerjare was. In die byna 40 jaar sedert sy vrylating in 1982 het hy ’n bekende figuur in Nederland gebly, waarskynlik omdat hy steeds temas soos die misbruik van mag, die verlies aan vryheid, die broosheid van klein tale soos Afrikaans, die impak van ’n oorwoekerende kapitalisme en ’n hele aantal ander transnasionale temas in sy werk aanspreek.
Op haar beurt het Antjie Krog sedert haar eerste openbare optrede by Poetry International in Rotterdam in 1992 byna ’n algemeen bekende naam in Nederland geword. Dit is interessant dat haar groter bekendheid in die wêreld ook verband hou met ’n boek wat aangesluit het by ’n tema wat in die negentigerjare wêreldwyd belangrik was, naamlik Country of my skull,wat gehandel het oor die Waarheid-en-versoeningskommissie. Anthea Garman skryf in haar PhD-studie oor Krog hoe hierdie werk aansluit by die wêreldwye prominensie van waarheidskommissies en konfessionele diskoers in die 1990’s. Die impak van haar werk in Nederland lyk asof dit steeds toeneem: sy tree gereeld op in Nederland, haar tekste word onmiddellik ná hul verskyning in Afrikaans ook in Nederlands vertaal en sy was onlangs (soos jy hier bo noem) die eerste Afrikaanse skrywer wat die Gouden Ganzenveer ontvang het – ’n ongekende verskynsel. Ek dink dat Krog se werk in Nederland resoneer omdat sy die tema van die saambestaan van mense van verskillende rasse, taal- en kultuurgroepe op so ’n intensiewe wyse in haar werk ondersoek. Dit is gegewens wat ook in Nederland en Europa steeds dwingender kwessies raak.
Wat beteken die aandag uit die Nederlande vandag vir die Afrikaanse letterkunde (en ná die afskaf van die kultuurboikot)?
Die aandag uit die Nederlande is besonder stimulerend vir die Afrikaanse letterkunde, nie net vir die skrywers nie, maar ook vir die studente van die letterkunde. Ons ontvang gereeld studente uit Nederland en Vlaandere wat die Afrikaanse letterkunde bestudeer en van ons studente gaan na Nederland en Vlaandere om die Nederlandstalige letterkunde te bestudeer. Dit is ook my gevoel dat veral Nederland vir Afrikaanse skrywers een van die poorte is tot die internasionale domein. Die historiese bande en die ooreenkomste tussen die tale maak dit in ’n sekere sin vir Afrikaanse skrywers makliker om toegang tot die Nederlandstalige literêre toneel te kry. Heelwat van hulle migreer dan van daar na vertaling in ander tale en bekendheid in ander omgewings (terwyl ander juis via Engels na Nederlands beweeg). Dit is vir my interessant dat daar deesdae in Nederland ’n aptyt is vir ’n hele spektrum van genres as dit om Afrikaanse tekste gaan: poësie, romans, kortverhale, outobiografiese fiksie, populêre romans en speurverhale; dit is ’n diversifikasie waardeur hulle ’n baie ruim blik op die literêre produksie in Afrikaans kan kry.
Aansluitingspunte tussen letterkundes heraktiveer en/of bou temas uit. Watter beskou jy as die belangrikstes in die huidige gesprek tussen die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes?
’n Kykie na die inhoudsopgawe van die twee versamelings opstelle oor die Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse letterkundes in vergelykende verband, Over grenzen / Oor grense van 2009 (geredigeer deurRonel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens) en Toenadering van 2012 (geredigeer deur Ronel Foster en Yves T’Sjoen), gee ’n goeie aanduiding van die aansluitingspunte wat daar in die loop van die geskiedenis tussen die drie letterkundes was. Daar is ook ’n uiters kundige oorsig van die geskiedenis van die Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse literêre sisteme se interaksie met mekaar deur Hennie van Coller en Bernard Odendaal wat die moeite werd is om te lees as ’n mens oor die huidige gesprek wil dink. Dit is my gevoel dat die temas wat op die oomblik wedersydse belangstelling opwek, dieselfde is as dié wat in die internasionale domein speel: die ongelykhede wat die resultaat is van magswanbalanse in die wêreldgeskiedenis, ekologiese kwessies, die verhouding tussen die mens, die planeet en ander lewende wesens, die impak van tegnologie, digitalisering en sosiale media op menslike identiteit. Dit is byvoorbeeld opvallend dat die werk van digters soos Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal wat die kwessie van ongelykheid trompop aanspreek, net soveel impak maak in die Lae Lande as hier in Suid-Afrika. Daarnaas vertel my kollega Alfred Schaffer dat daar ’n hele aantal jong Nederlandstalige digters is wat ook vanuit die ervaring van marginalisering en ongelykheid skryf.
Lees hier oor die Afrikaanse Letterkundevereniging se komende kongres (12–14 September 2018) en die Afrikaans-kollokwium aan die Universiteit van Gent (5–6 Oktober 2018).
Lees ’n kort bio van Louise Viljoen hier.
Lees ook
Winternachten fokus al hoe meer op transnasionale gesprek in die letterkunde
Buro: NB