Suid-Afrikaanse skole: hoe kan dit beter werk?

  • 0

Die Suid-Afrikaanse samelewing is een van die mees ongelykes op aarde en dit sluit skole in.

Naomi Meyer praat met Michael le Cordeur – mede-professor en die hoof van die Departement Kurrikulumstudie aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch – oor ’n artikel rondom die situasie in skole wat hy in Januarie vir Netwerk24 geskryf het.

Michael, ek lees jou artikel op Netwerk24 waarin jy skryf oor moedertaalonderrig wat nie alles is nie. Jy verwys veral na sosiale omstandighede wat ook ’n groot rol speel as dit kom by kinders se prestasies. Wil jy dalk hierop uitbrei?

Verskeie navorsers het al aangetoon dat onderprestasie in die meeste gevalle niks te make het met die leerder se intelligensie nie. Omgewingsfaktore – dinge wat byna vanselfsprekend is in die Westerse denkwêreld en in welgestelde skole – speel ’n belangrike rol om jou intellektuele vermoë te verwesenlik. Dit sluit in armoede, beskikbare hulpbronne, leierskap, onderwysers se werksetiek, asook leerders se leesvermoë en akademiese vaardigheid in die taal van onderrig.

Taal is ook een van die omgewingsfaktore. Met gunstige omgewingsfaktore neem mense se leervermoë toe, en algaande is hulle al beter in staat om hul ware potensiaal te bereik.

Ons leef in een van die mees ongelyke land ter wêreld: die meeste mense in die land leef in armoede, soos in ’n Oxfam-studie bevind is. Sou dit waar wees dat die meeste skole dus in arm gebiede geleë is?

Dis reg. Daar is baie, baie meer arm skole as welgestelde skole. By die meeste skole kan ouers beswaarlik skoolfondse bekostig, laat staan nog bydraes tot ’n basaar, sportwedstryde of uitstappies. Vir hierdie skole gaan dit in die eerste plek om oorlewing: om die basiese onderwys aan hul leerders te verskaf. Die tragedie van Suid-Afrika is dat almal nog in hul silo’s leef. By welgestelde skole val die ouers oor mekaar om by die snoepie betrokke te wees.

Sommige skole beskik oor verskeie ouers wat kundiges is op finansiële gebied en fondswerwing. Waarom nie betrokke raak by die armer buurskool waar jou dienste waardeer sal word nie? Armer skole wat suksesvol is, is dié wat in vennootskap met die breër gemeenskap werk. Ek weet, want ek was self die skoolhoof van ’n landelike skool, maar danksy die hulp van die plaasboere, plaaslike dokters en besigheidsmense kon ons die skool na ’n ander vlak neem. ’n Voorbeeld hiervan is Hexvallei Sekondêr.

Hoe belangrik is ouerbetrokkenheid? En wat van ouers wat lang ure moet werk om genoeg geld te verdien – of nie eens genoeg geld kan verdien nie, al werk hulle lang ure! – en nie smiddae saam met hul kinders kan huiswerk doen of saans ’n storie kan lees nie. Wat is praktiese gedagtes rondom kinders se prestasies en ouers se deel wees van hul kinders se akademiese groei?

Ouerbetrokkenheid is absoluut belangrik. Skoolhoofde kan nie die skool sonder ouers se samewerking bestuur nie. Weer sal daar met die breë gemeenskap onderhandel en saamgewerk moet word. Toe ek skoolhoof was, het ek met die boer onderhandel om die ouers/plaaswerkers met sy vervoer na die ouervergaderings te bring, veral wanneer ouers in seisoentyd laat moet werk. As jy gelukkig is en jy ontwikkel ’n goeie verhouding, bring dieselfde boer sommer ’n paar mandjies vrugte saam sodat almal na die tyd “gesellig kan verkeer”.

Kom ons praat dan nou oor moedertaalonderrig en kom ons praat ook oor die taal wat in elke klaskamer gepraat word waar kinders in hul sogenaamde moedertaal skoolgaan. Dink jy die Afrikaans wat in sekere voorheen model C-skole gepraat word, is dieselfde Afrikaans wat gepraat word in gemeenskappe waaruit al die kinders na hierdie skole kom?

Nee.

Anders gestel: Hoe gemaak in ’n klas waar kinders op verskillende maniere Afrikaans praat, maar in een soort Afrikaans skoolgaan? Hoe sou mens dit kon aanspreek?

Daarvoor is daar nog nie klinkklare antwoorde nie. Die gebruik om letterkundewerke van skrywers wat in Kaaps en ander variëteite geskryf is, in die klas te lees, is ’n stap in die regte rigting. Maar die Taalkommissie van die Akademie sal ook moet begin om woorde uit Kaaps as sinonieme te erken.

In Kaaps praat mense byvoorbeeld van “visolie” en in die standaardvariant van “kookolie”. Daar is ook talle idiomatiese uitdrukkinge in Kaaps wat gerus in die standaardvorm opgeneem kan word. Ek het tans ’n doktorale student wat hieroor werk. En die WAT het reeds meer as 80 Kaapse woorde/uitdrukkings in die woordeboek opgeneem. Dis ’n goeie begin. Maar dit kan nog meer uitbrei.

Ek is op 29 April die leier van ’n gesprek by die Suidoosterfees oor die vraag hoe inklusief Afrikaans werklik is. Ek sien uit daarna.

As moedertaalonderrig dus nie die enigste faktor is wat deurslaggewend is vir ’n kind se prestasie nie, is dit dus ook nie ’n oplossing om alles Engels te maak nie, is dit? Wat is jou gevoel hieroor?

Nee, om die pad van die minste weerstand te volg is nie die oplossing nie. Armoede moet eers aangespreek word. ’n Honger kind kan nie leer nie; nie in Afrikaans nie en ook nie in Engels nie.

Taal, toegang, verstaanbaarheid in ’n heterogene klas met kinders selfs uit ander lande (ek dink aan ’n omgewing soos Kayamandi, waar baie kinders nie Xhosa praat nie, maar, weet ek, dalk ook Sotho en Somalies). Hoe gemaak met die meertaligheidsituasie hier?

Soek die gemene deler en maak dit die onderrigtaal, maar lei leerders ook op in ’n tweede en derde taal.

In jou ideale Suid-Afrika: Wat gaan ’n skool laat werk?

Jy vra baie en ek is nie ’n profeet of ’n politikus nie. Ek kan dus net spekuleer.

Maar as ek moet raai, moet alle kinders toegang hê tot ewe veel fondse en hulpbronne.

Ek ondersteun die koeponstelsel waar die staat alle skoolgelde afskaf en elke kind ’n koepon met (argumentshalwe R16 000) toerus. Daardie kind kan dan met sy koepon vir homself ’n skool kies.

As daar nie geld in ’n skool is nie, en die regering kan nie veel meer gee nie, hoe gemaak?

Vra vir Bosasa. Nee, ernstig. Die regering moet sy begroting gelykop tussen alle kinders verdeel. Die res moet die sakesektor byvoeg vir die kinders wie se ouers hulle daagliks afsloof. Kyk hoe gou het die sakesektor R280 miljard gegee toe Ramaphosa daarvoor gevra het.

Dink jy, ná die Schweizer-Reneke-geval, dat mense nou te bang is om te praat? Of hoe kan integrasie natuurliker gebeur, sonder om dit te forseer? Hoe wis ons almal, ook in skole, die onsigbare grense uit wat deur apartheid tot stand gekom het?

Mense sal altyd sê wat hulle pla, al vat dit soms lank. Die onsigbare grense van apartheid sal ons uitwis net as alle Suid-Afrikaners openhartig en eerlik met mekaar praat.

Ek het vroeër vanjaar geskryf daar is nog te veel mense wat terug verlang na apartheid en nog te veel wat bloot moedswillig is.

En ons is nog te onbeskof met mekaar – van alle kante af.

Wat is jou droom en visie vir die Suid-Afrikaanse klaskamer, vir alle kinders?

Dat elke kind elke dag toegang sal hê tot ’n gesonde maaltyd en ’n veilige klaskamer met ’n gekwalifiseerde en toegewyde onderwyser wat elke dag op sy pos is.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top