Anna Verloren van Themaat (dis nie ’n dubbeldoorvan nie; haar nooiensvan is Loubser) is bekend as ’n kunsregisseur en visuele kunstenaar. LitNet het in 2020 berig oor die uitstalling Huis+Hou+Ding wat sy saam met Alet Viljoen gehou het. Intussen het Anna ontpop in ’n skepper van besonderse kortfilms vir die advertensiewese. Viljoen se naam duik ook gereeld op in die krediete.
Nou is daar weer iets anders. Anna het, as regisseur, ’n besonder interessante musiekvideo van Van Pletzen se “Trust the legehness” die lig laat sien.
Izak de Vries het haar ingevra oor haar werk.
Anna. Bravo. Ek ken jou kortfilms en die een is nogal “legeh”! Ek wil begin deur te vra: Die kappies en die snitte van die rokke is beslis Voortrekker, maar die kleurskema is ongetwyfeld The handmaid’s tale. Vertel, asseblief?
Lank voordat The handmaid’s tale op televisie verskyn het, was my volkspelerok rooi en my kappie wit. Die inspirasie vir die musiekvideo het ontstaan uit ’n helder herinnering van myself wat volkspele in my skoolsaal gedoen het. Ek besef dat mense graag ’n verband wil trek, aangesien die kostuums in The handmaid’s tale ikonies is, maar daar is eenvoudig geen. Daar is ook geen ooreenkoms met die temas nie. My “volgelinge” is nie onderdrukte vroue nie – hulle is verlig, stralend, sterk en vry. Hulle glo in die “legehness”, hulle verstaan dit, hulle leef dit. Hulle is eensgesind en in harmonie met mekaar.
“Trust the legehness” het reeds in 2023 op Van Pletzen se album Enter the grootness verskyn. Hoekom nou (eers) die video?
Elke winter probeer ek aan ’n persoonlike projek werk wanneer die internasionale filmseisoen in Kaapstad stiller raak. Ek hou daarvan om besig te bly. Ek het lus gehad vir iets anders as mode en wou myself uitdaag deur ’n meer persoonlike stuk te skiet. Ek was dadelik aangetrokke tot “Trust the legehness” weens my liefde vir Afrikaans, dans, elektroniese musiek en filosofie. Teen die einde van Julie 2024 het ek vir Van Pletzen ’n klein regisseursbehandeling gestuur, met die eerste bladsy wat lees: Volkspele met gees. Hulle was dadelik aan boord.
Ek wil ’n oomblik wegbeweeg van “Trust the legehness” en vra oor jou werk in die advertensiebedryf. Jy skiet nie bloot ’n advertensie nie. Jy maak films. Hoe sit jy en die agentskap en die kliënt koppe bymekaar oor wat in so ’n film moet ingaan?
Ek begin altyd met twee vrae: Wat wil jy sê en hoe wil jy dit sê? Fokus op een idee sodat die boodskap duidelik bly. Verbruikers wil nie onseker wees oor wat jy oor ’n produk of diens sê nie. Dit is belangrik om die handelsmerkidentiteit en karakter van die kommersiële kliënt te verstaan, want dit is vanuit daardie karakter se oogpunt dat jy die storie vertel. Dit bepaal die toon.
Jou film Kuro Kuro Shiro is gekies vir die London Fashion Film Festival en het op ander feeste ook gedraai. Dit is snaaks en spot selfs ’n klein bietjie met mode en die kosmetiese bedryf. Was die kliënt se geloof in hulle produk genoeg om dadelik jou konsep te aanvaar, of was hulle eers benoud?
Gelukkig was daar niemand wat oortuig moes word nie – Kuro Kuro Shiro was ’n persoonlike projek.
Nicolas Winding Refn het verlede jaar ’n lieflike kortfilm Beauty is not a sin gemaak. Dit het by Venesië se filmfees gedebuteer. Die film is eintlik ’n baie besonderse advertensie vir MV Agusta, ’n Italiaanse motorfietsmaatskappy. Twee jaar tevore het hy Touch of crude gemaak vir Prada. Wanneer word ’n advertensie ’n film?
Ek sien dit eerder as ’n film met ’n verbintenis of assosiasie tot ’n handelsmerk, eerder as ’n advertensie wat in ’n film omskep is. Daar is geen doelbewuste verkoopsboodskap of promosie van die produk nie; dit fokus nie op intrinsieke waardes nie. Dit gaan eerder oor die gevoel wat die visuele beelde en klank skep. Die film is ook gemaak vanuit die perspektief van die regisseur, nie ’n bemarkingspan nie. Slegs handelsmerke met groot selfvertroue – en die nodige begroting – kies om hulself met kunstenaars te verbind, of dit nou in grafiese ontwerp, skryfwerk of film is.
In die film Kuro Kuro Shiro was daar ’n duidelike homage aan Yorgos Lanthimos se Poor things. Die verhaallyn is natuurlik jou eie. Hoe lank het dit julle geneem om die film te neem van konsep tot voltooiing? Poor things het nie baie lank voor julle film gedebuteer nie?
Vir jare het ek die idee gehad van ’n karakter wat gedekonstrueerde juwele eet – wat soos sushi lyk – en dan ’n oomblik van verandering beleef (’n tema wat ook in “Trust the legehness” voorkom). In April 2023 het ek die restaurant Club Kloof gesien en dadelik geweet ek wil die storie daar verfilm. Ons het Kuro Kuro Shiro op 31 Julie 2023 geskiet, vyf maande voor Poor things in Desember 2023 uitgereik is. Destyds het ek nie genoeg fondse gehad vir kleurgradering nie en moes wag tot Desember om dit te voltooi.
Baie van die films wat jy maak, word hier in Suid-Afrika geskiet en jy werk dikwels met Suid-Afrikaanse modelle. Ek let ook op dat Alet Viljoen se naam baie gereeld opduik in die krediete aan die einde van jou kortfilms. Talle ander name is ook gereelde medewerkers. Hoe het hierdie span bymekaargekom?
Almal met wie ek werk, is Suid-Afrikaans. Ons deel dieselfde estetiese waardes en werksetiek. Vir my is hare en grimering van kardinale belang – dit dra ongelooflik baie by tot die algehele gevoel en die transformasie van karakters. Alet Viljoen se passie en geduld vir die proses is werklik inspirerend; sy is ’n ware kunstenaar. Om met Alex Oelofse agter die kamera te werk, is ’n voorreg. Sy entoesiasme, toewyding en natuurlike talent vir framing en beweging gee my die vertroue dat ons elke skoot perfek sal vasvang. As ek ooit gestrand op ’n eiland moes beland, sou ek my man en my span saam met my wou hê – met hulle aan my sy kan ek enigiets oorleef.
En nou terug na jou projek met Van Pletzen se “Trust the legehness”. Jou film is heeltemal verskillend van hulle ander video’s. Verskeie ander musiekvideo’s oor Van Pletzen se konsep van “legeh” speel met die Zefkultuur. Hier maak jy ’n klein kunswerkie. Wie van julle het eerste met die idee van die dansers vorendag gekom?
Die video is beslis anders as wat hulle gewoonlik doen, maar hulle was fantasties om mee saam te werk. Ek het totaal en al vryheid gehad om my weergawe van “legehness” te vertel. Ek het gevoel dat daar méér tot die track is as net dans in ’n klub. Soos ek vroeër genoem het, was daar ’n sterk verbintenis tussen my herinnering van volkspele en die liedjie.
Ek wou die dans verder neem en dit tegnies moeiliker maak sodat dit meer dramaties en emosioneel voel. Ek is baie geïnteresseerd in beweging as ’n vorm van uitdrukking en het ’n groot waardering vir verskeie dansstyle. Vir hierdie projek wou ek egter die Vaganova-styl-karakterdans meng met kontemporêre dans, met ’n tikkie Pina Bausch daarby.
Ek het ’n versameling dansverwysings saamgestel tydens my navorsing en toe vir Louise Coetzer van Dark Room Contemporary genader om dit te interpreteer. Sy het die choreografie presies so vasgevang soos ek dit wou oordra. Ons het vyf repetisies gehad voordat ons begin skiet het. Ons “volgelinge” is professionele dansers; almal met opleiding in klassieke en kontemporêre dans.
Dis ’n relatief eenvoudige konsep wat grootliks in een ruimte afspeel, maar eers moes die dansers gekry word, die choreografie moes gedoen word, toe die kostuums en die hare, die grimering en die filmwerk. Daarna die redigering. Hoe lank neem dit om so ’n kortfilm te vervaardig?
Van konsep tot eindproduk het die proses, met onderbrekings hier en daar, ongeveer vyf maande geduur. Omdat ek baie self moes doen, het dit langer geneem as ’n gewone produksie. Maar die proses is deel van die plesier – dis waar ek leer. En daardie leerproses is my grootste motivering vir my eie projekte. Dit is selfgeskepte uitdagings wat ek moet oplos. Daar is baie oomblikke waar ek wou opgee, want dit is moeilik, frustrerend en duur. Maar dit is ’n obsessie, ’n roeping – iets wat ek eenvoudig nie kan los nie.
Wat is die volgende projek waarna ons kan uitsien?
Volgende gaan daar bloed wees. Maak reg vir nog rooi!
- Alle foto’s verskaf.
Lees ook:
Maria Doyle Kennedy, as tannie Maria, is terug met nog kosraad
Spinners is trots Suid-Afrikaans, ’n eerste by die Cannes-filmfees