Lees deel 1 hier.
Deel 2
...
“Die humor! Die onverbiddelik oneerbiedige verbeelding! Ek het diep in my iets voel roer.” (Francois Smith)
...
Yves: Je was meermaals te gast in de Lage Landen, zoals tijdens de Week van de Afrikaanse roman in 2016. Aanleiding destijds was de Nederlandse uitgave van Kamphoer. Je trad op samen met Tom Lanoye, Lien Botha en de singer-songwriter Stefan Dixon (https://www.litnet.co.za/week-van-de-afrikaanse-roman-2016-tom-lanoye-lien-botha-francois-smith-en-stefan-dixon/ en https://www.bruzz.be/culture/expo/het-kruim-van-de-afrikaanse-letteren-brussel-2016-09-13). Je bent al langer vertrouwd met de Nederlandstalige literatuur. Zijn er teksten en schrijvers die in jouw wereld als lezer toen en vandaag een belangrijke rol spelen?
Francois: Ek kom uit die era toe Nederlandse romans en kortverhale nog deel van die skoolleerplan was; ook my ouers het Nederlandse tekste geken en dikwels daarna verwys, en kon selfs iets soos Guido Gezelle voordra – “O! ’t ruisen van het ranke riet,” hoor ek my pa nog sê, en dan kon hy met sidderende aandoening nog vyf, tien reëls van die gedig opsê. Daarna het die kulturele boikot gekom en tjoeps is die bande afgesny. Aanvanklik was ek skaars bewus van die uitwerking daarvan, maar iewers in die laat jare tagtig het iemand vir my ’n kasset (dit was nog in die tyd van kassette) uit Nederland saamgebring van Herman van Veen. En ek het Nederland begin mis. Die musiek, die boeke, die kultuur. Die andersoortige blik. Ook min of meer in daardie tyd, die vroeë 1990’s, was die Nederlandse cabaretier Freek de Jonge in die Markteater in Johannesburg. Vra my nie hoe dit moontlik was dat hy na Suid-Afrika kon kom en ’n vol saal getrek het nie, maar dit was vir my aardskuddend. Die humor! Die onverbiddelik oneerbiedige verbeelding! Ek het diep in my iets voel roer.
Tien jaar later kry ek die geleentheid om nagraads Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. Deel van die leerplan is ’n module Nederlandse prosa, en die dosent, Rolf Wolfswinkel (mag die negester vir hom bly skitter!), het vir my gesê: “Ons lees Hugo Claus. Al sy prosa!” Die feit dat ek toe al taamlik Etienne Leroux gelees het, het my seker ontvanklik gemaak, maar die uiteinde daarvan is dat ek nou nog ’n Claus-dissipel is. Het toe ook ’n beurs gekry om ’n ruk in Gent te studeer en op Claus se spore na te loop. Ek wens dit vir elke Afrikaanse letterkundestudent toe. Deesdae lees ek nog so veel Nederlandse letterkunde as wat ek kan. Ons studente doen in hulle tweede jaar heelwat Nederlandse poësie, en vir ons derdejaars is Mulisch se Siegfried tans voorgeskryf. Soms doen ons kortverhale van Hermans. Nederlands maak steeds my wêreld groter.
...
“Dit het nogal ’n groot uitdaging aan my vloekwoordeskat gestel, want Afrikaans vloek doodeenvoudig anders as Nederlands.” (Francois Smith)
...
Yves: In het Afrikaans ben jij de vertaler van Kluuns populaire en ook verfilmde romandebuut Komt een vrouw bij de dokter (2003): ’n Vrou gaan dokter toe (2011). Kun je meer zeggen over die tekstkeuze? Heeft het te maken met de voorkeur voor autofictie, zoals Kamphoer en Die getuienis? Beide literaire teksten zijn (auto)biografische verhalen, zoals op de titelpagina’s van de Afrikaanse brontekst en de vertalingen van Kamphoer is vermeld.
Francois: Die Kluun-vertaling het ek gedoen toe ek vryskut was en geleef het van werk wat ek van uitgewerye gekry het en die laaste krummeltjie bakhand opgevang het. Kluun het ek gedoen as opdrag van Tafelberg Uitgewers, en het op aarde niks van hom geweet nie. Kennelik was die uitgewer se grootste oorweging vir die vertaling van Komt een vrouw bij de dokter dat dit toe wêreldwyd miljoene verkoop het. Die uitgewer was vas oortuig dat ’n Afrikaanse vertaling ook daardie golf sou kon ry. Hoewel dit nie ’n literêre meesterwerk is nie, is dit ’n hoogs suksesvolle tranetrekker vol seks en sokker en, ja, kanker. En genadedood.
Ek onthou hoe ek my verkneukel het aan al die sêgoed van daardie gewiekste sokkerafrigter – bondscoach! – Louis van Gaal. Wat ’n ontdekking, die Nederlandse voetbalwêreld! Ek het hard probeer om nooit die indruk te skep dat die wêreld van die storie niks anders as Nederlands is nie, maar tog ook te sorg dat die karakters outentiek idiomatiese Afrikaans praat. Dit het nogal ’n groot uitdaging aan my vloekwoordeskat gestel, want Afrikaans vloek doodeenvoudig anders as Nederlands. Ná die uitgawe het ek agtergekom dat die uitgewer die vertaling nadat ek daarmee klaar was, nog meer “gedomestikeer” het deur byvoorbeeld van die personasies se name na tipiese Afrikaanse name soos Koekemoer te verander. Ek moes op my tande byt, maar ja. Die boek het aanvanklik gesukkel in die Afrikaanse mark, maar soos wat mense mekaar daarvan vertel het, het verkope stadig toegeneem en ek dink dit was uiteindelik ’n sukses.
...
“Ek het die voorreg gehad om met skrywers soos Elsa Joubert en Eben Venter te werk. Prosa én poësie.” (Francois Smith)
...
Yves: Naast het scheppend en vertaalwerk ben je vele jaren actief en word je ook geroemd als redactioneel begeleider van Zuid-Afrikaanse schrijvers. Professioneel ben je in Bloemfontein dan ook aangesteld voor de opleiding Creative Writing. Kun je meer vertellen over de betrokkenheid als mentor?
Francois: Hoeveel jaar was ek uitgewersredakteur? Maklik tien. En ek het die voorreg gehad om met skrywers soos Elsa Joubert en Eben Venter te werk. Prosa én poësie. Menige beginnerskrywer het ek gehelp om sekstonele te skryf. Telkens moes ek my inleef in ’n ander manier van kyk en ’n ander manier van skryf, en dit – hierdie veelheid van stemme – was die ideale leerskool vir wat ek nou aan die Universiteit van die Vrystaat doen. Ons het ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns wat gewoonlik gevolg word deur mense (ouer mense) vir wie skryf ’n saak van lewe en dood is). Dit is ’n heel ander ingesteldheid as dié van die deursneestudent. Die werksessies waarvan ek en my kollega, die skrywer Henning Pieterse, deel is, is dus meer ’n deelname aan ’n soort kollektiewe skeppingsproses as wat ons les gee of leiding gee. Ek bied wel as deel van hierdie meestersgraad ’n module aan wat literêre stilistiek genoem word en niks anders is nie as ’n blootstelling aan ’n verskeidenheid van skryftegnieke. Dit gee my groot bevrediging as ek sien hoe hierdie tegnieke studente in staat stel om dit wat hulle wil doen, beter te doen, want in hoofsaak gaan mentorskap vir my daaroor om ’n student in staat te stel om te sorg dat sy of haar manuskrip word wat dit wil wees.
...
“Ek bly hoop dat ek my studente sal kan verlok na die wonderwêreld van verhale en boeke, na die sielsreddende ervaring van lees.” (Francois Smith)
...
Yves: De Afrikaanse literatuur vandaag kan nog maar moeilijk worden vergeleken met die van de voorbije decennia. Niet alleen zijn intussen schrijvers op het voorplan gekomen die in de maatschappelijke en politieke context van apartheid (tot 1994) geen aandacht kregen en tot gemarginaliseerde samenlevingen werden gerekend. Er zijn niet uitsluitend de schrijvers van kleur die almaar meer op de voorgrond treden en de Afrikaanse literatuur vandaag in aanzienlijke mate mee bepalen. Er wordt ook in variëteiten van het Afrikaans geschreven. Daarnaast worden thema’s behandeld die in honderd jaar Afrikaanse letteren nauwelijks aandacht kregen, zoals geweld, armoede, onderdrukking, de vele littekens van apartheid. Hoe verhoudt jouw werk zich ten opzichte van deze strekkingen in recente Afrikaanse literatuur? In hoeverre volg je de literatuurproductie in het Afrikaans?
Francois: Ek dink al die neerdrukkende temas wat jy noem, was nog altyd in die Afrikaanse letterkunde – tot so ’n mate dat ’n mens meermale hoor iemand sê met sigbare weersin die Afrikaanse letterkunde gaan net oor die dood. Dit hoor jy egter meermale by mense wat met ernstige letterkunde gekonfronteer word, in watter taal ook al. In Afrikaans is daar egter wel ’n soort doodsfantasie vaardig, dink ek; dit is ook een van die temas in my roman Die kleinste ramp denkbaar, en dit sal interessant wees om te sien of die dood ’n bietjie op die agtergrond geskuif word namate meer en meer mense van kleur op die voorgrond tree en variëteite soos Kaaps en Oranjerivierafrikaans vastrapplek kry in Afrikaanse skryfwerk. Dit is opwindend om dit dop te hou. Dit bied my as letterkundedosent al hoe meer materiaal om my studente stemme te laat hoor en tekste voor te skryf wat nie soos ek klink nie, en wat praat met die stemme van die meerderheid Afrikaanssprekendes en húlle stories vertel. Maar die uitdaging bly om hulle lief te maak vir lees. Die hoop beskaam nie. En ek bly hoop dat ek my studente sal kan verlok na die wonderwêreld van verhale en boeke, na die sielsreddende ervaring van lees. Dit bly vir my belangrik, en al skreeu die wêreld om bite-size teksies en flitsende meme, sal ek daarvan bly droom om ’n lang teks te skryf waarin ek probeer uiting gee aan al die stemme wat in my binneste leef. Daardie stemme word gevoed deur alles wat ek lees, in soveel tale ek kan, en veral deur die stemme van hierdie land waarin ek geaard is en die taalgemeenskap waarin ek skryf.
Yves: Veel dank voor het gesprek, Francois.
De tweespraak wordt gebundeld in Twee overzijden. Vraaggesprekken op de literaire brug tussen Afrikaans en Nederlands (Academia Press, Gent, 2025). De reeks op Voertaal bevat in totaal 30 dialogen met schrijvers, vertalers en uitgevers: Benno Barnard, Simone Atangana Bekono, Zandra Bezuidenhout, Dominique Botha, Breyten Breytenbach, Robert Dorsman, Babs Gons, Peter Holvoet-Hanssen, Lynthia Julius, Antjie Krog, Tom Lanoye, Lisette Ma Neza, Danie Marais, Charl-Pierre Naudé, S.J. Naudé, Fanie Olivier, Jolyn Phillips, Alfred Schaffer, Riana Scheepers, Francois Smith, Nicol Stassen, Marlies Taljard, Marc Tritsmans, Miriam Van hee, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Eben Venter, Peter Verhelst, Gert Vlok Nel en Ingrid Winterbach.


