Repliek. Trajekte van Nederlandstalige skrywers in Suid-Afrika en Namibië
Van Februarie tot Mei 2025 het Alwyn Roux en Yves T’Sjoen tien aflewerings van die rubriek Brief en Repliek geskryf. Die aanleiding vir hierdie epistolêre skryfprojek was Alwyn Roux se gasdosentskap aan die Universiteit Leiden. Die kursus in Afrikaanse letterkunde het die werk van Suid-Afrikaanse skrywers in die Lae Lande behandel. Gevallestudies is gewy aan die transnasionale beeldvorming van Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog, Adam Small, NP van Wyk Louw, Ernst van Heerden en Marlene van Niekerk. Jonger skrywers soos Klara du Plessis, Lynthia Julius, Ronelda Kamfer, Danie Marais, Pieter Odendaal en Bibi Slippers het ook aandag geniet in die lesings en studenteopdragte. Die lys is natuurlik nie uitputtend nie. Die transnasionale skrywersloopbane van André Brink, Etienne van Heerden en Ingrid Winterbach moet ook bestudeer word.
Hierdie gevallestudies maak deel uit van vergelykende literêre navorsing wat uiteindelik moet lei tot ’n literêre kontakgeskiedenis van Afrikaans en Nederlands. Die versamelde lesingmateriaal, wat saam met die Leidse studente bespreek is, sowel as die literatuurteoretiese en metodologiese inleiding, word gebundel in ’n werkboek getiteld Repliek. Trajekte van Suid-Afrikaanse skrywers in Nederlands.
Die tweerigtingverkeer tussen die Afrikaanse en Nederlandstalige letterkundes is die rede waarom daar ná Repliek 1 (Academia Press, Gent, 2026, sowat 250 bladsye) ook aan ’n tweede deel gewerk word. Skrywers soos Benno Barnard, Simone Atangana Bekono, Conny Braam, Hugo Claus, Herman de Coninck, Saskia de Coster, Maria Dermoût, Anna Enquist, Radna Fabias, Babs Gons, Luuk Gruwez, Stefan Hertmans, Gerrit Komrij, Tom Lanoye, Erwin Mortier, Ilja Leonard Pfeijffer, Charlotte van den Broeck, Adriaan van Dis, Miriam Van hee en Henk van Woerden maak deur vertalings en byvoorbeeld lesings en kursusse aan universiteite in Suid-Afrika en Namibië deel uit van die gesprek oor letterkunde in die Afrikaanse kultuurgemeenskap in suidelike Afrika.
Repliek 2 sal aandag gee aan nuwe gevallestudies en lewer fondamente vir ’n panoramiese oorsig van literêre konvergensies en divergensies tussen Afrikaans en Nederlands.
Die digitale platform Samespraak staan oop vir transversale en interkontinentale gesprekke oor die wisselwerking tussen die literêre sisteme van beide taalgemeenskappe. Na analogie van Repliek 1 werp Repliek 2 (2027) ’n multifokale lig op die trajekte van Nederlandstalige outeurs, ook in Indonesië (die voormalige Nederlands-Indië) en in die Karibiese gebied (Suriname en die Antille), in Afrikaans. Lesings en aanbiedings van gevallestudies sal oor die komende maande aanlyn aangebied word deur navorsers van Samespraak.
Kollegas in suidelike Afrika en die Lae Lande word uitgenooi om aan die bespreking deel te neem en self ’n gevallestudie te ontwikkel en voor te stel aan die internasionale studiegroep.
Repliek (2 dele) bied basismateriaal aan vir wat uiteindelik ’n transsistemiese en interlinguistiese literatuurgeskiedskrywing moet word. Samespraak is ’n navorsingsgemeenskap wat hom onder meer toespits op die letterkundige grensverkeer tussen Afrikaans en Nederlands. Die komende jaargang sal gedeeltelik gewy word aan die navorsing wat moet lei tot Repliek 2.
Navorsers met voorstelle binne die konteks van transnasionale letterkundige studie kan in verbinding tree met Alwyn Roux en/of Yves T’Sjoen: erouxap@unisa.ac.za en yves.tsjoen@ugent.be
Samespraak (2025–2026)
Drie geleenthede vir 2025 (tweede semester):
- Dinsdag, 30 September (14:00-15:30)
- Dinsdag, 28 Oktober (14:00-15:30)
- Dinsdag, 25 November (14:00-15:30)
Vyf geleenthede vir 2026 (eerste semester):
- Dinsdag, 27 Januarie (14:00-15:30)
- Dinsdag, 24 Februarie (14:00-15:30)
- Dinsdag, 23 Maart (14:00-15:30)
- Dinsdag, 21 April (14:00-15:30)
- Dinsdag, 19 Mei (14:00-15:30)

