Growwe nalatigheid op verskeie vlakke was volgens ’n voorlopige verslag verantwoordelik vir die vliegramp waartydens die veteraan Convair-340-vliegtuig wat vir Nederland bestem was, naby Pretoria neergestort het.
Die voorlopige verslag oor verlede maand se vliegtuigongeluk by die Wonderboom-lughawe in Pretoria bevat 'n aantal verdoemende bevindings.
Volgens die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se voorlopige verslag was daar verskeie onreëlmatighede ten opsigte van die vlug waartydens twee persone dood en nog 26 mense beseer is.
Die vliegtuig was op 'n toetsvlug nadat dit voorberei is vir sy laaste vlug na 'n museum in Nederland. Dit het kort na opstyging neergestort. 'n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid, Kabelo Ledwaba, sê hulle het daarin geslaag om 'n voorlopige verslag vry te stel binne 30 dae soos onderneem is. Noodprosedures is glo nie behoorlik gevolg nie en een van die vlieëniers het nie die nodige magtiging gehad om die spesifieke vliegtuig te vlieg nie.
Peter Mashaba van die Burgerlugvaartowerheid sê die doel van die voorlopige verslag is om binne 30 dae na die vliegramp die vordering van die ondersoek bekend te maak en die bevindings tot dusver beteken nie dit is die finale bevindings nie.
Die verslag meld voorts dat die bemanning bewus was van die brandende linker-enjin maar het geen poging aangewend om die vuur te blus nie. Luidens die verslag is die brandende enjin se brandblusstelsel nooit geaktiveer nie en die noodprosedures in die geval van ’n brandende enjin is ook nie gevolg nie.
Volgens die voorlopige verslag was die medevlieënier se buitelandse vlieglisensie ook nie geldig vir die betrokke vliegtuig nie. Sy buitelandse vlieglisensie was glo geldig vir ’n enkel-enjin vliegtuig terwyl die rampvliegtuig twee enjins gehad het.
Die verslag sê die vliegtuig het twee vlieëniers nodig gehad wat albei gekwalifiseer is om die betrokke vliegtuig te vlieg. Die vlugingenieur wat nie as deel van die bemanning gereken word nie het glo ook die enjinkontroles beheer terwyl die vliegtuig net gesertifiseer was vir twee bemanningslede.
Die lugvaartkenner Karl Jenson het egter volgens The Citizen die voorlopige verslag se bevinding dat die medevlieënier nie behoorlik gelisensieer was nie, ten sterkste verwerp. Hy het aan die koerant gesê ’n vriend wat die vlieënier opgelei het ontken dit en sê daar is verskeie tekortkominge in die verslag wat nie geverifieer kan word nie.
Hy sê die voorlopige verslag is uitgereik vir kommentaar voordat ’n volledige bevinding gemaak kan word en dat daar gevolglik nie met sekerheid gesê kan word wie die blaam vir die ongeluk moet dra nie.
Ledwaba sê die Burgerlugvaartowerheid sal slegs kommentaar lewer, indien nodig, na die vrystelling van die finale verslag.
Volgens die verslag is die vliegtuig op 6 Junie gediens en die vlugplan na Pilanesberg is op 10 Junie ingedien en goedgekeur. Die vliegtuig se bemanning en die Wonderboom-lughawe het glo ook nie in daardie stadium geweet die vliegveld by Pilanesberg is gesluit vir vastevlerkvliegtuie nie. Die kennisgewing is glo uitgereik voordat die vliegtuig opgestyg het, maar daar is eers na die opstyging daarvan kennis geneem.
Kort nadat die vliegtuig opgestyg het, het dit begin draai en een van die passasiers het na die kajuit gestap en vir die bemanning gesê die een enjin brand. Hulle het glo heeltyd vir mekaar gevra watter enjin brand en in geen stadium bespreek hoe om die brand te blus nie.
Die bemanning het glo ’n noodsein uitgestuur na die lughawe sonder om die aard van die noodgeval te verduidelik.
Lees ook
In Zuid-Afrika neergestort vliegtuig was monument voor Nederlandse luchtvaartgeschiedenis
Buro: NB