..........
“Die Wes-Kaap beoog ’n vierpuntplan om beurtkrag so ver as moontlik te vermy. Dit behels meer sonpanele op die dakke van regeringsgeboue in die provinsie, die implementering van meer sonenergie oral in die provinsie, hulp aan munisipaliteite om elektrisiteit van onafhanklike kragvoorsieners te bekom, en die gebruik van natuurlike gas om elektrisiteit op te wek.”
..........
Die Wes-Kaap kan die eerste provinsie in die land word wat nie deur beurtkrag geraak word nie. Bykans al 30 die provinsie se munisipaliteite staan gereed om nie volkome van Eskom afhanklik te wees nie.
Die moontlikheid dat munisipaliteite self planne kan beraam om beurtkrag te vermy is tydens sy begrotingstoespraak deur die minister van finansies, Tito Mboweni, in die vooruitsig gestel.
Foto: Pixabay.com
Hy het gesê die voorsiening van ’n stabiele elektrisiteitsnetwerk is een van die hoofprioriteite op die regering se agenda in die komende maande. Mboweni het dit in die vooruitsig gestel dat munisipaliteite krag van onafhanklike kragvoorsieners kan koop.
Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa reeds in sy staatsrede gesê het die regering sal maatreëls instel om munisipaliteite wat oor ’n goeie finansiële rekord beskik in staat te stel om hulle eie krag te bekom.
#Sona2020 Ramaphosa: "We will negotiate supplementary power purchase agreements to acquire additional capacity from existing wind and solar plants." MN
— EWN Reporter (@ewnreporter) February 13, 2020
Volgens die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, is altesaam 23 van die Wes-Kaap se 30 munisipaliteite gereed om krag van onafhanklike kragvoorsieners te bekom. Die provinsie wag glo net op die finale groen lig van die nasionale regering om met die implementering daarvan te begin.
Die meeste munisipaliteite in die Wes-Kaap het reeds die nodige wetgewing ingestel om self elektrisiteit aan hulle inwoners te voorsien.
..........
“Volgens Winde is 23 van die provinsie se munisipaliteite gereed om hul elektrisiteit by onafhanklike kragprodusente aan te skaf. Hy sê dié munisipaliteite maak nou voorsiening vir die installering van PV-sonkragstelsels wat aan die kragnetwerk verbind kan word.”
..........
Netwerk24 berig dat Winde die afgelope week met sy koördineringsforum vergader het om met die provinsie se burgemeesters te praat oor die energiekrisis en maniere om dit op te los.
Hy sê dit was ’n geleentheid om deur Eskom ingelig te word oor die toedrag van sake en ook om die invloed van beurtkrag op ondernemings en inwoners van die Wes-Kaap se munisipaliteite te verstaan.
Today, I am meeting with the Western Cape Cabinet Ministers, Department Officials and Executive Mayors at the Premier's Coordinating Forum where we will be focusing on issues relating to energy. @WesternCapeGov #Energy pic.twitter.com/FJHfnRjbIg
— Premier Alan Winde (@alanwinde) March 3, 2020
Winde sê die betrokke munisipaliteite maak nou voorsiening vir die installering van PV-sonkragstelsels wat aan die kragnetwerk verbind kan word.
Winde het na afloop van Ramaphosa se staatsrede gesê die belangrikste aankondiging in sy staatsrede was dat onafhanklike kragvoorsieners toegelaat gaan word om krag aan munisipaliteite te voorsien.
Hy het gesê die land het ’n lang pad van beurtkrag in die vooruitsig en enige struikelblokke om dit te oorkom moet uit die weg geruim word. “Ons kan nie die ekonomie laat groei en werk skep as daar heeltyd ’n aan-af-situasie ten opsigte van die krag is nie,” het Winde gesê.
..........
“Hy het gesê die voorsiening van ’n stabiele elektrisiteitsnetwerk is een van die hoofprioriteite op die regering se agenda in die komende maande. Mboweni het dit in die vooruitsig gestel dat munisipaliteite krag van onafhanklike kragvoorsieners kan koop.”
..........
Die Wes-Kaap beoog ’n vierpuntplan om beurtkrag so ver as moontlik te vermy. Dit behels meer sonpanele op die dakke van regeringsgeboue in die provinsie, die implementering van meer sonenergie oral in die provinsie, hulp aan munisipaliteite om elektrisiteit van onafhanklike kragvoorsieners te bekom, en die gebruik van natuurlike gas om elektrisiteit op te wek. Daar is reeds 17 provinsiale geboue in die Wes-Kaap waar sonpanele geïnstalleer is.
Winde het vroeër vanjaar tydens sy provinsiale rede gesê dit mag dalk nie genoeg wees om die land se kragprobleem op te los nie, maar dit sal beslis groot verligting bring wanneer Eskom nie in staat is om die ligte aan te hou nie.
In ’n onderhoud wat Winde voor sy provinsiale rede met die radiostasie Cape Talk gehad het, het hy gesê dit is van die grootste belang dat die kragsituasie aangespreek word, en die enigste manier is om die kragsisteem te diversifiseer.
Die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekenings (Skoor) het intussen onderneem om die bestuur van Eskom, die minister van finansies, Tito Mboweni, die Departement van Samewerkende Regering en die vereniging van plaaslike bestuur, Salga, te vra om voor die komitee te verskyn.
Die voorsitter van Skoor, Mkhuleko Hlengwa, het volgens RSG gesê die doel van die vergadering is om die miljarde rand wat deur staatsdepartemente en munisipaliteite aan Eskom geskuld word, te bespreek. Hlengwa sê Skoor wil ook vasstel of daar planne is vir die terugbetaling van die skuld. Hy sê die huidige situasie is te wyte aan regeringsversuim.
Lees ook
Buro: MvH