As Brittanje se poet laureate is Simon Armitage ’n besige man, soos al sy voorgangers. Gebeur iets, is hy daar met ’n gedig, nie altyd sy beste nie, maar darem, oor dinge wat gewone mense raak – prins Philip se dood, COVID-19 ... In Suid-Afrika werk dit natuurlik anders. Keorapetse Kgositsile is in 2006 aangestel deur sy vriend Pallo Jordan, hy van die vals doktorsgraad, en was net sigbaar op noenmale en geleenthede te ambassades die wêreld deur – meer soustreindigter as hofdigter.
Na sy dood in 2018 is Kgositsile opgevolg deur Mongane Wally Serote, en drie jaar later hoef ’n mens jou vraag net effens aan te pas, van “Where’s Willie?” na “Where’s Wally?”
Veel het reeds gebeur in die drie jaar sedertdien: Siya Kolisi se Springbokke het die Wêreldbeker gewen, My Octopus Teacher ’n Oscar; Caster Semenya hou aan hardloop; Cyril Sleepvoet veg vir vroueregte. Hier te lande is daar ’n oneindige stel onderwerpe waaroor gewone mense gaande raak. Om nie te praat van die woelinge in die ANC nie. ’n mens skryf net neer wat gebeur en jy het ’n satiriese meesterstuk, hoewel dit so is dat ’n mens nie hofdigter met hofnar moet verwar nie – dis twee jobs met twee salarisse.
Maar Serote is nêrens te siene nie, nie in die openbare oog nie.
Ek het toe gaan kyk waar Wally is, met die spesiale Wally-soekmasjien genaamd Google, en ek kan met ’n soort verligting ter wille van die goeie naam van digters rapporteer dat hy nie niks doen nie. In Maart vanjaar is sy epiese gedig “Sikhahlel' u-OR” vir die tweede keer bekendgestel, en dit is so dat die onderwerp, OR Tambo se lewensverhaal, vir baie Suid-Afrikaners na aan die hart lê, of behoort te lê.
En hy het dit duidelik gestel, soos ook tydens die eerste bekendstelling ’n jaar tevore, dat hy beweeg is om die gedig van sowat 120 bladsye te begin skryf na die ANC se Polokwane-konferensie, waar hy en ander begroet is met ’n jongeling met ’n “100% Zulu boy”-T-hemp aan. Serote is stewig in die kraal van ANC-veterane wat luid gevra het dat Jacob Zuma gepos moet word as president. Hy het dan ook Maart se bekendstelling afgesluit met nog ’n sarsie na wat net die Zuma-faksie kan wees.
En daar is ’n saak daarvoor uit te maak dat noudat Ramaphosa uiteindelik van Magashule ontslae geraak het, Serote se “Sikhahlel' u-OR” daar is om die ANC te help terugkeer na die waardes van selfopoffering wat reuse soos Tambo en Mandela versinnebeeld.
Maar terwyl ek so sit en kyk na Serote se voorlesing op YouTube en die glunderende lofsange deur ’n paneel van Tambo-kenners, soos maar gebeur by bekendstellings, het ’n heeltemal ander insig na vore gekom: hoekom die ANC is soos hy is, en hoekom dit so bitter moeilik gaan wees om hom reg te ruk, indien ooit.
Daarmee wil ek nie te kenne gee dat Serote deel van die verrotting is nie. Ek sou hom soos die paneellede Ntate wou noem as dit nie was dat ek self nie veel verder as die 77-jarige oubaas van tata is nie. Hy is ’n voorstander van veeltaligheid, en sluit Afrikaans doelbewus by sy projek in, en verdien almal se steun daarvoor. En hoewel “Sikhahlel' u-OR” nie ’n goeie gedig is nie (daarvoor is daar te veel clichés en taal uit ’n ANC-brosjure vir Chinese donateurs), is daar wel liriese oomblikke wat ontroerend is as jy dit net lees sonder jou intellektuele bril op.
Die een groot raaisel oor die ANC bly hoekom so baie mense die party nog steun. Thandi Modise weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir die massamoord op diere op haar plaas, maar steeds is die landdros se bevinding in haar guns, en steeds wen die party tussenverkiesings. Die ander groot raaisel is die ANC se geduld met homself, sy “vaccine reluctance”, sy weiering om homself te inokuleer teen die verderf wat sy liggaam deursuur. Magashule wys telkens sy middelvinger vir die president van die land, en probeer hom selfs afdank, maar steeds word hy kans gegee om verskoning te vra, voor hulle sal begin vergader om te dink oor hom uitskop.
Die mees sigbare verwysing na die hede in Serote se gedig is na Jackie Selebi. Dis nou die oorlede pel van Glenn Agliotti, koper van rooi Louis Vuitton-handsakke vir Selebi se vrou, selferkende go-between tussen hom en Brett Kebble, nog ’n skurk. Die Selebi wat prostitusie wou wettig tydens die Wêreldbeker.
As OR vir Selebi teëkom in die hiernamaals, vra Serote in sy gedig, moet hy hom ontvang, want hy moet rus en het vergifnis nodig? Want in hom brand ’n lied. Ek het gewag dat Serote die lied by die naam noem, want dit is wat die botsende registers wat sy styl kenmerk hom toelaat, maar moes toe self ’n paar voorstelle gaan Google: Abba se “Money, money, money”: “In my dreams I have a plan / If I got me a wealthy man ...” Of “handbag full of notes / feeling like the punchline / in someone’s private joke” in “Someone else’s bell” deur Squeeze?
Toe Selebi aangekla is van korrupsie, onthou, is Vusi Pikoli, die Nasionale Vervolgingsgesag se hoof, deur Thabo Mbeki afgedank. Dis nou die Mbeki wat deesdae in die stryd teen die Magashule-faksie ’n ywerige verdediger van die Grondwet geword het, want ons het ’n raamwerk van reëls nodig in ’n demokrasie, seg hy. Serote verwys na hom, wat die voorwoord tot Sikhahlel' u-OR geskryf het, as “President Mbeki” met veel ontsag nog in sy stem.
Toe Selebi ondanks ’n Stalingrad-strategie-rits hofverskynings uiteindelik 15 jaar tronkstraf kry nadat die regter hom as ’n leuenaar en belasteraar uitgetrap het, het hy net 219 dae daarvan uitgedien voor hy op mediese parool vrygelaat is. Nou, ses jaar na sy dood, wil Serote hom nog ’n vrypas gee.
Na die voorlesing deur Serote was daar ’n ywerige bespreking oor onder meer die aard van die epos en die rol van die digter. Mandla Langa het James Baldwin aangehaal oor die digter as die eintlike een wat die waarheid besit; ons weet van die Oedipus-kompleks nie weens Freud se ondersoeke nie, maar te dankie aan die digters van ou Griekeland 3 000 jaar gelede al.
Tambo se biograaf het toe reeds vertel van Tambo se grootwordjare binne ’n poligame gesin, en hoe hy nie een moeder nie, maar drie, en later vier gehad het, en dat almal hom verafgod het. Dit, sê Lulu Callinicos, het die grondslag gelê vir sy ruim inklusiewe benadering as ANC-president: Almal was welkom en Serote beskryf hom ook as vader vir almal. Wat ’n mens laat wonder waar pas Oedipus in. ’n Driedubbele moederlike verwerping? Of vervang die een moeder die ander wanneer die suigeling verwerp voel? Of is jy rassisties as jy sulke vrae vra?
Is daar ’n soort kollektiewe gesplete psige in die ANC wat sy lede hulself altyd as verworpenes laat voel, al het hulle al die hefbome van mag in die hande, en aan die ander kant dat hulle nooit verkeerd kan wees nie, daar sal altyd ’n troostende moeder iewers wees? En is dit hierdie psigiese toevlugsoord wat mense na die beweging aantrek, buiten nou die skatte wat jy kan vergader as kader?
As dit waar is wat Langa te kenne gee, à la Percy Bysshe Shelley, dat digters die eintlike wetgewers van die wêreld is, werk Serote met sy lofgedig aan Tambo aan die ANC as ’n utopie. Tambo se rol is ’n variasie op die Moses-figuur, die een wat wel die beloofde land bereik het, maar soos Serote hom beskryf, as fier jongeling wat eers in ’n ou man met ’n kierie moes verander voor hy weer sy geboorteplek kon sien.
Callinicos vertel van Tambo se nederigheid, dat hy homself as “acting president” of “proxy president” van die ANC in ballingskap gesien het terwyl Mandela op Robbeneiland was. Maar miskien het dit meer te doen met ’n behoefte om nooit die beloofde land te betree nie, want dan moet ’n mens die utopie van ballingskap prysgee, en jouself konfronteer met die werklikheid van die korrupsie, moordlus, gebrek aan ubuntu, gierigheid, wellus, magsvergrype wat die ANC as regerende party kenmerk. Is dit hoekom Ramaphosa so traag is met sy veldtog teen korrupsie?
As “Sikhahlel' u-OR” iets gaan vermag – en dis onwaarskynlik, gewoon omdat niemand gedigte lees nie – sal dit wees om hierdie paradys waarin almal onskuldig is te bly handhaaf. Op die ou end sal Serote egter net die ANC help om met sy selfvergifnis sy selfvergiftiging voort te sit.
Hy bly ’n ware digter in die sin dat hy nie wegskram van die ontgogeling nie en teen die einde sê dat Tambo, Mandela en Tsjaka (van alle mense) in die hiernamaals geamuseer sal wees deur wat hulle agtergelaat het: “You have left us … still trying to make sense of it all.” Serote vra dan dat OR die gees van “miljarde” vryheidsvegters sal gelei sodat ons ons fisieke lewens kan deursoek, want dis al wat ons het.
En dan eindig hy met ’n eienaardige verwysing na die nuwe sonsopkoms, die nuwe “rupture”, die nuwe revolusie wat ons omgewe … die Vierde Industriële Revolusie. Ek kon my skielik voorstel hoe Serote in die laatnag, terwyl hy wonder waarom mense nie na Freedom Park kom waarvan hy die hoof- uitvoerende beampte is nie, op Google intik: “Where’s Wally?”
Lees ook:
Amanda Gorman: Mag slegs swart, cisgender mense swart, cisgender skrywers vertaal?
Waarover ging de ophef rond Rijnevelds Gorman-vertaling nou écht?
A tribute to Poet Laureate Keorapetse “Bra Willie” Kgositsile