Amanda Gorman: Mag slegs swart, cisgender mense swart, cisgender skrywers vertaal?

  • 0

Hierdie artikel weerspieël my eie mening en nie noodwendig dié van enige instansie waaraan ek behoort of waarmee ek saamwerk nie.

Amanda Gorman het oornag ’n sensasie geword toe sy haar gedig “The hill we climb” by Joe Biden se inhuldiging voorgedra het. Nie net was haar gedig en voordrag goed nie, haar blote teenwoordigheid was ’n aanduiding dat die verskrikking van Trump se fascisme verby was. Hoop het skielik vir baie mense ’n naam en ’n gesig gekry.

Gorman se skeppende werk het ná die inhuldiging baie goed begin verkoop.

Meulenhoff, ’n bekende en gerekende uitgewery in Nederland, het die regte aangekoop om Gorman se bundel The hill we climb, met ’n voorwoord deur Oprah Winfrey, in Nederlands te vertaal en uit te gee. Hulle het Marieke Lucas Rijneveld gevra om die bundel te vertaal.

Toe bars die bom: Hoe durf ’n wit, niebinêre persoon Gorman se werk vertaal?

Janice Deul, wat beskryf word as “activist, journalist  en curator” wat hard werk “voor een inclusief klimaat in  mode, media, kunst en cultuur”, het in ’n ope brief aan De Volkskrant die volgende geskryf oor die keuse van Rijneveld as vertaler: “Een onbegrijpelijke keuze, in mijn optiek en die van vele anderen die via de sociale media uiting gaven aan hun pijn, frustratie, woede en teleurstelling.”

Deul sê Gorman is swart, is grootgemaak deur ’n enkelma en het as kind gehakkel (alles korrek). Marieke Lucas Rijneveld, daarenteen, “is wit, non-binair, heeft geen ervaring op dit gebied”.

Meulenhoff is deur De Volkskrant gevra om repliek te lewer en hulle het geantwoord dat Gorman se span gevra het vir iemand wat op ’n persoonlike vlak ’n verwantskap met die gedigte in The hill we climb kan toon. Marieke Lucas Rijneveld is, aldus Meulenhoff, gekies juis omdat hulle (dit is Rijneveld as niebinêre persoon se gekose voornaamwoord), soos Gorman, op ’n baie jong ouderdom ook internasionaal bekend geword het vir hulle werk. “Daarnaast zijn ze beiden niet bang om zich uit te spreken. Rijneveld maakt zaken als gendergelijkheid en mentale weerbaarheid bespreekbaar en we herkennen in haar de passie en strijd voor een inclusieve samenleving.”

Meulenhoff het dit ook duidelik gestel dat die uitgewery al bogenoemde aan Gorman se span voorgelê het en dat Gorman se span die vertaler goedgekeur het.

Die relletjie het uiteindelik gemaak dat Rijneveld besluit het om hulleself aan die projek te onttrek.

Sou Rijneveld die pyp kon gerook het? Marieke Lucas Rijneveld, en hulle vertaler Michele Hutchison, het in 2020 die Internasionale Bookerprys gewen met The discomfort of evening, die Engelse vertaling van De avond is ongemak. Hulle het ook reeds twee digbundels gepubliseer: Kalfsvlies in 2015 en Fantoommerrie in 2019. Beide bundels het internasionale erkenning gekry. Nie ’n slegte CV nie.

Die vraag is: Wie is korrek?

Die opvolgvraag is: Watter implikasie het hierdie kwessie?

Implikasies

Hier bo het ek dit duidelik gemaak dat ek uit eie oorweging hierdie kwessie aanspreek en dat my siening nie noodwendig ander instansies s’n verteenwoordig nie.

Ek is egter ’n verkose lid van PEN Afrikaans se bestuur, en as sodanig word ek geken in die toeken van fondse aan buitelandse instansies wat aansoek doen om Afrikaanse werke in buitelandse tale te vertaal.

Ons vra dat die vertaler se CV, met vorige vertalings, aan ons voorgelê sal word.

Ons vra nie ras, gender of seksuele oriëntasie nie. Ek verkies dat dit so bly.

Kom ons dink vir ’n oomblik oor die implikasies van Janice Deul se aanklag teen Rijneveld.

Rijneveld is wit. Sou dit beteken dat uitgewers van nou af geen wit persoon mag vra om ’n swart persoon se werk te vertaal nie? Wat van die teenpool? Sal ons moet sê ons wil seker maak dat ’n swart persoon nie raak aan ’n wit skrywer se werk nie? Goeie hemel. Dink net aan daardie implikasie. Ingrid Glorie, ’n wit vrou, het byvoorbeeld Simon Bruinders se roman Die sideboard uiters suksesvol na Nederlands vertaal waar dit deur Mozaïek, ’n uitstekende uitgewery wat ook Irma Joubert se Nederlandse vertalings uitgegee, opgeraap is. Die Nederlandse titel is Dit is mijn land en spog met 4,5 sterre op Hebban, ’n enorme aanlyn gemeenskap vir boekliefhebbers. Maak Glorie se velkleur haar ’n beter of swakker vertaler? Ek dink nie so nie.

Rijneveld is niebinêr. Ek wag nog vir die genderpolisie om hierdie een op te neem. Sê nou daar is ’n aansoek van ’n Nederlandse uitgewer om Marita van der Vyver uit te gee en hulle stel Rijneveld voor? Sou die Suid-Afrikaanse span volstrek nee sê omdat Van der Vyver cisgender is? Dis tog absurd. Dalk sou dit anders wees as Antjie Krog se poësie ter sprake kom, want Krog dra darem gereeld ’n das, iets wat Rijnveld ook graag doen?

Rijneveld “heeft geen ervaring op dit gebied”. Ek gaan nie eers “dit gebied” probeer verduidelik nie, maar kom ons gebruik die kwessie van “ervaring”. Sou mense wat nie hakkel nie, wel ’n hakkelaar kon vertaal? Sou iemand wat nog nooit verkrag is nie, ’n sensitiewe vertaling van seksuele aanranding kon vertaal? Sou ’n persoon wat monogaam met een genoot saambly die teks van ’n skrywer in ’n poliamoreuse verhouding kon vertaal?

Reg of verkeerd?

Was Janice Deul reg of verkeerd?

Dis waarskynlik nou te laat om daaroor te praat. Ek gaan bloot noem dat ek nie met Deul saamstem nie. Dalk kan Janice Duel iets leer by Bernadine Evaristo, die Internasionale Bookerprys-wenner  van 2019. Haar boek Girl, woman, other wys hoe maklik selfs swart, lesbiese aktiviste in fascisme kan verval.

Deul het egter, as aktivis, gepoog om ’n netelige saak, van sensitief wees vir die korrekte vertaler van tekste, op die keper te beskou en dít is belangrik. Deul se stuk het gemaak dat ek gewonder het, en hiermee my nek uitsteek om ander se opinies ook oor die saak te hoor.

Dit is goed om te besin oor iets soos vertaalwerk – ’n kuns wat te maklik misken word.

Dit is ook goed om ons eie land en ons eie taal se uitstekende vertalers vir ’n oomblik te koester. Hulle doen uitstekende werk oor ras-, gender- en oriëntasiegrense heen.

Lees ook:

Die vertaler ontbind, verklaar en bewaar ’n ruimte tussen tale

PEN Afrikaans Vertaalfonds: Aandag vir Afrikaanse werke in vertaling neem internasionaal toe

Reglement vir die PEN Afrikaans Vertaalfonds

Marieke Lucas Rijneveld se The discomfort of evening: wenner van die 2020 International Booker Prize

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top