Wim de Villiers: Liewers taalbal as taalbul

  • 0

Ek weet nie of ek vies of jammer vir prof. Wim de Villiers moet voel nie. Met sy terugvegpoging in artikels in Daily Maverick en elders oor sy aandeel in die anglisering van Maties, begin die besef deurdring dat hy nie werklik bevoeg is om die kwessie te hanteer nie. Hy is ’n hoogs gesofistikeerde man en het baie meer bevoegdhede as die meeste van ons, maar ’n begrip van taal of selfs ’n begrip van Suid-Afrikaanse politiek tel nie onder hulle nie.

Hy maak die eienaardige uitspraak dat Universiteit Stellenbosch (US) nie as speelbal deur politici gebruik moet word nie. Dit sê hy terwyl hy US se oorname van die klassifikasie van Afrikaans as nie-inheems aan die hand van ’n politieke dokument probeer verduidelik! Dit is die werk van ’n onverkose kabinetslid, wat weens ’n soort halwe staatsgreep deur die SAKP die septer oor taalbeleid swaai. Nzimande het van taal politiek gemaak toe hy sy eie raadgewers se advies geïgnoreer het, ook van sy Afrikaanse kamerade, dat baie groter klem op moedertaalonderrig moet val. (Plek ontbreek, maar kyk gerus Go Nyelela Ga Puo: Death Of Language op Showmax). 

De Villiers se aanstelling is ’n politieke een. Hy is ’n politieke pion in Nzimande se spel. Wat daardie spel is, weet ons nie, en De Villiers waarskynlik ook nie. As hoof van die SAKP werk Nzimande volgens ’n agenda wat nie aan die publiek bekend is nie omdat die party pront verklaar dis nie vir openbare bespreking nie. Aan die ander kant, De Villiers is ook nie een vir deursigtigheid nie ‒ ons weet nou nog nie waaroor hy en die kanselier, Edwin Cameron, destyds gesels het nie; soort soek soort. Dit sal inderdaad interessant wees om deur middel van die Wet op Openbare Toegang tot Inligting, insae te kry in De Villiers se onderhoud toe hy vir sy pos aansoek gedoen het.

Desondanks is dit nie moeilik om uit te werk hoekom Nzimande so begaan is oor Engels nie ‒ dit verseker dat die avant garde se politieke kommissarisse kan voortgaan om die volk op te voed in die Marxistiese klassestryd, wat nie juis in Zoeloe kan gebeur nie, en dat die inisiatief en mag in die hande van ’n klein, swart Engelsmagtige elite gesentraliseer kan word.

Taal was ’n politieke kwessie vandat die Britte hier aangeland het. Hul idees is in 1835 opgesom in ’n “minute” geskryf deur Thomas Macaulay, wat verklaar het dat Engels weens sy direkte wortels in die Romeinse en Griekse Ryke, meerderwaardig is aan enige ander taal, en dat swart inwoners gewerf moet word om Engels te bemeester en so agente van die ryk te word.

Toe Saartjie Baartman in 1806 Londen toe is om ’n beter lewe in die sirkusse daar te probeer vind ‒ nee, sy is nie ontvoer nie ‒ het Britse filantrope haar probeer red toe sy van openbare onsedelikheid aangekla word, maar die plan was dat sy afsien van haar brabbeltaal en verengels. Sy het geweier, Saartjie Baartman is my naam, het sy gesê, en haar lot verseël. (Vir die eintlike storie agter die mitologie, lees Rachel Holmes se meesterlike The Hottentot Venus).

Dit was een voorbeeld van die taalwrywing wat reeds aan die Kaap moes bestaan het ‒ Baartman was die eerste taalstryder en die eerste Afrikaanse showgirl in Europa, hoewel haar optredes gedraai het om rassistiese vernedering en uitgeloop het op die uiteindelike gruwel van die preservering van haar liggaamsdele in die Musée de l’Homme. Die meeste slawe aan die Kaap was Britse slawe, en hul imperiale meerderwaardigheid lê miskien agter die minagting wat baie van hul afstammelinge vir Afrikaans het, al praat hulle graag en vlot die taal in privaat omstandighede.

Die Macaulay Minute het veral berug geword in Indië, waar die plaaslike bevolking ontmoedig is om Sanskrit te leer, ten spyte van die toe al bekende skatte van sy letterkunde, vol kennis waaroor die Britte nog net gefantaseer het, soos die Kama Sutra. Macaulay was geen rassis nie, hy het trots verklaar dat sommige Indiërs meer beskaaf as die meeste Europeërs was omdat hulle totaal verengels het.

In 1873 is biskop Andrew Colenso aangekla van hoogverraad in die Natalkolonie. Sy sonde was dat hy en sy dogter, Harriette, tydens die verhoor van hoofman Langalibalele aangedring het op die korrekte vertaling van sy getuienis in Zoeloe. Sir Theophilus Shepstone het egter besluit die korrekte betekenisse, wat Langalibalele se skuld bewys het, dié was wat ooreenstem met die ideolek van sy vervolgers. Hierdie ideolek sou later fanagalo word, wat geskep is om bevele aan swart werkers te vergemaklik en doelbewus “kinderlik” gehou is.

Harriette Colenso het geskryf dat bogemelde ideolek enorme skade aan swartmense gaan doen, en dat die enigste manier om dit reg te maak is om Zoeloe as ’n volwaardige taal te erken en te gebruik. Maar fanakalo het ’n nasionale koloniale kode geword; dit het eers verdwyn toe die Nasionale Party se taalkundiges dit laat afskaf het omdat dit die volke wat hulle wou bou vir die tuislande se menswaardigheid aangetas het.

Vandag praat die Suid-Afrikaanse elite ’n soort politokolo, ’n tweedehandse Engels sonder nuanse en bron van vele misverstande. Dit word aangevul met ’n kommersieel/tegnologiese jargon wat die Britse ryk 2.0, soos die voormalige Britse premier Theresa May dit genoem het ná die Brexit referendum, toelaat om die goud van vandag uit die kolonies te myn: breinkrag vir die vierde nywerheidsrevolusie. 

Waarskynlik die beste voorbeeld hiervan is ’n Britse universiteit se werwing van ’n voormalige rektor van Maties, Chris Brink, een van die groot dryfkragte in sy verengelsing. Brink en andere het soos De Villiers geredeneer Maties moet verengels sodat dit meer inklusief kan word, sodat regstelling kan geskied. Wat Brink eintlik met sy voorbeeld gedemonstreer het, is dat inklusiwiteit die vestiging van ’n voertaal vir die brain drain is.

De Villiers het goedgunstiglik syfers verskaf wat wys wat inklusiwiteit eintlik beteken: vandag is meer as 50% van Maties se studente se huistaal Engels. Hulle Trumpistiese ouers in die rykmansbuurte van die stede het lank gedink Maties is nie so woke soos Ikeys of Wits nie.

En maak geen fout nie, jou tweedehandse Engels gaan van jou ’n permanente tweedehandse burger maak in die land van MAGA en Brexit, tensy jy lid is van die 2%, of ’n dokter, of ’n wiskundige. Of die agente-elite in ’n gewese kolonie, soos die ANC: dit maak nie saak of jy besig is om ’n nuwe rassenasionalisme te skep nie, solank Engels jou bindmiddel is.

So kan ’n mens aangaan. Engels is vandag die lingua franca nie weens enige inherente karaktertrekke nie, maar as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog met sy tagtigmiljoen slagoffers. Die aanvoerders van die Anglo-Amerikaanse magte, waaronder veldmaarskalk-burggraaf Bernard Montgomery, wat verklaar het dat die mense van Suid-Afrika almal intellektueel minderwaardig is, het in die doodsnikke begin eksperimenteer met die onderwerping van die ganse aarde, deur die tweede atoombom op Nagasaki te gooi.

Alleen die verraad van enkelinge soos Ethel en Julius Rosenberg en ander wetenskaplikes het verhoed dat die aarde vandag ’n Anglo-Amerikaanse Tsjernobil is ‒ hul oordrag van kennis aan die Sowjet-Unie het die Mutually Assured Destruction-doktrine gevestig. In die daaropvolgende Koue Oorlog was taal ’n sleutelgebied van konflik. Om die wetenskaplike inisiatief te behou het die Amerikaanse regering ’n massiewe vertalingsveldtog geloods om alle wetenskaplike artikels in Engels te vertaal. Duitse wetenskaplikes, weens die trauma van die Nazi-onthullings, het geredelik afstand gedoen van Duits as die voorste wetenskaplike taal van die vooroorlogse era en in ’n ander veldtog, deur die CIA, is Parys stelselmatig met New York as die kulturele hoofstad van die Weste vervang (van Picasso na Pollock).

Hierdie agtergrond raak die gewone aardling vandag nie regstreeks nie ‒ Engels is so goed as enige ander taal as lingua franca, en weens die Koue Oorlog en veral Amerika se vooruitgang het dit ’n geweldige kultuur opgebou wat op tegnologiese en ander vlakke nie ’n gelyke het nie. Om anti-Engels te wees is dwaas, ’n vorm van self-haat en self-skending, só deel van ons neurologiese netwerke is dit al. Slegs Mandaryns, ook ’n imperiale taal, sal hom in die toekoms kan inhaal.

Maar die taal het sy donker kant. As militêre triomf van die verlede, is Engels ook die kommersiële triomf van die hede. In die Engelse wêreld is taal, ekonomie en politiek vervleg: as jy dit wil maak in die globale kennisekonomie moet jy die tech jargon bemeester, op jou voete kan dink in commercialese en wit, ryk, mans uit die Amerikaanse kusstede of die City of London aanvaar as jou leiers, asook die klem laat val op Trump se goeie aspekte in gesprekke. Jy moet ook bereid wees om jou tiende aan die keiser te betaal ‒ die base van die Leviatans van vandag in die vorm van multinasionale maatskappye met omsette groter as dié van die meeste lande (meestal sal jy nie eens agterkom wat jy alles aan hulle betaal nie).

In hierdie opsig is gewaande ekonomiese wette, soos vervat in die stel leerstellinge wat neoliberalisme genoem word, die godsdiens. Die verbruiker is die hol strooimens wat kwansuis gedien word; ons weet almal nou al hoe jou sogenaamde onontbeerlike lewensbenodighede gefabriseer is deur bemarking, en die illusie van vrye keuse van produkte voorsien in jou behoefte aan selfstandigheid.

Taal by Maties is ook in hierdie sin vanuit ’n globale orde verpolitiseer. Vir die voornemende student is universiteite net nog ’n shopping mall, en universiteite speel lustig saam, veral in Suid-Afrika, want hulle maak geld uit die kinders van swart bemagtiging. Vandaar die klem op wat die Suid-Afrikaanse adolessent, grootgemaak op ANC/SAKP-slagspreuke, hip-hop en haat vir witheid, nodig het, en nie iets soos die uitbreiding van menslike kennis nie. 

Dosente is ook deeglik deel van die wêreldpolitieke spel. Taal is ’n universum, en vergestalt haarself institusioneel as ’n universiteit, en die Engelse universum van ekonomie/politiek/terminologie is nou al ’n deeglike geïntegreerde globale kompleks waarin universiteite die voerband vir bemarkbare kennis na multinasionale maatskappye is, kennis wat gefinansier is deur die belastinggeld wat armer mense en filiale uit die buiteland grootliks betaal. Looks no further than Oxford Universiteit en AstraZeneca se koronavirus-entstof.

In hierdie opsig word plaaslike akademici gedwing om deel te neem aan ’n waansinnige gejaag na sitasies en publikasies, waarvoor hulle dikwels nog moet betaal ook. Verengelsing by Maties het geskied weens die self-dienende vertolkings van sy taalbeleid by die fakulteite, wat eintlik kan doen wat hulle wil in terme van taal. De Villiers self gee dit weg in sy poging om die jongste skuif teen Afrikaans te regverdig: dat weens die koronavirus dosente nie tyd het om aanlynmateriaal in Afrikaans te verskaf nie.

Aanlynmateriaal is nou al lank deel van enige universiteit se aanbod. As dit nie ten tyde van die uitbreek van Covid-19 in Afrikaans beskikbaar was nie, is dit omdat die betrokke dosente die taalbeleid verontagsaam het. Aanlynmateriaal is maklik as jy net uit Engelse bronne hoef te copy en paste en URL’s aangee; as jy dit in Afrikaans doen, moet jy eintlik gaan sit en goed uitskryf en opnuut formuleer ‒ harde werk dus. En omdat studente nie durf kla daaroor nie, of net vaskyk teen daardie toekomstige paspoort na Amerika, is dit nooit verder gevoer nie.

En nou dien die regering se staat van eksepsie weens die pandemie ‒ gaan hoor by die filosowe wat dit alles behels, professor Wim ‒ om hierdie verontagsaming van beleid te normaliseer.

Nee wat, Prof., die klagte behoort nie te wees dat politieke partye jou en Maties as politieke speelbal wil gebruik nie ‒ dis ietwat van ’n skande dat hulle nou eers ontdek watter rol julle as lakeie in die land se politiek speel.

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Departement Afrikaans en Nederlands in opstand oor Afrikaans by US

Strate toe vir Afrikaans by US: 9 April

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top