Zuma moet weer hof toe

  • 0

…………

“In die jongste huismoles beweer sy vervreemde vrou dat hy nie onderhoud vir sy 14-jarige dogter betaal nie. Hy ontken dit egter en beweer dat hy van die kind se geboorte af vir haar sorg.”

…………

Oudpresident Jacob Zuma het hom al weer in die hof vasgeloop. Dié slag is dit een van vele vroue wat hom hof toe sleep en nie die staat nie.

Sy vervreemde vrou, Thobeka Madiba-Zuma, dagvaar haar man oor kinderonderhoud. Sy was Dinsdag in die Durbanse landdroshof waar die saak aangehoor is. Zuma was nie in die hof nie. Sy regsverteenwoordiger, Eric Mabuza, sê dit is jammer dat Madiba-Zuma besluit het om die saak hof toe neem, in plaas daarvan om dit binne die familie te hanteer. Hy sê Zuma bly daartoe verbind om al sy kinders te onderhou.

Verskeie mediahuise het Dinsdag oor hierdie jongste hofgeding berig. Timeslive berig Zuma se regsverteenwoordiger, Nqaba Buthelezi, het gesê hy sal na afloop van die saak meer besonderhede gee.

Zuma se vervreemde vrou was persoonlik teenwoordig tydens die geslote verhoor in die onderhoudshof in Durban. Zuma is deur sy regsverteenwoordiger verteenwoordig.

Die huismoles tussen Zuma en dié vrou van hom duur al maande lank. In Februarie het die media berig dat hy Madiba-Zuma toegang verbied het tot sy Nkandla-woning in KwaZulu-Natal. Hy beweer glo sy het SIM-kaarte waarop daar persoonlike inligting is, onregmatig geneem.

Zuma, wat ’n reputasie het dat hy nie uit die hof kan bly nie, het skaars ’n week gelede ook ’n bloutjie in die hof geloop teen een van sy voormalige ministers, Derek Hanekom. Hanekom het hom hof toe gesleep nadat Zuma hom op Twitter ’n apartheidspioen genoem het.

…………

“Zuma se persoonlike sake wat hom in die hof laat beland, is egter die minste van sy probleme. Hy speel al jare lank kat-en-muis met die howe met betrekking tot klagtes van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery.”

…………

Hanekom het Zuma vir laster gedagvaar en die saak gewen, maar moes maande lank wag dat die hof finaal in sy guns beslis, omdat Zuma, soos gewoonlik, daarteen geappelleer het. Uiteindelik moes die Konstitusionele Hof Zuma dwing om Hanekom amptelik om verskoning te vra toe Zuma sy rieme ook daar styfgeloop het.

In die jongste huismoles beweer sy vervreemde vrou dat hy nie onderhoud vir sy 14-jarige dogter betaal nie. Hy ontken dit egter en beweer dat hy van die kind se geboorte af vir haar sorg.

IOL het Maandag berig dat Madiba-Zuma R14 000 per maand van haar vervreemde man eis en dat hulle reeds ses maande van mekaar vervreem is. Dit is Zuma se derde vrou en die verhouding tussen hulle het ernstig versuur na die voorval waartydens sy na bewering die SIM-kaarte met vertroulike inligting geneem het.

Zuma se persoonlike sake wat hom in die hof laat beland, is egter die minste van sy probleme. Hy speel al jare lank kat-en-muis met die howe met betrekking tot klagtes van korrupsie, bedrog, rampokkery en geldwassery.

Hy het reeds by meer as een geleentheid een of ander geheime siekte as verskoning gebruik om nie by die hof op te daag nie.

Toe hy ’n tweede keer voor die Zondo-kommissie moes verskyn, het sy regsverteenwoordigers ook ’n geheime siekte as rede aangevoer waarom die oud staatshoof nie sy dag in die hof kan kry nie.

Dit is egter duidelik dat die howe besig is om hulle geduld met hom te verloor. Tydens ’n vorige verskyning was regter Dhaya Pillay glad nie beïndruk met Zuma se “siekbrief” nie. Sy het gesê van die datums op die dokument is verander, die dokument is vaag en onvolledig, en daar is geen aanduiding op die dokument dat dit deur ’n mediese dokter onderteken is nie.

Ook regter Raymond Zondo het al sy geduld met Zuma verloor en aangedui dat hy geen ander keuse sal hê as om Zuma te dagvaar om voor die kommissie te verskyn as Zuma nie sy speletjies laat vaar nie.

Lees ook 

Zondo wil Zuma gou weer sien

Zuma al weer te siek vir Zondo

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top