Oudpresident Jacob Zuma se ondersteuners is woedend omdat daar ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is. Sommige sê hulle sal saam met hom tronk toe gaan as hy opgesluit sou word.
Die lasbrief sal egter slegs in werking tree as Zuma sonder ’n geldige rede versuim om in Meimaand vir sy volgende hofverskyning op te daag.
(Foto: Kremlin.ru [CC BY 4.0], via Wikimedia Commons)
Die uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni en voorsitter van die ANC se Ekurhuleni-streek, Mzwandile Masina, het sy steun vir Zuma op Twitter herhaal. Hy sê hy is gereed om tronk toe te gaan vir Zuma. Masina sê die geskiedenis sal die howe hard oordeel vir die wyse waarop hulle Zuma behandel.
“Noudat die gereg homself openbaar het, is ek gereed om saam met president Zuma tronk toe te gaan.” Hy sê in sy twiet Zuma is siek en ondergaan mediese behandeling in Kuba en daar is niemand om te blameer dat hy nie in die hof was nie. “Die geskiedenis het geen leë blaaie nie en het inderdaad die vermoë om homself te herhaal,” het hy sy boodskap op Twitter afgesluit.
Now that the justice has pronounced itself, I’m ready to go to jail for @PresJGZuma since he is sick and currently receiving medical attention in Cuba and there is no one to blame. History has no blank pages, and indeed does have capacity to repeat itself.
— Mzwandile Masina (@mzwandileMasina) February 4, 2020
Nog een van Zuma se grootste pryssangers, Carl Niehaus, het nie op hom laat wag nie. Niehaus sê hy is ook bereid om tronk toe te gaan vir Zuma. “Dankie kameraad. Ek en baie ander ware kamerade is saam met jou gereed,” het Niehaus van hom laat hoor.
Saam met sy boodskap het Niehaus ’n foto geplaas van ’n eensame Zuma wat stoksielalleen in die beskuldigdebank sit waarby ook geskryf staan,“die geskiedenis sal ons hard oordeel”.
Thank you comrade @mzwandileMasina I, and many more true comrades, are ready together with you! ✊🏾 pic.twitter.com/juD0aV78an
— Carl Niehaus (@niehaus_carl) February 4, 2020
In ’n afsonderlike boodskap sê Niehaus dit is uiters teleurstellend dat die hooggeregshof weier om die mediese sertifikaat wat deur Zuma se regspan by die hof ingedien is, te aanvaar. Hy sê die pyn en vernedering wat dit op Nxamalala (Zuma se stamnaam) het, is hartverskeurend. “Ons as ’n nasie moet ons koppe in skaamte laat sak,” het Niehaus getwiet.
The refusal by the High Court to accept the medical certificate presented by the lawyers of @PresJGZuma, & issue a warrant of arrest is very disappointing & disturbing. The pain & humiliation inflicted on Nxamalala is heartbreaking. We as a nation should hang our heads in shame. pic.twitter.com/6TDB0WBQ18
— Carl Niehaus (@niehaus_carl) February 4, 2020
Die publiek se reaksie oor die nuus van Zuma se lasbrief was uiteenlopend. Terwyl sy ondersteuners dit betreur het, was ander hoog in hulle skik dat almal nog gelyk is voor die reg en dat Zuma nie spesiale behandeling geniet nie.
“Ons moet inderdaad ons koppe laat sak. Die rede daarvoor is natuurlik omdat daar toegelaat is dat kriminele die land regeer en kaap,” was die mening van een van die twittergebruikers, Les Faber.
Indeed we should hang our heads in shame. That of course is allowing criminals to run and capture our country. #Mantsha and #Zuma insulting our law courts again.
Mantsha has a very dubious past.#ZumaTrial— Les Faber 🦅 (@les_faber) February 4, 2020
Die ANC se jeugliga in die Vrystaat het ook vuur gespoeg oor Zuma se lasbrief. In ’n kwalik bedekte dreigement het hulle provinsiale sekretaris, Reagan Booysen, gesê Zuma se ondersteuners “wag vir diegene wat dit sal waag om hom te arresteer”.
Booysen sê hulle is nie geskok deur die “sinnelose besluit” om ’n lasbrief vir Zuma se arrestasie uit te reik nie. “Hulle mors hulle tyd. Niemand sal hom onder ons oë arresteer nie. Hierdie hansworse moet hulle daarvan weerhou om iets te begin wat hulle nie kan hanteer nie. Ons sal in groot getalle vir hulle wag,” het hy gedreig.
Die ANC het in ’n versigtig bewoorde verklaring ook vir hulle voormalige leier in die bres getree. Die party sê in ’n verklaring Zuma is ’n wetsgehoorsame burger wat nog altyd die howe respekteer het. Die ANC het ’n beroep op die publiek gedoen om geduldig te wees en die howe toe te laat om hulle werk te doen. Die organisasie sê hulle respekteer egter die howe se besluite.
Die ANC maak geen melding in sy verklaring van Zuma se siekte of waar hy hom op die oomblik bevind nie. President Ramaphosa se kantoor wou nie Woensdag kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie.
@MYANC STATEMENT ON DEVELOPMENTS AROUND FORMER PRESIDENT JACOB ZUMA’S COURT PROCEEDINGS pic.twitter.com/hCoUao1NVg
— African National Congress (@MYANC) February 5, 2020
Lees ook
Buro: MvH