
Toe die oggendmis oor die Groot Drakensteinberge begin wegrol en die eerste sonlig Vrydagoggend die Franschhoekse wingerde met goue lyntjies omsoom, weet jy hierdie is nie ’n gewone naweek in die wynlande nie. Die lug voel swaarder van die afwagting.

Buddy Wells
In die hoofstraat het die koffiewinkels se masjiene luider begin blaas en die vrolike gesels op sypaadjies meng met die verre gerammel van die Franschhoek Wine Tram. Maar onderliggend is daar ’n ander klank – die lae baslyn wat in die grondpaaie van die omliggende plase vibreer.
Dis die klanke van die heel eerste Montreux Jazzfees Franschhoek, die eerste Montreux-fees op die Afrikakontinent – ’n jaar voor die oorspronklike Switserland-fees sy 60ste bestaansjaar in 2027 vier.

Hugenotemonument is in die agtergrond
Franschhoek is ’n plek waar die geskiedenis van die Hugenote in elke klip en kelder ingebak is. Maar vir 72 uur is daardie Europese erfenis gekonfronteer én gekomplementeer deur die rou, eerlike klanke van jazz in al sy vorme en oor verskeie genres heen.
Die plakkaat deur die Suid-Afrikaanse meesterkunstenaar en jazzliefhebber, Sam Nhlengethwa, bring die fees se slagspreuk “When Montreux meets Africa” tot perfekte uiting.
Die feesnaweek ondersteun FRANCO (Franschhoek Resource and Network Coordinating Organisation), wat gemeenskapskuns- en opvoedingsprojekte ondersteun, en ook die Uncorked Music Academy, wat die volgende geslag Suid-Afrikaanse musikante oplei.
Die Montreux Jazzfees Franschhoek is gesamentlik georganiseer deur die stigter van die Montreux Jazz Franschhoek (Pty) Ltd, Mark Goedvolk, en die span van Montreux Jazz International (Switserland).

Wet Wet Wet se manne saam met my
Twee optreevenues, The Arches en die Jazz Village, het hul arms wyd oopgegooi vir die voorste musikante van regoor die wêreld – van die uithoeke van Armenië tot die vlaktes van Ierland en Amerika. Die groot name was almal daar: Robert Glasper met Bilal en Lalah Hathaway; die Ierse popkunstenaar, Róisín Murphy, en die Skotse band, Wet Wet Wet. Die top- plaaslike kunstenaars, soos Thandiswa Mazwai, Mandisi Dyantyis en die 26-stuk Kesivan amaBig Band Experience, was ook daar.
By The Arches was dit so uiteenlopend soos Caleb Dlamini and friends, Lelowhatsgood en Brother Kujenga, tot Rosey Gold, Wet Wet Wet en DJ Kent.
Wanneer die eerste noot skuins na middagete weerklink, gebeur daar iets magies. Dit is nie net musiek nie; dis ’n gesprek. Die saksofoon huil oor die verlede, oor die hande wat die wingerde geplant het en die sweet wat in die grond ingegaan het. Die gehoor raak stil. In jazz is daar ’n konsep, genaamd “call and response”, en in Franschhoek is die “call” die berge en die “response” die klank van die koperinstrumente.
Die NG Kerk is omskep as die middelpunt van die Jazz Village en dis kerk soos nog nooit tevore nie! Waar Nagmaalglasies gewoonlik in holtes van die kerkbanke rus, is dit nou vonkelwynglase en selfone.
Die een seremoniemeester, Lynden Jafta van Paarl FM, het tereg opgemerk: “Dis die volste wat die kerk in ’n lang tyd was! Die musiek vind jou en bring jou hierheen.”

Madala Kunene, Sibusile Xaba en vriende
By die Jazz Village skop CandyFlip en Madala Kunene x Sibusile Xaba die Vrydagmiddag se program af, voor Kesivan and The Lights, Stacey Kent en Nelee die sterre aan die hemele verwelkom. Die Ramon Alexander Trio met Buddy Wells en Tigran Hamasyan lei jou droomland toe.

CandyFlip
Stap jy af na die Hugenotemonument wat trots tussen luukse bedouintente staan en waar feesgangers met drankies kon ontspan, vang jy waarlik die gees van die fees.
Ons is opgewonde om Wet Wet Wet te sien wat laatmiddag optree. Hul liedjie, “Love is all around”, was in 1995 die liedjie waarmee ons die dansbaan op ons troue geopen het. Skaars drie maande later besoek hulle die Kasteel in Kaapstad en danksy ’n vriendin ontmoet ek die lede en neem ’n foto saam met hulle.
Dis die laaste liedjie wat hulle by die Jazzfees sing en Graeme Clark, een van die oorspronklike lede, vertel van dié besoek en dat hulle ’n musiekvideo vir “Somewhere somehow” in Kaapstad verfilm het.
Daarin is die Kasteel baie duidelik te sien en ek voel sommer melankolies!
Toe hulle afstap van die verhoog af, is ek daar: Neem ’n foto van hulle en toe stel hulle voor ons poseer weer saam, soos 31 jaar gelede! Wat ’n hoogtepunt.

Matt Hansen
Toe die son watertrek oor die vallei, is Matt Hansen, DJ Zinhle, die Kesivan amaBig Band Experience, Cassiem Latief en Leighton Moody op die verhoog, voor Róisín Murphy die ounag inlui.
Saterdag is almal net na middagete terug vir meer. Die plaaslike trompetvirtuoos, Mandisi Dyantyis, se instrument blink in die middagson. Die berge lê nog so blou agter die BBP-tent; die gees klim al hoër. Dis behoorlik naweek en jazz is die ritme waarna almal gesmag het.

Ezra Collective Band
The Ploemies and friends, That Guy S’bu en Billy Monama’s Guitar Convergence maak die middag kort, voor Kay Faith en Thandiswa Mazwai die son groet en Trev The Japanese en Ezra Collective die vroegaand inlui. Die aand by The Arches bereik ’n luide hoogtepunt met DJ Kenzhero en Robert Glasper, met spesiale gaste Lalah Hathaway en Bilal.

Thandiswa Mazwai
Die musiek word vinniger; die ritmes meer kompleks. Hier sien jy die ware krag van Suid-Afrikaanse jazz: die vermoë om pyn in vreugde en samesyn te omskep. Die ritmes laat mense opstaan. Die deftige tannies van die Kaap en die studente van Stellenbosch dans sy aan sy. Die grense vervaag. In die skaduwee van die berge maak dit nie saak waar jy vandaan kom nie; die lae vibrasie van die saksofoon en trilling van die dromme bind almal saam – maak almal gelyk.
Daar is die aficionados in hul linnepakke en Panama-hoedjies, gewapen met steellose glase wat in hul hande rus. Dan is daar die jonger generasie, gewapen met slimfoonkameras en ’n dors vir kultuur wat verder strek as net die nuutste poptreffer. Hulle stap verby die Hugenotemonument, wat vandag dien as ’n stille getuie van die samesmelting van kulture.
Die Jazzfees is ’n fees vir die sintuie. Jy proe die terroir van die vallei in ’n glas Sauvignon Blanc, terwyl ’n basviool in die agtergrond brom. Dit is ’n herinnering dat kultuur nie in ’n vakuum bestaan nie – dit word geëet, gedrink en gedeel. Die mense aan die tafels is vreemdelinge wat vriende word oor ’n bordjie sushi en die gemeenskaplike liefde vir ’n goeie improvisasiesolo.
Jazz Village se program met Charles Leonard, Kwanti Leeh!, Home at last: a tribute to Bheki, A Kind Of Blue Acoustic Band, Msaki met Entropy: the heart as an echo, Jesse Clegg en die Kyle Shepherd Trio, is net so polsend en meesleurend.
Tussen die optredes deur beweeg die skare na die kosstalletjies. Hier word die storie van die fees verder vertel. Jy ruik die ryk aroma van tradisionele basaarkerrie, maar reg langsaan is daar die geur van steakrolle en pizza.
Die naweek is afgesluit met die Sunday Slowdown, wat al langs die “Montreux Mile” (Hugenotestraat) gehou is. Hier het musikante met opskietkonserte gaste vermaak.
Op die Kerkstraat- en Heritage Square-verhoë het kunstenaars soos Sima Mashazi en Nick Turner, The Rivertones, Albert Frost, Melorie Jane Quintet en Shen FM + Lee Thompson die naweek op ’n nostalgiese noot volsirkel gebring.
Terwyl die globale Montreux-naam ’n byna ses dekade lange nalatenskap dra, het die Franschhoek-weergawe alreeds sy eie identiteit gevestig – gedefinieer deur skaal, omgewing en ’n doelbewus-saamgestelde, gasvryheidsgedrewe ervaring. Die resultaat was ’n fees wat beide premium én persoonlik gevoel het, met gehore wat net soveel by die omgewing as by die musiek self betrokke was.
“Daar was ’n besondere energie oor die naweek – een wat organies gebou het soos mense opgedaag het, dit ervaar en gedeel het,” sê Mark Goedvolk, stigter van die Montreux Jazzfees Franschhoek.
“Van die begin af was ons bedoeling nie om Montreux te herhaal nie, maar om iets te skep wat beide die gees van die handelsmerk en die karakter van hierdie plek weerspieël. Wat ons hierdie naweek gesien het, was ’n sterk fondament – een waarop ons nou deeglik en konsekwent kan voortbou vir die jare wat voorlê.”

Patricia de Lille (met die hoed)
Patricia de Lille, minister van toerisme, het by die Sunday Slowdown haarself gate uit geniet en opgemerk: “Wat ’n werklik onvergeetlike ervaring vir musiekliefhebbers en leefstylentoesiaste, teen die agtergrond van ons manjifieke Afrikahemel en die Franschhoekberge. Suid-Afrika het weer eens sy posisie as ’n toonaangewende kulturele toeristebestemming versterk en ’n wêreldwyd-erkende handelsmerk aan ons kus verwelkom.
“Ons betuig ons opregte waardering aan die Montreux Jazzfees vir sy wêreldwye nalatenskap en vir die lisensiëring van hierdie belangrike Afrika-weergawe, sowel as aan die plaaslike organiseerders, Montreux Jazz Franschhoek, vir die keuse van Franschhoek as die gasheerbestemming. Dit is ’n kragtige stem van vertroue in Suid-Afrika se wêreldklasinfrastruktuur, kreatiewe uitnemendheid en toerismeaanbod.
“Ons sien uit daarna om op hierdie momentum voort te bou, terwyl ons die terugkeer van die Montreux Jazzfees Franschhoek in 2027 inwag.”
Toe die laaste noot uiteindelik wegsterf en feesgangers hul pad terugvind na hul gastehuise of terug stad toe, bly die gees van die fees in die vallei agter. Franschhoek is meer as net ’n prentjiemooi dorpie; deur die Jazzfees was dit ’n lewende organisme van klank en kultuur, waarna mense volgende jaar sal terugkeer vir meer.
- Die fees word aanstaande jaar van 19–21 Maart weer gehou. Loer by http://www.mjfsa.com/ vir meer inligting.
Foto’s: Clifford Roberts/Canon R6
Lees ook:
Klassieke musiek tot in die harte van die Klein Karoo se kinders gebring

