Naar aanleiding van de tweede herdenking van de sterfdag van Breyten Breytenbach (1939-2024) verschijnt een gelegenheidsbundel met getuigenissen van dichters, vertalers en vorsers. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op het symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (Universiteit Gent, 26-27 november 2026).
Postumiteiten voor Breyten. Door het oog van dichters en vorsers presenteert reacties van Zuid-Afrikaanse en enkele Nederlandstalige dichters op een reeks met vragen.
Daarnaast komen vorsers aan het woord in een tweede deel. Zij spreken over hun specifieke framing van Breytenbachs werk, de accenten die ze leggen in het wetenschappelijk onderzoek. Niet alleen schrijvers en vertalers construeren hùn beelden van Breytenbachs oeuvre, ook onderzoekers dragen bij aan de (academische) beeldvorming. Zij belichten hun persoonlijke leeservaringen en geven te kennen hoe zij een aandeel hebben in de beeldvorming van Breytenbach of dus de literaire postuur, met name de “heterorepresentatie”.
Voor het herinneringsboek reageren Zuid-Afrikaanse Breytenbach-experten op een vragenlijst. Een derde gespreksgenoot in die reeks is Louise Viljoen, een van de hoofdsprekers op het congres in Gent.
...
Breytenbach se werk het jou die geleentheid gegee om – by wyse van spreke – jou analitiese spiere te oefen, terwyl dit ook kennis van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en Europese bewegings geverg het om sy werk binne bepaalde tradisies te plaas.
...
YT: Kun je in kort bestek een overzicht geven van het zelf ondernomen wetenschappelijk werk over facetten van Breytenbachs oeuvre? Welke framing – een benadering van literatuurwetenschappelijke, vertaalwetenschappelijke, kunstwetenschappelijke, cultuurhistorische, politiek-ideologische of biografische aard – kreeg daarbij de voorrang?
LV: My bemoeienis met die werk van Breytenbach strek oor dekades heen. Nadat ek as voor- en nagraadse student in die 1970’s aan die werk van Breytenbach bekend gestel is, het ek in my doktorale studie in die 1980’s gefokus op sy gevangenispoësie. Ek het veral gekonsentreer op die bundel (‘yk’) en dit gelees binne die raamwerk van ’n poststrukturalies-semiotiese benadering, wat in daardie stadium in omloop was en ook Breytenbach se werk beïnvloed het. As jong en onervare navorser was dit vir my opwindend om op hierdie manier die avonture van Breytenbach se omgang met taal te probeer peil. (Ander navorsers het in ongeveer dieselfde tyd gebruik gemaak van politiek-ideologiese benaderings, gegrond in die Marxisme, soms gekombineer met ’n biografiese element.) My Breytenbach-navorsing in die 1990’s het bly fokus op sy spel met taal en betekenis binne ’n soort poststrukturalistiese raamwerk, maar steeds meer aandag gegee aan die wyse waarop die biografiese en sosio-politieke kontekste daardie spel met taal beïnvloed het. Die poststrukturalisme en ook postmodernisme is dikwels daarvan beskuldig dat dit ’n apolitiese siening van die wêreld verteenwoordig, maar dit is steeds my oortuiging dat ’n hele aantal Afrikaanse skrywers teen die einde van die 20ste eeu ’n baie sterk politieke inhoud aan die opvattings, strategieë en meganismes van beide die poststrukturalisme en postmodernisme gegee het. (Die Sestigers het op soortgelyke wyse die Europese modernisme verpolitiseer in hulle werk.)
Vanweë die kompleksiteit en omvang van Breytenbach se werk het ek mettertyd ook uit ander teoretiese benaderings geput om sy werk te probeer verstaan. Ek het onder andere geskryf oor die rol van die leser in sy werk met behulp van verskillende lesersgerigte teorieë, die spel met verskillende identiteite binne die kader van teorieë oor identiteit en liminaliteit (onder andere uit die sosiologie), sy gesprek met voorgangers en sy invloed op later digters met inagneming van sisteemteorie, sy posisie as transnasionale figuur teen die agtergrond van teoretisering oor transnasionale bewegings en die konsep “wêreldliteratuur”, sy beweeglikheid tussen verskillende tale met verwysing na denke oor “translational literature” en vertaalteorie, sy veelseggende hantering van die hond-metafoor teen die agtergrond van dierestudies, en sy omgang met Afrikaans as moedertaal en bedreigde minderheidstaal met behulp van denke oor moedertale, hibridisering en kreolisering.
Eerder as om te volstaan met ’n enkele teoretiese benadering vir die duur van my omgang met die uitdagings wat Breytenbach se werk bied, het ek telkens gebruik gemaak van dié soort benadering wat ek gevoel het die teks vir my sou verhelder. Dié benaderings is dikwels ingegee deur dit wat op daardie oomblik in die literêre en kulturele bewussyn geleef het, ook deur literêr-teoretiese ontwikkelings en gesprekke met kollegas in die veld.
YT: Zijn er onderzoeksbevindingen die je, het onderzoek overschouwend, onder de aandacht kunt brengen? Of anders gezegd: op grond van welke overwegingen kan Breytenbach een schrijver en beeldend kunstenaar van internationale allure worden genoemd?
LV: Myns insiens is dit nie net nie net die loutere omvang, kompleksiteit en diversiteit van Breytenbach se aktwiteit as skrywer en visuele kunstenaar nie, maar ook die gehalte, innovasie en politieke drakrag van sy werk wat van hom ’n skrywer met internasionale aansien gemaak het.
Verder was hy ook een van dié Suid-Afrikaanse skrywers wat sigbaar was binne die internasionale omgewing. Sy bekendheid het aanvanklik verband gehou met sy rol as skrywer-aktivis teen apartheid, ’n beeld wat bestendig is deur sy politieke gevangenskap. Dit was egter die gevangenis-memoir The True Confessions of an Albino Terrorist wat hom internasionaal beroemd gemaak het omdat dit ingespeel het op ’n tradisie van gevangenis-skryfwerk wat in die 1980’s besonder prominent was en omdat dit terselfdertyd gewerk het met bepaalde idees rondom taal en identiteit. Die tallose vertalings van sy werk in ander tale is ’n verdere bewys van sy internasionale aansien as skrywer. Daarbenewens was hy ’n aktiewe lid van ’n internasionale gemeenskap van skrywers wie se werk en menings oor wêreldsake wyd bekend was.
YT: Zijn er in het ruime studiegebied aspecten die tot op heden relatief weinig aandacht kregen? Zie je krachtlijnen in de benaderingen van Zuid-Afrikaanse en buitenlandse onderzoekers, in zekere mate bepaald door onderzoekparadigma’s die in het onderzoek in de loop van de tijd verschuiven of wisselen? Waarop kan het onderzoek zich nu, na het overlijden van Breytenbach, méér toeleggen?
Er worden de komende jaren veel wetenschappelijke en essayistische publicaties, wellicht ook promotieonderzoek, toegevoegd aan een inmiddels indrukwekkend corpus van beschouwende teksten (zie de bibliografieën in de huldigingsbundel voor Breytenbach Woordenaar woordnar, 2019). Zijn er richtingen die het onderzoek bij voorkeur uitgaat, al dan niet leunend op of in kritische dialoog met bestaande studies?
LV: Ek dink dat die aksent in Breytenbach-ondersoek na sy dood miskien sal verskuif. Tydens sy leeftyd is daar geweldig baie ondersoek gedoen oor elke nuwe teks wat verskyn het, deels om ’n greep te kry op daardie teks en ook om dit binne die ontwikkeling van sy skrywerskap en die groter literêre konteks te plaas. Baie van die ondersoeke na sy werk (dikwels ook my eie navorsing) was sterk teks-gefokus, onder andere omdat dit so uitdagend én bevredigend was om met daardie tekste om te gaan. Hy was by uitstek ’n skrywer wat aan die leser daardie soort leeservaring kon besorg waarvoor Roland Barthes destyds die begrip jouissance gebruik het.
Ek vermoed dat daar na sy dood herlesings van sy werk sal wees vanuit steeds nuwe teoretiese perspektiewe, maar ook dat daar nuwe pogings sal wees om dit krities te takseer in die lig van nuwe ontwikkelings. Ek vermoed ook dat daar na sy dood veral argivale werk gedoen sal word om sy wydlopende aktiwiteit as skrywer en visuele kunstenaar te dokumenteer.
YT: Wanneer het onderzoekdomein omtrent het literaire en artistieke werk wordt overschouwd, welke inzichten hebben jou als onderzoeker zelf veel bijgebracht en/of hebben de studie een bepaalde richting uitgestuurd?
LV: Ek dink dat die werk van Francis Galloway oor Breytenbach as ’n openbare figuur (nie net haar boek Breyten Breytenbach as openbare figuur nie, maar ook die artikels en boekhoofstukke wat sy daarna gepubliseer het) eintlik vir alle Breytenbach-navorsers ’n voorbeeld en waardevolle bron is. Haar nougesette empiriese navorsing het al vele Breytenbach-navorsers ná haar bemagtig om hulle eie analitiese werk te doen.
YT: Breytenbachs werk is omvangrijk en uitermate veelgelaagd. Het is onmogelijk vanuit een specifiek literatuur- of kunstwetenschappelijk standpunt de (inter- en intratekstuele of intermediale) veelzijdigheid te benaderen. Zijn er invalshoeken – probleemstellingen en onderzoeksvragen – die je voor een eigen voortgezette studie overweegt?
LV: Ek dink dat daar nog veel is om te ontdek en te ondersoek in Breytenbach se werk. Een area wat nog behoorlik ontgin moet word, is sy werk as visuele kunstenaar, ook die skakels tussen sy skryfwerk en visuele kuns. Ek is self nie goed genoeg onderleg in die veld van die visuele kuns om daardie soort ondersoek te onderneem nie, maar dink wel dat daar ander navorsers is wat dit sou kon doen.
Daar is ook ander aspekte van sy werk wat nog ondersoek kan word. Daar sou byvoorbeeld verdere navorsing gedoen kan word oor sy verhouding met ander tale, nie net sy gebruik daarvan in sy kreatiewe werk nie maar ook die wyse waarop hy dit akkommodeer in sy opvattings oor taal, kuns en politiek. Ek het onlangs in ’n gedenklesing, gelewer op versoek van die English Academy of South Africa, Breytenbach se hartstogtelike en komplekse verhouding met sy moedertaal geplaas teenoor/naas sy openheid teenoor ander tale. Ek het gebruik gemaak van die begrip “conviviality” (soos ontwikkel deur die sosioloog Francis Nyamjoh) om sin te maak van Breytenbach se interaksie met mede-skrywers en die verskillende tale waarin hulle skryf. Hy het ook ’n aktiewe rol gespeel in verskillende ondernemings om skrywers en intellektuele uit verskillende taalgroepe en omgewings bymekaar te bring, om hulle met mekaar in gesprek te laat tree en allerlei uitruilings te laat plaasvind. Daarbenewens was hy as deel van die International Parliament of Writers ook betrokke by die mobilisering van skrywers om sekere onregte aan te spreek. Hierdie aspek van sy werk as bemiddelaar tussen verskillende tale, groepe en kulture verdien myns insiens verdere ondersoek.
Daar sou ook ondersoek gedoen kon word na die resepsie van sy werk op verskillende tye in sy loopbaan en in verskillende kontekste. Die verskille tussen sy ontvangs binne die sisteme van die Afrikaanse en die Engelse letterkunde in Suid-Afrika sou byvoorbeeld ondersoek kon word, ook die wyse waarop dit met die loop van tyd verander het. Dit sou onder andere kon lei tot ’n kritiese herlesing en herwaardering van sy werk vir ons tyd.
Daar is ook ruimte vir navorsing oor die verskillende vertalings van Breytenbach se werk, veral dié in bloemlesings van sy werk. In sulke gevalle sou ’n mens sowel die keuse van gedigte as die vertaling daarvan kon nagaan. Daar sou ook gekyk kon word na die wyse waarop hierdie keuses en vertalings gelei het tot die beeldvorming van Breytenbach as digter in bepaalde omgewings.
YT: Tot slot, Louise: Breytenbachs literaire werk is vertaald in meerdere talen en wordt mede dankzij het vertaalwerk internationaal gelezen en bestudeerd. Hoe heb jezelf, als particulier lezer of toeschouwer, het werk van Breytenbach ontdekt? Hoe verliep de eerste ontmoeting, wie heeft daar als beschouwer een bepalende rol in gespeeld? Welke teksten van Breytenbach waren voorgeschreven op school of aan de universiteit? Wat heb je zelf opgenomen op de leeslijsten voor studenten, teksten waarvan zou beslist hoogte moesten nemen? En ten slotte wat het receptieproces betreft: welke titels of kunstwerken van Breytenbach beschouw je zelf als hoogtepunten van de schrijvers- en kunstenaarsloopbaan?
LV: Ek het as leerling op skool in die 1960’s kennis gemaak met die poësie van Breytenbach. Later tydens my voorgraadse studie aan die Universiteit van Stellenbosch in die 1970’s het ek sy werk beter leer ken, onder andere deur enkele lesings van D.J. Opperman wat kriptiese leidrade tot die lees van sy werk gebied het eerder as uitvoerige verduidelikings. Ek was van die begin af geïntrigeer: aan die een kant was daar die bekoring van sy woordvaardigheid, gepaardgaande met die verrassende kombinasie van die surrealisme met die Zen-Boeddhisme; aan die ander kant die sfeer van protes, gevaar en risiko wat aan sy politieke gedigte gekleef het. Wat my ook aangetrek het, was die digtheid en kompleksiteit van sy gedigte en kortkortverhale, die uitdagings wat dit aan die leser gebied het. As (Suid-)Afrikaanse literatuurstudente in die 1970’s is ons – paradoksaal genoeg – tegelykertyd geskool in die tegnieke van stiplees (’n restant van die New Criticism) en die beginsels van ’n literatuurhistoriese benadering. Breytenbach se werk het jou die geleentheid gegee om – by wyse van spreke – jou analitiese spiere te oefen, terwyl dit ook kennis van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en Europese bewegings geverg het om sy werk binne bepaalde tradisies te plaas.
As skoliere en studente het ons kennis gemaak met die gedigte wat in bloemlesings (veral Opperman se Senior Verseboek en Groot Verseboek) opgeneem is, ’n mengsel van die beskoulike, liefdes- en politieke gedigte. As derdejaarstudente moes ons Die ysterkoei moet sweet lees. Toe ek later self moes doseer, het ek gewoonlik gedigte uit Breytenbach se vroeë én later werk (saam met dié van ander digters) gekies om vir eerstejaarstudente iets te demonstreer van die eienskappe van poësie en vir hulle sekere handgrepe vir die interpretasie van gedigte te leer. Omdat tweedejaarstudente die Sestiger-beweging moes bestudeer, het ek in daardie geval Breytenbach-tekste uit die eerste fase van sy werk (1964-1975) gekies. Die meer gevorderde studente in die derdejaars- en honneurskursusse het veral bundels gelees wat in daardie stadium nuut was, soos byvoorbeeld Papierblom, Die windvanger, Die beginsel van stof en Katalekte.
Ek sou die volgende titels van Breytenbach as onmisbare hoogtepunte van sy skrywersloopbaan identifiseer omdat hulle die sterkste verteenwoordigers is van ’n bepaalde vernuwing, verskuiwing of verdigting in sy werk: Die ysterkoei moet sweet (1964), Skryt (1972), (‘yk’) (1983), The True Confessions of an Albino Terrorist (1984), Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993), Dog Heart (1998), Die beginsel van stof (2011) en Op weg na kû (2019).
Lees ook:
Breyten schrijven #38: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Anke van der Merwe
Breyten schrijven #37: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Sandra Saayman
Breyten schrijven #36: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Laurens Vancrevel


