
Hermanus het die mooiste kunswerke wat hulde bring aan die see en die walvisse wat jaarliks hierheen kom.
Volgende keer as jy Kaap toe kom en meer as net pragtige uitsigte en goeie kos en wyn soek, is die nuwe kunservaring van The Living Journey Collection – ’n versameling van agt boetiekhotelle in Kaapstad, die wynlande en Hermanus – die antwoord.
Die unieke ervaring saam met die kunsgids-agentskap Art Route bied aan gaste die geleentheid om Suid-Afrika se dinamiese kuns- en ontwerpwêreld op ’n persoonlike manier te ontdek. Dis vir diegene wat die stories, mense en kreatiwiteit van ’n plek eerstehands wil ervaar.

One Marine Drive in Hermanus
The Living Journey Collection se boetiekhotelle is versprei oor van die mooiste dele van die Wes-Kaap. In Kaapstad kan gaste by Zest of The Tree House bly, terwyl River Manor en Majeka House in Stellenbosch geleë is. In Franschhoek wag Chapter House en Plumwood op besoekers, en die Robertson Small Hotel in Robertson en One Marine Drive in Hermanus bied rustige wegbreke waar die landskap ook deel van die ervaring word.

Friedrich en sy vrou Lorraine
Dis oor ’n glas Benguela Cove Cap Classique Cuvée en oesters by La Pentola op Hermanus dat die mede-eienaar van The Living Journey Collection Friedrich Schaefer ons vertel: “Vir reisigers wat nuuskierig is oor kultuur, kuns en ontwerp, maak hierdie nuwe ervaring ’n wêreld oop. Met Art Route se kundige gidse kan gaste kunsroetes volg wat spesifiek volgens hul belangstellings saamgestel word. Hierdie toere neem besoekers na galerye, kunstenaars se ateljees en selfs privaat kunsversamelings. Dit is nie net ’n gewone toer nie; dis ’n geleentheid om agter die skerms te kyk en met kunstenaars en ontwerpers self te gesels.
“In die wynlande bied hierdie ervaring ’n besonderse kans om die kreatiewe gemeenskappe van Stellenbosch en Franschhoek te ontdek. Gaste wat by River Manor of Majeka House in Stellenbosch bly, of by Chapter House en Plumwood in Franschhoek, kan saam met ’n gids die plaaslike kunstoneel verken. Hier word kuns dikwels beïnvloed deur die landskap, die wynkultuur en die historiese karakter van die dorpe.
“Dit skep ’n dieper begrip van die kreatiewe energie wat die wynlande so besonders maak,” vertel hy.
In Kaapstad self kry die kunsroete nog ’n ekstra dimensie. Gaste wat by Zest Boutique Hotel of The Tree House in die lewendige Green Point-omgewing bly, kan nie net galerye besoek nie, maar ook op ontwerpgerigte inkopietoere gaan. Hierdie uitstappies neem besoekers na onafhanklike ontwerpateljees en kreatiewe ruimtes regoor die stad.
Die toer kan selfs verder strek tot Muizenberg, waar Casa Labia ’n elegante historiese ruimte huisves wat kuns, ontwerp en kultuur kombineer. Hier ervaar besoekers ’n ander kant van Kaapstad – een waar geskiedenis en kreatiwiteit saamvloei.
By One Marine Drive-boetiekhotel wat oor die see uitkyk in die land se walvisdorp, kan gaste kuns ontdek in ’n kusdorpie wat bekend is vir sy kreatiewe gees. Hier meng natuur, see en kuns op ’n manier wat reisigers help om die streek se unieke karakter te verstaan.

Deborah Laing
Hier kan besoekers onder meer by Rossouw Modern, Walker Bay Modern Art en lede van die Baardskeerdersbos Kunsroete aandoen. In Sandbaai is dit die ateljee van Deborah Laing wat besoek kan word.
Haar werke hang van die Nederlande tot Noorweë, New York tot Frankryk en regoor Suid-Afrika.
Friedrich se opgewondenheid oor dié nuwe inisiatief is duidelik. Hy en sy vrou Lorraine is albei mal oor kuns. Dis duidelik as jy kyk na die mooi kunswerke wat teen hul gastehuise se mure hang en op koffietafels en kaggelrakke pryk.
“Wat hierdie kuns- en ontwerptoere besonders maak, is dat elke ervaring volgens die gas se belangstellings aangepas word. Sommige reisigers verkies om ’n hele dag lank galerye te verken, terwyl ander meer belangstel in ontwerpwinkels of ontmoetings met kunstenaars. Die Art Route-gidse stel elke reisplan só saam dat dit by die tempo en smaak van die besoeker pas,” sluit Friedrich af toe ons aan beeshaas smul.
Die ete en wyn en geselskap was gul en ek is breëbors oor hoe lekker dit vir toeriste moet wees om by ervare hoteliers oor te bly wat die kuns van gasvryheid verstaan.

Die walvismuurskildery
Ons stap in die maanlig al langs die see terug na die gastehuis. In die aandlig is die reuse-walvismuurskildery teen die gastehuis se gang nog meer magies as in die daglig. Die swembad se lig maak blou patrone in die nag en jy voel of jy onder water is met die walvis wat oor jou waghou.

Dassen Island Lighthouse Suite
Ons bly vir die nag in die Dassen Island Lighthouse Suite. Buite is ’n swaaistoel op die stoep, waarin ek gaan sit en na die branders luister en na die maan en sterre kyk wat soos ’n reuse-Van Gogh oor my kop hang. Ook kuns op ’n ander manier.

Unieke wyne van Maanschijn
Ons gesels die volgende oggend tydens ’n vinnige plons in die bekende Fick se getypoel oor ons eie ontdekkingsreis met die hotelgroep wat vroeër die vorige dag met kuns in ’n ander vorm begin het: by unieke wyne van Maanschijn.

Die Herbarium White en Red
Maanschijn se eienaars en wynmakers was ’n dekade gelede salig onbewus dat hul vriendskap en passie binnekort die Suid-Afrikaanse wynlandskap sou verryk.

Paul Hoogwerf en Douglas Mylrea
Douglas Mylrea en Paul Hoogwerf, vriende sedert hul skooldae en medestudente aan die Universiteit Stellenbosch, het hul vaardighede afsonderlik by gerekende plase soos De Trafford en Waterford geslyp. Daar was ook oeste oorsee, tot sover as Chile en Griekeland.

Die klein erfenisgeboutjie
Toe die klein erfenisgeboutjie op Doug se familie se plaas vakant raak, het Doug se idees op loop gegaan en toe bel hy vir Paul ... Aanvanklik maak hulle in 2016 net 25 kaste elk van Grenache Gris en Marsanne, maar dit het vinnig gelei tot die skepping van ’n amptelike etiket in 2017.
Die naam – ’n huldeblyk aan die hoogste bergpiek wat direk bokant hul kelder waak, Maanschijnkop – weerspieël die natuurlike prag van die streek. Die kelder self is beskeie: drie klein kamertjies wat dien as kantoor, pers en ’n vatekamer vir hul Herbarium-reeks.

Humor tussen die bloekombome
Tussen die bloekombome deur wink hul eie klein wingerd en daaragter die reusemeer met Stanford aan die oorkantse wal.
Hul visie is eenvoudig: om die terroir van Walker Bay in ’n bottel vas te vang. Deur gebruik te maak van druiwe uit al drie sub-streke en die unieke sandsteen-, kwarts- en kleigrond te benut, skep hulle wyne met ’n kenmerkende tekstuur en soutagtige mineraliteit. Of dit nou hul elegante Herbarium-wyne of die meer toeganklike Brunch Club-reeks is, elke sluk vertel ’n storie van vriendskap en vakmanskap.
Hul proe skop af met die Brunch Club Methode Ancestrale 2024. Daar is ook ’n Brunch Club Dry Rosé, Dry White en die Herbarium Cape White en Cape Red 2024.
Die lekker piekniek wat hulle verskaf, kan enige plek onder die bloekombome geniet word. Mens wil amper nie huis toe gaan nie, maar van die mense in die bussie wil gaan kuns kyk!
Dis skaars 16 uur later dat ons huiswaarts keer, maar ons harte en siele is vol. Ek dink onwillekeurig aan Pablo Picasso se woorde: “Die doel van kuns is om die stof van die daaglikse lewe van ons siele af te was.”
Sela.
Friedrich en Lorraine se kunsinisiatief maak ’n besoek aan die groter Kaap nie net ’n vakansie nie, maar ’n ontdekkingsreis. Hulle laat jou terugkeer huis toe met meer as foto’s van berge en wingerde – en bottels wyn!
Hulle neem stories van kunstenaars, herinneringe van kreatiewe ruimtes en ’n nuwe waardering vir Suid-Afrika se ryk kulturele landskap saam.
Kitsfeite:
- Gaste kan hierdie kuns- en ontwerptoere bespreek wanneer hulle hul verblyf reël, of dit later deur die hotel se concierge organiseer. Op hierdie manier word elke reisplan ’n persoonlike avontuur. Bespreek jou verblyf en avontuur by www.thelivingjourneycollection.com.
- One Marine Drive Boutique Hotel in Marinerylaan 1 het ook heerlike winter-wegbreek- spesiale aanbiedinge van 1 Mei tot 30 September 2026 en wie weet, miskien kan jy die walvisse van jou bed sien!
- Bespreek jou piekniek en wynproe by Maanschijn op die R43 buite Hermanus by info@maanschijn.co.za / +27 072 859 1093.
Foto’s: Clifford Roberts en The Living Journey Collection
Lees ook:
Thula thu, thula nana, thula sana ... stil word jy by Thuúla Hidden Haven

