Artfluence-menseregtefees: Die verlede vierkant in die oë

  • 0

......

Alfred Schaffer sê veral Afrikaanse bruin skrywers soos Ronelda Kamfer raak beslis kwessies aan van dinge wat in die verlede gebeur het en in die proses is hulle besig om vir hulself ’n toekoms te karteer. Hy sê die betrokke digters trek nie net aandag omdat hulle oor kwessies van herkoms skryf nie, maar omdat hulle goeie skrywers is en op die koop toe oor hierdie dinge skryf.

......

Die Sentrum vir Skeppende Kuns (Centre for the Creative Arts (CCA)) aan die Universiteit van KwaZulu-Natal het onlangs ’n gesprekreeks gehou as deel van die aanlyn Artfluence-menseregtefees.

Op Vrydag 7 Mei het die bekende radiopersoonlikhede Joanne Joseph en Eusebius McKaiser die gesprek gelei met as tema South African literature: Processing the past, writing the future.

Die tema verwys na pogings om Suid-Afrika se koloniale verlede te begryp en maniere te vind om deur middel van literatuur daarmee om te gaan. Vrae is gevra oor hoe skrywers van Afrika hierdie kwessie aanpak en die probleme waarmee hulle te kampe het om dit te bereik.

Die deelnemers was Patric Mellet, onder andere bekend vir sy omstrede boek The lie of 1652, en Alfred Schaffer, wenner van die gesogte PC Hooft-prys in 2020 en meer onlangs ook die Vlaamse Herman de Coninck-prys. Die ander deelnemers was die uitgewer Nkanyezi Tshabalala van Jonathan Ball-uitgewers en die kultuurredakteur van The New Frame, Danielle Bowler.

Milton Webber doen verslag.

Mellet sê wat hom genoop het om deur middel van sy jongste boek die geskiedenis te herskryf, is dat die bestaande geskiedenis en hoe dit aan ons oorgedra word, deurspek is van teenstrydighede. Dit roep op sy beurt bepaalde vrae op en dit het hom geprikkel om die teenstrydighede te ondersoek. Hy sê sy boek, The lie of 1652, is dus ’n produk van die ondersoek na historiese teenstrydighede. As voorbeeld noem hy dat talle skepe vóór Jan van Riebeeck die Kaap aangedoen het en dat daar eenvoudig kontak tussen Europeërs en die inheemse bevolking in die tyd moes gewees het. Mellet sê dit trek die hele idee in twyfel dat die binneland ’n ongerepte land was wat aan niemand behoort het nie, en hy moes dit deel.

Hy sê lesers moenie sy boek as ’n betroubare bron van die geskiedenis beskou nie. Dit is eerder bedoel om lesers te prikkel om self navorsing oor ons koloniale geskiedenis te doen. Hy sê hy doen veral ’n beroep op jong swart navorsers om argiewe in Nederland te bestudeer, omdat dit volgens hom nog wag om nagevors te word. “Ons is op soek na die stille swart stem om hierdie navorsing te doen,” sê hy.

Volgens Mellet doen universiteite in Suid-Afrika egter nie genoeg om ’n entoesiasme by studente te kweek nie. Hy sê universiteite leer eerder studente om dit wat hulle geleer het, weer te gee as om nuwe kennis op te doen. Mellet sê of ons dit nou wil weet of nie, ons is almal gekolonialiseer in ons denke en hy wil hê jong mense moet deur middel van sy werk geïnspireer word om vrae te vra en om die huidige denke oor die verlede omver te gooi.

......

Oor wat die toekoms vir skrywers van die Afrika-vasteland inhou, sê Schaffer dit gaan nog baie lank neem vir Afrika om oor sy koloniale verlede te kom. Hy verwys na Europese skrywers wat dekades ná die Tweede Wêreldoorlog steeds oor die trauma van die gebeure skryf.

......

Wie dink jy is jy?

Mellet is ook gevra oor die Cammissa-museum by die Kasteel in Kaapstad. Hy sê die museum put sy inspirasie uit Reg September wat gesê het iets moet gedoen word om die ruimte van die toonbeeld van kolonialisme, die Kasteel, binne te gaan om die verhaal van die inheemse tot slaafgemaakte bevolking uit te beeld. Die museum begin met die vraag: Wie dink jy is jy? Dit gaan dan verder deur te verduidelik hoe inheemse bevolkings deur kolonialisme en apartheid geklassifiseer is. Daarna word die sewe vertakkings bespreek. Dit verwys na die Cammissa-rivier, wat vandag nog onder Kaapstad vloei. Dit dien ook as metafoor vir die onderdrukte inheemse bevolking. Die museum fokus veral op mense wat in die verlede as kleurlinge geklassifiseer is, maar raak ook alle inwoners van Suid-Afrika. Die sewe vertakkings verwys dus ook na die sewe herkomste van bruin mense in Suid-Afrika.

Besoekers aan die museum word geleer hoe om hul stamboom na te spoor, hoe om jou DNS te laat ontleed en wat dit beteken. Dan is daar ’n uitstalling van invloedryke mense van kleur om te wys dat mense wat onderdruk is, steeds bo hul omstandighede kan uitstyg.

Alfred Schaffer (Foto: Izak de Vries)

Die stryd met identiteit

Alfred Schaffer het aan Joanne Joseph vertel hoe hy van die moeilikste kwessies van ons tyd deur middel van poësie verwoord. Hy vertel van sy ervaring met sy verhuising na Suid-Afrika as iemand van sogenaamde "gemengde" afkoms. Hy sê dit was aan die begin bevrydend om mense te sien wat soos hy lyk en dit het hom ook ’n gevoel van veiligheid gee. Wanneer hy egter begin praat het en mense hom begin uitvra het oor sy herkoms en hy gesê het dat hy Nederlands is, was hulle verbaas omdat hulle bepaalde idees gehad het oor wat Nederlands is. Dit het hom gedwing om sy identiteit herhaaldelik te oordink. “En natuurlik het die verband met die kolonis en gekolonialiseerde ook ter sprake gekom,” sê hy.

Schaffer sê aan die begin was sy skryfwerk vir hom dus ’n soort ontvlugting. Hy sê hy wou nie aandag gee aan kwessies van herkoms nie. Hy sê egter ná ’n verblyf terug in Nederland, wat ook intussen heelwat op politieke gebied verander het, en sedert sy terugkeer na Suid-Afrika, het hy tog die moed gekry om kwessies soos herkoms in sy skryfwerk te pak.

Joseph wou by hom weet of skrywers in Afrika wel van literatuur gebruik maak om die verlede doeltreffend te verwerk. Schaffer sê veral Afrikaanse bruin skrywers soos Ronelda Kamfer raak beslis kwessies aan van dinge wat in die verlede gebeur het en in die proses is hulle besig om vir hulself ’n toekoms te karteer. Hy sê die betrokke digters trek nie net aandag omdat hulle oor kwessies van herkoms skryf nie, maar omdat hulle goeie skrywers is en op die koop toe oor hierdie dinge skryf.

Oor wat die toekoms vir skrywers van die Afrika-vasteland inhou, sê Schaffer dit gaan nog baie lank neem vir Afrika om oor sy koloniale verlede te kom. Hy verwys na Europese skrywers wat dekades ná die Tweede Wêreldoorlog steeds oor die trauma van die gebeure skryf. Hy sê egter hy beskou dit nie as ’n probleem nie en dat dit blyk dat jong skrywers reeds met die oog op die toekoms skryf.

Verhale in jou eie taal

Op die vraag wat lesers in Afrika behoort te lees om hul eie proses van dekolonialisering teweeg te bring sê Schaffer een van die belangrikste dinge is dat lesers hul eie verhale in hul eie tale moet kan lees. Hy sê op die oomblik word die mark totaal deur Engels oorheers, maar Engels slaag nie altyd daarin om bepaalde nuanses oor te dra nie.

Wie bepaal die verlede en die toekoms?

Volgende aan die beurt was Nkanyezi Tshabalala van Jonathan Ball-uitgewers. Sy het met Joseph gepraat oor die rol van uitgewers wat moet besluit wie en wat om te publiseer met die oog op die verlede en die toekoms. Sy wou by Tshabalala weet of skrywers in Suid-Afrika inderdaad literatuur aanwend as ’n middel om die koloniale geskiedenis te verwerk. Tshabalala sê die antwoord is ja én nee. Ja, omdat daar al groot vordering gemaak is, en selfs in die afgelope paar maande is daar boeke gepubliseer wat temas oor ons koloniale geskiedenis aanroer, maar nee, omdat daar nog nie genoeg is nie.

Oor hoe groot die taak is om die verborge geskiedenis van die land en die vasteland te boekstaaf, sê Tshabalala dit is sekerlik ’n onbegonne taak, maar gelukkig is daar ander uitgewers wat dieselfde doen. Sy sê egter sy voel dat dit ’n voorreg is om in so ’n posisie te wees, omdat jy tot ’n mate ’n gaping oor die geskiedenis vul en jy die geleentheid kry om iets te publiseer waaroor jy sterk voel.

Oor waar ’n mens die verhale vind, sê Tshabalala daar is verskeie bronne. Sy sê sy bestee heelwat tyd in museums en kunsgalerye, en daar kom ’n mens interessante verhale teë deur byvoorbeeld ’n verwysing na ’n woord, ’n plek of ’n persoon, en dit sit ’n mens aan die dink. Tshabalala sê verder sy kry ook oproepe van mense wat byvoorbeeld sê hulle oupa het in die Tweede Wêreldoorlog geveg en hy het ’n dagboek gehou. Sy sê sommige verhale het die manier om jóú te vind eerder as wat jy na hulle moet gaan soek.

Tshabalala is ook gevra oor die proses om van ’n verhaal ’n kommersiële publikasie te maak. Sy sê dit gaan daaroor om ’n verhaal uit ’n interessante hoek te vertel. Sy gebruik die voorbeeld van iemand wat oor die geskiedenis van Egipte wil skryf. Maar almal doen dit. Almal weet van Toetankamen en Cleopatra, maar byna niemand weet van koningin Nefertiti nie. Dan kan die verhaal byvoorbeeld gaan oor koningin Nefertiti en die tyd waarin sy geleef het, met die geskiedenis van Egipte as agtergrond. Sy sê mense identifiseer meer met individuele ervarings in verhale – hoe meer buitengewoon, hoe beter.

Tshabalala sê ons leef in ’n tyd waarin mense vrae begin vra oor hul herkoms en sy voel die tyd is ryp om daaroor te skryf. Sy sê as lesers met ’n verhaal kan identifiseer, sal hulle dit lees. Sy sê weer dit is nou die regte tyd om oor die koloniale verlede te skryf, veral omdat daar net nie genoeg werk daaroor bestaan nie. Sy sê hoe meer mense probeer ondersoek instel na waar hulle inpas, hoe groter sal die vraag na sulke werke word.

In die laaste deel van die gesprek het Eusebius McKaiser met die redakteur Daniella Bowler gepraat oor hoe skrywers in Afrika die toekoms kan boekstaaf.

Gaping in die geskiedenis van inheemse verhale

McKaiser sê daar skyn ’n groot gebrek te wees aan inheemse verhale wat aan universiteite voorgeskryf word en hy wonder of dit wel so is of net sy waarneming.

Bowler sê as ’n mens daardie vraag wil beantwoord, moet jy die politieke sfeer betrek, want dan gaan dit oor wat in die kanon opgeneem word teenoor wat inderwaarheid geskryf is. Sy sê sy merk op dat sy telkens gekonfronteer word met die name van skrywers, maar dat sy nooit die kans kry om haar in hul werk te verdiep nie, omdat dit nie geredelik beskikbaar is nie. Die rede hiervoor, sê sy, is dat politieke en maatskaplike kragte ’n rol speel voordat ’n boek op die rak verskyn.

Volgens McKaiser speel onderwys ook ’n rol. Hy sê onderwysers en dosente moet hulself afvra: Wat het ek gedoen met my mag om te onderrig? Hy verwys na ’n keer toe ’n dosent van die Departement Politieke Wetenskap die skrywer Mandla Langa uitgenooi het en toe die Departement Engels gevra het of hulle nie ook hul studente aan “een van die land se grootste skrywers” wil blootstel nie, maar die dosente het nie geweet wie dit is nie. McKaiser sê daar word groot gewag gemaak van die verlede en die toekoms, maar hier is ’n goeie voorbeeld van die probleem in die hede.

Bowler sê dit val inderdaad op dat wanneer ’n mens praat oor Afrika-kuns en Afrika-literatuur, daar gepraat word oor die terugkeer na ’n prekoloniale verlede of ’n gesamentlike toekoms wat nog moet plaasvind, asof die hede nie bestaan nie, asof daar nie op die oomblik mense is wat Afrika-kuns en -literatuur skep nie. Sy sê egter dit maak dit duidelik wie die besluite neem oor wat die huidige kanon moet betrek. Sy sê dit gaan oor mag.

......

Op die vraag wat lesers in Afrika behoort te lees om hul eie proses van dekolonialisering teweeg te bring sê Schaffer een van die belangrikste dinge is dat lesers hul eie verhale in hul eie tale moet kan lees. Hy sê op die oomblik word die mark totaal deur Engels oorheers, maar Engels slaag nie altyd daarin om bepaalde nuanses oor te dra nie.

......

’n Kwessie van geld

McKaiser sê hy het geleer dat as jy dinge gedoen wil kry, het jy geld nodig. As ons dus ’n ander kanon vir die publiek wil hê, is daar ekonomiese hindernisse wat oorkom moet word.

Bowler sê ’n mens hoor gereeld dat mense praat van die soort literatuur wat die mark wil hê en dat skrywers onder druk kom om ’n bepaalde soort literatuur te skryf. Sy sê egter sy is baie opgewonde dat sommige skrywers weier om dit te doen en dat hulle nou self hul boeke publiseer.

Oor watter temas skrywers van Afrika moet gebruik om oor hulself te skryf in die hede met die oog op die toekoms, sê Bowler ’n mens kan heelwat leer uit die popkultuur. Sy dink ’n mens moet die popkultuur meer ernstig opneem, want ’n mens kan in die popkultuur ontdek wie jy is.

McKaiser sê hy stem saam en dat die gesprek oor die skryf oor die koloniale verlede nie net ’n diep, ernstige bespreking hoef te wees nie. Dit kan ook ’n gesprek wees waartydens ’n mens die draak steek terwyl jy ’n ingewikkelde gesprek oor die verlede voer. Bowler sê die gesprek hoef nie altyd akademies gevoer te word nie. Sy sê wat sy juis hou van popkultuur is dat jy dink jy kyk na iets wat prettig en lig is, maar dit bevat ook die sterk kragte van die geskiedenis en ook wat mense dink die toekoms dalk kan inhou.

McKaiser sê hy hoop dat die gesprek tot verdere gesprekke oor die tema sal lei.

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Artfluence Human Rights Festival, 5 May 2021: Keynote address

Press release ‒ Programme: ArtFluence Human Rights Festival

Ontvanger van P.C. Hooft-prys, Alfred Schaffer, ’n digter werksaam in die gebied tussen Afrikaans en Nederlands

Persbericht: Wie was ik van Alfred Schaffer bekroond met Herman de Coninckprijs 2021

Bespreking van poësie in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere bring werke van Schaffer in fokus

The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top