Bespreking van poësie in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere bring werke van Schaffer in fokus

  • 0

Alfred Schaffer (Foto: Izak de Vries)

Die digter Alfred Schaffer, vanjaar die ontvanger van die gesogte PC Hooft-prys vir sy oeuvre tot dusver, was vandeesmaand sowel gas as fokus van ’n digitale simposium wat die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam aangebied het, berig Willem de Vries.

Vir hierdie geleentheid, “De poëtische werelden van Zuid-Afrika, Nederland en Vlaanderen”, het Margriet van der Waal, wat die leerstoel Zuid-Afrikaanse letterkunde, cultuur en geschiedenis aan die Universiteit van Amsterdam beklee, ’n gesprek met Schaffer gevoer, waarna Yves T’Sjoen, hoogleraar in moderne Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Gent, ’n eweneens interessante bespreking gelei het waaraan Van der Waal en Schaffer tesame met die bekroonde digters Ellen Deckwitz, Peter Verhelst en Zandra Bezuidenhout, die Afrikaanse vertaler van Schaffer se bundel Mens dier ding (Human & Rousseau, 2018), deelgeneem het.

Sowel digter en vertaler as bekendsteller

Tussen Zijn opkomst in de voorstad (2000) en wie was ik (strafregels) verlede jaar het Schaffer ’n hele aantal pryse ontvang, waaronder die Jan Campert-, Awater Poëzie-, Paul Snoek- en Charlotte Köhler-prys. Hy is ook vir verskeie pryse benoem, waaronder die Herman de Coninck-prys, waarvan die wenner op 21 Maart, Wêreldpoësiedag, bekendgemaak word.

Benewens digter en literêre vertaler te wees, doseer Schaffer onder meer Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch, skryf hy vir onder meer De Groene Amsterdammer in die Lae Lande oor poësie, en lewer hy bydraes tot publikasies in Suid-Afrika, waaronder Voertaal. (Lees sy “Muchu Gustu”-rubrieke hier.) Hy is ook bloemleser, onder andere van Elisabeth Eybers en saam met Antjie Krog. Van Krog se poësie het hy in Nederlands vertaal, sowel as die werke van Ronelda Kamfer, waaronder haar jongste, Chinatown, waarmee hy pas klaar is. Gedigte van Charl-Pierre Naudé en Hilda Smits is ook in sy vertalings in Nederlands te lees.

’n Balans tussen gevestig en opkomend

Schaffer se verskeie hoedanighede, sy digter- en dosentskap en die beskouing van sy posisie tussen Nederland en Suid-Afrika is aan die hand van Van der Waal se vrae aan hom bespreek. Sy het verwys na studies wat gedoen is waaruit blyk dat pryse nie net simboliese en ekonomiese kapitaal genereer nie, maar kan funksioneer as meetinstrument vir ondersoeke na ideologiese produksie in die resepsie van literatuur.

Wat hy “miskien met ’n omweg” daaroor kan sê – hy beken dit is moeilik om van buite na sy eie werk te kyk – is dat dit hom opval dat in die laaste jare meer ruimte ontstaan om jonger digters met groter pryse te bekroon. Hy noem dat toe die VSB-poësieprys (1994) begin is, die eerste pryse gegaan het aan Hugo Claus (gebore in 1929) en na Gerrit Kouwenaar (1923), terwyl in die laaste jaar van die prys (2018) dit gegaan het aan Joost Baars (1975) en die jaar voor dit aan Hannah van Binsbergen (1993).

Hy ag hierdie tendens iets van hierdie tyd en noem dat die kortlys van vanjaar se Libris-literatuurprys ook ’n ander soort beeld van literêre talent as 20 jaar gelede gee.

Hy meen daar word miskien minder gou gesê jy moet eers meer ervaring opdoen, dat ’n bundel uit eie reg bekyk word, en noem dit ’n gunstige ontwikkeling ook om die lettere lewend te hou. Hy het wel benadruk dat dit belangrik is dat nog heel veel, ouer, groot en gevestigde name wat al langer besig is, uiteraard net soveel reg op pryse het. Syns insiens gaan dit om ’n balans, maar hy vind dit wel ’n goeie tendens.

PC Hooft-prys

Wat die toekenning van die PC Hooft-prys aan hom betref, dink hy nie dat hy ooit hieraan gewoond sal raak nie. Dit bly vir hom in die eerste plek ’n groot eer, maar terselfdertyd weet hy (nog) nie hoe hy aan die prys invulling gee nie. Veral omdat hy ook ’n dosent is en groot name en tendense uit die ontwikkeling in die Nederlandstalige literatuur in België, Nederland en gebiede daarbuite bespreek, kom ’n mens ook gou uit by name van almal wat al hierdie prys gewen het (soos Lucebert, Gerard Reve en Gerrit Kouwenaar), want hy behandel dit met die studente en “dan is dit heel bevreemdend om self nou in daardie rytjie te staan”. Hy kan hom voorstel dat Harry Mulisch minder moeite daarmee gehad het, maar hy het geen enkele oomblik gedink hy hét nou die PC Hooft-prys nie.

Verskuiwende leeservaring

Van der Waal het verwys na ’n soort verskuiwing in die lees van sy werk – vroeër is telkens opgemerk dat sy werk “konteksloos” is en dat dit moeilik is om ’n greep daarop te kry. Dit vind sy egter nie in van sy meer onlangse werk soos Mens dier ding en wie was ik nie. Mens dier ding is geïnspireer deur die roman Shaka van Thomas Mofolo en die lewe van Sjaka. Wie was ik handel oor onder meer die ervaring van sy moeder wat as verpleegster van Aruba in Nederland aangekom het. Terselfdertyd sien Van der Waal wel in hierdie bundels ’n spel met historiese verplasings, montage en vervreemdende dialoog.

Benewens die teks as sulks is ook die persoon van die digter wel deeglik belangrik, het Schaffer gesê. Die neiging om te dwaal tussen verskillende grense en gebiede, ’n soort liminaliteit, kom deur middel van die lewe self en is iets wat met hom gebeur. Hy ag dit nie iets doelbewus nie.

“Dit is nie asof ek geen konteks wil soek nie, maar ek merk ook dat dit telkens lastig is om die konteks te vind,” het hy gesê. Dit geld sy ervaring van Nederland en Suid-Afrika, want al het hy die idee om op die hoogte te wees van diskussies in Nederland en België of elders, speel die afstand tóg wel ’n rol, en dit geld ook wel vir die land waar hy tog al ’n hele tyd woon, Suid-Afrika, ’n plek wat hy tog wel goed ken. Dit het vir hom tot gevolg dat hy ’n bietjie van ’n buitestander bly.

Hoewel sy skrywerskap as brugbouend tussen Afrikaans en Nederlands gelees en bespreek kan word, ag hy dit merendeels die natuurlike gevolg van waar hy woon. Hy skryf en werk op ’n bepaalde plek, en omdat hy skryf, kom hy met mense en institusies in aanraking en dan word hy gevra om ’n bloemlesing saam te stel of met iemand saam te werk om digters te ontdek of manuskripte te redigeer, maar dit is nie doelbewus nie. Miskien met die vertalings ’n bietjie wel, het hy gesê. “Ek het met Kamfer gevoel ek wil dit heel graag laat lees deur Nederlandse lesers.”

’n Gedig uit wie was ik (om en by 34:35 in die opname) met die titel “Mijn gelooft heeft een vorm die ik met beiden handen pakken kan die ik kan ruiken en herkennen dat betekent dat ik het waarneem” het hy bestempel as ’n teks waaruit sy poëtika as digter gelees kan word.

Vir die afgelope drie bundels het hy wel gaan sóék, nie soseer iets oor sy situasie of sy eie lewe nie, maar om dit wat hy om hom heen sien, neer te pen. Dit geld vir projekte wat hy al vroeër wou aanpak en hom miskien toe meer gereed voor gevoel het.

Hy was lank reeds geïnspireer om iets te skryf na aanleiding van Shaka. Sy ma het ook baie van die verhaal gehou, dus ag hy Mens dier ding iets van ’n eerbetoon aan haar. Die verhaal oor sy ma in wie was ik gaan eweneens oor meerdere dinge en nie soseer oor haar spesifiek nie. Hy noem die onmoontlikheid van herinneringe as voorbeeld. Na sy gevoel het die ontwikkeling waarna Van der Waal verwys te make met ’n soort persoonlike groei, ’n natuurlike ontwikkeling wat iedere skrywer, kunstenaar, filmmaker deurmaak. Nadat hy onlangs deur sy vroeëre werk geblaai het, het dit hom opgeval dat dit vreemd sou wees om dit nog vandag dieselfde te lees as destyds.

Om en by die maand toe hy die PC Hooft-prys vanjaar ontvang, gaan sy versamelde gedigte uitgegee word. Hy het ’n gedig voorgelees uit wie was ik (om en by 17:16 in die opname) getiteld “Ik kan niet stoppen met lachen want als ik begon met huilen houdt ik niet meer op”, waaruit die laaste sin die titel van die versamelde werke gaan wees. Zo heb ik u lief, met as ondertitel Alle gedichten tot nu toe. Dit gaan waarskynlik in Mei by De Bezige Bij verskyn.

Omwentelinge in die Afrikaanse poësie

As hy homself as jonger digter vergelyk met dié van vandag, is dit vir hom opmerklik hoe selfstandig hulle voorkom, hoe hulle vir hulself ’n plek opeis. Hulle betree die podiums en is uitgesproke ín hul werk. Dit is iets wat hy wel as ’n bietjie van ’n verskil sien met wat in die Nederlandse taal met jong skrywers gebeur. En in sý eerste werke was hy ’n baie soekende digter. Hy beskou dit wat jonger digters in Afrikaans doen, as iets wat van ’n omwenteling in dié poësie spreek. Hy het verwys na uitgesproke feministiese tekste van byvoorbeeld Lynthia Julius, Ronelda Kamfer en nuwe narratiewe waarmee Jolyn Phillips besig is. Daar is ’n aktivistiese stem soos dié van Nathan Trantraal en nou het nuwe stemme bygekom met Ashwin Arendse en Ryan Pedro die vorige jaar, het hy op gewys. “Wat jy hier dus ook sien, is dat digters nou die woord opneem met heel goedgeskrewe poësie; dis nie, sê nou maar, inhoud gekoppel aan ’n interessante agtergrond nie, dis heel goeie dígters.”

Hy verwys na Adam Small, SV Petersen en Diana Ferrus as belangrike skakels. Die politieke bewustheid en uitgesprokenheid van byvoorbeeld Kamfer in haar laaste bundel, Chinatown, ag hy wel as iets nuuts.

Uit die eerste bundels van ’n digter soos DJ Opperman kan mens nie regstreeks aflees hoe hy dink oor verhoudings en dus persoonlike dinge nie. Selfs by Elisabeth Eybers, wat Schaffer ’n “heel grote” vind en wat met meer narratief werk en by wie ook ’n outobiografiese element is, is die een-tot-een-verhouding veel minder aanwesig as by Kamfer of by Jolyn Phillips. Dit is dus eg ’n generasieverskil, het hy benadruk.

Uitgesproke politieke werk

Nog ’n verskil met Nederland is die groot politieke lading, die uitgesproke politieke werk wat in Suid-Afrika tot stand gebring word. In Nederland kyk hy in hierdie verband na Dominique De Groen, Maarten van der Graaff, Radna Fabias en Simone Atangana Bekono. Hy wys daarop dat die gesproke-woord-tradisie in die Lae Lande sterk na die voorgrond bly tree, net soos in Suid-Afrika. Omrede die toneel in Suid-Afrika kleiner is, val dit ’n mens wel meer op. “Die aantal digters wat hiermee besig is, is eintlik hierdie generasie. Die digters wat nou ongeveer 20 is, lyk hierdie rigting in op te beweeg. Maar dit is vir seker ook so in België en Nederland.”

Kuns en pandemie

Oor of en hoe skrywers en digters vandag kreatief met die pandemie kan omgaan, sê Schaffer dit was nog nie vir hom regtig moontlik om kreatief daarop te reageer nie. Hy sien dit wel by kollegadigters, dat hulle dit doen of probeer doen en dat dit telkens nogal heel goed is. Dit is iets waarvoor hy baie bewondering het, ook omdat dit vir hom nog moeilik is. Hy vind dit ’n uitdagende tyd. Heelwat gebeur, asook heel weinig. Hy meen hierdie tyd is iets waarop die mens nie voorbereid was nie, ’n tyd van isolasie, afstomping, stilte en afstand. Dit wat ’n mens skryf, weerspieël miskien die tydsgees, gee dalk weer wat hy nou geestelik deurmaak. Maar om omvattend oor korona te skryf of oor isolasie as onderwerp, dit lyk vir hom iets te wees wat ook heel erg lastig vir die nuwe Digter des Vaderlands, Lieke Marsman, ’n briljante digter, is, het hy opgemerk.

Terselfdertyd sê hy die worsteling is ook wáárom hy skryf. As hy tevore geweet het wat uitkom, dan is dit nie vir hom interessant nie, maar dit is wel veel meer van ’n worsteling as wat hy voorsien het. Hy sê dit geld op byna elke gebied. Niemand het dit voorsien nie.

Naoorlogs

Schaffer is lid van ’n generasie wat self gelukkig geen oorlog aan die lyf ondervind het nie, maar hy is “doodgegooi met die Tweede Wêreldoorlog en evakuasie en vlugte en met angs”. Sy pa was iets in die twintigs toe die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het. Ná die Tweede Wêreldoorlog is hoogstaande literêre werke gepubliseer. Gaan dit ook met korona gebeur? Dit is eerder ’n inploffing, meen hy, en noem dit iets wat moeilik is om onder woorde te bring.

Mense probeer dit reeds verwoord en verwerk, het Deckwitz gesê. Syns insiens is hierdie soort poësie wel verskillend van wat die poësie kan doen as “kanteling van dit wat verwag word”.

Deckwitz het later in die bespreking beaam wat Schaffer gesê het oor generasies ná die Tweede Wêreldoorlog. Sy is eweneens opgevoed deur iemand wat ook die oorlog op geen aangename manier meegemaak het nie. Vir haar was dit of sy dan in twee wêrelde verkeer: dié van die oorlogservaringe, maar dan ook nuwe ervaringe. Reeds in sy vroeëre bundels gaan dit al om twee verskillende mense: die geslote mens en die mens wat jou tot groep reduseer. Sy het altyd met belangstelling gevolg hoe hy dit oplos en sonder Mens dier ding uit vir wat hy daarin reggekry het.

Erkenning en skrywerskap

In die gesprek wat T’Sjoen gelei het, het Schaffer, Deckwitz, Verhelst en Bezuidenhout met Van der Waal as T’Sjoen se medemoderator die digterswêreld van Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere met mekaar in nouer verband gebring.

Hoe beskou hulle literêre pryse? wou T’Sjoen by Verhelst, Deckwitz en Schaffer hoor.

Vir Verhelst staan dit los van die skrywende persoon. Hy ag homself vir 23 uur en 55 minute per dag ’n skrywende persoon en af en toe vir enkele minute ’n prysontvangende persoon. Dis vir hom wonderlik, maar verwyderd van wat hy eintlik doen. Hy noem dit ’n wonderlike lewe om poësie te kan skryf en sê dit is nie net ’n vorm van kyk en dink nie, dit is eg ’n vorm van lééf. Hy noem dat die pryse aan hom as digter wel ’n sekere vryheid gee en hy beskou dit as belangrik vir die sigbaarheid wat dit aan iemand verleen in hierdie tyd waarin alles so gou uit die oog verdwyn.

Deckwitz gee toe dat die erkenning haar wel meer ontroer as wat sy graag toegee. Daar sit wel ’n heel belangrike institusionele komponent daaraan, want dit verhoog jou sigbaarheid, het sy Verhelst se woorde beaam, ook dat pryse meer lesers van jou werk inhou. Pryse noem sy dan ’n “noodsaaklike kwaad”.

Die krag van poësie

Uit die gesprek met T’Sjoen blyk Schaffer ’n belangrike digter ook vir Deckwitz te wees.

Sy ag haarself trouens ’n “Alfred die-hard”. Sy was ’n paar jaar gelede verbonde aan die Universiteit Groningen as gasdosent en het daar ’n reeks lesings oor Schaffer se werk gedoseer.

Verhelst ervaar Schaffer se werk as dié van ’n talige natuurkrag. Hy vind by heel weinig skrywers daardie soort “gigantiese seggingskrag”. En hy verstaan nie heeltemal hoe Schaffer dit doen nie en ag hom as leser gelukkig, omdat dit anders saai sou kon wees. Vir Verhelst is in die jongere tekste van Schaffer ’n soort onverbondenheid met ’n groter geheel. Dit is iets wat vir hom die omgekeerde daarvan uitdruk en wonder of hierdie poësie miskien wél ontstaan uit ’n groter verbondenheid, of dan met ’n verlange na geborgenheid.

Verhelst het Schaffer se poësie dan ook betrek by sy breër beskouing van die digkuns – dit het hom altyd gefassineer hoe ’n mens jou totaal verlate kan voel deur die lees van poësie. Hy word daar nie vrolik van nie, maar wel ontsettend gelukkig. Dít is vir hom die krag van poësie: Dit hoef nie vrolik te wees nie, maar jy moet daar wel gelukkig van word, omdat dit so kragtig is en so kragtig onbegryplik word soms.

Die moontlikhede van vertaling het gereeld in die bespreking teruggekeer. T’Sjoen het Bezuidenhout gevra na haar vertaling van Mens dier ding. Vir haar het die poësie soveel misterie gehad, sy kon dit net nie los nie. Vir haar was die uitdaging om hierdie poësie in vloeiende, gemaklike idiomatiese Afrikaans om te sit. “Dit was my vertrekpunt. Ek het gedink, kan ’n mens dit só doen? Ek was so meegevoer deur die teks.”

Afrikaanse digkuns in Nederlands

Chinatown is Kamfer se vierde bundel en die vierde wat Schaffer van haar vertaal het. Hoe het hý dan hierdie vertaalwerk ervaar? het T’Sjoen gevra.

By Kamfer blyk Schaffer deurentyd bewus te wees van ’n gans ander konteks wat die digter na haar werk bring, ook in die taalgebruik. Hy het gevind dat hy gevolglik veel nader aan die bronteks bly as wanneer hy byvoorbeeld Smits of Naudé vertaal. Schaffer kon dit byvoorbeeld nie omsit in Amsterdams of dit Haags maak nie en moes dit nie laat lyk of dit byvoorbeeld afspeel in die Randstad nie. Hy benadruk dat dit afspeel op ’n heel ander plek wat ook vir talle Afrikaanse lesers ’n ander plek is. Schaffer noem dat die konteks waaruit iemand soos Kamfer skryf, nog nie soveel oor geskryf word nie. Daardeur is dit ook telkens vir lesers in Suid-Afrika ’n ander gebied. Om dit te vertaal merk hy dat hy dit, miskien ten onregte, en miskien oorkorrigerend, oorbring na Nederland. By die ómsetting kom hy as vertaler dus voor sekere kwessies te staan, maar noem dit terselfdertyd pragtig om dit nietemin te kan doen.

Afrikaans en Nederlands

Sowel Deckwitz as Verhelst was tevore gaste van die US Woordfees op Stellenbosch. Deckwitz sê sy ken die “verpligte klassieke” soos Ingrid Jonker, Antjie Krog, Elisabeth Eybers, en danksy Schaffer ook Kamfer. Die werk van Kamfer se eggenoot, Nathan Trantraal, het sy ontdek toe sy in Suid-Afrika was, ook die werk van Pieter Odendaal. Sy was daar saam met Fabias en het hom ook ontmoet. Die veel sterker politiek-gekleurde poësie in Afrikaans is iets wat sy ook by jongere Nederlandse digters begin sien en volg dit met belangstelling.

T’Sjoen noem dat Suid-Afrika figureer in drie gedigte in Verhelst se bundel Zon. Verhelst is dan ook iemand wat Suid-Afrika gereeld besoek. Hy ag sy eie kennis van Afrikaans in hierdie stadium nog embrionaal, maar ook hy ken Jonker en Krog. “Die musiek alleen al laat my hart smelt, maar ek moet dringend Afrikaans leer lees.”

Verhelst verklaar dat hy verlief is op die land. Ná twee dae moes hy toegee dat hy minstens een keer per jaar ’n maand lank daarheen wil gaan. En dit is ook al vir ’n lang tyd so, het hy gesê. Sowel hy as Deckwitz is baie onder die indruk van die natuurskoon wat hulle in Suid-Afrika teëkom. Vir haar is die berglandskap iets besonders, terwyl Verhelst op die promenade van Seepunt kan sit en kyk na die oseaan omdat dit so “fundamenteel anders is as die Noordsee”; in sy ervaring is dit ’n bulderende, enorme massa wat op jou afkom en binne vier sekonde is daar ’n atoombomontploffing. Hy beskryf dit as suiwer geluk om daaroor te kon skryf.

Deckwitz het Suid-Afrika vergelykend ervaar met dié dat sy kort voor haar besoek in Suriname was. Die eerste ding wat haar opgeval het in Stellenbosch, was die ou argitektuur en aangeplante eikebome. Sy was vir twee jaar in ’n verhouding met ’n Suid-Afrikaner, ’n Nederlandse ekspat, en hy het haar vertel dat dit ’n heel ander kultuur is as waaraan sy gewoond was. En dit het ook sy opgelet.

Die natuur het ook op haar ’n veelvlakkige indruk gemaak, ook die feit dat jy na “’n fantastiese berglandskap kan kyk en dan sien jy die sloppewyke op een van die hellinge lê, ’n aanwesigheid van ongelykheid”. Sy het verwys na enorme klasverskille in Nederland wat meer gesensureerd en in die koronatyd agter die voordeur verstop is. Dat dit in Suid-Afrika so openlik te sien is het vir haar veel dinge losgemaak, dinge om oor te skryf.

Amanda Gorman en Marieke Lucas Rijneveld

In Nederland is die nievertaling van Amanda Gorman se The hill we climb deur Marieke Lucas Rijneveld bespreek, maar in Suid-Afrika blyk die gesprek al kilometers verder te wees, het Deckwitz gesê. Schaffer het met haar daaroor saamgestem.

T’Sjoen het Schaffer gevra wat sy indruk is oor die kwessie dat Rijneveld Gorman se gedig en bundel The hill we climb nié gaan vertaal nie, nadat Janice Deul in de Volkskrant daarteen kapsie gemaak het.      

Die eerste wat by Schaffer opgekom het, is dat daar alleen maar verliese is by so ’n debat. Hy het genoem dat daar eintlik oor Rijneveld se hoof heen gedebatteer is. Dat die digter se verweer ’n gedig sou wees, het hy wel iets heel besonders gevind.

Syns insiens ontken dit nie dat die diskussie relevant is nie, maar wat hy meen wel ontbreek, aan beide kante, is nuanse. Die hele gesprek is gekaap “deur boosheid aan albei kante asof iets wag om te ontbrand”. Dit is iets wat hy ook gesien het in die bespreking rondom Zwarte Piet in Nederland. Hy ag debat sinvoller as dit mense nader aan mekaar laat beweeg. Dit gaan vir hom daaroor dat daar sistemies anders gekyk moet word na jou medemens. Aan albei kante is daar radikalisering. Hy sê dit geld vir beide kante, ook vir ’n aantal swart aktiviste. Hy het benadruk dat onversetlike stellinginnames kontraproduktief en net maar ’n kwessie van verlies is. Hy ag dit wel ’n baie belangrike gesprek wat gevoer moet word en dat mense moet bly strewe om met mekaar in gesprek te gaan.

Verhelst sê hy het van meet af aan sy bedenkinge gehad dat Rijneveld afstand gedoen het van die vertaalopdrag en bestempel dit as ’n verspilde kans. Hy mis ook die konstruktiewe gesprek tussen mense, die geweldlose kommunikasie. Alle antwoorde op alle aanvalle was nuwe aanvalle wat alleen net nog aanvalle kon veroorsaak; daarvolgens is in die afgelope jare geen enkele diskussie moontlik nie, het Verhelst gesê. Hy ag dit alleen maar gebral en sê iedereen is kwaad, dat die hele land maar vol kwaai mense is.

T’Sjoen meen die feit dat daar ’n gedig uit die polemiek sou voortvloei, miskien die beste verweer is om met die situasie om te gaan. (Lees Rijneveld se gedig in reaksie wat in die Nederlandse media verskyn het, hier, en Izak de Vries en Ingrid Glorie se bydraes op Voertaal.)

Verhelst het T’Sjoen se opsomming beaam en het gesê omdat ’n gedig van Rijneveld alleen maar uit nuanses bestaan, dit soveel te beter sal wees. Syns insiens sou dit geen regstreekse antwoord wees nie en dat dit veelkantig sou wees.

T’Sjoen het Verhelst gevra oor die moontlikheid van ’n Afrikaanse bloemlesing van sy werk. Wanneer Verhelst in Suid-Afrika is, het hy nie juis kontak met die literêre wêreld nie, buiten ’n paar mense, het hy gesê. T’Sjoen het genoem dat werk van Nachoem Wijnberg in Afrikaans vertaal is. Dit heet Liedjies. Daniel Hugo, vertaler van ’n keur uit Schaffer se poësie, Kom in, dit vries daar buite, het dit vertaal en dit sal by die uitgewery Imprimatur verskyn.

Die lesers van Afrikaanse poësie is oor die algemeen oop vir nuwe invloede en dus sal Verhelst se werk ’n welkome toevoeging wees, het Schaffer gesê. Hoewel dit ’n klein leespubliek is, is dit wel ’n baie geïnteresseerde publiek.

Die grondig ongelyke hantering van letterkunde deur die Nederlandse en Suid-Afrikaanse regerings is ook ter sprake gebring. Schaffer het genoem dat in Afrikaans daar geen gebundelde Pessoa is nie, Neruda wel. Die rykdom wat in Nederland is en die stelsels van subsidies, dít kry jy in Suid-Afrika allermins.

Groot vertaaltaak wag op Suid-Afrikaanse tale

Schaffer sê dit is fantasties dat sy werk ook in Afrikaans vertaal is, maar wat ontbreek, is ’n grootskaalse projek sodat die literatuur van die land self oor en weer vertaal word sodat ’n leser wat Zoeloesprekend is, ’n gedig van Kamfer kan lees of dat Koleka Putuma in Sotho vertaal word. Hy het wel genoem dat Krog al met ’n projek in hierdie verband begin het.

“Natuurlik is daar skrywers in Zoeloe en Sotho, Xhosa of Venda. Maar waar staan hulle in die boekwinkels?” Schaffer sê hieraan moet meer aandag bestee word.

Dit het ook nog met geld te make, het hy gesê, maar vestig die hoop op verskillende universiteite waar vertalers opleiding ontvang wat hopelik ’n verskil hieraan sal kan maak. Dit is wel anders gesteld met gesproke-woord-gebeurtenisse waarby ’n digter soos Odendaal betrokke is. Schaffer het In Zync by Stellenbosch uitgesonder, maar wat tans omrede koronabeperkings nie kan plaasvind nie. Daar hoor jy tale en dit is eg vernuwend, het hy gesê. Daar is dit Afrikaans én Zoeloe én Xhosa én Sotho. “Die deel van verhale en naasmekaar bestaan van tale sien jy nog nie soveel in die geskrewe literatuur nie. Ek snap wel dat dit lastig is, maar dit is waarheen mens moet werk.”

Watter bundel van Deckwitz meen sy sou Afrikaanse lesers in vertaling moet lees? het T’Sjoen gevra. Haar mees onlangse werk, Hogere natuurkunde, gaan oor die nawerking van die geskiedenis en traumas oor generasies heen, het sy gesê. In haar gesprekke met die studente in Suid-Afrika het sy die indruk gekry jy kan daar op herkenning daarvan reken. En hoewel herkenning sekerlik nie die doel van literatuur is nie, kan dit maniere bied om verder te gaan dink en verder te gaan skryf, het sy gesê.

Schaffer inwonende skrywer van nuwe inisiatief

Die simposium is afgesluit met ’n bekendstelling van Samespraak, ’n projek vir die transnasionale bestudering van Afrikaans- en Nederlandstalige letterkunde waaroor die stigter-voorsitter, die letterkundige Alwyn Roux, aan die woord was. Schaffer het sy steun toegesê aan hierdie aanlyn forum vir die vergelyking van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en het daartoe ingestem om die projek se eerste inwonende skrywer te wees.

Samespraak funksioneer as ’n digitale ruimte vir uitwisselings oor letterkundestudies en bied internasionale, interuniversitêre leergereedskap sonder ’n inwoonuniversiteit. In Julie 2020 het Samespraak sy bestuur gekry met lede en insette uit Suid-Afrika, België, Nederland, Kroasië, Pole en Tsjeggië.

Die eerste Samespraak-ontmoeting het op Woensdag 24 Februarie 2021 plaasgevind en T'Sjoen het die openingslesing daarvan behartig met ’n referaat oor Schaffer. Roux noem dat T’Sjoen daarin die doelstellings van die studiegroep duidelik omlyn en die talle navorsingsmoontlikhede van Schaffer se werk belig het. Martina Vitackova het gesels oor borskankernarratiewe in Afrikaanse en Nederlandse literatuur. Andries Visagie het ’n referaat oor postkoloniale benaderingsmoontlikhede van kortverhale deur Jan Rabie en Harry Mulisch gelewer.

Die volgende Samespraakbyeenkoms is op Woensdag 24 Maart en daarna op 28 April. Skrywerswerkswinkels saam met Schaffer vind plaas op Woensdag 26 Mei. Die tweede semester se program is tans nog oop.

Uitgawe van Stilet oor Schaffer

Samespraak se lede kan in 2021 hul navorsingsprojekte aan Stilet voorlê vir publikasie in ’n spesiale uitgawe wat beoog word vir 2022. Hiervoor kom verskeie soorte bydraes in aanmerking:

– Akademiese artikels wat beperk is tot die onderwerp van vergelykende transnasionale studies wat die deelnemers tydens die jaar onderneem het of ’n artikel oor die akademies kreatiewe en vertaalwerk van Schaffer en sy rol as kulturele bemiddelaar tussen Afrikaans en Nederlands.

– Ook bydraes oor die transnasionale ontvangs van Schaffer se werk in die Suid-Afrikaanse en Nederlandse taalgebied word verwelkom.

– Kreatiewe werk van gevestigde skrywers in reaksie op Schaffer se oeuvre kry ook ’n plek in Stilet. Schaffer gaan kreatiewe bydraes vir die uitgawe van Stilet lewer as deel van sy program as inwonende skrywer by Samespraak.

Stuur ’n e-pos aan Roux by samespraak@gmail.com en besoek die webwerf as jy by Samespraak betrokke wil raak.

* Om tegniese redes was Bezuidenhout se bydraes nie deurentyd hoorbaar nie. In hierdie video vertel Bezuidenhout meer van die werk aan die vertaling van Schaffer se werk: https://www.youtube.com/watch?v=A2bMEP5x4hk

Lees ook:

Ontvanger van P.C. Hooft-prys, Alfred Schaffer, ’n digter werksaam in die gebied tussen Afrikaans en Nederlands

Resensie: Mens dier ding deur Alfred Schaffer – ’n verbeeldingryke herbesoek aan Shaka/Chaka

Alfred Schaffers kijk op poëzie zal na Zuid-Afrika nooit meer hetzelfde zijn

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Ellen Deckwitz

Zuid-Afrikahuis se gespreksreeks oor Afrikaanse skrywers en boeke begin met Jolyn Phillips se Bientang

Persbericht: Boeken uit het Huis (2) ‒ Harry Kalmer

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top