Hoogleraar Margriet van der Waal bekyk geskiedenis van SA leerstoel in Amsterdam en die rol daarvan vandag

  • 0

Hoewel die geskiedenis van die Amsterdamse leerstoel in Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis vir sekere mense ’n uiting van ’n stamverwantskap bly – een wat die institusionele belangstelling vir Suid-Afrika interpreteer as ’n soeke na ’n nasionale identiteit – bied die leerstoel veel eerder die geleentheid om op Suid-Afrika te fokus – tesame met aandag vir Suid-Afrika vanuit Gent, Pole en Leiden – op die moontlikheid vir ons om krities na ons eie geskiedenis te kyk en die veelvuldige verstrengeling van die Suid-Afrikaanse ervaring waarop en deur middel waarvan kultuur gereflekteer word.

Professor Margriet van der Waal beklee die Amsterdamse leerstoel in Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis. Sy het vroeër vandeesmaand in Pinelands oor die geskiedenis van die leerstoel gesels. (Foto: Dirk Gillissen)

Só sê prof. Margriet van der Waal wat professor Ena Jansen as bekleër van die leerstoel Zuid-Afrikaanse letterkunde, cultuur en geschiedenis aan die Universiteit van Amsterdam opgevolg het.

Van der Waal het op Saterdag 3 Augustus by die Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands, ’n voorstad van Kaapstad, op uitnodiging van die Orde van den Prince in samewerking met die Van Ewijck-stigting ’n lesing oor die geskiedenis en die leerstoel in sy huidige vorm aangebied.

Die leerstoel het belangrike bande met een van die vernaamste versamelings Suid-Afrikaanse boeke buite die land, dié van die biblioteek in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

Die verhaal van twee biblioteke

Van der Waal se bespreking van die leerstoel maak ’n mens ook bewus van die verhaal van twee biblioteke en hul wedersydse kultureel verrykende programme.

Terwyl die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam ’n ruim en historiese versameling Suid-Afrikaanse boeke het en verbandhoudende programme aanbied, bied SASNEV in Kaapstad in sy Nederlandse biblioteek die grootste versameling Nederlandse werke in die suidelike halfrond en is die sentrum met sy gereelde besprekings, optredes en boekbekendstellings eweneens ’n belangrike gesels-en-doenplek vir kulturele wisselwerking en gesprek.

As kultuurwetenskaplike is Van der Waal verbonde aan die Fakulteit Lettere van die Universiteit van Groningen en sedert September 2017 beklee sy die leerstoel in Amsterdam waarvoor sy vir een dag per week na dié stad gaan.

Sy het interessant vertel van die geskiedenis van die leerstoel met verwysing na ’n onlangs verskene boek, Afrikaans in Amsterdam deur Sief Veltkamp-Visser, wat handel oor die leerstoel Afrikaanse taal- en letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam en die Suid-Afrikaanse Instituut van die periode 1932 tot 2016.

………..

“Wat die leerstoel is en wat die leerstoel doen en sou wou doen, is natuurlik nie moontlik sonder enorme institusionele steun in die vorm van die Zuid-Afrikahuis nie.” 

………..

In haar aanbieding het Van der Waal die leerstoel bekyk teen die agtergrond van veranderde kontekste aan die hand van die verskeie bekleërs oor die jare heen, onder wie Gerrit Besselaar, Elisabeth Conradie, NP Van Wyk Louw en Merwe Scholtz.

Verskeie dissiplines deel van leerstoel

Die rol en fokus van die leerstoel het met die jare verander en dit is opmerklik dat dit geskuif het van ’n literêre aanstelling na een wat aandag gee aan meer vakgebiede – naas Suid-Afrikaanse letterkunde ook die rol van verskeie kulture en die dinamieke van die geskiedenis.

Die leerstoel se fokus het dus geskuif van slegs Afrikaans na meerdere tale en kulture vanuit Suid-Afrika, asook ’n multidissiplinêre rigting oor vakrigtings heen.

As kultuurwetenskaplike betrek Van der Waal verskeie dissiplines by die werksaamhede van die leerstoel en as deel van die groter akademiese aandag in Europa aan kultuurstudies.

“Die aandag vir Suid-Afrika bied ’n kans om op soek te gaan na die oop plekke in die geskiedenis wat ons opnuut moet bekyk, die stemme wat ons nog nie goed hoor nie, en ons moet gaan luister of ons hulle miskien êrens kan vind, soos Ena Jansen gedoen het met die herinskryf van Eva Krotoa op ons verstaan van hoe ons gekom het waar ons is.

“So funksioneer die fokus op Suid-Afrika as ’n springplank om die huidige sosiale kompleksiteite van sosiale transformasie te analiseer en betekenis te kan gee.”

Eureka Barnard (links), bestuurshoof en projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Kaapstad, oorhandig Verbintenis en venster. Die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede – ’n Literatuurgeskiedenis in Afrikaans aan Wium van Zyl namens die Nederlandse Bibliotheek in SASNEV. Regs is professor Margriet van der Waal, verbonde aan die Universiteit van Groningen en die Universiteit van Amsterdam (UvA). Van der Waal het die oggend in SASNEV 'n oorsig gegee van die Suid-Afrika-leerstoel wat sy aan die UvA beklee. (Foto: Marieta Nel)


Afrikaans op verskeie plekke in Europa

Sy het ook die aandag wat gegee word aan Suid-Afrika op verskeie plekke in Europa – via Nederlands aan Afrikaans – bespreek.

Sy het veral lof vir die werk wat in Gent gedoen word.

“Gent het die fantastiese studiesentrum en die wisselstoel vir Afrikaans én organiseer ’n jaarlikse kollokwium oor Afrikaanse taal- en letterkunde. Dit is baie goed geposisioneer om aandag aan Afrikaans te gee en dit is wonderlik dat daar institusionele ondersteuning is om aan die program veel meer lyf te gee.”

………..

“Ek ag dit belangrik om nie net op die sogenaamde hoë literatuur en kunste te fokus nie, maar om die diversiteit, meerstemmigheid en die meertaligheid – nie noodwendig offisiële of erkende tale nie, maar ook in terme van verskillende registers, dialekte en so meer – in die publieke domein te erken.” 

………..

In September neem die Stellenbosse letterkundige professor Louise Viljoen by die taalkundige professor Wannie Carstens oor.

Die Universiteit van Leiden bied ook elke jaar om die beurt ’n kursus in Afrikaanse letterkunde en Afrikaanse taalkunde aan; dit word gefinansier deur die Suid-Afrikaanse Vereniging van Neerlandistiek, het Van der Waal gesê.

Professor Willie Burger van die Universiteit van Pretoria was die afgelope jaar daar om die kursus aan te bied. Carstens was verlede jaar daar om die taalkundedeel aan te bied.

Dan is daar in Pole ’n groep mense wat baie hard werk vir Afrikaans, soos Jerzy Koch en sy kollegas. Hy het ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis in Pools geskryf.”

Die eerste deel daarvan, A History of South African Literature Afrikaans Literature 17th – 19th Centuries, het in 2017 by Van Schaik verskyn. Koch het onlangs aan haar vertel dat ’n volgende deel vir die Engelse mark tans persklaar gemaak word.

“En dan is daar natuurlik ook deels as gevolg van die Suid-Afrikaanse diaspora in die buiteland maar ook op ander vakgebiede – ek dink aan die kommunikasiewetenskappe en die sosiale wetenskappe – baie belangstelling vir Suid-Afrika deur mense wat vroeër uit Suid-Afrika gekom het. Ek is self deel van daardie diaspora.”

………..

“Die leerstoel in Amsterdam is uniek in baie aspekte, maar nie die enigste plek waar iets oor Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse kulture gedoen word nie.”

………..

Aan heelwat instellings en Europese universiteite word vakke oor Suid-Afrika of oor onderwerpe wat met Suid-Afrika verband hou, bestudeer of onderrig, het sy laat blyk.

“Die leerstoel in Amsterdam is uniek in baie aspekte, maar nie die enigste plek waar iets oor Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse kulture gedoen word nie.

“Die Engelse letterkunde het dikwels verwysings na die Suid-Afrikaanse literatuur, ook na die Afrikaanse literatuur wat in Engels vertaal is. Kultuurstudies is baie geïnteresseerd in wat uit Suid-Afrika kom – films, skilderkuns en ander vorms van beeldende kunste – maar ook argitektuur en sosiologie werk dikwels met Suid-Afrikaanse onderwerpe.

“Dikwels is daar studente wat in Suid-Afrika ondersoek doen en meesters- en doktorsgraadproefskrifte en skripsies oor Suid-Afrikaanse onderwerpe publiseer. Histories is dit natuurlik nie vreemd dat daar soveel belangstelling vanuit Nederland is spesifiek vir Suid-Afrika nie.”

’n Geleidelike verandering

Histories was Nederland in wisselende mate vriendelik en onvriendelik teenoor die “verre neefs en niggies, die koloniale nasate” wat aan die suidpunt van Afrika gewoon het.

“Om die waarheid te sê, in die bronne word veral op ’n negatiewe wyse na die nakomelinge van VOC-vryboere –  ondertussen ‘Boere’ genoem – deur Nederlandse besoekers aan Suid-Afrika in die 19de eeu verwys: ‘Behalve laf, zijn zij valsch, huichelachtig, meineidig, onredelijk, ongastvrij, lui, vuil en ondankbaar.’”

Geleidelik het ’n verandering gekom in hierdie Nederlandse hooghartige houding ten opsigte van die nakomelinge van Nederlanders in Suid-Afrika.

………..

“Hoe moet ons met hierdie koloniale tyd omgaan? Hoe moet ons die koloniale tyd verstaan? Die idee van die Goue Eeu en al die welvaart?”

………..

“Dit was tot taamlik laat in die 19de eeu, maar dit het redelik vinnig verander tydens die opkoms en ontwikkeling van die Boererepublieke, die ZAR en die Vrystaat, nadat politieke spanning tussen die Boererepublieke en die Engelse ontwikkel het.

Die regering van Paul Kruger in die Zuid-Afrikaanse Republiek het ’n aansienlike aantal Nederlanders aangestel as amptenare, ingenieurs en argitekte, regsgeleerdes en onderwysers om hom te help om sy moderne staat te ontwikkel.”

Heelwat van daardie Nederlanders wat met Kruger se bemiddeling na Suid-Afrika gekom het, het voorheen in Indonesië gewerk.

Sy het vertel van baie “interessante werk wat tans gedoen word op kultuurhistoriese argitektuur om te kyk watter insigte uit Indonesië in Suid-Afrika toegepas en aangepas is en watter van daardie kennis ons byvoorbeeld nou kan gebruik om duursamer vorms van bou weer terug te bring en te ontwikkel”.

Sy noem dat die invloed van “Kruger se Hollanders” steeds merkbaar is in veral die noorde van Suid-Afrika.

“Daar is ’n interessante Nederlandse projek wat met geld van die Nederlandse ambassade gefinansier word, ‘Dutch Footsteps’, wat die Nederlandse nalatenskap in terme van argitektuur duidelik maak.

Daar is ’n pragtige boek wat ’n prys gewen het, oor In South Africa Wilhelmiens, soos die boustyl genoem word. Daar is ook ’n wandelroete wat ’n mens kan volg.

“Daar is nog geboue ook in Mpumalanga en Limpopo wat te maak het met die tyd van Kruger se Hollanders in Suid-Afrika, brûe, spoorwegpilone en duikweë, hospitale, natuurlik. En die leerstoel is ’n nalatenskap eintlik van daardie tyd.”

Duitse romantiek en nasionalisme

Die Nederlanders het by die Boere ’n soort stryd teen die Engelse gesien wat hulle beskou het as ’n vorm van geregtigheid: ’n klein nasie wat teen die onreg van ’n imperiale oorheerser veg en daarteen probeer opstaan.

Soortgelyk aan hoe die Nederlanders in daardie tyd hul eie ervaring van die stryd met die Spanjaarde vorm en betekenis gegee het.

Toe Kruger in Nederland gekom het, het hy ’n heldeontvangs gehad, met duisende mense in die straat. Hierdie gevoel van ’n noue verwantskap van Nederland met Suid-Afrikaners het in die 20ste eeu verder ontwikkel in die vorm van ’n volkbegrip wat uitgewerk is asof dit ’n bepaalde soort nasionalisme was wat sterk deur die Duitse romantiek beïnvloed is, het Van der Waal verduidelik.

Daar was die klem op ’n gedeelde taal en gedeelde historiese ervaring. Sy het dit gestel teenoor ’n meer “civitas”-gebaseerde opvatting oor nasies, wat ’n mens byvoorbeeld sterker in Frankryk en Amerika kry en wat voortvloei uit verligtingsideale, veel meer gebaseer op die naleef van ’n credo wat mense met mekaar deel, eerder as die gedeelde taal en historiese ervaring.

“Die invloed van die volkopvatting in Nederland het sterk uiting gekry in ’n bepaalde sentiment wat ’n mens ’n Dietse gevoel of Dietse kultuur kan noem.

“En hierdie Dietse gedagte het in min of meer twee vorms in Nederland bestaan: ’n ligter vorm, kom ons noem dit maar Diets lite wat ’n kultuurverwantskap tussen Nederland en Vlaandere en die Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners tot stand gebring het, so die gevoel van ons is saam iets.

“Ons Nederlanders wat Nederlands praat, Vlaandere wat ook Nederlands praat en die verre neefs en niggies in Suid-Afrika wat ’n soort Afrikaanse Hollands praat maar nog genoeg van ’n kultuurband het om deel te wees van hierdie groep.

“Maar die Dietse gedagte het ook uiting gekry, sekerlik in die jare twintig en die dertig van die 20ste eeu, in ’n swaarder, politieke vorm wat ’n politieke eenheid van die Germaanse stam voorsien het. Dit was baie sterk geïnspireer deur die fascistiese idees van Hitler. Die mense wat daardie vorm van die Dietse gedagte ondersteun het, het openlik steun gesoek by Hitler en het openlik hul steun uitgespreek vir die anneksasie van Nederland as onderdeel van ’n groter Germaanse land of eenheid.

“Vandat die gevoelens van Dietse stamverwantskap, asook die feit dat Afrikaans in 1925 as ’n amptelik taal erkenning in Suid-Afrika gekry het, ten koste natuurlik van Nederlands wat eintlik toe al deur niemand as Nederlands gepraat is nie, maar net deur ’n klein groepie mense bestudeer en geskryf is, veral hoër dele van die samelewing, is toe begin nadink oor die oprigting van ’n leerstoel vir Afrikaans en dan spesifiek Afrikaanse taal en letterkunde in Nederland om hierdie Dietse gedagte verder te kan ontwikkel en werklikheid te maak.”

Die daarstel van die leerstoel

“En dan wat verder interessant is, is hierdie idee dat die oprigting van die leerstoel ook nie eens in Amsterdam geformuleer is nie, maar in Groningen waar ek nou woon en werk.

“Ek sien baie historiese parallelle wat saamkom in my eie aanstelling. Dit was op ’n kongres in Groningen van die Dietse studenteverbond dat die voorstel vir die leerstoel geformuleer en aangeneem is, in samewerking met die Suid-Afrikaanse studentevereniging in Amsterdam.

“Eindelik, in 1933, het die stigting ter bevordering van die studie van taal, letterkunde en kultuur en geskiedenis van Suid-Afrika die leerstoel Afrikaanse taal en letterkunde ingestel. Dit is gefinansier met geld wat die Nederlandsch-Zuid-Afrikaanse Spoorwegmaatschappij beskikbaar gestel het.

“Nou ja, dié geld was ook weer een van die mooi historiese ironieë – dit was eintlik destyds as skadevergoeding ontvang van die Engelse regering nadat die Engelse die spoorlyn wat deur die spoorwegmaatschappij aangelê is aan die begin van die Suid-Afrikaanse oorlog geannekseer het. Die spoorlyn is destyds tussen tussen Pretoria en Lourenço Marques (vandag Maputo) aangelê om goud en handelsware na die hawe te kan vervoer.

“Die Engelse het met die begin van die oorlog die spoor geannekseer om Engelse goedere, soldate en so meer te vervoer en hulle het ná die oorlog skadevergoeding aan die aandeelhouers betaal. Nadat die aandeelhouers al die skadevergoeding ontvang het, was daar nog sowat een miljoen gulde oor en dit is goed belê. Daardie geld word toe betaal of gebruik om onder meer ’n leerstoel in Afrikaanse letterkunde of taalkunde te institusionaliseer.”

Eerste aanstelling             

Die eerste professor wat aangestel is, was Gerrit Besselaar, wat later ’n kernrol sou speel in die daarstel van die versameling Suid-Afrikaanse boeke wat vandag in die Zuid-Afrikahuis gehuisves word.

Hy was ’n Rotterdammer wat tussen 1903 en 1932 in Suid-Afrika gewoon het in Natal waar hy in moderne tale aan die Natal University College in Pietermaritzburg klasgegee het. Dié kollege is in 1910 opgerig. Hy was ook een van die medeoprigters van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat in 1909 tot stand gekom het.

Van der Waal vertel Besselaar se proefskrif wat hy destyds aan die Universiteit van Gent geskryf het, handel nie slegs oor Afrikaanse letterkunde nie, maar het ook bepaalde verwysings na ander tale van Suid-Afrika – iets wat interessant is vir daardie tyd se bepaalde volksbenadering en kulturele identiteit.

Maar die gedagte met die leerstoel soos hy dit uiteengesit het in sy intreerede vra aandag vir die ontwikkeling en die emosionele erkenning van Afrikaans in 1925, wat hy beskou – soos hy dit sê –  as ’n nuwe Dietse taal tienduisend kilometers verwyderd van Nederland en Vlaandere.

Hy beskryf dit as ’n sustertaal en die Dietse idee was sterk aanwesig in Besselaar se interpretasie van hoe die leerstoel ingevul moet word.

Verder het hy dit gesien as ’n soort Nederlandse plig en taak om vanuit akademiese en wetenskaplike perspektief die ondersoek na hierdie nuwe taal uit te voer en om onderwys oor die taal in ’n Nederlandse konteks te gee.

“Vandag dink ons anders oor hierdie opvattings, die taal en waar dit ontstaan het en die gesprek oor die geskiedenis en die ontstaan van Afrikaans.

“Wat vir my interessant is, is dat Besselaar begin het om boeke te versamel wat hy wou gebruik vir sy eie navorsing en studente wat by hom klasgeloop het, en hy het dus eintlik die eerste stappe gegee vir wat vandag die groot en baie betekenisvolle Suid-Afrikaanse biblioteek van die Zuid-Afrikahuis is, een van die grootste en belangrikste versamelings Suid-Afrikaanse literatuur buite Suid-Afrika.”

Afrikaans in Europa in die dertigerjare

Van der Waal vertel die belangstelling in Suid-Afrika was ook tóé nie beperk tot die Nederlande nie.

”In daardie tyd was daar ook elders in Europa belangstelling vir die ontwikkeling van Afrikaans: in Berlyn was daar in die jare dertig ’n lektoraat vir Afrikaanse taal, letterkunde en geskiedenis en ook in Londen was daar ’n Nederlandse leerstoel vir Afrikaans, en selfs in Swede is ’n handboek oor Britse koloniale letterkunde geskryf waarin ook die Afrikaanse letterkunde uitvoerig behandel is.

“Daar was in verskillende gebiede in Europa aandag aan Nederland en wat uit die Nederlandse taalgebied kom, en dan is die ontwikkeling in Suid-Afrika van Afrikaans as deel daarvan gesien.

“Pogings om Afrikaanse letterkunde in Nederland te bevorder, is ook in ander plekke vorm gegee soos in 1939 met die Kommissie vir die verspreiding van die Afrikaanse boek in Nederland wat twee keer per jaar in die blad Zuid-Afrika ’n oorsig gepubliseer het van nuwe Afrikaanse werk, wetenskaplik en literêr.”

Adriaan van Dis

“In die sestigerjare het die leerstoel vir die Universiteit van Amsterdam toenemend lastiger geword – Amsterdam was ’n baie aktivistiese universiteit – om hierdie verhouding met Suid-Afrika op die manier voort te sit.

“Daar was wel mense wat die bestudering van Afrikaanse letterkunde in Amsterdam aan die gang gehou het in die Zuid-Afrikahuis in die jare sewentig en tagtig. Ek dink aan Truida Lijphart Bezuidenhout wat klasgegee het aan Adriaan van Dis en wat dit reggekry het om by Van Dis ’n saadjie te plant wat ’n enorme boom van belangstelling geword het.

“Ek dink een van die beste ambassadeurs vir Suid-Afrika in Nederland is Adriaan van Dis. Sy belangstelling in Suid-Afrika is in heelwat van sy boeke te vind en ook in die interessante reisprogram wat hy gemaak het.”

Nuwe geesdrif

“In 1981 is die kulturele verdrag eensydig vanuit Nederland opgesê en het kontak moeiliker geword. Enkele instansies het egter steeds baie kontak met Suid-Afrika gehad, waaronder die anti-apartheidsbeweging met mense van Suid-Afrika en nie noodwendig in Suid-Afrika nie, byvoorbeeld in Lusaka en Londen.

“Daar was heelwat interkerklike kontak tussen Nederland en Suid-Afrika. En daar was organisasies soos die Nederlands-Suid-Afrikaanse Vereniging wat deels gefinansier is met geld van daardie Nederlandse spoorwegmaatskappy. Met die veranderinge in die jare tagtig en die duidelike breuk met apartheid in 1994 is daar weer klasse in Afrikaans aangebied.

“Hans Ester het daar baie belangrike werk gedoen tussen 1994 en 2000. Dit was ’n periode wat in Nederland ook gekenmerk is deur baie entoesiasme oor die vrylating van Mandela, die eerste demokratiese verkiesings, die WVK en die nuwe Grondwet. En die kultuurakkoord is selfs herstel tussen Nederland en Suid-Afrika.

“Van die einde van die jare negentig het sowel die NZAV as die universiteit weer begin praat oor die moontlikheid om die leerstoel opnuut in te stel. In 2001 het die UvA Ena Jansen benoem as hoogleraar. Sy het haar funksie tot 2016 uitgevoer toe sy op pensioen gegaan het.”

’n Breë, inklusiewe kyk op sake

Oor die werk van haar voorganger, vertel Van der Waal dat Jansen in ’n beduidende ander konteks as dié waarin die leerstoel opgerig is haar werk gedoen.

”Sy het in haar afskeidspraatjie destyds benadruk hoedat dit belangrik is om die leerstoel ’n ruimer fokus te gee as wat haar voorgangers dit gedoen het. Die voorheen Dietse benadering wat min of meer eksklusief aan die Hollands-Vlaams-Afrikaanse verhoudings aandag gegee het, het binne die leerstoel ingeruil vir ’n breë en inklusiewe kyk op sake.

“Tydens die 16 jaar wat Jansen die leerstoel ingevul het, is Afrikaans nie net as uitdrukking van Afrikanerkultuur bestudeer nie, maar ’n veel breër Suid-Afrikaanse uitgangspunt ingeneem waarin gekyk is na die Suid-Afrikaanse ervaring deur verskillende perspektiewe tot uiting te bring, nie net in letterkunde nie, maar ook in ander kuns en kultuurmediums.

“Dit is daarom ook nie verwonderlik nie dat in 2016 die leerstoel geadverteer is as ’n Suid-Afrikaanse leerstoel in literatuur, kultuur en geskiedenis.

“Wat so ’n oorsig oor die geskiedenis van die leerstoel duidelik maak, is dat daar allerhande faktore is wat inspeel op so ’n konteks: transnasionale bande, veranderende opvattings oor nasionalisme en nasionalistiese prosesse wat destyds tot ’n bepaalde soort kultuur en identiteit gelei het. Dit het verander, daar het nuwe insigte gekom, historiese prosesse word anders bekyk en anders geïnterpreteer.”

Tweede lewe vir die leerstoel

“Die idees en gedagtes oor wat om te studeer was heelwat anders in 1929, 1930 en 1931 toe die leerstoel opgerig is. Aanvanklik was die Afrikanernasionalistiese agenda vir die leerstoel beduidend. Maar ook in die leerstoel se tweede lewe, as mens dit so kan sê, vanaf 2000, is die kontekstuele invloed, alhoewel dit verander het, tog ook wel baie duidelik.

“Die politieke veranderinge in die land self en die veranderende sosiale konteks, maar ook hoe die veld van letterkunde- en kultuurstudie in Suid-Afrika en Europa self verander het, het nuwe taalhistoriese insigte en dissiplinêre veranderings meegebring. Ons fokus nie net op klassieke filologie nie – ons begin wel daar, maar doen ook allerlei vergelykende en kontekstuele ondersoeke.

“Hierdie veranderende konteks het dit duidelik gemaak dat die leerstoel weer ingestel moet word. Ons kan weer oor Suid-Afrika praat en navorsing daaroor doen.”

In breër raamwerke as die nasionale een

As voorbeeld van hierdie navorsing het sy na Jansen se navorsing oor Krotoa verwys.

“Wat sedert 2000 moontlik geword het, was om aandag te skenk aan die breër kulturele ervaring van Suid-Afrikaners in ’n breër sin, dus om ook na die ervaring van Krotoa te gaan kyk. Na die maniere wat Krotoa byvoorbeeld vorm gekry het in allerlei Suid-Afrikaanse verhale. Die idee van wie word bestudeer? Wie se ervarings word bestudeer?

“Dit gaan nie net meer oor die lokale ervaring nie, maar oor groter globale prosesse, soos migrasie, sosiale mobiliteit, kulturele oordrag en hoe dit verander in daardie proses. Maar ook neoliberale konsumentegedrag, konsumpsiegedrag en so meer wat deel word van die aandagsgebied vir Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis.

“Die nasionale raamwerk is in baie gevalle onvoldoende as ’n mens kultuur vandag wil bestudeer. Mense konsumeer en maak kultuur in breër raamwerke as die nasionale een.”

En dit is vanuit hierdie ander raamwerke en lense wat mense toenemend oor hulself en ander nadink.

Meerstemmigheid, meertaligheid

“Dit is ’n uitgangspunt wat ek ook graag onderstreep soos ek verlede jaar in Junie in my intreerede verduidelik het: ek ag dit belangrik om nie net op die sogenaamde hoë literatuur en kunste te fokus nie, maar om die diversiteit, meerstemmigheid en die meertaligheid – nie noodwendig offisiële of erkende tale nie, maar ook in terme van verskillende registers, dialekte en so meer – in die publieke domein te erken.

“Dis vir my ook belangrik om die Suid-Afrikaanse kulturele argief te beskou as ’n lewende ruimte waar belangrike politieke en maatskaplike kwessies aan die orde gestel word.

“In my ondersoek kyk ek wátter kwessies só aan die orde gestel word en hóé dit esteties aan die orde gestel word; hoe die estetiese uitdrukking van die kwessies ons tog iets anders of meer kan laat sien as wat dit byvoorbeeld gedoen word deur joernalistieke maniere van dinge vertel of historiese maniere van dinge vertel.”

400 jaar van betrekkinge tussen Nederland en SA

“Vanuit ’n Nederlandse perspektief is die leerstoel ook belangrik omdat ’n mens nie net die historiese bande met Suid-Afrika in ag neem nie, maar ook Nederland self. Die hele koloniale ervaring ... Nederland sit op die oomblik met ’n enorme openbare twispunt daaroor.

“Hoe moet ons met hierdie koloniale tyd omgaan? Hoe moet ons die koloniale tyd verstaan? Die idee van die Goue Eeu en al die welvaart?

“Die vooruitgang wat Nederland in die 17de en 18de eeu ervaar het – hoe moet ons dit vandag verstaan in verhouding met die gesprekke met mense wat byvoorbeeld die nakomelinge van slawe is? Hoe kry ons erkenning van daardie aspek van die VOC in die geskiedenis? Na wie se erfenis van slawerny moet ons kyk?

“Die groot gesprek was hoe mense gepraat het oor die Goede Hoop-tentoonstelling in 2017 in die Rijksmuseum, ’n oorsig van 400 jaar van Nederlandse betrekkinge met Suid-Afrika. Daar was heelwat kritiek vanuit Suid-Afrika en ook  van swart Nederlanders wat uitgewys het dat die verhaal steeds te veel vertel is vanuit ’n positiewe houding oor die VOC – vanuit ’n wit, Nederlandse posisie – en dat daar te min gekyk en gevra is oor andersoortige ervarings in daardie selfde tyd.”

Die rol van Zuid-Afrikahuis

Wat die leerstoel is en wat die leerstoel doen en sou wou doen, is natuurlik nie moontlik sonder enorme institusionele steun in die vorm van die Zuid-Afrikahuis nie, het Van der Waal benadruk.

“Nie net die geld wat nodig is om my een dag van die week in Amsterdam te laat werk nie – my klasse in Groningen word dan deur iemand anders gegee – maar ook as ’n fisieke plek en ruimte en as instituut waar ’n klomp personeel is en interessante gesprekke tot stand kom. Die direkteur, die programmateur, die bibliotekaris, die argivaris, die broodnodige vrywilligers wat daar saam die Zuid-Afrikahuis is, verrig elke dag baie, baie waardevolle en harde werk.”

Zuid-Afrikahuis (Foto’s: Menán van Heerden)

Sy het verwys na onlangse verbouings wat in 2016 afgerond is. Met die renovasie is die hele gebou geherstruktureer. Die organisasies wat daar was, is almal ontbind en nou is daar een stigting met ’n aantal komponente: die biblioteek, die studiefonds, ’n kwartaalblad, ’n leerstoel en argief.

“Dis vandag ’n plek waar taallesse aangebied word, daar is ’n pragtig gerenoveerde teatersaal waar ’n mens pragtige geleenthede soos hierdie kan hou. Dis ’n fassinerende, stimulerende bymekaarkomplek waar ons interessante mense binnenooi, soos onlangs met die Holland Festival, eintlik maar Nederland se Nasionale Kunstefees.

William Kentridge was daar een van die gaskuratore gewees en ons het ’n interessante middag oor Johannesburg gehad en saam met ander kunstenaars, onder andere ook die bekende choreograaf Gregory Maqoma, en historici gepraat oor Johannesburg en die stad se geskiedenis.”

Afrikaanse skrywers na Nederlande

Zuid-Afrikahuis is ook een van die finansiers van die Week van de Afrikaanse Roman en Festival voor het Afrikaans.

“Ek moet die name Ingrid Glorie en Isabelle Vermeij hier noem wat die dryfvere agter hierdie byeenkomste en festivals is. In September het ons weer ’n Week van die Afrikaanse Roman met ’n interessante en indrukwekkende groep Afrikaanse skrywers wat na Nederland kom en na Vlaandere gaan.”

Lees ook

In Afrikaanse letterkunde word ons globale verbondenheid steeds meer sigbaar, sê Margriet van der Waal

Kaapse sentrum ’n kulturele tuiste vir die Nederlandse taal en letterkunde in Suid-Afrika

’n Nuwe lente vir SASNEV

Nuwe interkulturele bande word gesmee by SASNEV

Zuid-Afrikahuis

Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top