Nota: Die film se inhoud en die bespreking daarvan mag behoudende lesers ongemaklik laat.
F*CK de liefde 2
In Engels F*CK love too
Regie deur Appie Boudellah en Aram de Rest
Te sien op Netflix
Daar is ’n rede waarom die film se naam nie in die titel van die stuk is nie. Facebook sou gemor het. Tog sou hierdie film nie die wenkbroue veel meer laat wip as ’n taamlik ordinêre Amerikaanse romkom nie, want dit is uiteindelik ’n taamlik ordinêre Nederlandse romkom.
F*CK de liefde 2 is pret en verskaf ’n aantal komiese oomblikke. Dit is egter nie iets vir die weerkyklys nie en toe ek agterkom dat dit die opvolg op iets is, het ek nie moeite gedoen om die eerste een op te spoor nie.
Die titel ten spyt, is dit hoegenaamd nie iets wat die alledaagse idee van huwelike tussen hetoroseksuele, cisgender mense uitdaag nie. Inteendeel.
Die film volg ’n aantal vriendinne en hulle aanhangsels se lewens.
Een is effens ouer, ’n ander is getroud. Nog een het ’n lieflike, langtermynvriendskap met ’n oulike knaap, maar sy skop vas as hy oor trou begin praat. Twee ander sukkel met hul verhoudings.
Wanneer die wildste een, wat bekend is vir haar sekskapades, skielik aankondig dat sy gaan trou, is almal verbaas. Twee van die vroue gaan dan op ’n laaste vakansie van vryheid saam met haar.
Intussen is die reeds getroude vriendin se huwelik in gevaar ná haar man, ’n lomperige vent, ’n seksfilmpie speel by ’n begrafnis in plaas van die huldeblyk wat opgeneem is. Ja, dis een van daardie stories.
Die lomp man word uitgeskop en hy trek in by ’n ander paartjie wat deur hulle eie probleme met mekaar gaan. Dit lei na ’n storttoneel wat baie gillery veroorsaak en gesprekke oor dick picks.
Intussen daag die drie vroue wat met vakansie is, by hulle vakansieoord op en daar kom hulle agter die plek word bestuur deur die een meisie se ou vlam. Natúúrlik – dis hoe dit werk.
Wat op die eiland volg, is voorspelbaar.
In Nederland woon die lomp man in by vriende, en dinge gaan daar ook nie goed nie.
Maar uiteindelik is die oorkoepelende idee van die film dat die liefde wel sal seëvier en dat mans met vroue moet trou.
Punt.
Daar was drie goed wat uitgestaan het:
- Die rolverdeling is veelrassig en beeld ’n Nederland uit wat nie altyd in films te sien is nie.
- Die manlike helde is sag, nie die soort met sterk kenne en harde vuiste nie. Die vroue is deurgaans die sterk karakters in die film. Dit was goed gedoen en ten minste een positiewe aspek, egter hoegenaamd nie genoeg om die film te red nie.
- Van die slapstick komedie is goed hanteer.
Uiteindelik is F*CK de liefde 2 egter nie iets om te veel woorde op te mors nie. Sit dit aan as jy lus is vir springmielies; moenie iets uitdagend verwag nie.
Sou jy ’n intelligente Nederlandse film oor die liefde wil kyk, sou ek veel liewer Anne+ voorstel.