Die negende Open Book-fees is onlangs in Kaapstad gehou met praatjies, klasse en demonstrasies by The Book Lounge, die Fugard-teater, die Distrik 6 Tuiskoms-sentrum en die A4 Workshop in die middestad. Sekere sessies is ook by verskeie biblioteke regoor die stad gehou.
Dis elke jaar merkwaardig om daar aan die voete van Tafelberg dié sessies by te woon, waar onder meer Engels, isiXhosa, Nederlands, Afrikaans, Noorweegs, Nigeries en Sweeds op die oor val; met digkuns, en gesprekke oor tersaaklike onderwerpe so wyd soos die waterskaarste in Kaapstad, klimaatsverandering, seksuele mishandeling, die letsels van apartheid, en hoe om getrou te bly aan ’n individuele kultuur maar terselftertyd ook ’n verantwoordelike wêreldburger te wees.
Vanjaar se fees het egter midde-in ’n baie emosionele week in Kaapstad plaasgevind, toe duisende mense oor drie dae singend deur die strate marsjeer het om hul misnoeë oor geweld teen vroue en kinders hoorbaar te maak. Die land het die afgelope paar weke veral swaar gebuk gegaan onder gesinsmoorde, verkragting en die ontvoering van veral vroue en kinders. Volgens polisiestatistiek waaroor die Daily Maverick onlangs berig het, word daar elke drie uur ’n vrou in Suid-Afrika vermoor.
Die doodstraf se herinstelling word deur vele geëis.
By sommige Open Book-praatjies is die sprekers se woorde uitgedoof deur die sang van betogers. ’n Swaar polisieteenwoordigheid op straat het amper weer ’n gevoel van die onderdrukte apartheidsjare opgeroep, maar soos verskeie twiets weerspieël het, was die betogers verteenwoordigend van die land se bevolking: oud en jonk; wit, swart, bruin; mans en vroue; almal het saam marsjeer.
In sommige praatjies, soos “State of Theatre” waarin die benarde situasie van Suid-Afrikaanse teater bespreek is, het die jong aktrise, Ameera Conrad, ook uitgelig dat baie aktrises die slagoffers van ouer, invloedryke mans in die teater is en seksuele teistering moet verduur. Sy het vertel dat hierdie mans die belangrike besluite in die teaterwêreld maak en aktrises uitgelewer is en onder slegte omstandighede saam met hul teisteraars moet werk, as hulle enigsins ’n inkomste uit die teater wil verdien.
Vir die afgelope vier jaar is #cocreatePOETICA – ’n vennootskap tussen Poetica en #cocreateSANL, ’n Nederlandse inisiatief, deel van die Open Book-feesprogram en bied ’n wye kykie na kultuur, identiteit en geskiedenis.
Die twee Nederlandse digters, Simone Atangana Bekono en Radna Fabias, het as deel van dié program by verskeie praatjies ingeskakel. Simone was onder meer deel van “The Mouth that bears many tongues” wat ontgin het hoe ons taal deur digkuns vind; en ook “Where is your well?” waarin digters en die publiek hul kreatiewe en terapeutiese hulpmiddels met ander kon deel.
Simone se versameling gedigte en briewe hoe de eerste vonken zichtbaar waren, het die Poëziedebuutprijs Aan Zee gewen (sy is tans besig met ’n roman). Sy en Thapelo Naked-Soul Tharaga was in gesprek met Pieter Odendaal.
Radna Fabias, Ishion Hutchinson en Toni Stuart het gesels met Uhuru Phalafala in “Crafting home” oor hoe ’n tuiste deur digkuns gevind kan word. Radna se digbundel Habitus het die C. Buddingh-, die Awater Poetry-, en die Herman de Coninck-pryse ingepalm en pas ook die Nederlandse Grand Poetry Prize. Sy is deur De Volkskrant aangewys as 2019 se Nederlandse literêre talent. Haar gedigte is al in Engels, Frans en Spaans vertaal.
Die Hollandse digter, Piet Gerbrandy, skryf in Ons Erfdeel 2018, no.3 oor Habitus die volgende: “All in all, Habitus is a profoundly political project. To this extent, Fabias fits perfectly into the new movement of young, assertive, ‘black’ poets who explicitly address major social ills such as racism and sexism. Other examples are Simone Atangana Bekono (Hoe de eerste vonken zichtbaar werden, Lebowski, 2017) and Dean Bowen (Bokman, Jurgen Maas, 2018). It was about time that these themes were addressed in Dutch-language poetry. But that is not the only reason why Habitus should be embraced and appreciated (even though this would be legitimate in itself). Rather, what transforms this poetry into great poetry is its momentum and rhythm, the wealth of its images and its nuanced vision on human existence.”
Radna was by die fees ook deel van “Where is your well?” Sy en Simone was albei deel van die “Naked Word”-sessie, waarmee vanjaar se fees afgesluit is. Radna se roerende gedig-voordrag was veral gepas teen die stormagtige agtergrond van ’n land in wanorde oor geweld teen vroue.
omdat ik van mijn moeder houd bezweer ik de herhaling vanuit mijn
afgeklemde eierstokken
mijn afgeklemde eierstokken zijn schoon
mijn afgeklemde eierstokken zijn schitterend
mijn afgeklemde eierstokken zijn vervaardigd van reactieve metalen
Gerbrandy beskryf dit as ’n skrywe oor dominante ma’s en ouma’s wat baie omgee en die belangrikheid van voortplanting benadruk, maar vir wie voorplanting dikwels baie meer hartseer as vreugde besorg.
Sy het na afloop van die fees vertel dat sy – met die groter prentjie in ag genome – soms worstel om die belangrikheid van literatuur, wat nog te sê literatuurfeeste, in te sien. “Dis onregverdig teenoor my as ’n skrywer én leser, maar dit gebeur periodiek. Sommige alledaagshede kan taal futiel laat lyk.”
Radna het voorts gesê om in Kaapstad te wees, midde-in die optogte, “die kollektiewe rou, die woede, die wye verskeidenheid maniere waarop mense wat daagliks met hierdie realiteite leef, hulself uitdruk, was baie om te verwerk. Ek het herhaaldelik gesukkel om te probeer neerskryf wat ek gesien en ervaar het.”
Sy het bygevoeg dat een lyn uit een van die digter-sessies gedurende die fees by haar bly spook het: “what’s the point?”
Die tweestryd in haar het sterk na vore gekom, toe sy erken dat terwyl hierdie gebeure haar verswelg het, sy ook steeds deur woorde gekoester en vertroos is. “Taal kan ook help om te vertroos, verstaan, blootlê en so meer”.
“Wanneer ek dan – wanneer ek voel woorde is nie heeltemal nutteloos nie en literatuur is nie belaglik nie – die wisselwerking by hierdie geleenthede as ’n noodsaaklikheid beskryf, is dit omdat dit skrywers en lesers dwing om na buite te kyk – verby die grense wat ons dalk ‘huis’ mag noem.”
“Om blootgestel te wees aan hierdie mense wat in ’n heeltemal ander konteks as ek leef, hulle stories, daaglikse realiteite en die taal en vorms wat hul uitdrukkings aanneem, is soos ’n teengif vir kortsigtigheid.“
Sy het gesê dat sy veral mal was daaroor dat dinge wat haar denke oorheers in Nederland, heeltemal hul belangrikheid hier in Suid-Afrika verloor het; dat sy voel hoe haar fokus verskuif het. “Natuurlik was die gebeure ontstellend en hartseer, maar ook pragtig en soms net bloot heerlik.”
Met die verplasing van vlugtelinge en wêreldskommelinge aan die orde van die dag, en kolonialisme steeds ’n smeulende kruitvat, wonder ek of Radna voel dat haar deelname as Nederlander, in ’n land wat vir jare ’n Nederlandse kolonie was, soort van ’n vrede-maak poging van haar kant is en of sy eerder glo dat om haar gedagtes as swart digter plaaslik te kom deel, meer persoonlik van aard is?
“Ek het nie na Suid-Afrika gekom om koloniale wonde te genees óf om vrede te maak met koloniale letsels óf om my gedagtes as ’n swart-swart-swart-dat-ons-nie-vergeet-ek-is-’n-swart-digter te kom deel nie. Ook, die skryf van persoonlike teenoor sosiale aangeleenthede. Hierdie dinge sluit mekaar nie noodwendig uit nie, of hoe?”
Sy vertel dat haar eerste besoek aan die land uit blote nuuskierigheid was. Sy het die uitnodiging om vanjaar deel te neem, aanvaar, oor die “effek wat hierdie plek en sy mense op my gehad het.”
Sy sê dit voel of hierdie plek haar in ’n ruimte van nie-weet-nie gevange hou. “Elke keer as ek dink ek het die woorde vir iets gevind, gly daardie ding buite my bereik of word bygevoeg in ’n totaal ander rigting as waarheen ek op pad was. Dit gebeur natuurlik nie net hier nie, maar ek kan nie enige ander plek onthou wat konstant hierdie effek op my gehad het nie. Nie soos hier nie.”
Sy het bygevoeg dat dit ongelooflik stimulerend én ongemaklik is, maar sy wil dit alles hê. “Is dit deel van die heling? Heel moontlik. Mens kan dit ook as selftoegediende pyn sien. Mens kan ook sê heling het pyn nodig. Mens kan so baie dinge sê ...”
“Hoe dit ookal sy: om met plekke, situasies en dinge gekonfronteer te word wat verseg om onmiddellik in taal vasgevang te word, is iets wat ek in my skryfproses wil hê. Ek glo interessante dinge kan voorspruit uit hierdie frustrasie. Ek voel ook dis goed om in ruimtes te wees wat my inspireer of forseer om stil te wees. So ek het daarvoor gekom. En ek het gekom om te luister. Ander stemme, ander tale, ander klanke.
En ook die berge. Sjoe, die berge, ek het ook daarvoor gekom.”
Ek moes vra watter rol die digkuns in haar lewe gespeel het om ongeregtigheid aan te spreek, en hoe sy voel oor Piet Gerbrandy se verwysing na haar wat “perfek inpas in die nuwe beweging van jong, selfversekerde ‘swart’ digters wat groot sosiale probleme soos rassisme en seksisme aanspreek.”
Radna sê: “Wanneer jou werk gepubliseer is, het jy min beheer oor hoe dit gelees word, watter afleidings gemaak word, of watter kategoriëe toegeken word. Ek sien ironie daarin dat ek ’n versameling geskryf het waarin ek onder meer kommer oor kategorisering uitlig (soms nie net die boek nie, maar ook ek as skrywer en soms selfs ek as mens) welke versameling self vinnig gekategoriseer is.
“Dit blyk ons is maar só bedraad. Sover dit my aangaan, is daar geen beweging nie. Dean en Simone is skrywers. Ek is ’n skrywer. Ons is kollegas. Die kleur van ons vel en die interaksie wat soms rondom sekere temas daaruit voortspruit, maak nie van ons ’n Beweging nie.”
Sy het gesê dat digkuns en literatuur in die algemeen al baie dinge vir haar beteken het. Dit het onder meer troos gebring. “Maar belangriker as dit, skryf en lees het my geleer om met komplekse en ongemaklike aangeleenthede te gaan sit; met alles wat ingewikkelde lae het, alles wat nie net een ding of die ander is nie.”
Sy het afgesluit deur te sê dat sy nie haar “huis” in digkuns gevind het nie, maar sy hou daarvan daar. “Ek is nog steeds nie seker wat dié term vir my beteken nie.”
*
Mervyn Sloman, feesdirekteur en stigter, sê hulle is verheug oor die outeurs wat vanjaar deelgeneem het, want dit het ’n uiteenlopende onderwerp-veld gedek.
“Ons het onder andere as gassprekers gehad: Ishion Hutchinson, die 2019 Windham Campbell digkunsprys-wenner; die Amerikaans-gebaseerde Morgan Parker, wat verskeie digbundels geskryf het en binnekort ’n nuwe jeugroman vrystel; en Mackenzie Berry, wat nie net ’n graad het van die First Wave Hip Hop & Urban Arts Program by die Universiteit van Wisconsin-Madison in die VSA nie, maar ook verskeie gedigte-werkswinkels regoor die land aangebied het.”
As hy ’n algehele tema aan die fees moet toeskryf, sou hy sê die temas spreek tot wat in ons gemeenskappe gebeur, maar praat ook met ons as mens.
Die staatsrede-gesprekke het gewissel van hoe politieke partye befonds moet word, tot die skakel tussen wetgewing en geregtigheid. Die outeurs wat oor hul nuutste boeke kom gesels het, was ook uiteenlopend: Mcebisi Jonas en sy boek After dawn: hope after state capture, wat die krisis in die huidige bedeling ondersoek, kyk ook na moontlike oplossings; en James-Brent Styan en Paul Vecchiato se boek The Bosasa billions wat handel oor hoe een maatskappy die staat gekaap het en belastingbetalers miljoene uit die sak gejaag het. Ons het ook vanjaar ’n sterk fokus gehad op geslag en LGBTQ-sake.
“By die universiteit is gesprekke rondom studentefondse en ’n aanvaarde roete hoe om instellings te de-koloniseer, gevoer.”
#cocreatePOETICA bied ook ’n platform vir opkomende talent en feesgangers kon eerstehands die volgende geslag rymelaars, onder die mentorskap van Primrose Mrwebi, ervaar by “Prim poetry on fire”; en ook deur Toni Stuart by die “Young voices in performance: Presenting Athlone young poets.”
Ander #cocreatePOETICA-hoogtepunte het vanjaar digkuns-joga met Linda Kaoma en Kafui Awoonor ingesluit waar woorde se vorms en narratiewe met liggaamsbewegings ondersoek is; en selfs roomys wat met digkuns gepasmaat is in AuOral Interlude met TAPI TAPI se Tapiwa Guzha en Toni Stuart.
Mervyn sê die samewerking met #cocreateSANL het hulle in staat gestel om die program van digkuns en die gesproke woord uit te brei. Vorige jare het dit ook Nederlandse en Suid-Afrikaanse kuntenaars inspireer om saam te werk en optredes te formuleer, wat geskiedenis, taal en kultuur aanspreek.
Hy glo platforms soos Open Book is noodsaaklik – nie net as vermaak en om nuwe boeke bekend te stel nie. “Daar kan nooit genoeg platforms wees om ’n liefde en belangstelling in lees, storievertel en om die wêreld waarin ons leef te ondersoek, te stimuleer nie. Ons hoop om aan te hou hiermee vir baie jare en sodoende ’n liefde vir lees onder toekomstige generasies te kweek.”
Hy hoop dat elkeen wat die fees bywoon, ervaringe en perspektiewe gedeel het, wat heeltemal anders as hul eie is, en daardeur ’n groter begrip en empatie vir daardie uiteenlopende onderwerpe en ervaringe kon kry.
Ander belangrike onderwerpe wat vanjaar onder die loep gekom het, was onder meer afwesige pa’s in “Fatherless Fathers” met Khanyiso Mabodla, Lwanda Sindaphi en Mthuthuzeli ‘Blaze’ Zimba wat met Malika Ndlovu in gesprek wees oor afwesige pa’s en wonde wat nooit genees nie. Ndimthanda Ngesingqala het dié onderwerp deur dansbewegings aangespreek.
Roerende oomblikke het paneellede en gehore tot trane gedryf in onder meer die bespreking “Grandfathers’ Shadows” tussen die kleinkinders van HF Verwoerd, die argitek van apartheid, en Nelson Mandela, die vredemaker. Wilhelm Verwoerd en Ndileka Mandela was in gesprek met John Maytham, oor hoe jy in die skaduwees van groot leiers jou eie pad moet uitkerf. Wilhelm het telkemale knop in die keel aangehoor hoe apartheid Ndileka se lewe geraak het; nie net omdat haar oupa 27 jaar daarvoor in die tronk moes boet nie, maar ook omdat hy met sy vrylating die nasie se oupa geword het en sy hom as’t ware ’n tweede maal verloor het. Hy het om verskoning gevra vir die beleid wat sy oupa ingestel het en wat dit aan haar gedoen het. Sy het hierop geantwoord dat dit nie sy oortreding was nie. “Jy kan nie pa staan vir jou oupa se besluite nie; net soos ek nie die eer van my oupa se besluite kan toe-eien nie. Ek moes my eie weg vind en my eie respek verdien.”
Gelukkig was daar ligter oomblikke ook, soos deur Lesego Tlhabi, wat deur haar alter ego, Coconut Kelz, wenke gegee het uit haar nuwe boek Coconut Kelz’s guide to surviving this shithole, oor hoe om as swart vrou meer wit te leef en sodoende ’n beter lewe in Suid-Afrika te bewerkstellig. “Ek is van 17:00 tot 20:00 ’n veganis”; “ek is ’n groot fan van die suburbs”; “gaan kyk waterpolo – al kan jy nie swem nie”; “ek is lig van kleur, amper soos ’n Italianer” was van die kwinkslae wat gehore laat skaterlag het in haar gesprek met Sara-Jayne King.
Frankie Murrey, Open Book-feeskoördineerder, sê dat hoewel daar soortgelyke feeste elders in die wêreld aangebied word, Open Book uniek is in terme van die diversiteit van die program wat aangebied word. “Die kern van dit wat ons doen, is om mense se horisonne te verbreed wanneer hulle aan boekfeeste dink. Open Book is ’n ruimte waarin mense veilig en inklusief moet voel. Dit moet opwindend wees én voel asof dit net in Kaapstad kan gebeur.”
Oor die keuse om dit in die middestad tussen The Fugard en The Book Lounge te hou, is hul sentrale ligging én hul vennootskap met die fees van kardinale belang. Die vennootskap met plaaslike biblioteke maak die fees toeganklik vir ’n groter gehoor.
Die Open Book-fees was al twee maal op die kortlys vir die London Book Fair Excellence Awards. Bykans 10 000 mense woon jaarliks die fees by. Dit is ’n platform vir Suid-Afrikaanse en internasionale skrywers met, as einddoel, ’n wyer liefde vir lees onder jongmense en interaksie en gespreksvoering tussen feesgangers.
Die fees bied ook die gewilde Comics Fest en verskeie kinder- en uitreikprogramme aan.
Die eerste fees is in 2011 gehou en is deur die eienaar van The Book Lounge, Mervyn Sloman, en Ben Williams saamgestel. Hulle het gedink aan sowat 60 literêre geleenthede wat oor vyf dae strek en sowat 15 top internasionale en van die voorste Suid-Afrikaanse outeurs sal insluit. Ben is nie meer deel van die fees nie, maar hulle kon nie voorsien dat die fees in minder as ’n dekade meer as 100 geleenthede met meer as 100 outeurs van regoor die wêreld sou insluit nie.
Oor die afgelope nege jaar het verskeie vennote en borge by die fees aangesluit, om te verseker dat die beste outeurs en sprekers die fees kan bywoon.
- Teks: Maryke Roberts
- Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook
Nederlandse digkuns gevier by Open Book Festival 2019 (Kaapstad)
Kyk hier na van die gesprekke by Open Book Festival:
Buro: MvHVideo’s: Vyf aktuele gesprekke tydens die 2019 Open Book Festival