Breyten schrijven #47: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Karen Kuhn

  • 0

Naar aanleiding van de tweede herdenking van de sterfdag van Breyten Breytenbach (1939-2024) verschijnt een gelegenheidsbundel met getuigenissen van dichters, vertalers en vorsers. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op het symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (Universiteit Gent, 26-27 november 2026).

Postumiteiten voor Breyten. Door het oog van dichters en vorsers presenteert reacties van Zuid-Afrikaanse en enkele Nederlandstalige dichters op een reeks met vragen.

Daarnaast komen vorsers aan het woord in een tweede deel. Zij spreken over hun specifieke framing van Breytenbachs werk, de accenten die ze leggen in het wetenschappelijk onderzoek. Niet alleen schrijvers en vertalers construeren hùn beelden van Breytenbachs oeuvre, ook onderzoekers dragen bij aan de (academische) beeldvorming. Zij belichten hun persoonlijke leeservaringen en geven te kennen hoe zij een aandeel hebben in de beeldvorming van Breytenbach of dus de literaire postuur, met name de “heterorepresentatie”.

Voor het herinneringsboek reageren Zuid-Afrikaanse Breytenbach-experten op een vragenlijst. Een voorlaatste gespreksgenoot in die reeks is Karen Kuhn, een van de sprekers op het congres “Inter-Breyten. Breytenbach in context”.

...
As ’n relatief nuwe ontwikkeling lê Jungiaanse literatuurteorie verbande tussen die kernbeginsels en geskrifte van Jung, en die domein van kontemporêre kulturele teorie, insluitend dekonstruksie, poststrukturalisme, postmodernisme, feminisme, lesersreaksie en postkolonialisme.
...

YT: Kun je in kort bestek een overzicht geven van het zelf ondernomen wetenschappelijk werk over facetten van Breytenbachs oeuvre? Welke framing – een benadering van literatuurwetenschappelijke, vertaalwetenschappelijke, kunstwetenschappelijke, cultuurhistorische, politiek-ideologische of biografische aard – kreeg daarbij de voorrang?

KK: Navorsing oor Breyten Breytenbach se digkuns sluit ’n PhD-verhandeling in. Die studie ondersoek die moontlikheid van ’n Jungiaanse alchemistiese interpretasie van Breyten Breytenbach se verse in die digbundel Op weg na kû (2019). Breytenbach se werke word gekenmerk deur sowel ’n diepgaande betrokkenheid by sosiale, politieke en eksistensiële temas, as ’n verkenning van spiritualiteit beïnvloed deur sy Boeddhistiese oortuigings, veral Zen-Boeddhisme. Hierdie kenmerke laat ruimte oop ook vir ’n alchemistiese Jungiaanse lens van ondersoek. Jungiaanse analitiese sielkunde stel voor dat alchemie dien as ’n simboliese brug tussen gnostisisme en moderne sielkunde, wat die transformerende reis na individuasie en die verwesenliking van die ware “Self” beklemtoon. Jungiaanse teorie beweer dat die spanning van teenoorgesteldes binne die kollektiewe onbewuste ’n argetipiese transformasie, wat noodsaaklik is vir individuasie, ’n sentrale tema in Jung se werk, kataliseer. Met parallelle tussen alchemistiese prosesse, die opus in “circulatio”, en sielkundige transformasie, verwys Jung na stappe binne die alchemie soos: “nigredo”, “albedo” en “rubedo”, wat suiwering simboliseer en wat tot die bereiking van die filosoof se klip lei – die toonbeeld van transformasie.

Die doel van die navorsing is tweërlei van aard: eerstens, om ’n Jungiaanse alchemistiese interpretasie van die verse in Breytenbach se bundel Op weg na kû te ondersoek en tweedens, die potensiële beskouing van hierdie gedigte as literêre alchemie te evalueer.

Jung se beskouing van die alchemie as verteenwoordigend van psigiese transformasie en literêre alchemie dien as teoretiese raam vir die interpretasie van die gedigte. Jungiaanse literêre kritiek, spesifiek Jung se twee essays ‘Oor die verhouding van Analitiese Sielkunde tot die poësie’ (1931) en ‘Sielkunde en Letterkunde’ (1950), wat by stiplees aansluit, word as metode gebruik vir die analisering en interpretering van die poëtiese taal, simboliek en tematiese inhoud van die verse. ’n Jungiaanse lesersreaksieteorie is ook tydens die studie verken.

YT: Zijn er onderzoeksbevindingen die je, het onderzoek overschouwend, onder de aandacht kunt brengen? Of anders gezegd: op grond van welke overwegingen kan Breytenbach een schrijver en beeldend kunstenaar van internationale allure worden genoemd?

KK: In ’n aantal verse uit die bundel Op weg na kû is alchemistiese prosesse en simboliek geïdentifiseer. Die digterlike reis kan as sinoniem met ’n alchemistiese transformasie beskou word, waarin die fases van “nigredo” (sterfte), “albedo” (geboorte) en “rubedo” (vereniging) die alchemistiese “circulatio” verteenwoordig en terselfdertyd as ’n Jungiaanse proses van transformasie geïnterpreteer kan word. Die verse word gekenmerk deur voortdurende beweging, aangesien die spreker(s) hulle in ’n voortdurende proses van ontbinding, suiwering en hereniging bevind. Die dialektiese spanning tussen ontbinding en dood (“nigredo”) en lewe, vernuwing en vereniging (“albedo” en “rubedo”) word uiteindelik in ’n kontradiktoriese eenheid versoen. Dieuroboros” dien as ’n gepaste simbool vir hierdie transformasieproses, aangesien dit die sikliese aard van die alchemistiese proses beliggaam. Die geïdentifiseerde verse dui gevolglik op ’n voortdurende Jungiaanse alchemistiese “circulatio”, waarin transformasie nie as ’n lineêre ontwikkeling nie, maar as ’n herhalende proses van wording en selfverwesenliking voorgestel word. Deur die wisselwerking tussen alchemistiese teorie en poëtiese verbeelding te ondersoek, bied hierdie proefskrif ’n Jungiaanse alchemistiese interpretasie van geselekteerde verse in Breyten Breytenbach se Op weg na kû en sodoende kan die gedigte ook as literêre alchemie beskou word.

Uroboros-tekening deur Theodoros Pelecanos, in die alchemiese traktaat Synosius (1478).

YT: Zijn er in het ruime studiegebied aspecten die tot op heden relatief weinig aandacht kregen? Zie je krachtlijnen in de benaderingen van Zuid-Afrikaanse en buitenlandse onderzoekers, in zekere mate bepaald door onderzoekparadigma’s die in het onderzoek in de loop van de tijd verschuiven of wisselen? Waarop kan het onderzoek zich nu, na het overlijden van Breytenbach, méér toeleggen?

Er worden de komende jaren veel wetenschappelijke en essayistische publicaties, wellicht ook promotieonderzoek, toegevoegd aan een inmiddels indrukwekkend corpus van beschouwende teksten (zie de bibliografieën in de huldigingsbundel voor Breytenbach Woordenaar woordnar, 2019). Zijn er richtingen die het onderzoek bij voorkeur uitgaat, al dan niet leunend op of in kritische dialoog met bestaande studies?

KK: Daar kan verwag word dat navorsing in die toekoms toenemend deur interdissiplinêre benaderings gekenmerk sal word, met die fokus dalk op teoretiese raamwerke soos Posthumanisme, Nuwe Materialisme (New Materialism), Ekokritiek, Digitale Geesteswetenskappe en Affekteorie. Breytenbach se oeuvre bied besonder vrugbare moontlikhede vir sodanige ondersoek. Benewens die feit dat sy oeuvre beide die literêre en visuele kunste omvat, word dit gekenmerk deur ’n uitsonderlike tematiese diversiteit en konseptuele veelvlakkigheid. Hierdie eienskappe maak dit besonder geskik vir navorsing wat oor dissiplinêre grense heen beweeg en verskillende teoretiese en metodologiese perspektiewe met mekaar in gesprek bring.

YT: Wanneer het onderzoekdomein omtrent het literaire en artistieke werk wordt overschouwd, welke inzichten hebben jou als onderzoeker zelf veel bijgebracht en/of hebben de studie een bepaalde richting uitgestuurd?

KK: As deel van Breytenbach se laat-verse word die bundel Op weg na kû as verteenwoordigend van die hele Breytenbach-oeuvre beskou, wat die keuse van bundel beïnvloed het. Die invloed van Zen-Boeddhisme in sowel die bundel as die hele Breytenbach-oeuvre het die ondersoek in ’n Jungiaanse alchemistiese veld geïnspireer. Die invloed van Mahajana-Boeddhisme het ’n beduidende invloed op die Oosterse alchemie gehad en vertoon heelwat ooreenkomste. Nadat Jung kennis gemaak het met Oosterse alchemie, het hy die Westerse alchemie begin studeer en sy teorie in detail verder ontwikkel. Hermetiese beginsels wat in Breytenbach se oeuvre teenwoordig is, stem ook ooreen met die alchemie wat verdere vrae aangewakker het om die moontlikheid van ’n Jungiaanse alchemistiese interpretasie van die verse in Op weg na kû te ondersoek.

’n Jungiaanse lesersreaksieteorie is ook tydens die studie verken en berus op die uitgangspunt dat die betekenis van ’n literêre teks in die wisselwerking tussen die teks en die leser tot stand kom. Vir lesersreaksiekritici is literatuur ’n ervaring in tyd, uniek in elke leeshandeling.

“As jy kan kyk sonder om ’n betekenis te projekteer, sal jy kop-aan-kop gekonfronteer word deur ’n verpersoonliking van syn” (Breytenbach 1991:79). Laasgenoemde sluit aan by die alchemistiese konsep van die verbrokkeling van die “participation mystique”. Vervulling bestaan uit die ontbinding van die deelname-mistiek (“participation mystique”). Die voorvereiste hiervoor is dat die alchemis hom nie met die figure in die werk moet vereenselwig nie, maar hulle in hul objektiewe, onpersoonlike toestand moet (probeer) laat. Wanneer daar geen bewussyn is van die verskil tussen subjek en objek nie, heers ’n onbewustelike identiteit (Jung 1967:57). Die kunswerk of teks is die instrument waardeur die transformerende verhouding tussen kyker en kunstenaar, leser en skrywer bewerkstellig en ervaar word.

Die komplekse en veelvlakkige aard van sowel Breytenbach as Jung se werke sorg vir voortdurende lees, ’n voortdurende alchemistiese proses van “circulatio”, ’n reis om elke keer iets anders te sien en te voel en te verstaan en te verleer en te verloor en te vind.

YT: Breytenbach werk is omvangrijk en uitermate veelgelaagd. Het is onmogelijk vanuit een specifiek literatuur- of kunstwetenschappelijk standpunt de (inter- en intratekstuele of intermediale) veelzijdigheid te benaderen. Zijn er invalshoeken – probleemstellingen en onderzoeksvragen – die je voor een eigen voortgezette studie overweegt?

KK: Daar is beslis ruimte vir ’n meer omvattende en verbeterde studie in dieselfde veld. Om Breytenbach se vroeër werke teenoor (meer as een bundel) van die laatwerk te ondersoek vir ’n moontlike Jungiaanse alchemistiese interpretasie en om vas te stel of die gedigte (wat oor ’n tydperk span), as literêre alchemie beskou kan word. Kontemporêre Jungiaanse literêre kritici beweeg weg van die gevestigde praktyke binne Jungiaanse studies. As ’n relatief nuwe ontwikkeling lê Jungiaanse literatuurteorie verbande tussen die kernbeginsels en geskrifte van Jung, en die domein van kontemporêre kulturele teorie, insluitend dekonstruksie, poststrukturalisme, postmodernisme, feminisme, lesersreaksie en postkolonialisme. Laasgenoemde bied moontlikhede vir verdere navorsing en die ontginning van nuwe interpretatiewe benaderings in Breytenbach se oeuvre.

YT: Breytenbachs literaire werk is vertaald in meerdere talen en wordt mede dankzij het vertaalwerk internationaal gelezen en bestudeerd. Hoe heb jezelf, als particulier lezer of toeschouwer, het werk van Breytenbach ontdekt? Hoe verliep de eerste ontmoeting, wie heeft daar als beschouwer een bepalende rol in gespeeld? Welke teksten van Breytenbach waren voorgeschreven op school of aan de universiteit? Wat heb je zelf opgenomen op de leeslijsten voor studenten, teksten waarvan zou beslist hoogte moesten nemen? En ten slotte wat het receptieproces betreft: welke titels of kunstwerken van Breytenbach beschouw je zelf als hoogtepunten van de schrijvers- en kunstenaarsloopbaan?

KK: Enkele liefdesverse is op skool behandel, maar uiteraard is bundels meer omvattend in nagraadse studies behandel, veral in Joan Hambidge se kreatiewe skryfkursus by UK. Ek bied op die oomblik Afrikaanse letterkunde aan vir nagraadse studente wat ’n meestersgraad in Neerlandistiek doen hier in Poznań, Pole. Breytenbach as openbare figuur word behandel met ’n aantal verse wat strek van sy debuut tot en met die laatwerk. Daar word ook na sy visuele kuns gekyk. Aan die einde van die siklus word Breytenbach se verse teenoor die Engelse, Nederlandse en nou ook met Jerzy Koch se Poolse vertalings Breyten Breytenbach Ciało wędrowne. Breyten Breytenbach Reisende liggaam (2018) beskou, wat sorg vir ’n verrykende ervaring.

Persoonlik lê Breytenbach se bundel Op weg na kû my besonder na aan die hart. Sy debuutbundel roep egter steeds die opwinding op van ’n eerste kennismaking met die veelvlakkige wêrelde, emosionele intensiteit en klankrykheid wat sy Afrikaanse poësie so eie maak. Notes from the Middle World (2009), Soos die so (1990) en  Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993) is werke wat veral uitstaan.

Bronne

Breytenbach, B. 1991. Hart-lam. ’n Leerboek. Emmarentia: Taurus.

Jung, C.G. 1967. The Collected Works of C.G. Jung Volume 13 –Alchemical Studies. Bollingen Series. (Edited and Translated by Gerhard Adler & Richard F.C. Hull.) Princeton: Princeton University Press.

Pelecanos, T. 1487. Synosius.

https://gallica.bnf.fr/ark:/12148/btv1b10723905w/f202.item (geraadpleeg: 4 Mrt. 2023).

Lees ook:

Breyten schrijven #46: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters. Conversatie met Dominique Botha

Breyten schrijven #45: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Andries Visagie

Breyten schrijven #44: De onburger van Breyten Breytenbach

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top