Alwyn Roux is genooi om Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Leiden te doseer. Hy het vir Yves T’Sjoen genader om saam met hom aan die kursusmateriaal te werk.
Hulle fokus op die konsep repliek. Alwyn skryf ’n brief wat die lesingmateriaal vir die studente bevat, waarop Yves dan repliek lewer. Die studente kry beide stukke, waaroor hulle dan op hulle beurt moet antwoord as deel van hul opdragte.

Alwyn Roux en Yves T’Sjoen
Brief 1
Beste Yves
Ongeveer ’n maand gelede het die derde deel van ons referaat, getiteld “Wonderlijke historiën. Naar een transculturele en meertalige literatuurgeschiedschrijving”, soos aangebied by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se jaarlikse simposium, op die webblad Neerlandistiek se katern Mondiaal verskyn. In hierdie referaat word voelers uitgesteek na die wyse waarop ’n literatuurgeskiedenis as kontakgeskiedenis tussen Afrikaans en Nederlands daar kan uitsien, ’n projek waaraan jy baie tyd spandeer het gedurende jou ondersoekverblyf by STIAS in 2024. Hierdie werk lê ten grondslag van die uiteensetting van my lesingsreeks wat ek gedurende my sabbatsverlof aan die Universiteit Leiden, getiteld Afrikaanse literatuur en de Lage Landen: Van de Dertigers tot hedendaagse stemmen, van 6 Februarie tot 2 Mei 2025 sal aanbied.
Die vertrekpunt vir die lesingreeks is die woord “repliek”, wat ’n antwoord op ’n skryfstuk veronderstel. Die idee is om telkens ’n brief in Afrikaans aan jou te rig oor elkeen van die betrokke skrywers wat behandel word, wat jy dan in Nederlands beantwoord. Op hierdie wyse gaan ons in dialoog, wat kontak op interlinguale vlak (Afrikaans-Nederlands) bewerkstelling en transsistemies (tussen Afrikaanse en Nederlandstalige literêre sisteme) is, bewerkstellig. Die uiteensetting van die studiemateriaal vir die Leiden-lesingreeks sien soos volg daar uit:
6 Februarie: Inleiding tot die kursus
13 Februarie: In gesprek met Yves T’Sjoen (Universiteit Gent): teoretiese vertrekpunte vir ’n kontakgeskiedenis
20 Februarie: Elisabeth Eybers, Ernst van Heerden en NP van Wyk Louw
27 Februarie: Breyten Breytenbach:
6 Maart: Ingrid Jonker en Adam Small
13 Maart: Antjie Krog en Marlene van Niekerk
20 Maart: DW B-vertalings: In gesprek met Alfred Schaffer (Het literair-culturele tijdschrift Dietsche Warande & Belfort.)
3 April: Geen lesings
10 April: DW B-vertalings: Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Pieter Odendaal en Danie Marais
17 April: DW B-vertalings: Bibi Slippers, Lynthia Julius, Klara du Plessis en Tom Dreyer
24 April: Aanbiedings van groepwerk
2 Mei: Teams-ontmoeting (terugvoer)