Wannie Carstens en Nerina Bosman ontvang erelidmaatskap van die SAVN. (Foto: Alwyn Roux)
Dit is met groot eer en vreugde dat ons vandag ook vir Nerina Bosman vereer met die toekenning van erelidmaatskap van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek. Haar bydraes tot die veld van Neerlandistiek, sowel as haar toewyding aan die bevordering van die Nederlandse taal en kultuur binne die Suid-Afrikaanse konteks maak haar ’n waardige ontvanger van hierdie eer.
Nerina se akademiese loopbaan is merkwaardig. Buiten die vier grade wat sy aan universiteite in Suid-Afrika verdien het, het sy ook ’n licentiaat in Germaanse Filologie aan die Rijksuniversiteit Gent in België voltooi, wat haar grondig voorberei het vir haar lewenslange betrokkenheid by die studie van Germaanse tale, spesifiek Nederlands en Afrikaans. Haar navorsing dek talle taalkundige terreine, van leksikologie en semantiek tot toegepaste linguistiek en sosiolinguistiek, met ’n besondere klem op die raakpunte tussen Nederlands en Afrikaans. Tans is Nerina in die top-15 van die mees produktiewe publiserende Afrikaanse taalkundiges in die wêreld. Dit is ’n bewys van haar belangrike bydrae tot die veld en haar onwrikbare toewyding aan akademiese uitnemendheid. Haar artikels en publikasies, wat Nederlandse en Afrikaanse temas ondersoek, het ’n blywende impak gemaak op die studie van beide tale. Haar werk oor die konsep van woede in Afrikaanse en Nederlandse idiome, sowel as haar ondersoeke na die leksikale en semantiese ooreenkomste tussen die twee tale is van besondere belang.
As gasdosent aan die Universiteit Leiden in Nederland het Bosman haar kennis en passie vir Afrikaanse taalkunde gedeel, wat ’n waardevolle brug gebou het tussen die Nederlandse en Suid-Afrikaanse akademiese gemeenskappe.
Die uittredende bestuur van die SAVN wil graag vir Nerina erkenning gee vir die belangrike en veral konkrete bydraes wat sy tot Neerlandistiek in Suid-Afrika gemaak het. As medebestuurslede kon ons vanuit ’n intieme ruimte haar erns, werkywer en entoesiasme beleef en toelaat dat dit ons ook inspireer om net al hoe meer te doen en al hoe harder te werk. Sy is altyd bereid om die harde werk te doen. Ons het dit gesien in haar voorsitterstermyn waar sy bestaande projekte in stand gehou het en nuwe projekte soos die Neerlandistiek-wisselleerstoel prakties beplan en laat werk het.
Deur haar betrokkenheid het ons veral die afgelope 10 jaar hegter bande gebou in die Neerlandistiek-netwerk van Suider-Afrika en met die verskillende organisasies wat by die SAVN betrokke is, soos die Taalunie, die IVN en die Belgiese en Nederlandse verteenwoordiging in Suid-Afrika. Sy het ook leiding gegee aan haar jonger kollegas (iets waarmee sy steeds nog baie besig is) en uit ’n persoonlike perspektief kan ek maar net getuig van die wesenlike bydrae wat Nerina tot my eie loopbaan en betrokkenheid by die Neerlandistiek in Suid-Afrika gemaak het.
Dit is dus met groot waardering en trots dat ons hierdie erelidmaatskap aan Nerina Bosman toeken. Mag sy voortgaan om haar merk te maak in die veld van Neerlandistiek en om ons almal te inspireer met haar kennis, passie en toewyding.