Wannie Carstens en Nerina Bosman ontvang erelidmaatskap van die SAVN. (Foto: Alwyn Roux)
Wannie Carstens is ’n baie bekende en gewaardeerde ondersteuner van die Neerlandistiek in Suider-Afrika. Meer nog: Hy het as akademikus (veral sover dit die lang en soms ingewikkelde maar altyd interessante storie van Afrikaans aangaan) ’n vanselfsprekende vakkundige nuuskierigheid betreffende die hedendaagse belang van Nederlands vir Afrikaans. Hiervan getuig die baie raakpunte tussen Prof Wannie, soos wat sy studente en oudstudente hom noem, die Neerlandistiek en die groter netwerke van samewerking wat deur sy inisiatief of meewerking van stapel gestuur is.
Die veelkantigheid van Carstens se bydrae as akademikus moet nie uit die oog verloor word nie, want soos ons almal weet: Die Neerlandistiek en die bestudering van Afrikaanse taal en letterkunde gaan hand aan hand.
Hoogtepunte in sy akademiese loopbaan is ongetwyfeld die boeke wat hy geskryf het of waarvan hy redakteur was – boeke wat dikwels ’n rigting ingeslaan het wat nie bekend was nie of wat ’n besliste leemte gevul het. Ek dink hier veral aan Norme vir Afrikaans (1989, 2018, 6de uitgawe), Afrikaanse Tekslinguistiek (1997), Teksredaksie (2010) en Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014, 2023, 3de uitgawe). Sy tweedelige Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika (2017, deel 1; 2019, deel 2) verbind die Europese en Afrika-stories – en sy nuwe boek (titel nog nie bekend nie) sal ongetwyfeld ook nog hierdie venster op Europa blink gepoets hou.
Vanweë sy belangstelling in die Neerlandistiek in die jare nadat die poorte weer oopgegaan het vir Afrikaans in die Lae Lande, was hy ’n bekende gesig by SAVN-kongresse en IVN Colloquia sedert 1992.
Hy is iemand wat met onverdrote ywer deure (en vensters) vir kollegas en studente oopgemaak het – hier te lande maar ook in die Lae Lande. Ek noem net ’n paar voorbeelde: die leerstoel in Gent by die Sentrum vir Suid-Afrikastudies (saam met Yves T’Sjoen); die gasdosentskap in Leiden is vir dosente veral besonder waardevol. So ook die ooreenkoms tussen die NWU en Universiteit Antwerpen.
Tydens sy voorsitterskap van die SAAWK het hy in 2013 ’n formele vennootskap met die Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal en Letteren (KANTL) aangegaan om navorsing oor Afrikaanse en Nederlandse taal en letterkunde internasionaal te bevorder.
Hy het bande met instansies soos die Meertens Instituut, die Taalunie, die IVN, die Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen (KNAW), die Instituut voor de Nederlandse Taal (INT), die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde (MNL) en die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (DBNL) – ’n webwerf wat gelei het tot die totstandkoming van DBAT en DBAL.
Ek noem nou nog glad nie al sy werk agter die skerms wat tot groot voordeel gestrek het en gelei het tot die wedersydse kruisbestuiwing tussen Afrikaanse taal en letterkunde en die Neerlandistiek nie. Hy was dikwels ’n stille werker agter die skerms en ons kon die vrugte pluk – hiervan kan menige student en kollega getuig.
Wat sy werk as dosent betref: Hy het etlike kere as gasdosent in Afrikaanse taalkunde aan universiteite in Europa opgetree, onder meer aan die Universiteit Antwerpen (verskeie kere sedert 2006), die Universiteit Leiden (2018) en aan die Universiteit Gent (ook 2018) as tweede bekleër van die leerstoel Zuid-Afrika: Talen, literaturen, cultuur en maatschappij. In 2019 het hy op versoek van Europese lede van die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) etlike universiteite in Switserland, Duitsland, Oostenryk, Kroasië en Serwië besoek om as gasdosent lesings oor Afrikaans aan hierdie instellings te gee. Hy is ook ’n inisieerder van die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) – ’n inisiatief wat ten doel het die internasionale bevordering van Afrikaans – en die Festival voor het Afrikaans in die Lae Lande. Tydens besoeke aan die VSA het hy by verskeie universiteite (Santa Barbara, UCLA, Las Vegas, Austin in Texas, Penn State University, asook die Chapel Hill-kampus van die Universiteit van North Carolina) gaslesings aangebied.
Wannie, ons bied met groot waardering die erelidmaatskap van die SAVN aan as blyk van ons agting en geneentheid.
Ons weet u gaan nog nie stilsit nie – die volgende projek, ProVARIA, loop al klaar!
Maar voorlopig sê ons tot weersiens en mooi loop!
Lees ook:
Tweespraak met Wannie Carstens #1: Vraaggesprek ter gelegenheid van de Jan H Maraisprys 2024
Tweespraak met Wannie Carstens #2: Vraaggesprek ter gelegenheid van de Jan H Maraisprys 2024