COVID-19 skep ’n “kode swart” in hospitale

  • 0
COVID-19-besmettings wek kommer

Die getal mense wat positief toets vir die koronavirus in die Lae Lande bly styg en neem kommerwekkende vlakke aan. In Nederland is daar Saterdag 12 000 mense positief vir COVID-19 getoets – die hoogste getal positiewe toetse in een dag vanjaar. Volgens die jongste syfers deur die RIVM is op die oomblik 1 247 pasiënte in hospitale wat vir COVID-19 behandel word en daar word gemiddeld elke dag 152 mense met COVID-19 opgeneem. In België lyk sake nog erger, met 2 071 pasiënte met COVID-19 wat in hospitale lê – 418 word tans in die waakeenheid behandel. Volgens die Belgiese gesondheidsdiens Sciensano is die besmettings egter wel besig om af te plat. 75% van Belge is volledig ingeënt; in Nederland is dit 84%. Albei lande het ook onlangs weer hul inperkingsmaatreëls verskerp. So is maskers weer in openbare ruimtes in Nederland en België verplig en mense wat restaurante besoek of konserte bywoon, moet met die koronapas bewys dat hulle óf volledig ingeënt is óf herstel het, of dat hulle onlangs negatief getoets het.

Intussen het hospitale in die provinsie Limburg in Nederland gewaarsku dat hulle nie meer die toestroming van COVID-19-pasiënte kan hanteer nie. “We stevenen rechtstreeks af op een zorginfarct en het hele systeem loopt vast.” Die hospitale praat van ’n “kode swart”-situasie op plaaslike vlak wat binnekort na die res van die land sal uitbrei.

Intussen berig die NOS dat daar ’n “explosieve toename” in afsprake vir toetse gemaak is. Altesaam 75 000 afsprake is vir Dinsdag gemaak en daar kom elke minuut tussen 200 en 300 nuwe afsprake by. "Deze explosieve toename overstijgt alle verwachtingen, en de Gemeentelijke [munisipale] Gezondheidsdiensten zetten alle zeilen bij om aan de enorme testvraag te voldoen," sê die GGD. Apteke en drogisterye berig ook dat hulle selftoetsstelle byna uitverkoop is.

Intussen is alle groot byeenkomste in Limburg – soos die bekende en soms berugte karnaval – voorlopig afgelas.

Voëlgriep teister Nederlandse pluimveebedryf

’n Ander virus is ook besig om in Nederland onder sy slagoffers te maai. In Lutjegast in die provinsie Groningen is gister die sewende geval van voëlgriep die afgelope maand in Nederland vasgestel, berig nu.nl. Sedert die eerste geval is al byna 200 000 hoenders en 30 000 eende van kant gemaak. Kort nadat die eerste geval in Zeewolde op 28 Oktober aangemeld is, is ’n landwye ophokbevel van krag. Die meeste hoenders wat geraak word, is lêhoenders, en tot ’n mindere mate vleiseende. Omdat daar ook ander pluimveebedrywe in die omgewing van Lutjesgast geleë is, mag diere ook nie daarheen  of daarvandaan vervoer word nie. “Een vervoersverbod heeft betrekking op alle vogels en broed- en consumptie-eieren vanaf een locatie met vogels,” skryf die ministerie van landbou, natuur en voedselkwaliteit (LNV) in ’n verklaring.

Einde aan finansiering van fossielbrandstofprojekte

Nederland het beloof om beleggings in buitelandse fossielbrandstofprojekte te staak en hom aan te sluit by ’n groep lande wat by die klimaatspitsberaad in Glasgow, Skotland, beloof het om binne ’n jaar owerheidsteun buite landsgrense aan fossielbrandstofprojekte te staak. Die demissionêre kabinet het aanvanklik gesê dit sou ’n besluit vir ’n volgende kabinet wees – ’n reaksie wat verontwaardiging by omgewingsorganisasies en politieke partye uitgelok het. Die VSA, Brittanje en die Europese Beleggingsbank het vroeër al die ooreenkoms onderteken. Nederlandse beleggings in fossielbrandstofprojekte in 2020 het sowat €4,5 miljard (R80 miljard) beloop. Die partye GroenLinks, D66 en de Partij voor de Dieren het hul tevredenheid met die demissionêre kabinet se besluit uitgespreek. Dit is nog onduidelik wat die onmiddellike gevolge van die besluit sal wees, maar dit is volgens demissionêre minister-president Mark Rutte ’n stap in die regte rigting.

Sinterklaas kom wel aan in Antwerpen ondanks korona

Die Sint, soos hy in België bekend staan, kom wel Saterdag 13 November soos gewoonlik tydens ’n massabyeenkoms in Antwerpen aan. Verlede jaar moes Vlaamse kinders tevrede wees om die Sint se aankoms op televisie te kyk, weens die inperkingsmaatreëls wat toe in België gegeld het. Tydens vanjaar se aankoms sal daar egter steeds ’n paar inperkingsmaatreëls geld. Die Piete wat naby die publiek kom, sal maskers dra en die Sint sal nie sy hand aan mense gee nie. Mense se koronapasse sal ook nagegaan word. Die stoomboot uit Spanje word teen 13:45 in Antwerpen verwag.

Kersmark bly in die slag

’n Byeenkoms wat egter weer nie vanjaar voortgaan nie, is die Lierse Kersmark, berig VRTNWS. Die Kersmark sou van 10 tot 12 Desember gehou word. Die organiseerders sê egter met die huidige verskerpte koronamaatreëls is dit onmoontlik om so ’n geleentheid te organiseer. Die Kersmark trek normaal gesproke tienduisende besoekers wat oor en weer tussen die verskillende stalletjies beweeg. Met die versoepelinge in die koronamaatreëls wat in September en Oktober ingevoer is, het die organiseerders in alle erns met die organisering van die geleentheid begin, maar nou gaan dit weer nie gehou word nie. “Een begeleide en gecontroleerde publieksstroom, een mondmaskerplicht, een CST-regeling, het bewaren van een veilige afstand … Dan wordt het erg moeilijk om het georganiseerd te krijgen,” sê die voorsitter van die organiseerder, De Gilde Heren van Lier. Burgemeester Frank Boogaerts sê: “Het is geen leuk nieuws om te vernemen, maar ik heb alle begrip voor deze terechte beslissing.” Sommige Twittergebruikers het egter nie soveel begrip nie:

Nederlandse koningspaar in Noorweë

Koning Willem-Alexander en koningin Máxima het Dinsdagoggend vir ’n driedaagse staatsbesoek in Noorweë aangekom. Net soos met Duitsland in Julie vanjaar, het daar hierdie keer ook geen handelsafvaardiging die koninklike egpaar vergesel nie. Die besoek was op uitnodiging van die Noorse koning Harald V, berig nu.nl. Die staatsbesoek, wat al vir verlede jaar beplan is, handel oor klimaatsverandering, samewerking, transformasie van die energiesektor en volhoubaarheid. Die besoek het in Oslo afgeskop, waar die Koning en Koningin deur koning Harald V en koningin Sonja by die koninklike paleis ontvang word. Koning Willem-Alexander sal later ’n krans by die nasionale monument lê. Die twee konings sal later tydens ’n staatsbanket ’n toespraak hou. Die Nederlandse koninklike egpaar sal ook ’n besoek bring aan ’n omgewingsvriendelike seewierkweekhuis wat elektrisiteit opwek. Demissionêre minister van buitelandse sake, Ben Knapen, vergesel die egpaar tydens die staatsbesoek.

Eerste Raad van State-vergadering vir kroonprinses Amalia

Kroonprinses Amalia sal op 8 Desember, ’n dag ná haar 18de verjaardag, haar eerste vergadering van die Raad van State in die Paleis Kneuterdijk bywoon. Sy sal hier deur haar pa, koning Willem-Alexander, vergesel word. Prinses Amalia sal tydens haar bywoning van die sitting kennis opdoen oor wetgewing en staatsreg, asook haar rol as toekomstige koningin. Die prinses sal tydens haar eerste vergadering ’n kort toespraak hou en na afloop daarvan ’n koningslinde in die Franse tuin van die paleis plant.

Meer erkenning vir Jacques Brel in België

Sowat 100 liefhebbers van Jacques Brel het ’n versoekskrif onderteken om meer erkenning vir die sanger in Vlaandere bepleit, skryf De Morgen, en dié ondersteuning kom uit ’n onverwagse oord. Die biskop van Antwerpen, Johan Bonny, het tydens ’n radio-onderhoud sy ondersteuning vir die sanger toegesê. En gegewe die feit dat Brel nie lief was vir die kerk nie en ook sy bedenkinge oor Vlaandere gehad het, is dit nogal opmerklik: “Je tegenstanders omarmen is groter dan ze uitsluiten.” Maar Bonny sê: “Ik kom als West-Vlaming uit de nevels en donkere polders die Brel bezingt in ‘Mijn vlakke land’.” ’n Mens moet ver soek om enige simbool van die sanger in Vlaandere te vind. Die versoekskrif word nog vandeesweek aan die Vlaamse minister van kultuur, Jan Jambon, oorhandig. Bonny hoop dat Jambon sy visie oor Brel sal deel. “Of dit pamflet zal leiden tot meer straatnamen of standbeelden van Brel is een maatschappelijke discussie, maar ze mag gevoerd worden. Ik hoop vooral dat Vlaanderen breedhartig is voor Brel.” Die sanger het as Franssprekende Vlaming sy hele lewe lank met sy identiteit geworstel. “Als je groot wil zijn, moet je durven nadenken over je eigen verhaal,” sê Bonny.

Lees ook:

Dokters sonder grense en die suurstofdief, ’n virus sonder grense

Karnaval!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top