Die Nederlandse Bibliotheek Kaapstad is ’n unieke ruimte waar besoekers kan rustig word, lees en boeke uitneem. Wanneer genoeg mense ingeënt is, sal dit ook weer ’n kuierplek wees, soos van ouds.
Studente en mense wat in Nederland of België belangstel, word veral verwelkom.
Die biblioteek bevat:
- 12 000 romans
- 13 000 niefiksietitels
- 3 000 kinder- en jeugboeke
- 300 naslaanswerke
- 1 000 CD’s
- 600 DVD’s.
Die 40ste bestaansjaar word in die koerant aangekondig.
By die viering van die 40ste bestaansjaar van dié unieke boekery het ’n joernalis opgemerk dat dit “sekerlik die geselligste lees- en boekleenplek in Suid-Afrika” is.
Dit was in 1953.
Baie het sedertdien verander, maar die biblioteek bly ’n gesellige ruimte. Dit is nou 108 jaar oud en in Pinelands geleë.
Die personeel, almal vrywilligers, is trots op hulle boeke en hulle werk.
Hier kan ek ook my vrot Nederlands oefen – die personeel gee nie om nie. Hulle is almal Afrikaans en Engels magtig, maar doen moeite om hierdie stamelende knaap te laat tuis voel.
Met of zonder?
Selfs tydens Covid is die humor sprankelend.
Ek wil foto’s neem.
“Met of zonder mondkapje?” wil hulle dadelik weet.
Een met ...
Hier word Covid ernstig opgeneem.
Een zonder: Aletta Loopuyt, Margaretha van der Meijden, Heidi Andersson
“Een met, een zonder,” antwoord ek.
Covid het ’n deel van die geselligheid geknou. Mense kon voor die virus inval, ’n koppie koffie koop en ure lank sit en kuier in die mooi, oop ruimtes van Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, bekend as Sasnev.
'n Pre-Covid mark op Sasnev se gronde
Voor Covid was daar gereeld ’n Nederlandse mark op Saterdagoggende in die tuin. Hier kon ’n honger Kapenaar byvoorbeeld bitterballen koop. En wafels. Heerlik.
Heerlik.
Nou is dit stiller daar, maar personeel doen steeds spesiaal moeite om te help.
’n Toer deur die biblioteek
Ná die foto’s van die personeel by die ontvangstoonbank geneem is, word ek op ’n toer geneem.
Tydskrifte te kus en keur
Daar is ’n groot aantal Nederlandstalige tydskrifte. Hier kan jy tegniese hulp kry, en meer oor Europa se voëls leer, en daar is natuurlik veel te lese oor die koningsfamilies. In Suid-Afrika het ons vasgehaak by die Britse monargie, maar in Nederland en in België is daar ewe ryk tradisies. Die twee kroonprinsesse in die onderskeie lande is boonop jonk en oopkop – prinsesaanhangers sal ure lank na die foto’s kan kyk.
Die DVD-versameling
Daar is ’n uitgebreide DVD-versameling met verskeie films en reekse wat oorspronklik in Nederlands gemaak is, maar ook talle oorgeklankte stukke.
’n Deel van die musiekversameling
Die musiekversameling is ook gevarieerd.
Kinderboeke
Die kinderafdeling is ’n plek om in verlore te raak. Voor Covid was hier gereeld laggies. Nederlandse klasse word in die Kaap aangebied en kinders word aangemoedig om die Nederlandse boeke te kom geniet.
Protea Boekhuis, een van die grootste vertalers van Nederlandse tekste in Afrikaans, skenk ook gereeld boeke aan die biblioteek.
Ensiklopedieë
Hier is ook die mooiste ensiklopedieë.
Nijntje
Nijntje is ’n ikoniese karaktertjie, geskep deur die Nederlandse kunstenaar Dick Bruna. Bruna het as jongman Londen en Parys gaan verken. In Parys het hy Fernand Léger, ’n kubis, Pablo Picasso en Henri Matisse ontmoet. Dié kunstenaars se spel met vorm en kleur het uiteindelik gemaak dat Nijntje gebore is, uiters eenvoudig maar baie treffend.
Nijntje kom natuurlik van konijntje. In Engels het sy die ongelukkige naam Miffy gekry.
’n Deel van die VOC-versameling
Vir die ernstiger leser en navorser is daar ’n klein, maar deeglike, afdeling oor die VOC en die tyd wat hulle in suidelike Afrika werksaam was.
Geskiedenis en aardrykskunde
Op teen die trappe is daar meer: ’n hele afdeling, ’n kamer vol boeke, gewy aan geskiedenis en aardrykskunde.
Jopie Lancaster en Edene du Toit
Hier is twee vrywilligers besig om boeke te klassifiseer, ook mooi gemasker. Toe ek ’n foto wou neem, vra hulle natuurlik: “Met of zonder mondkapje?”
Fiksie
Die groot fiksieafdeling, ook op die boonste verdieping, is uitgelê dat Belgiese en Nederlandse skrywers se romans so uitgestal word dat hulle maklik opgespoor kan word.
Daar is ook ’n afdeling met Afrikaanse boeke.
Aanbevelings
Vir diegene wat nie seker is oor ’n boek nie, is daar selfs aanbevelings.
Nuwe boeke
Daar word steeds nuwe werke ingeneem.
Lidmaatskap van die biblioteek
Vir so min as R150 per jaar kan jy ’n vriend van die biblioteek word en boeke uitneem.
Gesinne kan navraag doen oor die uitgebreide lidmaatskap teen R220 per jaar.
Vir studente kos dit slegs R80 per jaar.
Om aan te sluit, stuur gewoon ’n e-pos aan biblioteek@sasnev.co.za.
Toegang vir mense buite Kaapstad
Hierdie boekery word tans in Pinelands, ’n voorstad van Kaapstad gehuisves, maar vir diegene wat ver woon, is daar ook goeie nuus.
Margaretha van der Meijden (bekend as Mar) nooi enige Suid-Afrikaner, of Suid-Afrikaanse leeskring, wat in Nederlandse boeke belangstel om met haar kontak te maak. Stuur gewoon ’n e-pos aan biblioteek@sasnev.co.za.
Boeke te koop
Die biblioteek verkoop dikwels voorraad teen so min as R10 per boek, en hulle het selfs boeke wat hulle vir verdienstelike sake sal skenk. Mar wil graag die Nederlandse boeke aan mede-Suid-Afrikaners bekendstel.
Daar is tans nie ’n maklike manier om boeke te laat uitneem deur iemand wat ver bly nie, maar Mar sal bereid wees om te gesels as iets dringend is en indien daar oor sekere waarborge ooreengekom kan word.
Die geskiedenis van die Nederlandse Boekerij in Kaapstad
Reeds in 1903 is boeke deur die Algemeen Nederlands Verbond (ANV) in Nederland na Suid-Afrika gestuur. Dié boeke is toe in die Afrikaanse Koffiehuis in die Groote Kerk-gebou in Kaapstad gehuisves.
Tien jaar later, op 13 Junie 1913, het die boekery ’n hupstoot gekry danksy ’n subsidie van die ANV. Dit het toe as die Hollandsche Leeskamer in Kaapstad bekend geword. Sedertdien het die boekery ook ’n eie bestuur.
In 1918 het die Kaapse Provinsiale Administrasie ook gereelde finansiële ondersteuning begin verskaf en die naam is weer verander. Dit staan toe bekend as die Openbare Hollandsch-Afrikaanse Boekerij en Leeskamer ANV.
Op 29 Augustus 1934 verhuis die boekery nog eens, en vir die volgende 32 jaar is Leliestraat 6 in Kaapstad die tuiste daarvan. Hierdie gebou word in 1965 afgebreek en die boeke word tydelik gestoor.
In 1966 trek die biblioteek na die Waalburggebou in Kaapstad en bly vir die volgende 16 jaar daar. Die huurkontrak vir die Waalburggebou verval in 1982 en alles word weer tydelik gestoor.
In 1981 verval die kultuurverdrag ook tussen Suid-Afrika en Nederland, met die gevolg dat die Nederlandse regering nie meer enige bydraes maak nie. Die Zuid-Afrikaanse Stichting Moederland, die Visser-Neerlandiafonds en die Van Ewijck Stigting in Kaapstad help toe om vir die finansiële verlies te vergoed. Die Van Ewijck Stigting se hulp maak ook dat die boeke weer in 1983 ’n tuiste vind, dié keer in die Satbel Gebou in Groenpunt.
In 1989 verander die naam weer, dié keer na die Nederlandse Boekerij-ANV.
Sedert 1991 bied die Willem de Zwijger Stichting (WdZ) groot finansiële steun aan die biblioteek.
Die WdZ besluit in 1995, in oorleg met die ANV Kaapstad, om ’n gebou aan te koop en dit tot ’n volwaardig Nederlands-Vlaams-Afrikaanse kultuursentrum uit te brei. Hier sou ook die boekery gehuisves kon word.
Sedert Augustus 1997 funksioneer die biblioteek dus uit hierdie nuwe gebou in Pinelands.
In 2006 is ’n nuwe vereniging, Vrienden van de Nederlandse Boekerij, gestig om na die boeke om te sien en die versameling te bestuur. Die naam sou later verander na Vrienden van de Nederlandse Bibliotheek. Dié instansie is steeds in beheer van die boekery.
Willem de Zwijger
’n Skildery van Ebel Hero Ebels (Foto: Sasnev)
Ebel Hero Ebels (1897–1976) was ’n Nederlandse ingenieur wat ’n aansienlike fortuin gemaak het uit mynbou in Suid-Afrika.
Hy was baie simpatiek teenoor die Vlaminge en wou baie graag dat Vlaamse en Nederlandse bande met Suid-Afrika uitgebrei moes word.
In sy laaste jare skryf hy gereeld aan sy vriend HL de Langen oor sy behoefte om naby “’n goeie biblioteek” te bly.
Ebels is in 1976 oorlede, waarna die geld in sy boedel gebruik is om die Willem de Zwijger Stigting tot stand te bring.
Sasnev
Die Nederlandse Bibliotheek is tans die spilpunt van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev).
Die oorsprong van Sasnev lê ook in die testament van Ebel Hero Ebels, wat in sy lewe en deur sy testament die Groot Nederlandse Gedagte gesteun het. Sasnev se webruimte verduidelik dit so:
Hierdie begrip stam uit die jare kort na die Eerste Wêreldoorlog en gee uiting aan die ideaal om alle Nederlandssprekendes, oor landsgrense heen, te verenig onder een simboliese vaandel, veral met verwysing na Nederland en Vlaandere. Later word daarna verwys as die “Algemeen-Nederlandse saak”. Vroeg in hierdie idealistiese tyd, egter, was daar ook ’n gevoel van stamverwantskap met Suid-Afrika.
Sasnev beywer hom daarvoor om die meer as ses miljoen Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners met die meer as 24 miljoen Nederlandstaliges in kontak te bring.
Frazer Barry, Diana Ferrus en Sebastiaan Messerschmidt, die Nederlandse konsul-generaal, in Sasnev
Buite Covid-tye verwelkom Sasnev ongeveer 25 000 besoekers per jaar.
Jy is ook welkom.
- Fotografie: Izak de Vries, tensy anders vermeld
Lees ook:
Kaapse sentrum ’n kulturele tuiste vir die Nederlandse taal en letterkunde in Suid-Afrika