Drie ervarings in Cornwall wat jou hare sal laat rys

  • 0

Daphne du Maurier se Jamaica Inn

Mens weet vorige eeue was nie ’n maklike lewe nie en veral smokkelaars, seerowers, misdadigers en haweloses wat in die noordelike halfrond aan’t woel was, het van swaarkry geken. My eerste kennismaking met die Britse gure weer, dranksmokkelary en haglike omstandighede en die bitter lyding van dié wat in die 1700’s en 1800’s gevang is, was in my 17de jaar toe Daphne du Maurier se Jamaica Inn my voorgeskrewe werk op skool was.

Verder verwyder van die (my) werklikheid kon jy seker nie kry nie. Die erge storms, koue weer, donkerte en smokkelgeskiedenis aan die kus van Engeland, metafories ligjare verwyder van my lewe in die Kalahari met meer sonskyn as wat goed is vir jou; geen see in sig nie en die naaste wat ons aan storms gekom het, was die 1988-vloed en die donderweer in die somer.

Maar dat die verhaal my onherroeplik verander het, is gewis.

My bewussyn van ’n ander wêreld as die vlaktes waar ek woon; die gewaarwording dat geskiedenis nie net tussen boeke se blaaie gebeur het nie, maar mense dit regtig gelééf het en deel van ons almal se lewenservaring word, was ’n Damaskus-oomblik. Ek wou opslag meer weet van die wêreld.

Destyds het ek natuurlik nooit daaraan gedink om na te gaan of die boek op die waarheid geskoei is nie en nog minder gedink dat ek ooit in Cornwall sou beland.

Met my 52ste verjaardag agter my, kom die geleentheid toe inderdaad oor my pad en nie net om Cornwall te verken nie, maar om uiteindelik op die stoep van dié geskiedkundige hotel te kan staan, die klein museum wat hulde bring aan Daphne du Maurier, te ontdek en daarna die hele smokkelgeskiedenis van die streek na te snuffel.

Geskiedenis wat deur mense geleef is, word weer deur my beleef.

Die Jamaica Inn

Du Maurier het in 1930 in Jamaica Inn gebly, nadat sy en ’n vriend in gure weer met hul perde verdwaal het en by die herberg beland het. Haar boek speel in 1820 af en het dieselfde naam. Die boek wentel om die berugte herberg wat in 1750 as koetshuis gebou is, maar vir eeue berug was vir dranksmokkelary. Bote is met fakkels op die rotse gedryf en dan beroof en die buit is in die herberg gestoor. Geen gaste kon ooit oorbly in die herberg se kamers nie, want dit was vol buit.

Dis die wêreld waarin die niksvermoedende Mary Yellan haar begewe nadat haar ouers albei dood is en sy by haar tannie en oom, Patience en Joss Merlyn, wat die herberg bestuur, moet gaan woon. Snags hoor sy geluide soos waens wat met buit arriveer en die dronk rowers wat deur die nag partytjie hou om hul suksesvolle strooptogte te vier.

Destyds was daar 220 misdade waarvoor jy in Brittanje gehang kon word en moord, verkragting, seerowery, plundery en enige diefstal van eiendom wat meer as vyf sjielings werd was, het outomaties vir die galgetou gekwalifiseer. En natuurlik is teregstellings in die openbaar gedoen om voornemende misdadigers die skrik op die lyf te jaag.

Om daar in die flou wintersonnetjie te staan met my oë toe en die openingsbladsye van die boek wat ek die vorige aand weer begin lees het, te onthou, ’n onwerklike gewaarwording. Mens dink nooit jy sal as’t ware kan teruggaan na jou jonger self en iets weer só intens ervaar nie.

’n Laat Novemberdag op die vlaktes van Dartmoor waar die loeiende wind die reën teen die koets se vensters dryf, deur gleufies inlek en leersitplekke klam met aanraking is, doem op in my geestesoog. Ek sien die mismoedige passasiers, die perde wat moedig teen die wind beur, die bestuurder wat dubbelgevou sit, terwyl die elemente ongenaakbaar teen sy lyf stamp. Die beskrywing dat die sterk wind die hele koets só skud dat dit tussen sy wiele wieg, soos ’n dronk man, word ’n werklikheid.

Een passasier kla dat hulle almal dood sal wees voor hulle Bodmin bereik, tensy die koetsier spoed verminder.

Terwyl die res van ons groep drankies en middagete bestel, verken ek die herberg. Dis merkwaardig hoe goed dit behoue gebly het en hoe Du Maurier dit 100 jaar ná haar verhaal afspeel so goed kon beskryf en ek weer bykans 100 jaar later daar staan en dinge nog steeds in die verlede vasgevang is.

Die Bodmin-tronk is in 1779 gebou en teen 1927 gesluit en was erg vervalle toe die opknappingswerk ’n paar jaar gelede begin is.

’n Klipgooi verder ry ons inderdaad deur Bodmin en my skoonsus en haar man knipoog vir mekaar. Hulle het my verwondering met die geskiedenis gehoor en kaartjies gekoop vir die Bodmin-tronk-toeristeattraksie, wat nou ’n interaktiewe museum en teekamer is. Daar is ook ’n vyfster-hotel in dele van die tronk ingerig. Die skuldiges van weleer wat hier beland het, is teen die heuwel gehang en hier kom Jack Rattenbury, een van die smokkelaars wat gevang is, maar ontsnap het, ter sprake. Daar is selfs ’n bordjie vir hom in die uitstalling. Ek wonder hoe gereeld hy by Jamaica Inn uitgehang het.

Een van die begeleide toere by die Bodmin-tronk-toeristeattraksie

Die tronk is in 1779 gebou en teen 1927 gesluit en was erg vervalle toe die opknappingswerk ’n paar jaar gelede begin is.

Toe die deur agter ons toegaan, die spokerige stem begin praat en die “maan” so laag oor die water hang, voel ek hoe my nekhare in die tronk rys.

Die beligting is laag en jou oë knip teen die skemer. Dit maak sommige bordjies moeilik om te lees, maar die onheilspellendheid van die gebou se geskiedenis en hoeveel mense hier dood is omvou jou.

’n Baie aaklige gesig van ’n bewaarder in ’n jas en gasmasker

Die selle is omskep met uitstallings en in een wag ’n baie aaklige gesig van ’n bewaarder in ’n jas en gasmasker. Hy lyk eerder soos die doodsengel.

My swaer draf vooruit en gaan sit vinnig agter die hoofbewaarder se lessenaar, net om te beweeg toe ons nader kom en lang gille te ontlok!

Ek sou ook probeer ontsnap.

’n Replika van die hoofhek se sleutel wat 22 cm lank was en ’n halwe kilogram geweeg het. Die bewaarder wat die hoofhek se sleutel gedra het, moes ’n sekere lengte en sterk liggaamsbou gehad het – nie net om die lang en swaar sleutel te dra nie, maar ook sodat gevangenes hom nie kon oorrompel nie.

Voor ons die laaste foto’s kyk, gaan ek badkamer toe – ook een van die selle wat omskep is. En natuurlik sit Mej Engtevrees toe daar vas, want die sleutel in die binnekant wil nie draai nie... ’n Paar benoude oomblikke later kom help die museumpersoneel.

Sommige van die oorspronklike tronksleutels en -slotte wat deur die jare gebruik is. Heelwat sleutels is in die galgput gevind toe dit in 2005 opgegrawe is.

Ek warrel verby die galgput vars lug toe.

Land’s End

Ons ry vir ’n laat middagete na die westelikste punt van Engeland, Land’s End, en gaan ontdooi voor die kaggel by die First & Last Inn wat uit 1620 dateer. Nog ’n smokkelaarshemel, verneem ons.

“Annie’s Well”

Nog is het einde niet. Op pad badkamer toe, vang my oog ’n teken bo ’n glasdeur waardeur jy die tonnel kan sien wat van die herberg tot die strand deur die rotse gegrawe is, vanwaar gesmokkelde ware, meestal drank, na die herberg gebring is om gestoor te word. Dis “Annie’s Well” gedoop.

Daar hoor ons van Annie George, die herberg se bestuurder in die 1800’s wat deur die plaaslike inwoners met laagwater op die Sennen-strand vasgemaak is en daar gelos is om met hoogwater te verdrink. Sy het glo as staatsgetuie teen ’n smokkelaar gedraai en die gemeenskap het nie daarvan gehou nie.

Haar spook wandel blykbaar nog steeds daar naby haar kamer in die herberg...

Die bordjie bo die deur gee haar aan as Ann Treeve, maar niemand kan verduidelik of dit haar nooiensvan of getroude van was nie, want niemand is al vir twee eeue hier om dit te verifieer nie, hoor ek by die kroegman.

The Kettle N’ Wink

En dit alles terwyl ons in St. Ives bly vir 10 dae en teen die ou klipmuur van The Kettle N’ Wink-kroegie wat deel van ons hotel vorm, lees dat onwettige drank in die begin van die 20ste eeu in ketels gehou is om aksynsmanne te flous en belasting te ontduik.

Die gereelde suiplappe het natuurlik geweet om ’n drankie te kry, het innovasie geverg. Dus wanneer jy instap, kyk jy na die ketel en knip jou oog, wat die kroegman se versekering is dat hy veilig is en drank kan bedien. Vandaar het die sêding “Going down to the kettle and wink” ontstaan, wat later in die volksmond “The Kidleywink” geword het.

Gou praat ons van ons sonsaksopies as kidleywinks!

En so van ontsnap en smokkel en misdaad gepraat: My skoonsus het weer ’n vonkel in haar oog vir ’n laatmiddag verrassing. Dié keer is dit ’n ontsnapkamer in Penzance. Sy het bespreek vir Death By Prescription, ’n “avontuur” van 60 minute by Escape Rooms Cornwall wat in die kelder van die ou telefoonsentrale in Newstraat ingerig is.

Ek skryf “avontuur” in aanhalings, want vir my is klein ruimtes en legkaarte en raaisels amper so erg soos om soos arme Annie met laagwater vasgemaak te word.

My skoonsus weet ek het engtevrees, maar belowe dit gaan pret wees...

In haar bangmaakstem lees sy die opdrag: “Dit is September 1942. Dr Sebastian Herbert kom aan die einde van sy eerste week in sy nuwe Chapel Street-spreekkamer in Penzance. Daar word reeds gemor oor vreemde gebeure en verdwynings in die dorp. Jy het ’n afspraak gemaak om hom te sien, aangesien jy olik voel. So ’n gerespekteerde lid van die gemeenskap moet sekerlik betroubaar wees?”

Binne minute is ons besig om elke moontlike sleutel te draai, elke laai oop te trek, elke moontlike leidraad op te volg. My jas, mus en handskoene waai eerste. Soos die minute aantik, gaan my trui en serp ook. Die ander geniet hulle gate uit; ek wil uit! Die vassit in die tronktoilet nog te vars in my geheue.

Ek is nie gemaak vir klein ruimtes, spoke en donker stories nie; ek wil vry wees, bo die grond. Genoeg van al dié ondergrondse rondgeskuifel!

Ek staan lank op die sypaadjie om my kloppende hart te laat bedaar. O, die vars lug van die strande van Penzance. Dis meer my vreugde.

Maar om terug te stap in my tienerspore na die wêreld van ’n voorgeskrewe boek en regtig te verstaan wat die skrywer motiveer het om dit te skryf, ’n emmerlys-inskrywing.

Kitsfeite

  • Du Maurier se boek is in 1939 deur Alfred Hitchcock in ’n fliek omskep en later deur die BBC in ’n drie-episode-reeks uitgesaai in April 2014. Die televisiereeks se slegte klankkwaliteit het egter baie kritiek ontlok.
  • Bespreek jou tydgleuf vir die ontsnapkamer in Newstraat, Penzance by sales@escaperoomscornwall.com en vir die Bodmin-tronktoere by info@bodminjail.org.
  • Daar word beraam dat die helfte van die brandewyn en ’n kwart van alle tee wat na die VK gesmokkel word, langs die Cornish- en Devon-kus beland. Jamaica Inn was afgeleë en afgesonder, so dit was die ideale oornagplek op pad na Devon en verder. In 1778 is die herberg uitgebrei om ’n koetshuis, stalle en ’n kleedkamer in te sluit wat die L-vormige hoofgedeelte van die gebou geskep het soos dit vandag is, verklaar die herberg se webwerf. Loer vir meer inligting by www.jamaicainn.co.uk.
  • Jy kan die smokkelaarservaring by Jamaica Inn se Smokkelaarsmuseum herleef in een van die beste versamelings van smokkelartefakte in die Verenigde Koninkryk, en geniet The History of Jamaica Inn, ’n opvoedkundige filmvertoning van baie van die mites en legendes wat met die herberg geassosieer word, waaronder verhale van wrakwerkers en smokkelaars oor die afgelope 300 jaar.

Foto’s: Clifford Roberts en Jamaica Inn

Lees ook:

Van duiwels en dinge op die Franse platteland

Porto, waar port nog port mag wees

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top