Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die polisie versaak gemeenskappe deur nie op te tree teen die EFF wat die afgelope week landwyd chaos gesaai en Clicks-winkels gevandaliseer en beskadig het nie.
AfriForum het ’n beroep gedoen op Bheki Cele, die minister van polisie, om daadwerklik op te tree teen oortreders wat Clicks-winkels landwyd gevandaliseer en beskadig het. AfriForum sê die polisie het gefaal in hul plig om die burgery te beskerm teen dié persone, wat dink dat hulle die land se wette sonder enige gevolge kan oortree.
Dit volg nadat ’n rasseherrie ontketen is weens ’n omstrede Clicks-advertensie. Verskeie EFF-leiers het hul ondersteuners aangemoedig om hierdie kettingwinkel “aan te val”.
Die Vryheidsfront Plus (VF+) het in hulle reaksie gesê die optrede van EFF-lede teenoor die winkelgroep Clicks met gepaardgaande plundery, brandstigting en vandalisme, is niks anders nie as boewery. Die party sê die leier van die EFF, Julius Malema, moet persoonlik hiervoor aanspreeklik gehou word aangesien hy sy ondersteuners op sosiale media aangehits het om die groep se winkels “aan te val”.
Die VF+ se leier, Pieter Groenewald, het ’n beroep op Clicks gedoen om strafregtelike klagte aanhangig te maak teen die oortreders en teen Julius Malema as medepligtige. Hy sê in ’n mediaverklaring die EFF as organisasie en Malema moet aanspreeklik gehou word vir alle skade wat veroorsaak is en daar moet ook siviele eise teen hulle ingestel word.
In Malema se twiets, wat ook in die media verskyn het sê hy onder meer: “See you tomorrow. Fellow fighters and ground forces; ATTACK!!!”
In AfriForum se verklaring sê hulle Malema en ander EFF-leiers se openbare oproepe tot geweld moes die SAPD op ’n gereedheidsgrondslag geplaas het om die tipe optrede te verhoed wat ons Maandag gesien het. “Tog blyk dit dat nog geen persoon gearresteer is wie se misdade duidelik op beeldmateriaal vasgevang is nie,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risiko-bestuurder by AfriForum.
Volgens Kamfer is die EFF en hul ondersteuners se wettelose optrede en die SAPD se onvermoë om dit te verhoed of om skuldige partye tot verantwoording te bring weer eens ’n bewys dat gemeenskappe hulself moet organiseer en beveilig. “Gemeenskappe en mense kan en moet hulself binne die raamwerk van die reg beskerm.”
Volgens die VF+ is dit duidelik dat Malema openbare geweld aangestig het en hy is daarom medepligtig aan die optrede van sy ondersteuners en die skade wat aangerig is. “Die gooi van petrolbomme na winkels soos in Witbank, Mpumalanga, grens aan terrorisme en daar moet op die strengste wyse moontlik hierteen opgetree word,” sê die party.
Groenewald sê Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat meningsverskille op hierdie wyse opgelos word nie. “Indien die EFF die saak op ’n waardige wyse met Clicks opgeneem het en hul misnoeë oor die betrokke advertensie uitgespreek het, sou hulle ’n voorbeeld vir almal gestel het oor hoe om op te tree wanneer geskille ontstaan.”
Hy sê Maandag se optrede deur die EFF grens aan anargie en indien almal in Suid-Afrika hul geskille op hierdie wyse probeer besleg sonder enige gevolge, sal dit totale chaos en anargie veroorsaak wat net tot geweld en polarisasie kan lei.
“Een van die probleme in Suid-Afrika is dat misdadigers wat strafregtelik vervolg behoort te word, te maklik wegkom met hul misdadigheid en straffeloos voortgaan met hul optrede.”
Groenewald sê daar moet ’n voorbeeld van die EFF se optrede gemaak word. Indien dit nie gebeur nie, sal wetsgehoorsame mense volgens hom hul vertroue verder in die land se strafregstelsel verloor om hulle te beskerm.
Die VF+ het ook ’n beroep op die polisie gedoen om daadwerklik op te tree en mense in hegtenis te neem wat betrokke is by openbare geweld en die beskadiging van eiendom.
Lees ook
Buro: MvH