Citizen Saint
Georgië se inskrywing op die Europese Filmfees
Oorspronklike titel: Mokalake Tsmindani (eintlik is dit onmoontlik om die titel in Westerse skrif te skryf)
2023
1h 40m
Regisseur: Tinatin Kajrishvili
Skrywers: Basa Janikashvili, Tinatin Kajrishvili
Hierdie film is ook op Mubi beskikbaar, so as julle dit nie gratis kan sien op die Europese Filmfees nie, kry Mubi. Citizen Saint is besonders.
Iets oor die storie
Ek gaan nie als weggee nie, maar hier is die basiese idee.
In ’n klein myndorpie in Georgië hang daar ’n mynwerker aan ’n kruis. Hy is van klip gemaak. Elke aand klim ’n ou man na bo en skakel sy koplampie aan.
Die mite is dat hy gemartel is en drie dae later in klip verander het.
Wie hom gemartel het en wie hy was, is onseker. Die dorp se museum is skynbaar gebou op die oorblyfsels van die man se huis. Die museum is beskilder met die tipiese prente van werkers wat ’n mens oral in die ou Sowjet Unie gesien het. “Hulle” sou dus kommuniste kon wees, maar dit weet ’n mens nie.
Van groter belang is dat die mynwerker daar aan die kruis nou ’n talisman geword het, ’n werkersklasheilige, ’n gelukbringer. Al die mynwerkers gaan na die kruis voor hulle in die maag van die aarde ingaan om te gaan werk – hy beskerm hulle.
Die film begin die dag waarop die beeld van sy voetstuk gelig word om skoongemaak te word in die museum – die einste huis wat skynbaar aan die versteende mynwerker behoort het. Daar word die kruis, met die beeld aan, neergelê.
Die volgende oggend is die kruis leeg.
Daar word ’n enorme soektog geloods na die versteende myner, maar helaas is die beeld nêrens te vinde nie.
In die harwar word daar wel ’n onbekende man gevind by die voetstuk – daar waar die kruis die vorige dag verwyder is. Hy spreek geen word nie.
Wie is hy?
Soos die frustrasie rondom die verlies van die beeld groei, bou daar ’n al hoe groter nuuskierigheid op om die stil vreemdeling.
Die konneksie met die leë kruis en die verskyning van die stil man word gemaak. Wie is hy? Wat moet hulle maak met sy stiltes?
Toe iemand wou weet wat die inwoners van die dorpie hom moet noem, stel die mynbaas voor dat hy Burger Heilige moet heet – en dis wat hulle hom toe noem. Dit is natuurlik ook waar die naam van die film vandaan kom.
Maar is hy ’n heilige? Is die paar wonderwerke wat gebeur nie bloot dit wat die mense nog altyd vir hulself wou hê moes gebeur nie?
Ek gaan nie die uiteinde van die verhaal weggee nie. Kyk die film.
Geloof, bygeloof of ’n desperate soeke na iets meer?
Een van die vrae wat hierdie film vra, is: Hoe moet die inwoners van die dorpie nou reageer op ’n heilige van vlees en bloed as hy al die jare diens gedoen het in klip?
Glo hulle werklik in sy krag?
En, sou hulle glo in sy krag, hoe gaan hulle sy krag aanhou benut as hy nie meer daar aan die kruis hang waar hulle elke keer voor hulle skof gou kan gaan verbyloop nie?
By geleentheid gaan die stil man wel in die myn af, maar soos die mynbaas tereg noem: Jy kan nie ’n menslike heilige drie skofte per dag laat werk nie.
Is hierdie menslike heilige dus van enige nut? En indien wel, vir wie?
Is dit nie veel beter om hom weer te kruisig en veilig teen die koppie te laat hang nie?
Wanneer die leiers in die gemeenskap soek na foto’s van die klipbeeld om te vergelyk met die stil man wat nou in hulle midde rondloop, merk hulle op dat die beskikbare foto’s selfies is – geneem van die mens saam met die beeld. Die aangesig van die heilige is dus minder belangrik as die aangesig van die mens saam met die heilige.
Skep ons dus heiliges na ons eie beeld?
Hier in Suid-Afrika is ons ook baie bewus van politici wat die kerk gebruik om hul eie beeld te bou. Jacob Zuma is ’n meester op daardie gebied. Ons eie baba-Trump, Julius Malema, het weer seker gemaak dat hy in Ray McCauley se sak was. Dit is so erg dat Julius ná McCauley se dood by McCauley se seun gaan kuier het – natuurlik onder die wakende oë van die televisiekameras. Julius, Suid-Afrika se ikoon van alles wat blink en in beheer van wat kwansuis ’n arbeidersparty moet wees, moes dus seker maak dat die koning van welvaartgodsdiens se seun weet dat Julius die nuwe lyn, wat steeds die geld laat inrol, sal steun. Julius het selfs sy rooi oorpakkie uitgetrek en dit verruil vir die blink pak waarna die werkersklas streef, die soort pakke wat die stinkryk Ray McCauley kon bekostig omdat hy week na week die opkomende middelklas verlos het van ’n deel van hul swaar verdiende lone. ’n Mens kan nie so iets in fiksie opmaak nie.
Hierdie film vra allerlei vrae oor die werkers en hulle hoop op ’n hoër hand om hulle te beskerm en moontlik selfs ’n beter lewe toe te wens.
Luister gerus wat die asketiese priester, moontlik ’n Jesuïet, vir die mynbaas te sê het wanneer laasgenoemde gaan raad soek by die godsman oor hoe om ’n heilige te hanteer wat skynbaar kan wonderwerke verrig.
Die kommunistiese beeld van die heilige werker vs die heilige
Soos vermeld is die vermeende huis van die man wat skynbaar ná drie dae van marteling aan die kruis in klip verander het, ’n museum vol kommunistiese propaganda.
Net soos Julius Malema luuks leef terwyl hy niksseggende woorde in die ore van armes prewel, so het die kommunistiese leiers seker gemaak dat die werkersklas lofliedere oor hul adellike arbeid aanhoor, ook dat talle muurskilderye en standbeelde die adel van arbeid besing.
Georgië is ’n voormalige deel van die Sowjet Unie. Dit is dus interessant om te sien dat hierdie dorp nie veel ag slaan op die Christelike tradisie nie. Daar is selfs ’n geleentheid waar iemand ’n Christusbeeld nader dra om dalk in die plek van die mynwerker aan die kruis te hang, maar dit word afgewys.
Hierdie dorp se geestelike behoeftes het direk te doen met hulle arbeid in die myn.
Wanneer die heilige dan vlees word, mens word, moet hy skynbaar weer gekruisig word om betekenis te hê. Of nie? Kyk maar self.
Ek beveel die film hoog aan. Dit dryf glad nie die spot met ’n godsbelewenis nie, maar dit vra ernstige vrae oor die beelde wat mense in hulle koppe het oor hoe hul eie gode kwansuis moet optree.
Fotografie
As jy in lenswerk belangstel, is hierdie film die kyk werd.
Krum Rodriguez was in beheer van die fotografie. Die hele film is in swart en wit. Dikwels word direk in die koplampe van mynwerkers ingeskiet, wat natuurlik ’n totale lig en donker tot gevolg het. Die soeklig word geskyn ...
Die feit dat als swart en wit is, laat die kyker ook onwillekeurig dink aan films van Andrzej Wajda in Pole, direk ná die tweede wêreldoorlog. Ek dink aan films soos Kanał (Riool, 1957) waar Jerzy Lipman in beheer was van die fotografie, of Popiół i diament (As en diamant, 1958) met Jerzy Wójcik in beheer van die kameras. Pole was in daardie stadium besig om te verstaan wat met sigself gaan gebeur ná die Duitse besetting verby is en ná die Russe oorgeneem het.
Georgië is tans ook in ’n posisie waar die juk van die Sowjet Unie weer opnuut hulle kloue in die land wil inslaan. Poetin sal nie rus voor hy weer die septer daar kan swaai nie en sommige in die huidige politieke bestel doen alles om die arm bevolking weer na Moeder Rusland te laat kyk, in plaas van die onheilige Europese Unie.
Dalk is die intertekste tussen Tinatin Kajrishvili se Citizen Saint en die films van Andrzej Wajda nie onbewus nie.
Musiek
Tako Jordania het die musiek geskep vir hierdie film.
Luister. En luister bewustelik.
Daar is enkelnote wat net herhaal en herhaal. Ek vermoed dis ’n fagot, beslis ’n houtblaser, dink ek, maar slimmer mense as ek sal moet sê. Elke nou en dan is daar ook ’n bamboesfluit, of panfluit – ek is weer nie ’n kenner nie – wat inskop.
Luister hoe die note treur, hoe hulle ’n trein se fluit of ’n myn se sirene naboots.
Dit is ’n sonderlinge klankbaan.
Luister met jou ore oop. Ek sal hierdie film weer kyk, al is dit net om weer te luister na die musiek.
By geleentheid is daar ’n kruis wat in die rivier af dryf. Ek wonder of ander ook die interteks met Roland Joffé se 1986-film The mission raakgesien het? Luister ook ’n bietjie na die klanke ...
Dus?
As jy Citizen Saint gemis het op die Europese Filmfees, is dit ’n goeie verskoning om by Mubi aan te sluit.
Mubi is ’n stromingsdiens vir kunsfilms.