Georgia O’Keeffe: 40 jaar ná haar dood blom haar nalatenskap steeds

  • 0

Op 6 Maart vanjaar, 40 jaar gelede, is Georgia O’Keeffe, een van die invloedrykste Amerikaanse kunstenaars, oorlede. Tog is haar stem, haar visie en haar unieke benadering tot vorm, kleur en ruimte vandag sterker as ooit.

Unknown, foto van Georgia O’Keeffe, 1940–1960. Foto: Georgia O’Keeffe Museum

Sy het in 1977 die Presidensiële Medalje van Vryheid ontvang – een van die hoogste ere vir ’n burgerlike in Amerika.

Haar bekende woorde: “Take time to look” het half die mantra van ons lewensreis geword.

In 1997 is daar ’n Georgia O’Keeffe Museum in Santa Fe, Nieu-Meksiko geopen, met byna 150 skilderye en honderde werke op papier, sowel as persoonlike voorwerpe en ’n belangrike argief van dokumente en foto’s wat haar lewe en tydperk illustreer.

Die Abiquiú-besoekersentrum.

Daar is twee plekke en ervarings wat deel vorm van die O’Keeffe-ervaring: die museum in Santa Fe, en waar sy gewoon en werk het in Abiquiú, sowat 80 km noord van Sante Fe. Daar is ’n besoekersentrum en haar ateljee waar sy gewerk het.

Georgia O’Keeffe se werk, Calla lily in tall glass, 1923. Foto: Georgia O’Keeffe Museum

Sy word tereg die “moeder van Amerikaanse modernisme” genoem – ’n kunstenaar wat nie net haar eie pad gekerf het nie, maar ook geslagte kunstenaars wêreldwyd beïnvloed het.

Van haar ikoniese naby-studies van blomme tot haar abstrakte landskappe en haar meesterlike gebruik van waterverftegnieke, leef O’Keeffe se nalatenskap voort in museums, ateljees en uitstallings regoor die wêreld.

Die twee mede-kurators van Tewa Nangeh/Tewa Country, Jason Garcia en Bess Murphy. Foto: Georgia O’Keeffe Museum

Maar nader aan die huis is daar ’n nuwe uitstalling in die museum in Sante Fe – waar sy die laaste jare van haar lewe deurgebring het – getiteld Tewa Nangeh/Tewa Country. Vir die uitstalling – ’n eerste van sy soort – het die O’Keeffe-museum vir Bess Murphy, ’n Henry Luce-kurator van kuns en sosiale praktyke, en die kunstenaar, Jason Garcia (Khapo Owingeh/Santa Clara Pueblo), as kurators.

Die roterende uitstalling, Tewa Nangeh/Tewa Country, in die Georgia O’Keeffe Museum in Sante Fe. Foto: Georgia O’Keeffe Museum

Ons reis met haar werke begin daar by dié verwelkomingsentrum.

Die Abiquiú-huis- en -ateljeetoere is beskikbaar tussen Maart en November en ons kan dit nie meemaak nie, maar ons kan wel in die berge gaan stap en sien waar haar inspirasie vandaan kom.

O’Keeffe het Abiquiú vir die eerste maal in 1929 besoek en bykans 20 jaar later permanent daar kom woon. Ons stap deur die sentrum en kyk na die uitstallings en lees meer oor haar:

Georgia Totto O’Keeffe is op 15 November 1887 as tweede van sewe kinders in Wisconsin gebore en het reeds op ’n jong ouderdom geweet dat sy ’n kunstenaar wou wees. Sy studeer by die Art Institute of Chicago en die Art Students League in New York.

Black mesa landscape, New Mexico, out back of Marie’s II, 1930 is in die museum te sien. Foto: Georgia O’Keeffe Museum

In ’n tyd toe vroue hoofsaaklik aangemoedig is om dekoratiewe of toegepaste kuns te beoefen, het sy doelbewus gekies om haar eie visuele taal te ontwikkel.

Haar uitkyk en aanslag het dramaties verander toe sy die revolusionêre idees van Arthur Wesley Dow bestudeer het. Dow het haar ’n alternatief gebied vir die gevestigde maniere om oor kuns te dink. Terwyl sy kuns in Wes-Texas onderrig het, het sy vir twee jaar met abstraksie geëksperimenteer. Deur ’n reeks abstrakte houtskooltekeninge het sy ’n persoonlike visuele taal ontwikkel om haar gevoelens en idees beter uit te druk.

O’Keeffe het van hierdie hoogs abstrakte tekeninge aan ’n vriendin in New York gestuur. Die vriendin het dit aan Alfred Stieglitz – ’n invloedryke kunshandelaar en bekende fotograaf wat later haar man sou word – gewys. Hy was die eerste persoon wat haar werk in 1916 begin uitstal het.

Jason Garcia – tile 2. Foto: Georgia O’Keeffe Museum

Teen die middel van die 1920’s is O’Keeffe erken as een van Amerika se belangrikste en suksesvolste kunstenaars. Sy was bekend vir haar skilderye van New York se wolkekrabbers – ’n kragtige Amerikaanse simbool van moderniteit – sowel as vir haar radikale en innoverende uitbeeldings van blomme.

Ons lees dat die skerp kontraste van die uitgestrekte landskap en die inheemse Amerikaanse en Spaanse kulture van Nieu-Meksiko ’n nuwe rigting aan haar kuns gegee het.

In 1949, drie jaar ná Stieglitz se dood, het sy Nieu-Meksiko haar permanente tuiste gemaak. Sy het twee huise daar gehad: ’n klein somershuisie op Ghost Ranch en ’n groter huis in Abiquiú.

Vir die volgende twee dekades het sy die meeste somers daar by Ghost Ranch gewoon en gewerk – ’n plek wat sy later as haar geestelike tuiste sou beskryf.

Haar skilderye van die streek het saamgeval met Amerikaanse moderniste se groeiende belangstelling in streekstonele wat ’n unieke, nasionale identiteit wou uitbeeld.

In die 1950’s het O’Keeffe internasionaal begin reis. Sy het skilderye en sketse gemaak van die indrukwekkende plekke wat sy besoek het, waaronder die bergpieke van Peru en Berg Fuji in Japan. Op 73 het sy ’n nuwe onderwerp aangepak: lugfoto-agtige uitsigte van wolke en die hemelruim.

Die pragtige natuurskoon van Ghost Ranch en omstreke wat haar so bekoor het.

Ten spyte daarvan dat sy aan makulêre degenerasie en verswakkende sig gely het, het O’Keeffe in 1972 haar laaste olieverfskildery sonder hulp voltooi. Haar skeppingsdrang het egter nie afgeneem nie.

In 1977, op 90-jarige ouderdom, het sy gesê: “Ek kan sien wat ek wil verf. Die ding wat jou laat wil skep, is steeds daar.” Later in haar lewe, toe sy byna blind was, het sy die hulp van assistente ingeroep om aan te hou skep. In hierdie werke het sy teruggegryp na gunstelingmotiewe uit haar geheue.

Ons gaan stap by Ghost Ranch en gee ons oor aan die bekoring van die koppies se oranje, geel, bruin en grys strepe en pieke. Die klossies groen bossies wat oral kuithoogte staan, verskaf interessante kompleksiteit aan die landskap.

Mens bly bewus van die Cerro Pedernal-berg, ’n plat berg wat ook van haar huis sigbaar was en waaroor sy glo gereeld gesê het: “As ek dit gereeld genoeg verf, sal God dit vir my gee.”

Die omgewing is betowerend in kleurespel, maar ook in die stilte en vars lug. Die plek dien as ’n lewende herinnering aan hoe omgewing en kreatiwiteit mekaar kan voed.

Na ’n paar uur se stap in verskeie rigtings, gaan hou ons piekniek voor die klein besoekersentrumpie en raak aan die gesels met ander besoekers wat net so betower is deur haar.

Ons vertel dat ons kaartjies het vir die museum in Sante Fe en hoor toe van Tewa Nangeh/Tewa Country. Ek is bly ons het eers kom kyk na die landskap wat haar so geïnspireer het, voor ons twee dae later na die museum in Sante Fe gaan.

Jou toegangskaartjie is ’n boekmerk, een wat saam kom huis toe om die magiese ervaring tasbaar te laat voortleef.

Die werk, Pink tulip, 1925, wat in die Georgia O’Keeffe Museum in Sante Fe hang en ook die ontwerp wat op jou toegangskaartjie – wat as boekmerk ontwerp is – pryk.

Die museum huisves die grootste versameling van haar werk ter wêreld en bestaan uit ’n permanente uitstalling wat ’n diepgaande begrip van haar artistieke ontwikkeling en haar onwrikbare toewyding aan haar eie visie gee.

Ons lees daar dat een van haar blywendste bydraes tot die kunswêreld is haar vernuwende gebruik van waterverf en haar nabystudies van blomme. Haar tegniek – gekenmerk deur lae kleur en doelbewuste eenvoud – word tot vandag toe deur kunstenaars bestudeer en toegepas.

Baie kontemporêre uitstallings fokus spesifiek op kunstenaars wat deur O’Keeffe se waterverfwerk beïnvloed is. Hierdie uitstallings toon hoe haar benadering tot komposisie en kleur steeds relevant is, veral in ’n tyd waar kunstenaars weer na stadiger, meer meditatiewe prosesse terugkeer.

Haar blomme – werke soos Black iris, Red canna en Jimson weed – het alledaagse, natuurlike vorms omskep in intense, amper abstrakte komposisies. Deur blomme so groot uit te beeld, het sy kykers gedwing om werklik te kyk – om die fyn detail, die vorm en die energie van die natuur raak te sien.

Hierdie fokus op natuur en groei sluit besonder goed aan by Wêreld Kunsdag, wat jaarliks op 15 April gevier word. Vanjaar se tema, “A garden of expression: cultivating community through art”, kon byna vir O’Keeffe geskryf gewees het. Haar werk herinner ons daaraan dat kuns, soos ’n tuin, tyd, aandag en betrokkenheid verg – en dat dit gemeenskappe kan verbind deur gedeelde ervaring en emosie.

Benewens die permanente versameling, bied die museum ook roterende uitstallings wat fokus op temas soos haar tegnieke, haar invloed op ander kunstenaars en so meer. Hierdie uitstallings beklemtoon hoe O’Keeffe se werk steeds nuwe gesprekke inspireer en vars interpretasies ontlok.

Die werk, Cross with red heart, 1932, wat in die Georgia O’Keeffe Museum in Sante Fe hang.

Dis waar die Tewa Nangeh/Tewa Country-uitstalling inpas. Werke van kunstenaars, studente en kultuurwerkers van ses Tewa pueblos (inheemse nedersettings) – Nambé, Pojoaque, San Ildefonso, Ohkay Owingeh, Santa Clara en Tesuque – open ’n kritieke dialoog rondom heilige landskappe, inheemse behoort en kulturele eienaarskap.

Die projek het oor twee jaar ontwikkel.

O’Keeffe is geïnspireer deur die landskappe om haar in Nieu-Meksiko, grond wat al vir duisende jare die tuiste van die Tewa-mense is. Tewa Nangeh erken dat hierdie landskappe nie meer of minder aan een nasie of geslag behoort nie en diep wortels in die Tewa-geskiedenis en daaglikse lewe het. Die bekendste voorbeeld is van die Cerro Pedernal, waarvoor die Tewa-naam Tsí Pín is. Dis ’n heilige landmerk vir die lede van die Tewa pueblos.

Die plakkaat

Om haar verhouding tot Tewa-grond te verstaan, beteken om inheemse perspektiewe te respekteer en meer inklusiewe storievertelling te bevorder.

Tewa Nangeh veroordeel O’Keeffe nie. Dis eerder ’n diepliggende betrokkenheid by O’Keeffe se visie van die grond, wat ook die agtergrond skep vir die herinneringe en ervarings van die Tewa. Om Tewa-perspektiewe in die Georgia O’Keeffe Museum in te sluit, is ’n belangrike reaksie wat ander stemme en stories – wat histories uitgesluit is van die wydverspreide artistieke aanbiedings van Noord-Nieu-Meksiko – in die kollig plaas,” verduidelik Garcia.

Tewa Nangeh nooi gehore uit om dominante kunshistoriese narratiewe te heroorweeg en die lewende teenwoordigheid van Tewa-kultuur te erken in die einste landskappe wat lank reeds deur O’Keeffe se ikoniese beelde gevier word.

O’Keeffe is op 6 Maart 1986 in Santa Fe op 98-jarige ouderdom oorlede. Haar as is op Cerro Pedernal gestrooi.

Sy het op ’n keer gesê: “I found I could say things with color and shapes that I couldn’t say any other way.”

40 jaar later hoor die wêreld steeds presies wat sy gesê het – luidkeels en kleurvol.

Kitsfeite:

  • Die Tewa Nangeh/Tewa Country-uitstalling in Sante Fe is aan tot 7 September 2026. Dis deel van die algemene toegang tot die museum en kaartjies kos $22 per persoon; museumlede kry gratis toegang. Dis beter om die kaartjies vooruit te bespreek, want daar word elke dag net ’n beperkte aantal besoekers toegelaat.

Die deelnemende kunstenaars is Joseph Woody Aguilar, Samuel Catanach, Jason Garcia, John Garcia Sr, Charine Pilar Gonzales, Marita Hinds, Matthew Martinez, Arlo Namingha, Michael Namingha, Eliza Naranjo Morse, Martha Romero en Randolph Silva.

  • Die Abiquiú-huis en -ateljeetoere is beskikbaar tussen Maart en November met voorafbespreekte kaartjies teen $65 per persoon. Ghost Ranch is op die US 84-streekspad. Bespreek by www.okeeffemuseum.org/home-studio-tickets/

Foto’s: Clifford Roberts en Georgia O’Keeffe Museum

Lees ook:

Stukkie kleurvolle Suid-Afrika in Nieu-Meksiko

Dertig jaar van demokrasie met kuns vertel

Pareltjes uit Amsterdam: Karel Appel in die Stedelijk Museum

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top