Musiekliefhebbers in die Oos-Kaap is onlangs in die lieflike Veremarksaal in Gqeberha op basklanke en ’n wêreldpremière getrakteer. Die program is genoem Friends in low places, want die diep note het behoorlik deur die historiese saal vibreer.
David Earl se Concerto vir basviool en orkes is vir die eerste keer in die openbaar opgevoer. Maar eers was daar ’n concerto vir bastuba en orkes.
Maestro Leon Bosch het die stokkie geswaai.
Suzanne Martens was die konsertmeester.
Ralph Vaughan Williams, Concerto vir bastuba en orkes
Vaughan Williams was ’n bekende Engelse komponis. In 1954 was die Londense simfonieorkes 100 jaar oud en hulle het vir Williams gevra om ’n opdragwerk vir die tuba te skryf.
Philip Catelinet het die stuk die eerste keer opgevoer onder die stok van sir John Barbirolli.
Sewentig jaar later, in Gqeberha, was dit die Kanadees Jarret McCourt wat dié interessante werk uitgevoer het saam met die Oos-Kaapse Simfonieorkes.
McCourt is in Kanada as een van die “hottest 30 classical musicians under 30” aangewys. In die Baai was dit nie noodwendig sy voorkoms nie, maar die musiek wat vir hom ’n staande ovasie bewerkstellig het.
Hy het daarna, op uitnodiging van die dirigent, ’n kort solo, sonder begeleiding, gedoen om die gehoor te wys waartoe die enorme tuba in staat is.
David Earl, Concerto vir basviool en orkes
David Earl is in Stellenbosch gebore. Hy het op 16 reeds ’n opname vir die BBC gedoen en het ’n jaar later saam met die Kaapstadse simfonieorkes gedebuteer.
Hy was 19 toe hy Londen toe is, en is later na Cambridge, waar hy klavier gedoseer het.
In 1980 het hy ’n as komponis gedebuteer.
Die Concerto vir basviool en orkes het ’n interessante agtergrond. Die opdrag vir dié werk is deur Peter van der Spuy gegee om sy ma, Una van der Spuy, te gedenk.
Una van der Spuy (1912–2012) was ’n legendariese tuinier. Sy en haar man het in 1940 die plaas Ou Nektar in Jonkershoek gekoop en Una het die tuin begin uitlê. Dit is vandag wêreldbekend en trek besoekers van oor die hele wêreld. Die tuine is oop vir die publiek.
David Earl se ouers is in 1950 getroud en het in ’n kothuisie op Ou Nektar se grond gaan bly. Hy is ’n jaar later daar gebore.
Peter van der Spuy het gevoel dat Earl die regte persoon sou wees om sy ma te gedenk en het gevra dat die concerto vir ’n basviool moet wees – ’n vreemde keuse, maar juis vir sy ma, wat ook soms vreemde keuses gemaak het in haar legendariese tuin.
Earl het die stuk geskryf vir Leon Bosch, ’n ander Suid-Afrikaner wat diep spore trap in die Engelse musiekwêreld. Bosch is ’n gerekende basvioolspeler en -onderwyser.
Bosch het egter gevoel dat hy liewer die première sou oorlaat aan ’n jonger generasie en het Ruan Baartman genader om dit uit te voer, terwyl hy sou dirigeer.
Dit was ’n baie interessante en mooi werk met liriese melodieë en soms onverwagte stiltes met luide knalle wat daarop volg.
Net die eerste twee bewegings is uitgevoer; skynbaar is daar nog tegniese uitdagings in die derde beweging.
Ruan Baartman het sy musieklesse begin by die Mangaung String Programme, waar Peter Guy sy mentor was.
Baartman het ook vir die Vrystaatse Jeugorkes en die Suid-Afrikaanse Jeugorkes gespeel voor hy ’n beurs gewen het om aan die Yehudi Menuhin-skool onder Caroline Emery te studeer, waarna hy na die Royal Academy of Music is om onder Duncan McTier en Graham Mitchell te studeer.
Hy het daarna aan die Trinity Laban Conservatoire onder Leon Bosch gaan studeer.
Antonin Dvořák, Tjelloconcerto opus 104 in B-mineur
Die program is, ná twee ongewone werke, afgesluit met die bekende concerto vir tjello deur Dvořák. Niemand anders nie as Peter Martenz was die solis.
Hoewel die solotjello nie noodwendig sulke diep klanke as die basviool kan lewer nie, het Dvořák gesorg vir genoeg bas in die res van die orkes. Danél Mecloen het die enorme tuba laat brom; Chadley Johnson, Courtney Uithaler en Alex Hitzeroth het diep basnote uit die skuiftrompette gekry; en vier basviole, gespeel deur Mariechen Meyer, Tiaan Uys, Conroy Scott en Rob van der Linden, het strykers geanker.
Net om seker te maak niemand raak aan die slaap wanneer die bastrom stil is nie, het ’n heerlike reënbui uitgesak en ’n aantal harde donderslae het die saal geskud terwyl Martenz se tjello in gesprek was met ’n dwarsfluit gespeel deur Liza Klopper.
Martenz, wat wortels het in België, is een van ons land se groot tjelliste. Ná hy in Salzburg gestudeer het, het Martens ook ’n meestersgraad aan die Universiteit Kaapstad en ’n PhD aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Dit was ’n mooi einde aan ’n besonderse middag in die Oos-Kaap. Die gehoor het Martens staande toegejuig en het veral daarvan gehou toe hy oorleun om vir sy vrou, Suzanne, wat die gaskonsertmeester was, ’n handdruk te gee.
Martenz het daarna ook vir David Bester, die inwonende konsertmeester van die Oos-Kaapse Filharmoniese Orkes, bedank.
Meer oor Leon Bosch
Die dirigent, Leon Bosch, het in Suid-Afrika grootgeword. Sy pa, Jonas Bosch, is tronk toe weens politieke aktiwiteite teen apartheid, en die jonge Leon het op skool reeds betrokke geraak by die politiek. As skoolseun is hy ook aangehou.
Later het hy uitgewyk na Londen, waar hy naam gemaak het as basvioolspeler.
Hy was lank verbonde aan die Academy of St Martin in the Fields.
Bosch het al hoe meer begin belangstel in die kuns van dirigeer, en het derhalwe na St Petersburg vertrek om onder Alexander Polishchuk te studeer. Sedertdien het hy al verskeie orkeste in die VK, Europa, Indië, Suid-Afrika en Indië gedirigeer.
Hoewel hy nou ’n Britse burger is, kom Bosch gereeld terug na Suid-Afrika om plaaslike musiek en ontwikkelingsorkeste te ondersteun.
Vriende in belangrike plekke
Die Oos-Kaapse Simfonieorkes het vriende in belangrike plekke, wat dit moontlik gemaak het om Friends in low places aan te bied.
Die orkes word ondersteun deur Mzanzi Philharmonic, die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit, Canada Council for the Arts, en vele borge.
Die hoof- uitvoerende beampte van Mzanzi Philharmonic, Bongani Tembe, was in die gehoor en het kort voor die laaste concerto begin het, sy volgehoue steun aan die werk van die Oos-Kaapse Simfonieorkes beloof.
- Fotografie: Izak de Vries